Vrystaat landbou besluit boervrou ‘koester geen wrok’ na plaasaanval nie

Die vroue-boer van Harrismith, Alison Oates, wat Maandagmiddag wreed op haar plaas deur twee rowers aangeval is, sterk by familie aan.

Volgens Vrystaat landbou “koester sy geen wrok nie”.

Dit, volgens voorsitter van Vrystaat Landbou se komitee oor wet en orde, Tommie Esterhuyse, is wat Oates na haar ontslag uit die La Verna Private Hospitaal op Ladysmith beweer het, toe hy haar saam met ander lede van die organisasie besoek het.

Hy sê volgens die Vrystaatse polisie is nog geen verdagtes in verband met die voorval aangekeer nie.

Polisiewoordvoerder Mmako Mophiring sê Oates is deur twee swartes buite haar plaashuis oorrompel. Hulle het geld gesoek. Haar hande is agter haar rug vasgebind.

Sy is onder meer met ‘n mes in die been en regterskouer gesteek en met ‘n strykyster gebrand.

Esterhuyse het vanmiddag aan OFM-nuus gesê Oates sterk goed aan onder die omstandighede.

Deel van N5 onbegaanbaar na wegholveldbrand

Die polisie in die Vrystaat het motoriste Donderdag gewaarsku om die N5-roete tussen Kestell en Harrismith te vermy weens ‘n wegholveldbrand wat buite beheer woed.

Polisiewoordvoerder, Mmako Mophiring, sê drie motors was reeds in ‘n botsing betrokke weens swak sig wat deur die brand se rookwolke veroorsaak is.

Mophiring sê boere van die gebied en ander owerhede werk hard om die vlamme, wat vinnig deur die wind versprei word, in bedwang te probeer bring.

Omliggende gemeenskappe word ook gewaarsku om versigtig te wees.

Mophiring sê alternatiewe roetes sluit in die R712 vanaf Kestell wat aansluit by die R66 in die rigting van Phuthaditjhaba.

Diegene wat vanaf Bethlehem reis moet ook die R66 volg wat later by die R712 na Harrismith aansluit.

NRP ontstig oor plaasmoorde na swarte se dood

Die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) het ‘n sterk boodskap aan die minister van polisie, Nathi Nhleko, gestuur om dringend aandag aan plaasmoorde in die land te gee.

Dit kom nadat lede van die NRP gister eenparig ‘n mosie van die DA oor moorde op plase in die Vrystaat aanvaar het. DA parlementslid, George Michalakis, sê in die mosie is die raad se medelye gevra nadat ‘n bejaarde swart plaasbestuurder, Robert Rhadebe, die naweek op ‘n plaas by Harrismith vermoor is.

In die mosie is daar ook aangedui dat daar sedert die begin van die jaar altesaam 16 plaasmoorde in die Vrystaat was. Dit sluit Rhadebe se moord uit.

Michalakis sê van die 16 moorde was tien van die slagoffers plaaswerkers.

Volgens hom het die raad, nadat hy die mosie aanvaar het, ‘n beroep op Nhleko gedoen dat plaasmoorde as afsonderlike misdaad in die polisie se jaarlikse misdaadsyfers ingesluit moet word. Dit moet ook ‘n voorkeurmisdaad word en ‘n gespesialiseerde landelike veiligheidseenheid moet gevorm word. Michalakis sê die NRP se voorstelle aan Nhleko is ‘n stap in die regte rigting omdat die NRP verteenwoordigend is van kiesers in al nege provinsies.

Michalakis sê Nhleko sal hopelik kennis neem van die NRP se voorstelle en die erns daarvan insien.

Kliniek gebrand, nooddienspersoneel aangeval vir ‘beter dienslewering’

Die polisie is ontplooi in die Intabazwe-lokasie in Harrismith in die ooste van die Vrystaat.

Die oproermakers wil hê die burgemeester en munisipale bestuurder moet bedank. Hulle eis ook beter huise en infrastruktuur.

Dit volg na ‘n week van gewelddadige onrus waarin een persoon dood is, en ‘n plaaslike kliniek afgebrand is.

Nooddienspersoneel is ook aangeval deur die oproermakers terwyl hulle die brand probeer blus het. Dit is nie duidelik hoe die brandstigting dienslewering sal verbeter nie.

Oproeriges het paaie met klippe en rommel versper en die polisie monitor steeds die gebied.

Agt mense is reeds in verband met openbare geweld in hegtenis geneem.

Geweld in Ladybrand nadat Rooi Miere toeslaan

Geweld het in Ladybrand uitgebreek in die Oos-Vrystaat.

Die Manyatseng-lokasie in Ladybrand is in rep en roer nadat honderde huise, wat volgens die munisipaliteit onwettig opgerig is, deur die Rooi Miere afgebreek is.

Inwoners het hulle teen die uitsettings verset.

Die voorsitter van die Mantsopa Inwonersvereniging, Kaye Durant, sê die uitsetting, deur die Rooi Miere, moes onderbreek word toe die Manyatseng-gemeenskap gewelddadig geraak het.

Die Rooi Miere het later egter teruggekeer, vergesel deur die polisie, en het voortgegaan met die uitsetting.

OFM-nuus se verslaggewer op die toneel sê so ver die oog kan sien, is daar net sinkplate, pale en bourommel en tekens van buitebande en hout wat gebrand het.

Honderde mense sal sonder ‘n dak oor hul kop moet klaarkom.

Durant sê tans is dit ‘n hele oorlog. Verskeie buitelanders se ondernemings word geplunder, daar is by skole ingebreek, twee wyksraadslede se huise is afgebrand en skoolkinders dwaal sonder toesig rond weens die geweld.

Polisiemagte moes versterkings van Harrismith, Ficksburg en Bethlehem inroep om te help om die gewelddadige gepeupel onder beheer te hou.

Volgens Durant is ‘n Pakistani sake-eienaar beseer tydens die plundering wat plaasgevind het by sy winkel en is na Bloemfontein geneem vir dringende mediese sorg.
 
Die munisipale woordvoerder Mohlomi Mokoatsi sê die munisipaliteit het gelas dat die uitsettings voortgaan.
 
Volgens onbevestigde berigte is drie mense geskiet en gewond deur rubberkoeëls.

DA wil Eskom-wanbetalers in Vrystaat help

Die DA in die Vrystaat gaan ‘n regsmening inwin om te voorkom dat kragtoevoer na drie munisipailiteite in die provinsie afgesny word.

Dit volg nadat Eskom gewaarsku het dat die krag na die Ngwathe, Dihlabeng en Maluti-a-Phofung munisipaliteite teen 12-uur vanmiddag afgesny word as R736 miljoen in agterstallige skuld nie betaal is nie, het RSG berig.

Dit sluit dorpe soos Parys, Betlehem, Clarens, Harrismith en Heilbron in.

‘n Woordvoerder van Eskom, Anthony Scott sê die munisipaliteite het geen reëlings vir die volgende ses tot 18 maande getref nie en kan ook nie hulle huidige rekeninge betaal nie.

Scott sê die afsny van die kragtoevoer is die laaste uitweg, nadat dit reeds tot 31 Augustus en daarna tot 30 September uitgestel is.

Verskeie samesprekings is ook met die provinsiale regering gevoer.