Inwoners vlug na skermutselinge in Brazzaville

Kongolese inwoners van die suidelike distrikte van Brazzaville skuil by ’n kerk nadat hulle Maandag van intensiewe skermutselinge tussen veiligheidsmagte en opposisie-voorstanders in die suide van die hoofstad van die Republiek van die Kongo gevlug het.

Gevegte woed nog in dele van die stad, het AFP berig.

Volgens verslaggewers op die toneel, het paniekbevange mense na die noorde van die stad gestroom, weg van suidelike gebiede, wat lojaal aan die opposisie is en pres. Denis Sassou Nguesso se onlangse herverkiesing teenstaan.

Swaar geweervuur is sedert vroeg dié week in die hoofstad van die ­Republiek van die Kongo gehoor. ’n Regeringswoordvoerder het bevestig dat die polisie in gevegte met ­milisie-vegters gewikkel is.

Die skietery is in die suidelike Bacongo- en Makelekele-woonbuurt van Brazzaville gehoor.

Die milisie staan bekend as die ninjas. Dit was een van die hoof-anti­regeringsmagte in die 1998-’99-burgeroorlog in die land.

Die groep staan onder leiding van die afvallige pastoor, Frederic Bitsangou. Die groep het die 1999-skietstilstandooreenkoms onderteken, maar vroeg in 2000 weer die wapen opgeneem en geëis om ’n rol in politieke en militêre besluitneming te speel.

Die milisie onder Bitsangou is uiteindelik ontbind en hy is later as minister in die land se regering aangestel.

Maandag se gevegte kom weke na die herverkiesing van die langdienende president, Denis Sassou N’Guesso. Hy regeer die land sedert 1979 met uitsondering van vyf jaar sedert 1992 toe hy in die land se eerste veelparty verkiesing uitgestem is en nie aan bewind was nie.

Hy het weer in die verkiesing wat op 20 Maart gehou is, gestaan nadat ’n grondwetlike referendum die termyn en ouderdomsbeperking vir presidentskandidate geskrap het.

Spanning tussen Rwanda en Burundi na ‘spioen’ vasgetrek word

Spanning tussen Rwanda en Burundi is besig om op te laai te midde van ‘n tien maande lange politieke krisis, nadat veiligheidsmagte in Burundi Saterdag ’n man voor joernaliste geparadeer wat daarvan beskuldig word dat hy ’n Rwandese spioen is.

Betrekkinge tussen Burundi en Rwanda het ’n laagtepunt bereik met Bujumbura en die Verenigde Nasies wat Kigali daarvan beskuldig dat dit rebelle in Burundi ondersteun, het AFP berig.

Die man, wie se naam as korporaal Rucyahintare Cyprien aangegee is, is verlede week in Rushenya op die grens met Rwanda in hegtenis geneem, sê ’n polisiewoordvoerder, Pierre Nkurikiye.

“Hy was besig om te spioeneer en dit is was die derde keer dat hy so ’n sending in Burundi uitgevoer het,” het Nkurikiye gesê. Volgens hom was die doel van die sendings om Burundi te destabiliseer.

Burundi is in ’n krisis gedompel nadat pres. Pierre Nkurunziza aangekondig het dat hy vir ’n derde termyn in die Julie 2015-verkiesings sou staan.

Die beweerde spioen het in Kinyarwanda, ’n amp­telike taal in naburige Rwanda, aan joer­naliste “erken” dat hy die land binnegekom het met die doel om te spioe­neer.

Hy het Burundi ook in Mei 2015 binnegekom om te help om mense wat verantwoordelik vir die mislukte staatsgreep was uit die land te smokkel en weer in November 2015 om inligting in te win vir aanvalle op hooggeplaastes in die land, sê Nkurikiye.

Hy is aan die media vertoon by die hoofkantoor van die nasionale intelligensiediens, wat nie sonder meer beskuldigings van menseregteskendings en marteling kon weerlê nie.

Meer as 400 mense is dood sedert die geweld in April verlede jaar uitgebreek het en meer as 240 000 mense het op die vlug geslaan.

Duisende Rwandese wat in Burundi gewoon het, het ook uit die land gevlug sedert die krisis begin het en ver­skeie is in hegtenis geneem.

Twee ontploffings ruk Sirië na skietstakingsooreenkoms

Minstens 150 mense is dood in bomontploffings in twee Siriese stede.

Minstens 96 is na berig word dood in drie bom­aanvalle Sondag naby ’n Sjiitiese heiligdom, Sayyida Zeinab, in Damaskus. Die profeet Mohammed se kleindogter is daar begrawe.

Enkele ure tevore is minstens 57 mense dood in ’n ­dubbele motorbomontploffing in Homs. Die ­Islamitiese Staat (IS) het verantwoordelikheid vir die ­aanvalle ­aanvaar.

Ondertussen werk Rusland en Amerika aan ’n ­skietstakingsooreenkoms.

Die Amerikaanse ­minister van buitelandse sake, John Kerry, het gesê ’n voor­lopige ooreenkoms is bereik, maar die bloedvergieting op die grond het toegeneem.

Die amptelike Siriese nuusagentskap, Sana, het ’n ­polisiebron aangehaal wat sê 178 mense, insluitend kinders, is onder die gewondes.

Die beplande skietstilstand in Sirië sal glo op 27 Februarie om middernag in werking tree.

Rusland en die VSA sê in ‘n verklaring dat die skietstilstand nié die Islamitiese Staat en die al-Nusra Front, wat bande met al-Kaïda het, insluit nie.

Wêreldmagte het op 12 Februarie ingestem tot ‘n wapenstilstand binne ‘n week, maar die spertyd is nie bereik nie en onsekerheid heers tans oor die jongste aankondiging.

Meer as 250 000 Siriese burgers het gesterf sedert die konflik in Maart 2011 begin het toe Amerikaans-gesteunde magte die land binnegeval het.

Intussen het waarnemers hul kommer uitgespreek omdat ISIS na Libië uitgewyk het.

Spanning in Midde-Ooste laai op

Spanning tussen Saoedi-Arabië en Iran het in ’n volstoom diplomatieke krisis ontaard met verskeie van Riaad se Arabiese Soenni-bondgenote, Bahrein en Soedan wat nou ook diplomatieke betrekkinge met Teheran verbreek het.

Die Verenigde Arabiese Emirate het betrek­kinge met Iran afgeskaal.

Saoedi-Arabië se teregstelling van die Sjiïtiese aktivis en kerklike, sjeik Nimr al-Nimr, wat gevolg is deur ’n aanval en brandstigting van die Saoedi-Arabiese ambassade in Teheran, het aanleiding tot die jongste gebeure gegee.

Europese lande en die streekmag Turkye, het kommer uitgespreek, die Amerikaanse minister van buitelandse sake, John Kerry, het sy eweknieë telefonies geskakel.

Moskou het Maandag aangebied om as tussenganger tydens onderhandelinge op te tree.

Israelse veiligheidsmagte het intussen ’n Palestyn wat ’n Israelse soldaat met ’n mes gesteek het, in die Wes-Oewer doodgeskiet.

Dit is die jongste voorval sedert geweldpleging vier maande gelede uitgebreek het. Die voorval was by Gush Etzion, waar verskeie van die vorige aanvalle ook plaasgevind het.

’n Hospitaalwoordvoerder sê die soldaat met steekwonde aan sy gesig is lig beseer.

Byna daaglike messtekery, motors wat tussen voetgangers injaag en skietery vind sedert Oktober plaas. Dit laat vrese vir ’n wyer eskalasie van geweldpleging ontstaan, ’n dekade nadat die vorige Palestynse opstand onderdruk is.

Die golf van geweldpleging word aangevuur deur Palestyne se frustrasie oor Israel se 48-jaar lange ­besetting van grond wat Palestyne vir ’n onafhanklike tuisland wil hê. Nog ’n aspek wat tot frustrasie lei, is die uitbreiding van Israelse nedersettings in die gebied, wat in die 1967 Midde-Oosterse oorlog deur Israel beset is.

Geweld teister Djiboeti

’n Opposisiegroep in Djiboeti sê minstens 19 mense is in botsings met die polisie dood, het Reuters berig.

Die onluste het uitgebreek toe mense godsdienstige vieringe gehou het. Die regering hou vol net nege mense is in die onluste beseer.

Teenstrydige berigte maak dit moeilik om vas te stel presies wat Maandag in die klein Horing van Afrika-land gebeur het.

Djibouti, die tuiste van ’n streekhawe en Amerikaanse en Franse vlootbasisse, het in die verlede sporadiese geweld ondervind wat deur betogings teen die regering van pres. Ismail Omar Guelleh ontketen is.

Guelleh, wie se party ’n ysstergreep op die mag in die land het, is sedert 1999 aan bewind en presidentsverkiesings is vir April 2016 geskeduleer.

Islamitiese front teen Iran met min entoesiasme begroet

Saoedi-Arabië het glo ‘n militêre koalisie op die been gebring wat uit 34 lande bestaan met vae beloftes om “terro­risme” te bekamp.

Die alliansie se hoofkantoor sal in Riaad wees om militêre operasies te koördineer en te ondersteun, het die Saoedi-Arabiese nuusagentskap berig.

Intussen het belangrike “deelnemers” Pakistan, Maleisië, Libanon en Indonesië aangedui dat hulle nie deel is van die koalisie nie, ten spyte van die aankondiging.

Die koalisie sal “die Islamitiese wêreld se probleem met terrorisme takel en ’n vennoot wees in die wêreldwye stryd teen die vervloeking,” het die Saoedi-minister van verdediging, prins Mohammad bin Salman Al Saud, op ’n nuuskonferensie in Riaad gesê.

Die Koninkryk wil glo internasionale pogings steun om terrorisme te bekamp en internasionale vrede en veiligheid te bevorder.

Afrikalande soos Mali, Tsjad, Somalië en Nigerië wat deurgeloop het onder militêre aanvalle is ook lede.

Saoedi-Arabië se mededinger in die streek, Sjiitiese Iran, is nie deel van die koalisie nie. Saoedi-Arabië en Iran ondersteun opponerende kante in die oorloë wat in Sirië en Jemen woed.

Ontleders meen dat Saoedi-Arabië genoodsaak is om ‘n duur sjarme-offensief te loods omdat hulle ten nouste betrokke is by die befondsing van die Islamitiese staat, tesame met Turkye.

“Hierdie [koalisie]lande het prosedures wat hulle moet volg om by die koalisie aan te sluit, maar uit geesdrif om so gou as moontlik die koalisie op die been te kry, is dit vroeg aangekondig,” het die Saoedi-­minister verduidelik.

Amerika het vir breër internasionale deelname aan die stryd teen die Islamitiese Staat (ISIS) in Irak en Sirië gevra en gesê Turkye moet beter beheer op die grens met Sirië handhaaf, maar het nog self nie veel gedoen om ISIS te stuit nie.

Amerikaanse wapens en hulp aan sogenaamde “gematigde rebelle” het voorheen direk in die hande van ISIS beland. Amerikaanse mediabronne beskryf ook die konflik in Sirië as ‘n “burgeroorlog” terwyl dit in werklikheid ‘n NAVO-inval is.

Die Saoediese minister wou homself nie verbind aan ‘n stryd teen ISIS as sodanig nie en gesê die koalisie sal optree “teen enige terroriste-­organisasie wat te voorskyn kom”.

Hy het waarskynlik bedoel dat die koalisie ‘n front teen Iran sal vorm.

SA stuur nog troepe na DRK na 50 dros

Sowat 500 soldate van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag vertrek eersdaags vir twaalf maande na die ontstuimige Republiek van die Kongo.

Die soldate sal na hul bestemming vlieg met VN-huurvlugte. Selepe het gesê die gebruik van VN-huurvlugte is nie as gevolg van ‘n gebrek aan kapasiteit in die SANW nie.

“Dit is ‘n verantwoordelikheid van die Verenigde Nasies om lede na eksterne bedrywighede te vervoer,” het hy gesê.

“Selfs die soladte wat terug huis toe kom sal teruggebring word deur die VN,” het hy bygevoeg.

Norman Yengeni het tydens die oorhandiging van welwillendheidspakkies by De Brug buite Bloemfontein, aan soldate wat op pad is na die DRK, gesê dissipline is belangrik.

Hy sê soldate wat by die weermag aansluit verstaan dat ontplooiing deel van hul take is en dat lewensverlies soms onvermydelik is.

Yengeni sê die veilige terugkeer van soldate gaan gepaard met dissipline, geluk en die genade van God.

In September is sowat 50 SANW-soldate van die VN-sending in die DRK voor die krygshof gedaag.

Die groep het na bewering gedros in die ooste van die DRK waar hulle gestasioneer was, het brigadier-generaal Xolani Mabanga vroeër aan ANA gesê.

Omdat die Verenigde Nasies oor hul lot besluit, moes die SANW aan VN toestemming vra om hulle te onttrek uit die ontplooiingsgebied.

Die SANW het ongeveer 900 troepe gestasioneer in die ooste van die DRK as deel van Monusco se sending.

Suid-Afrika handhaaf ‘n konstante teenwoordigheid in die mineraalryke DRK al sedert 1999.

Intussen het die Verenigde Nasies gesê minstens veertien vroue is tydens een voorval in September deur Kongolese soldate verkrag.

Die VN sê dit is die grootste voorkoms van seksuele geweld deur Kongolese soldate. ‘n Voorlopige ondersoek wat in ‘n verslag vervat is, toon die seksuele geweld het tydens ‘n weermagoperasie teen ‘n militêre groep in die ooste van die land plaasgevind.

Die gebied is berug vir hoë syfers van seksuele geweld deur beide gewapende magte en regeringsoldate. Nog inligting word ingesamel met die hoop op ‘n hofsaak.

Tunisiërs wen Nobelvredesprys vir Arabiese Lente

Tunisië se Nasionale Dialoogkwartet het Vrydag die Nobelvredesprys gewen vir sy bydrae om demokrasie te bevorder.

Die Arabiese Lente in Tunisië, is deur die Nobelkomitee voorgehou as ‘n voorbeeld van vreedsame oorgang in ’n streek wat onder geweld en opstand gebuk gaan.

Die kwartet, bestaande uit die Tunisiese algemene werkersvakbond, die konfederasie van nywerheid, handel en kunshandwerk, die menseregteliga en die orde van regspraktisyns, het in 2013 tot stand gekom.

Die kwartet het die demokratiseringsproses ondersteun toe dit die gevaar geloop het om in duie te stort, het die Nobelkomitee gesê.

“Dit is ’n blye en trotse dag vir Tunisië, maar ook ’n dag van hoop vir die Arabiese wêreld,” het Hussein Abassi, hoof van die Tunisiese werkgewersvakbond, Vrydag gesê.

“Die prys stuur ’n boodskap na ons streek om wapens neer te lê en ’n gesprek om ’n onderhandelings­tafel te voer.”

Met sy nuwe grondwet, vrye verkiesings en ’n politiek van kompromie tussen Islamitiese en sekulêre leiers, word Tunisië voorgehou as ’n model vir die oorgang van ’n diktatorskap na ’n demokrasie.

“Dit is wonderlik. Tunisië is ’n Arabiese land wat uitstekend gevaar het sedert die Arabiese Lente,” het Ahmad Fawzi, ‘n woordvoerder van die Verenigde Nasies, gesê.

Intussen het die Libiese konflik oorgespoel na Tunisië met ‘n gewapende groep in die noordwestelike Libiese kusstad Sabratha wat honderde Tunisiërs Maandagnag ontvoer het.

Die aantal gyselaars is nog nie bevestig nie, maar volgens plaaslike nuusberigte is 300 Tunisiërs ontvoer.

Militante uit Libië het verantwoordelikheid vir die ontvoering aanvaar.

Die ontvoering was glo uit wraak teen die Tunisiese regering, omdat Tunisiese veiligheidsmagte onlangs ‘n Libiese politikus in hegtenis geneem het weens sy betrokkenheid by terreur.

Betogings is in Libië gehou dié week op Martelaarsplein in sentraal Tripoli teen die nasionale eenheidsregering wat deur die Verenigde Nasies se gesant, Bernardino Leon, voorgestel is.

Libiese politici­ het ingestem tot ’n nuwe nasionale regering onder leiding van eerste minister Fayez el-Sarraj ná maande van uitgerekte onderhandelinge.

Libië is sedert die val van Moeammar Ghaddafi in chaos gedompel. Die land het twee mededingende parlemente en verskeie groepe veg om beheer van die land se energiehulpbronne.

Konflik dreig weer in SAR

Sporadiese geweervuur het Sondagnag in Bangui, die hoofstad van die Sentraal-Afrikaanse Republiek, weerklink ondanks ‘n aandklokreël wat afgekondig is ná ‘n naweek van geweldpleging waarin minstens 20 mense dood is.

Geweervuur isnaby die polisiekantoor in Bangui gehoor. Verskeie winkels en huise is ook geplunder terwyl die aandklokreël van krag was.

Volgens mediese bronne is meer as 20 mense dood en ongeveer 100 gewond in Saterdag se geweldpleging wat ontketen is deur die moord op ‘n motorfiets-taxibestuurder in die Moslem-meerderheid PK-5-woonbuurt van Bangui.

Die gebied was ook die sentrum van ongeëwenaarde doodslag tussen Christene en Moslems in die stad in laat 2013 en vroeë 2014.

Franse soldate en vredesmagte van die Verenigde Nasies bly aan in die voormalige Franse kolonie waar duisende mense in geweldpleging dood is en honderdduisende haweloos gelaat is.

Die bloedvergieting het begin ná die 2013-staatsgreep waarin die langdienende leier, Francois Bozize, uit die kussings gelig is. Die spanning duur voort tussen Moslem Seleka-rebelle en Christen milisies, bekend as “anti-balaka” of “anti-kapmesse”.

Al het die geweldpleging redelik afgeneem, is gewapende groepe steeds in sommige dele van die land aktief.

Verkiesings vir ‘n president en lede van die wetgewende vergadering word vir die einde van die jaar beplan. Die verkiesings is egter reeds herhaaldelik uitgestel terwyl die land met die geweldkrisis worstel.

Intussen het Burkina Faso teruggekeer na normaal nadat die presidentswag ’n staatsgreep uitgevoer het. Regeringsmagte, wat lojaal gebly het teenoor die regering, het uit die stad onttrek.

Die waarnemende staatshoofde, president Michel Kafando en premier Yacouba Isaac Zida, sal die land regeer totdat demokratiese verkiesings gehou word.

Die verkiesings sou oorspronklik op 11 Oktober plaasgevind het, maar dit is nou heel moontlik deur die staatsgreep vertraag.

’n Latere datum van 22 November is reeds deur ECOWAS voorgestel. Daar is ook voorgestel dat die ondersteuners van die voormalige president Blaise Compaoré, wat uit die kussings gelig is, ook toegelaat moet word om kandidate vir die verkiesing te nomineer.

Vrou in heup geskiet in aanval by Brits

Vier swart verdagtes is steeds op vrye voet nadat hulle Donderdagaand ‘n vrou in ‘n aanval op ‘n kleinhoewe by Buffelsfontein naby Mooinooi in die Brits-gebied in die heup geskiet het

Noordwes-polisiewoordvoerder, Kealeboga Molale, sê die rowers het vermoedelik oor ‘n veiligheidsmuur gespring om toegang tot die erf te kry. Sy sê die vrou en twee ander gesinslede is oorval toe hul reggemaak het om buite die huis vleis te braai.

Molale sê sover bekend is twee skote afgevuur.

Molale sê die aanvallers het met die gesin se Toyota-bakkie op die vlug geslaan. Die verlate bakkie is later sowat 500 meter van die toneel gevind. Sy sê die polisie ondersoek ‘n klag van poging tot moord en huisbraak.

Volgens haar word die gewonde vrou in ‘n hospitaal in die gebied behandel. Haar toestand is onbekend.

Molale sê dit is in dié stadium onduidelik wat presies gesteel is.

Die ondersoek duur voort.

Irak-mislukking met nuwe Amerikaanse oorlogsgier beantwoord

Tot 450 Amerikaanse militêre raadgewers gaan na Irak gestuur word om die land te help om sy soldate op te lei.

Tot dusver het die VSA se buitelandse beleid tot niks in die streek gelei nie. Ontleders het met verbasing gereageer op die aankondiging en gesê dit lyk asof Amerikaanse mislukkings met ‘n nuwe oorlogsgier uitgebrei sal word.

Die Withuis sê in ‘n verklaring president Barack Obama het die besluit geneem ná ‘n versoek deur die Irakse eerste minister, Haider Al-Abadi.

Die groep sal gesetel wees by ‘n militêre basis in die Anbar-provinsie waarvan die hoofstad, Ramadi, in Mei deur militantes van die Islamitiese Staat beset is.

Dit sal die getal Amerikaanse opleidingskampe in Irak op vyf te staan bring en sowat 9000 Irakse soldate is reeds by die vier bestaandes opgelei.

Die meeste van dié toerusting en opleiding het egter intussen die opkoms van ISIS in die streek ondersteun, toe oudsoldate in Irak in groot getalle by die groep aangesluit het.

‘n Londense taxi-bestuurder is selfs daaraan skuldig bevind dat hy bomme vervaardig het wat Amerikaanse soldate in Irak geteiken het. Anis Abib Sardar is die eerste persoon wat in ‘n Britse hof skuldig bevind is aan ‘n misdaad in die Irakse konflik.

Die hof het gehoor dat minstens een van sy bomme in 2007 die lewe van ‘n Amerikaanse soldaat wes van Bagdad geëis het. Die Amerikaanse Federale Speurdiens het Sadar se vingerafdrukke op twee van die bomme gekry.

Kort nadat President Barack Obama van Amerika die ontplooiing van ‘n bykomende 450 Amerikaanse militêre opleidingspersoneel na die Anbar-provinsie in Irak goedgekeur het, is hy deur die Australiese premier Tony Abbott ondersteun in ‘n oproep om djihadiste te beveg.

Die Islamitiese Staat het die afgelope tyd groot oorwinnings in die gebied behaal. Abbott sê die ISIS is ambisieus en het sy oog op verskeie dele van die wêreld.

Minstens agtien mense is dié week dood in ‘n reeks bomaanvalle in die Irakse hoofstad Bagdad.

Agt van die slagoffers is dood toe ‘n bom naby ‘n restaurant ontplof het. Die militante Islamitiese Staat word glo van die jongste terreuraanvalle verdink.

FW de Klerk was reg!

FW de Klerk verdedig toenemend sy magsoordrag aan die ANC. Soos krisis in Suid-Afrika eskaleer, so groei die verduidelikings van FW de Klerk se aksies van die verlede.

25 Jaar gelede was De Klerk se aksies korrek. Die Berlynse muur het geval, en kort daarna het die Weste se vyand in duie gestort. Die globale magsbalans het vinnig verander. Die VSA was skielik die wêreld se almagtige alleenheerser sonder enige noemenswaardige teenstander.

Die groot gebeure rondom die 1990’s was uniek. Sulke politieke aardbewings gebeur slegs een keer in ‘n paar duisend jaar, en is histories van beperkte duur.

Die Amerikaanse tipe universele Kerk sonder eksklusiewe kultuur, met individue uit alle volke en tale wat die uitsonderlike supermagtige en welvarende VSA vrees, moet die Amerikaanse Ryk gehoorsaam vir universele voorspoed en vrede. Dit was die goeie nuus en evangelie. Dit is ‘n “redelike” godsdiens, en Gereformeerdes is redelike mense. FW de Klerk was rasioneel.

Afrikanerstaatsverset teen die heersende Judeo-Christelike Amerikaanse Kerk-Ryk, sou tot verdere ekonomiese sanksies sowel as rewolusionere omverwerping van die Afrikanerstaat lei, omdat die NP gestroop van Afrika-streeksmag deur die implementering van VN Resolusie 436, nie meer enige globale magsbalans kan benut, met oliargistiese Rusland, omsingelde en ekonomies geintegreerde China, Taiwan, besette Japan en besette Europa-Duitsland, asook die ANC en meneer Mandela, almal onderdane van die seëvierende Amerikaanse Ryk. Dit was die 1990’s.

President FW de Klerk, die pragmatiese NP, en professionele NI se opsomming van die 1990’s was korrek. Slegs irrasionele waarnemers en waansinniges sou kon beweer dat die almagtige Amerikaanse Ryk binne ‘n eeu nie meer absolute wereldheerser sou wees nie.

Dog 25 jaar later het die Amerikaanse Vrede-Ryk op aarde verdamp, met onophoudelike afstandbeheerde oorlog en gepaardgaande chaos op meerwordende plekke. Pleks van die Christus en vrede, het die Duiwel en chaos na verskeie plekke op aarde neergedaal.

China weier om die VSA se alleenmag te aanvaar. Die “bose” Rusland ook nie meer nie. Skielik is die wêreld weer multipolêr, met sterk kompeterende magte. Selfs die regerende SAKP-ANC is diep verdeeld weens die onverwagte magsbalans in die multipolêre wereld.

‘n Eeu van totale kompetisie op alle gebiede lê voor, op aarde, oor grondstowwe en kennis, asook in die ruimte.

Van gelowige nasionalistiese Afrikaners se Nuwe Eenwêreldorde, met een heerser, een geldmag, een geldstelsel en een staat het daar dadels gekom. Vergeleke met die 20ste eeu, bring die 21ste eeu nog groter moondheidmededinging en nog meer verskillende soorte konflik tussen state.

Hoe kon so baie Afrikaners, die Gereformeerde Kerk, FW De Klerk en vele ander kenners en spesialiste se rasionele insig in die wereld van die Amerikaanse Ryk, binne 25 jaar so onverwags verkeerd bewys word?

Watter fout het die magtige Amerikaanse Ryk oor die afgelope 20 jaar gemaak? Hoe op aarde is dit moontlik dat die VSA so ‘n fatale flater begaan het, dat sy absolute alleenheerskappy daarmee heen is, en dat hel pleks van hemel menige mense se voorland is?

Wat is die implikasie van en verklaring vir die Amerikaanse Ryk se irrassionele fout?

Madelein Louw

Oorlogsmisdadiger Blair kry skop onder die sitvlak

Die voormalige Britse eerste-minister Tony Blair, wat deesdae vir sy gruwelike menseregskendings en oorlogsmisdade onthou word, het bedank as die spesiale vredesgesant vir die Midde-Ooste.

Sy bedanking kom te midde van Anglo-Amerikaanse pogings om kernsamesprekings met Iran te voltrek tot hulle voordeel.

Behalwe dat Blair se posbeskrywing aangedui het dat hy vrede in die Israelse konflik met die Palestyne sal probeer bewerkstellig vir die agt jaar wat hy as vredesgesant gedien het, was sy ander taak om vyande teen Iran saam te snoer.

Hy het kennelik klaaglik misluk as gesant van die “Kwartet” (waaronder die VSA, Rusland, die EU en VN verstaan word) om vrede te skep.

In sy termyn het Israel ‘n bloedige aanval op Palestynse burgerlikes geloods.

Blair het sy bedanking skriftelik aan die VN se sekretaris-generaal gestuur. Selfs ondersteuners van hom sê Blair het “min impak” op die situasie in die Midde-Ooste gehad.

Blair het nooit om verskoning gevra vir die politieke ramp in Irak nie, waar ISIS vandag oorheers.

Hy het eenvoudig vier jaar later in Jerusalem opgedaag met ‘n span wat honderde miljoene in akkommodasie en lugtariewe verkwis het, en daarin geslaag om absoluut niks in byna ‘n dekade te vermag nie, behalwe chaos.

Dit het hy reggekry deur glo meer as 100 keer na die gebied te reis!

‘Afrika kan nie meer kolonialisme blameer nie’

Die voormalige hoof van die Internasionale Atoomenergie-agentskap, Mohamed ElBaradei, sê Afrika kan nie meer die kolonialiste blameer vir sy probleme nie.

Hy het bygevoeg dat die Afrika-Unie ook ’n klaaglike rekord van oplossings vir Afrika-probleme wys.

Netwerk24 berig dat ElBaradei in Pretoria tydens ’n mediagesprek wat deur die Thabo Mbeki-stigting gereël is, gesê het niemand anders nie as die vasteland se leiers moet die skuld kry vir die konflikte wat herhaaldelik opvlam.

Volgens hom het die kontinent die afgelope jaar 65 persent meer aan wapentuig bestee as die vorige jaar en dit dui daarop dat lande hulle eerder gereed maak vir oorlog as vir vrede.

Hy het gesê dis goed om Afrikadag te wil vier, maar daar is nie veel om te vier op die vasteland of in die wêreld nie.

Hy het voorgestel dat sanksies teen Burundi ingestel word om die president te dwing om gehoor te gee aan Westerse eise dat hy nie vir ‘n derde termyn dien nie.

Hy het gesê armoede is ‘n “wapen van massavernietiging”.