Die Vryheidsfront Plus en die publiek in die algemeen het met skok kennis geneem van die beoogde naamsverandering van verskeie dorpe in die Vrystaat. Abrie Oosthuizen, Leier van die Vryheidsfront Plus in die Vrystaat, sê dat daar al jare ‘n verstandhouding op provinsiale vlak bestaan dat munisipaliteite en distriksmunisipaliteite Sesotho-name sal kry, maar dat dorpe hulle name sal behou. Daar was enkele gevalle waar die ou en nuwe name gesamentlik gebruik sou word soos Bloemfontein/Mangaung.
Oosthuizen sê dat dit onrusbarend is dat die ANC-regering nie begaan is oor dienslewering wat omtrent nie bestaan nie, maar hulle spandeer al hulle energie en miljoene rande om dorpe se name te verander. “Daagliks sterf mense weens swak diens by hospitale of omdat medisyne nie beskikbaar is nie. Dit is nie vir die regering ‘n bron van kommer nie, maar die name van dorpe is vir hulle ‘n groot probleem.”
Oosthuizen het bygevoeg dat dit kommerwekkend is dat die voorsitter van die betrokke komitee, me. Seipati Dichabe, die hele proses om die name te verander binne drie maande wil afhandel. “Dit is weereens ‘n bewys dat die proses gestoomroller gaan word. Sake van lewensbelang vir inwoners van die Vrystaat neem jare om aangespreek te word en in die meeste gevalle sonder sukses. Die ANC gebruik naamsveranderinge net om hulle mag te vertoon en Afrikaners te boelie. Dit is sinloos en dra geensins by tot die verbetering van verhoudinge nie.”
Die VF Plus doen ‘n beroep op die ANC-regering om hulle leuse van die verkiesing uit te leef. Die eensydige verandering van ‘n dorp se naam kan geensins ‘n beter lewe vir enige inwoner van die Vrystaat verseker nie. Beter dienslewering en beter hospitale en klinieke kan duisende mense se lewens red en verbeter.
