Nigerië, Switserland kom ooreen oor ouddiktator se geld

Nigerië en Switserland het ’n ooreenkoms onderteken wat die weg baan vir die ontvangs van meer as $300 miljoen wat van die familie van Nigerië se voormalige militêre heerser, Sani Abacha, gekonfiskeer is, het Nigerië se visepresident aangekondig.

Transparency International, ’n korrupsie-waghond, het Abacha daarvan beskuldig dat hy tydens die vyf jaar wat hy aan bewind was, vanaf 1993 tot sy dood in 1998, tot soveel as $5 miljard aan staatsgeld gesteel het.

Nigerië se prokureur-generaal het ’n brief van voorneme onderteken ingevolge die voorwaardes deur Switserland gestel om US$321 miljoen “wat deur die Abacha-familie bekom is”, aan Nigerië te betaal, het Reuters berig.

Nigerië se president, Muhammadu Buhari, wie se ampstermyn verlede jaar begin het, het ‘n veldtog teen korrupsie aangekondig.

Hy het Brittanje en Amerika versoek om te help om geld terug te vind wat deur sommige van die land se vooraanstaandes oor etlike jare gesteel is.

Die ekonomiese krisis in Afrika se grootste ekonomie wat teweeggebring is deur ’n drastiese daling in die olieprys, maak dit gebiedend noodsaaklik dat die land geld moet terugkry wat weens korrupsie verloor is.

Nigerië het ook intussen ‘n reuseboete op die Suid-Afrikaanse selfoonmaatskappy MTN gehef.

In 2014 het Nigerië en die Abacha-familie ’n ooreenkoms bereik sodat die land die geld kan terugkry. In ruil hiervoor is klagte teen die voormalige heerser se seun, Abba Abacha laat vaar.

Hy het in April 2005 in ’n Switserse hof tereggestaan op klagte van geldwassery en korrupsie nadat hy uit Duitsland gedeporteer is.

Hy het later 561 dae in aanhouding deurgebring. In 2006 het Luxemburg opdrag gegee dat die geld van die jonger Abacha bevries word.

‘n Soortgelyke versoek deur Tunisië is aan Switserland gerig om die president Ben Ali, wat deur die Arabiese Lente ontsetel is, se fondse terug te betaal.

Tunisë en Libië raak by grens slaags

Tunisiese veiligheidsmagte het die week met gewapende soldate naby die grens met Libië slaags geraak, minder as ’n week nadat vyf militante wat oor die grens gekom het, deur veiligheidsmagte doodge­skiet is.

Die gewapende mans het probeer om ’n pos van die nasionale wag en weermagbarakke in die dorp, Ben Guerdane, aan te val toe die gevegte uitgebreek het.

Minstens vier burgerlikes is in die gevegte gewond.

Die gevegte het omstreeks 04:30 uitgebreek en teen dagbreek het dit steeds gewoed. Troepe in die grensgebied is op ’n hoë gereedheidsgrondslag sedert ’n Amerikaanse lugaanval op 18 Februarie ’n opleidingskamp van die Islamitiese Staat (ISIS) groep in Libië gebombardeer het.

Altesaam 18 Tunisiese militante is in die aanval dood.

Minstens vier van die vyf militante wat verlede Woensdag naby Ben Guerdane dood is toe hulle hul vaderland vanuit Libië binnegesypel het, was Tunisiërs.

Dodelike aanvalle op buitelandse vakansiegangers verlede jaar het die Tunisiese toerismebedryf ’n ernstige knou toegedien.

Die skermutselinge het vrese laat ontstaan dat die geweld in Libië kaan oorspoel na hul buurland.

Nóg ’n Nobelprys vir Afrika

Afrika word deesdae toegegooi onder sulke pryse, maar die vooruitgang ontbreek steeds.

Die Nobel-vredesprys wat vanjaar aan die “Tunisiese Nasionale Dialoog-kwartet” toegeken is, is deur die hoofrolspelers van dié vier burgerlike samelewinggroepe in Oslo in ontvangs geneem.

Die kwartet het ná die Jasmyn-­rewolusie van 2011 Tunisië se oorgang na sogenaamde “demokrasie” gelei.

Die voormalige president, wat nou as ‘n “diktator” beskryf word deur diue VSA, was egter ‘n gematigde Moslem.

Die sekretaris-generaal van die Tunisiese algemene werkersunie, Houcine Abbassi; die president van die Tunisiese werkgewersunie (UTICA), Wided Bouchamaoui; die Tunisiese menseregteliga (LTDH) se Abdessatar Ben Moussa; en die president van die nasionale orde van Tunisiese regsgeleerdes, Mohamed Fadhel Mahfoudh, het die prys in ontvangs geneem.

Die kwartet is in 2013 gestig om die land van ‘n ineenstorting te red, onder meer vanweë politieke sluipmoorde en verspreide onluste.

Ten spyte van die toekennings, gaan Tunisië steeds beguk onder islamitiese geweld. Die afgelope jaar is drie aanvalle deur ISIS suksesvol geloods.

Talle toeriste is ook gedood, wat die land se toersime tot stilstand gedwing het. Die Nobel-vredesprys raak toenemend gestigmatiseer as ‘n kwade politieke instrument.

Tunisiërs wen Nobelvredesprys vir Arabiese Lente

Tunisië se Nasionale Dialoogkwartet het Vrydag die Nobelvredesprys gewen vir sy bydrae om demokrasie te bevorder.

Die Arabiese Lente in Tunisië, is deur die Nobelkomitee voorgehou as ‘n voorbeeld van vreedsame oorgang in ’n streek wat onder geweld en opstand gebuk gaan.

Die kwartet, bestaande uit die Tunisiese algemene werkersvakbond, die konfederasie van nywerheid, handel en kunshandwerk, die menseregteliga en die orde van regspraktisyns, het in 2013 tot stand gekom.

Die kwartet het die demokratiseringsproses ondersteun toe dit die gevaar geloop het om in duie te stort, het die Nobelkomitee gesê.

“Dit is ’n blye en trotse dag vir Tunisië, maar ook ’n dag van hoop vir die Arabiese wêreld,” het Hussein Abassi, hoof van die Tunisiese werkgewersvakbond, Vrydag gesê.

“Die prys stuur ’n boodskap na ons streek om wapens neer te lê en ’n gesprek om ’n onderhandelings­tafel te voer.”

Met sy nuwe grondwet, vrye verkiesings en ’n politiek van kompromie tussen Islamitiese en sekulêre leiers, word Tunisië voorgehou as ’n model vir die oorgang van ’n diktatorskap na ’n demokrasie.

“Dit is wonderlik. Tunisië is ’n Arabiese land wat uitstekend gevaar het sedert die Arabiese Lente,” het Ahmad Fawzi, ‘n woordvoerder van die Verenigde Nasies, gesê.

Intussen het die Libiese konflik oorgespoel na Tunisië met ‘n gewapende groep in die noordwestelike Libiese kusstad Sabratha wat honderde Tunisiërs Maandagnag ontvoer het.

Die aantal gyselaars is nog nie bevestig nie, maar volgens plaaslike nuusberigte is 300 Tunisiërs ontvoer.

Militante uit Libië het verantwoordelikheid vir die ontvoering aanvaar.

Die ontvoering was glo uit wraak teen die Tunisiese regering, omdat Tunisiese veiligheidsmagte onlangs ‘n Libiese politikus in hegtenis geneem het weens sy betrokkenheid by terreur.

Betogings is in Libië gehou dié week op Martelaarsplein in sentraal Tripoli teen die nasionale eenheidsregering wat deur die Verenigde Nasies se gesant, Bernardino Leon, voorgestel is.

Libiese politici­ het ingestem tot ’n nuwe nasionale regering onder leiding van eerste minister Fayez el-Sarraj ná maande van uitgerekte onderhandelinge.

Libië is sedert die val van Moeammar Ghaddafi in chaos gedompel. Die land het twee mededingende parlemente en verskeie groepe veg om beheer van die land se energiehulpbronne.

Britse premier sê stryd teen ISIS nie teen Islam

Die Islamitiese Staat het volgens berigte in die afgelope jaar meer as 3000 mense in Sirië tereggestel.

Die Britse Eerste Minister, David Cameron het in ‘n parlementêre toespraak die versekering gegee dat hy “ekstremisme” sal verslaan, maar bygevoeg dat nie ‘n stryd teen Islam is nie.

Cameron sê dit is nie ‘n oorlog tussen Islam en die Weste nie, alhoewel ISIS mense daarvan wil oortuig.

‘n Britse menseregte-waarnemersgroep sê net meer as 3000 teregstellings is sedert 29 Junie 2014 gedokumenteer.

Onder hulle is byna 1800 burgerlikes, waaronder 74 kinders.

Die Ministers van Binnelandse Sake van Brittanje, Frankryk, Duitsland en België het intussen by hul Tunisiese eweknie in Sousse aangesluit om ‘n verenigde front voor te hou teen die bedreiging wat die Islamitiese Staat inhou.

Agt-en-dertig mense, onder wie minstens 30 Britte, is verlede Vrydag deur ‘n gewapende aanvaller in Sousse doodgeskiet. Die Islamitiese Staat het aanspreeklikheid vir die aanval aanvaar.

Die Britse minister van Binnelandse Sake, Theresa May sê die ministers het ingestem om hul kennis te deel om die ISIS te beveg.

Die polisie in Tunisië het intussen ‘n groep verdagtes in hegtenis geneem in verband met die skietery.

Die verdagtes het almal bande met die aanvaller wat deur die polisie doodgeskiet is.

Duisende buitelandse toeriste het intussen die land verlaat.