Borg geweier vir boer wat swarte raakry

‘n Oos-Vrystaatse boer, wat in hegtenis geneem is nadat hy na bewering verlede Vrydag ‘n sestigjarige swarte raakgery het, se aansoek om borgtog is vanoggend in die Bethlehemse landdroshof na Maandag uitgestel.

Josef van Eeden (34) het na bewering vir Johannes Mahlaku op ‘n plaas buite Bethlehem raakgery. Mahlaku het Saterdag, in ‘n plaaslike hospitaal, aan sy beserings beswyk. Van Eeden het homself Dinsdag aan die polisie oorgegee.

Volgens Oos-Vrystaatse polisiewoordvoerder, Zweli Mohobeleli, het Van Eeden na bewering oor Mahlaku gery.

Hy sê twee aanklagte van moord word tans teen Van Eeden ondersoek.

Die ander saak hou verband met ‘n voorval, laat verlede jaar in Fouriesburg, toe Van Eeden na bewering ‘n 36-jarige man noodlottig gewond het. Die oorledene wou Van Eeden glo met ‘n byl aanval, waarna hy hom geskiet het.

Van Eeden se prokureur het aan OFM-nuus gesê hy het namens sy kliënt voorwaardelik toegestem dat die borgtogaansoek uitgestel word. Die voorwaardes is dat die aansoek finaal op 17 Oktober aangehoor word en dat die staat moet seker maak dat die ondersoekbeampte teenwoordig is en alles in plek is.

Niemann sê as dit blyk dat die staat weer eens volgende Maandag, soos vandag, nie reg is vir die borgtogaansoek nie en met vertragingstegniek blyk besig te wees, behou hy hom die reg voor om die saak onmiddellik na die Hooggeregshof te neem.

Nieman sê wat werklik gebeur het, sal Maandag ter tafel gelê word. Van Eeden is steeds in aanhouding.

Bron: OFM

Visvrektes in Bethlehem-dam lei tot kommer

Grootskaalse besoedeling van rou riool wat na die Loch Lomond-dam in Bethlehem vloei is moontlik die rede van die dooie, drywende vis op die dam se oppervlak.

Nie net pragtige visse het in die slag gebly nie maar dié riool is na Gauteng op pad. Dit is lewensbedreigend vir mens sowel as dier.

Opposisielede in die Vrystaatse wetgewer het ondersoek ingestel en ‘n brief aan die nasionale minister Nomvula Mokonyane van waterwerke en sanitasie gerig en haar versoek om die oorsaak van die probleem in die Dihlabeng-munisipaliteit vas te stel. Sy is versoek om dringend oplossings te vind.

Hengelaars wat die dooie drywende vis op die water se oppervlak gevind het, het dit onder die Wetgewer se aandag gebring.

Die stroom water het ‘n slegte reuk en vloei van die Dihlabengse rioolwerkstasie in ‘n sterk stroom verby ‘n pad na die Loch Lomond-dam. Die water beland eindelik in die Liebenbergsvleidam wat aansluit by die water van die Lesotho Hoogland Waterskemaprojek wat water aan Gauteng voorsien.

Die moontlikheid van nóg besoedeling van nabygeleë petroleum- en ander industrieë is nie uitgesluit nie.

Die dooie vis is ‘n groot probleem omdat inwoners van Bohlokong wat naby die dam woon die visse verwyder vir kos.

Die rede vir die dood van die visse is nie vasgestel nie maar dit is nie ongetwyfeld nie geskik vir menslike gebruik nie. Die water is ook nie vir huishoudelike gebruik geskik nie.

Bron: OFM

Vermeende veediewe wat buit verkoop se saak uitgestel

Die saak teen vyf van die agt verdagtes wat Woensdag vir veediefstal in Phuthaditjhaba en Ficksburg in die hof verskyn het, is uitgestel.

Valke-woordvoerder S’fiso Nyakane sê Kgathatso Rankete, Tiisetso Sikhosana, Samuel Ntombela, Mokwakwa Witbooi en Maleka Lize sal weer die 6de Oktober in die Phuthaditjaba Landroshof verskyn wanneer hulle na verwagting amptelik om borgtog sal aansoek doen.

Nyakane sê die eerste vier verdagtes is Maandag by hulle huise in Phuthaditjaba in hegtenis geneem.

Die vyfde verdagte is by die Bethlehem-gevangenis in hegtenis geneem, toe hy vir ‘n nie-verwante veediefstalsaak ondervra is.

Al vyf het na bewering die vee wat gebuit is, verkoop.

Nog drie verdagtes, wat Dinsdag in Ficksburg vir veediefstal in hegtenis geneem is, sal na verwagting vandag in die plaaslike landdroshof verskyn ná hulle probeer het om gesteelde 58 skape te verkoop.

Brandstigter in Bethlehem vasgevat

‘n 40-jarige werker van die Dihlabeng-munisipaliteit op Bethlehem is in hegtenis geneem nadat hy ‘n munisipale gebou vanoggend aan die brand gesteek het.

Polisiewoordvoerder Mmako Mophiring het bevestig dat een van die kantore erg deurgeloop het en dat ‘n saak van brandstigting ondersoek word.

Mophiring sê die motief vir die brand is onbekend en sê die hoeveelheid skade wat aangerig is, is nog onbekend. Die verdagte bly in aanhouding en verskyn more in die plaaslike landdroshof.

Geweld in Ladybrand nadat Rooi Miere toeslaan

Geweld het in Ladybrand uitgebreek in die Oos-Vrystaat.

Die Manyatseng-lokasie in Ladybrand is in rep en roer nadat honderde huise, wat volgens die munisipaliteit onwettig opgerig is, deur die Rooi Miere afgebreek is.

Inwoners het hulle teen die uitsettings verset.

Die voorsitter van die Mantsopa Inwonersvereniging, Kaye Durant, sê die uitsetting, deur die Rooi Miere, moes onderbreek word toe die Manyatseng-gemeenskap gewelddadig geraak het.

Die Rooi Miere het later egter teruggekeer, vergesel deur die polisie, en het voortgegaan met die uitsetting.

OFM-nuus se verslaggewer op die toneel sê so ver die oog kan sien, is daar net sinkplate, pale en bourommel en tekens van buitebande en hout wat gebrand het.

Honderde mense sal sonder ‘n dak oor hul kop moet klaarkom.

Durant sê tans is dit ‘n hele oorlog. Verskeie buitelanders se ondernemings word geplunder, daar is by skole ingebreek, twee wyksraadslede se huise is afgebrand en skoolkinders dwaal sonder toesig rond weens die geweld.

Polisiemagte moes versterkings van Harrismith, Ficksburg en Bethlehem inroep om te help om die gewelddadige gepeupel onder beheer te hou.

Volgens Durant is ‘n Pakistani sake-eienaar beseer tydens die plundering wat plaasgevind het by sy winkel en is na Bloemfontein geneem vir dringende mediese sorg.
 
Die munisipale woordvoerder Mohlomi Mokoatsi sê die munisipaliteit het gelas dat die uitsettings voortgaan.
 
Volgens onbevestigde berigte is drie mense geskiet en gewond deur rubberkoeëls.