Motsepe ontken dat hy studiefooie beloof het

motsepeVerwarring heers onder honderde studente aan tersiêre inrigtings in Bloemfontein nadat ondernemings van die Motsepe-stigting om hulle studiegeld te betaal, nie gerealiseer het nie.

Die swart miljardêr Patrice Motsepe het voor die verkiesing by die Mangaung Indoor Sports Centre aangekondig dat sy Stigting geld vir studie sal bewillig in die Vrystaat.

In ‘n kort uiteensetting van hoe die fonds aangewend sal word, het Motsepe gesê ‘n R100 miljoen sal gebruik word om beurse en ander ondersteuning vir onderwys te voorsien.

Volgens studente het die stigting die geld nie betaal nie en het die Vrystaatse Universiteit gevolglik baie van hulle se registrasies teruggetrek.

Die studente sal dus moet afsien van hul studies as hul gelde nie betaal word nie.

Die Motsepe-stigting het intussen ontken dat hulle enige beurse beloof het.

Die voorsitter van die Stigting se sub-komitee in Mangaung, Sello Dire, sê hulle het geen magtiging as die sub-komitee om beurse aan studente aan te bied nie.

Dire sê dit is ‘n groot misverstand en die tersiêre instansies het hul aansoeke afgewys.