
Die voorsitter van Vrystaat Landbou (VL), het boere Woensdag op dié organisasie se jaarlikse kongres in Bloemfontein gerusgestel dat blanke in die Vrystaat geen rede tot paniek het oor grondgryp nie.
Dan Kriek het VL se verbintenis tot ordelike grondhervorming geprys met die aankondiging dat sy provinsiale grondoudit afgehandel is.
Kriek, sê dié inisiatief is die afgelope 18 maande met die samewerking van die staat aangepak en maak die Vrystaat die pionier-provinsie op dié gebied.
Dit is ’n poging om die ongeregtigheid van die nalatenskap van die Wet op Naturellegrond van 1913 reg te stel.
Kriek het vroeër in reaksie op die honderdjarige herdenking van dié wet gesê die nalatenskap daarvan kan nie verdedig word nie.
Kriek sê die regering se mikpunt om 30% van grond wat in 1994 in wit besit was aan swart eienaars te oorhandig, is onafdwingbaar.
Vrystaat Landbou en die provinsie se departement van grondsake se volledige grondoudit wys dat meer as 10,775 miljoen hektaar (86,39%) landbougrond in die provinsie in wit hande is.
Die totale landbougrondoppervlak in die Vrystaat meer as 12,196 miljoen hektaar waarvan 152 700 hektaar (1,22%) in swart privaatbesit is, en 209 000 hektaar deur die staat vir swartes aangekoop is. Ongeveer 5,31% is in staatsbesit.
Prof. Nick Vink, hoof van die departement landbou-ekonomie aan die Universiteit van Stellenbosch, sê die hoë persentasie wit grondbesit toon dat grondhervorming ’n “algehele mislukking is”.
Vink en prof. Johann Kirsten, hoof van die departement landbou-ekonomie aan die Universiteit van Pretoria, was gassprekers op die kongres.
