Spanning tussen Saoedi-Arabië en Iran het in ’n volstoom diplomatieke krisis ontaard met verskeie van Riaad se Arabiese Soenni-bondgenote, Bahrein en Soedan wat nou ook diplomatieke betrekkinge met Teheran verbreek het.
Die Verenigde Arabiese Emirate het betrekkinge met Iran afgeskaal.
Saoedi-Arabië se teregstelling van die Sjiïtiese aktivis en kerklike, sjeik Nimr al-Nimr, wat gevolg is deur ’n aanval en brandstigting van die Saoedi-Arabiese ambassade in Teheran, het aanleiding tot die jongste gebeure gegee.
Europese lande en die streekmag Turkye, het kommer uitgespreek, die Amerikaanse minister van buitelandse sake, John Kerry, het sy eweknieë telefonies geskakel.
Moskou het Maandag aangebied om as tussenganger tydens onderhandelinge op te tree.
Israelse veiligheidsmagte het intussen ’n Palestyn wat ’n Israelse soldaat met ’n mes gesteek het, in die Wes-Oewer doodgeskiet.
Dit is die jongste voorval sedert geweldpleging vier maande gelede uitgebreek het. Die voorval was by Gush Etzion, waar verskeie van die vorige aanvalle ook plaasgevind het.
’n Hospitaalwoordvoerder sê die soldaat met steekwonde aan sy gesig is lig beseer.
Byna daaglike messtekery, motors wat tussen voetgangers injaag en skietery vind sedert Oktober plaas. Dit laat vrese vir ’n wyer eskalasie van geweldpleging ontstaan, ’n dekade nadat die vorige Palestynse opstand onderdruk is.
Die golf van geweldpleging word aangevuur deur Palestyne se frustrasie oor Israel se 48-jaar lange besetting van grond wat Palestyne vir ’n onafhanklike tuisland wil hê. Nog ’n aspek wat tot frustrasie lei, is die uitbreiding van Israelse nedersettings in die gebied, wat in die 1967 Midde-Oosterse oorlog deur Israel beset is.

En hierdie keer is dit volgens die artikel uiteindelik nie weer Israel se skuld dat daar spanning in die midde-Ooste is nie. Het gewonder of iemand een of ander tyd gaan agterkom wie vir die onrus in die midde-ooste verantwoordelik is.