CNN fabriseer nuus na ISIS verantwoordelikheid vir Londen-aanval aanvaar

CNN is uitgevang dat hulle nuus fabriseer in die nasleep van die ISIS-terroriste groep se dodelike aanval in die Verenigde Koninkryk se hoofstad, Londen.

CNN se Becky Anderson is in Londen gesien wat rekwisiete aan ‘n “vredesgroep” oorhandig om voor die kamera vas te hou. Die doelbewuste opvoering van nuus is vasgevang op video deur ‘n omstander, wat die beeldmateriaal na sy Twitter-rekening @markantro gestuur het.

Die nuusspan het selfs plakkate en voorafvervaardigde rekwisiete uitgereik en die groep afgerig voordat hulle verfilm is. Die beeldmateriaal is daarna as werklike nuus deur CNN uitgesaai.

Volgens @markantro is wit polisiebeamptes versoek om te vertrek en is vervang deur Asiatiese wetstoepassers vir die verfilming, maar het gou spore gemaak nadat die toneel verfilm is.

Die joernaliste wat die “vredesgroep” verfilm het, het die burgerlike joernalis smalend ‘n “naweek-vegter” genoem.

Die BBC het dieselfde toneelstukkie van CNN gebruik in hul eie nuusberig in die nasleep van die terreuraanval. Katie Hopkins, Britse radiopersoonlikheid, het die hoof van die BBC News, James Harding vir kommentaar genader, maar het nog geen antwoord ontvang nie. Die BBC het ook geweier om snitte uit te saai van terroriste wat sê: “Dit is vir Allah”.

Volgens Hopkins is dieselfde groep op verskeie plekke gebruik om nuus te “maak”. Sy vermoed dat hulle “te huur” is.

‘n Joernalis van die linkse koerant, The Guardian, het tydens die aanvalle getwiet dat hy “lag” terwyl mense gesteek en geslag word, maar @OwenJones84 het sy pos vinnig uitgevee. Owen Jones het op Twitter gesê: “Tans in ‘n kroeg in sentraal-Londen, vol mense wat lag en gesels. Niemand is bang of bekommerd nie.”

Volgens die plaaslike owerhede is minstens sewe mense dood en 48 beseer. Altesame 12 verdagtes, waaronder vier vroue, is in hegtenis geneem oor die aanvalle.

‘n Traumadokter wat met 12 van die slagoffers van die terreuraanval gewerk het, het gesê baie mense was so geskok dat hulle nie kon praat toe hulle by die hospitaal aankom nie.

Die dokter in beheer by die Royal London-hospitaal in Whitechapel het aan The Independent gesê die slagoffers kon net sit en staar terwyl hulle deur mediese personeel behandel is. Hy het gesê almal is sleg beseer in die voertuig- en mesaanval.

Op Saterdag om 22:08 plaaslike tyd (21:08 GMT) het ‘n voertuig niksvermoedende voetgangers op die London Bridge getref en na Borough Market gegaan waar die verdagtes op die mark onskuldige slagoffers begin steek het. Die aanvallers is deur die polisie doodgeskiet.

Die Amerikaanse president Donald Trump het die burgemeester van Londen, Sadiq Khan, na die Londense terreuraanval gekonfronteer. Hy het “politieke korrektheid” in sy kommentaar op Twitter gekritiseer ná die moorde in die Britse hoofstad.

Die Moslem-burgemeester van Londen, Khan, het verontwaardiging veroorsaak toe hy getwiet het: “Daar is geen rede om bekommerd te wees nie,” want in die loop van die volgende paar dae sal wetstoepassers ontplooi word.

In ‘n reeks twiets het die president, Donald Trump, die burgemeester se twiet uitmekaar getrek. “Ons moet ophou om polities korrek te wees en sekuriteit vir ons mense skep. As ons nie slim word nie, sal dit net erger word,” het die Amerikaanse president gesê.

“Ten minste sewe dood en 48 gewond in terreuraanvalle en burgemeester van Londen, sê daar is ‘geen rede om bekommerd te wees’!” het Trump se twiet gelees.

Die Amerikaanse president het ook in ‘n twiet daarop gewys dat die aanvallers nie vuurwapens gebruik het nie, in ‘n duidelike boodskap aan Amerikaanse geweerbeheerfanatici “Sien julle dat ons nie nou ‘n geweerdebat het nie? Dit is omdat hulle messe en ‘n vragmotor gebruik het!”

Moslems soek wapens op wit mans om terreur te voorkom in Londen

Moslemswetstoepassers in die Britse hoofstad deursoek nou blankes vir vuurwapens “om terreur in Londen te voorkom”.

Khan het in Mei gesê: “Trump se onkundige siening van Islam kan ons lande minder veilig maak. Dit is die gevaar om gewone Moslems te vervreem. Londen het hom verkeerd bewys.”

Daar was berigte van ISIS-simpatiseerders wat die pogings van die drie terroriste wat betrokke was by die dodelike aanvalle, geprys het, selfs voordat ISIS aanspraak gemaak het op hul verantwoordelikheid.

Die BBC se sekuriteitskorrespondent, Frank Gardner, het gesê propaganda-materiaal is vroeër vanjaar op die kitsboodskapdiens Telegram gedeel en die oproep om dood te maak is wyd in die afgelope weke gedeel soos die Moslem-heilige maand van Ramadan gevorder het.

Volgens die BBC het die ondersteuners van die sogenaamde Islamitiese staat die Londense aanval “die hele nag gevier – selfs voordat enige aanspraak nog deur ISIS gemaak is”.

Toeareg-vegters blok djihadistiese smokkelroete

Ondanks Franse militêre optrede in 2013 om militante Islamitiese groepe in die noorde van Mali onder beheer te bring, is die gebied steeds polities onstabiel.

‘n Aantal uitgedorde brode is al wat in die hoofbakkery van Mali se noordelike woestyndorp, Kidal, oor is.

Die eienaars het die bakkery verlaat toe meelpryse verdubbel het nadat gewapende vegters van ‘n meestal Toeareg-groep verlede maand die dorp geblokkeer het, wat op ‘n hoofsmokkelroete geleë is.

Die blokkade is deel van ‘n bitter stryd tussen opposisie Toeareg-stamme, wat pogings om ‘n 2015-vredesooreenkoms te implementeer om die noordelike deel van Mali en die Sahel te stabiliseer, in die wiele te ry.

Tien miljoene dollar in Westerse hulp, wat aangebied is om die oorsake van die voortdurende Toeareg-opstande in die noorde die hoof te bied, is vir eers opsy geskuif totdat spanning tussen die gewapende groepe, soos die Kidal-blokkade toon, verlig word.

Die afwesigheid van ‘n wettige weermag in die noorde het ‘n leemte gelaat wat bendes Islamitiese militante, toegelaat het om toenemend uitdagend te raak. Hulle is eers verjaag gedurende die Franse militêre operasie van 2013, maar nie verslaan nie.

Om griewe van die sekulêre gewapende Toeareg-groepe op te los, wat uit duisende gewapende vegters bestaan, word gesien as noodsaaklike stap om teenstand te bied teen rondtrekkende djihadiste in die gebied.

Mali gaan steeds gebuk onder djihadiste-aanvalle

Minstens vyf Malinese soldate word vermis ná ’n aanval in die sentrale Mopti-streek van Mali, waar gewapende Islamitiese ekstremiste aktief is, het ’n militêre woord­voerder gesê.

Die aanvallers het Maandag een van die weermag se posisies tussen Tenenkou en Sevare aangeval. Die weermag gee Ansar Dine die skuld vir die aanval.

Ansar Dine is ’n hoofsaaklik Toeareg-groep wat vroeg in 2012, met die hulp van twee ander bewegings, waaronder Al-Kaïda in die Islamitiese Maghreb (AQIM), beheer oor die noordelike woestyngebied geneem het.

Die djihadiste is in Frans-geleide militêre operasies in 2013 uit die gebied verdryf, maar hulle voer steeds aanvalle van hul skuilings in die woestyn uit.

Ansar Dine het aanspreeklikheid aanvaar vir ’n aanval op ’n militêre basis by Nampala op 19 Julie waarin 17 soldate dood en 37 gewond is en ses vermis word.

Voortgesette internasionale militêre betrokkenheid sedert Januarie 2013 het die Islamitiese vegters uit belangrike bevolkingsentrums verdryf, maar groot dele van die land is steeds nie onder die beheer van Malinese of internasionale magte nie.

Djihadistiese groepe het vroeg verlede jaar begin om aanvalle in die sentrale en noordelike dele van Mali uit te voer.

Djihadiste dood 16 by Ivoorkus se strandoord

Ongeïdentifiseerde aanvallers het Sondag losgebrand op ’n strandoord in Grand Bassam in die Ivoorkus. Die gewapende aanvallers het hotelle by die oord bestorm en op die gaste gevuur.

Altesaam 16 mense is in die aanval doodgeskiet, het die president gesê. Veertien was burgerlikes en twee soldate, het pres. Alassane Ouattara bevestig.

Die aanval word met ’n groep militante met Al-Kaïda-bande verbind.

Die Veiligheidsraad van die VN het intussen die aanval veroordeel.

AFP berig dit laat vrese in Wes-Afrika oor ’n dreigende djihad oplaai.

“Ek het sewe oorledenes gesien. Daar was vier aanvallers. Ek het geswem toe hulle begin skiet het en toe het ek weggehardloop,” het Dramane Kima gesê, wat videomateriaal van die aanval geneem het.

Hy het ook foto’s geneem van handgranate en ammunisie wat die aanvallers vermoedelik op die toneel agtergelaat het.
Twee maande gelede het Islamitiese militante dosyne mense doodgemaak in ’n hotel en restaurant in Burkina Faso, Ivoorkus se buurland, waar buitelanders gereeld gaste is.

Die aanvalle wek kommer dat militante geweld besig is om in Wes-Afrika te versprei.

Irak-mislukking met nuwe Amerikaanse oorlogsgier beantwoord

Tot 450 Amerikaanse militêre raadgewers gaan na Irak gestuur word om die land te help om sy soldate op te lei.

Tot dusver het die VSA se buitelandse beleid tot niks in die streek gelei nie. Ontleders het met verbasing gereageer op die aankondiging en gesê dit lyk asof Amerikaanse mislukkings met ‘n nuwe oorlogsgier uitgebrei sal word.

Die Withuis sê in ‘n verklaring president Barack Obama het die besluit geneem ná ‘n versoek deur die Irakse eerste minister, Haider Al-Abadi.

Die groep sal gesetel wees by ‘n militêre basis in die Anbar-provinsie waarvan die hoofstad, Ramadi, in Mei deur militantes van die Islamitiese Staat beset is.

Dit sal die getal Amerikaanse opleidingskampe in Irak op vyf te staan bring en sowat 9000 Irakse soldate is reeds by die vier bestaandes opgelei.

Die meeste van dié toerusting en opleiding het egter intussen die opkoms van ISIS in die streek ondersteun, toe oudsoldate in Irak in groot getalle by die groep aangesluit het.

‘n Londense taxi-bestuurder is selfs daaraan skuldig bevind dat hy bomme vervaardig het wat Amerikaanse soldate in Irak geteiken het. Anis Abib Sardar is die eerste persoon wat in ‘n Britse hof skuldig bevind is aan ‘n misdaad in die Irakse konflik.

Die hof het gehoor dat minstens een van sy bomme in 2007 die lewe van ‘n Amerikaanse soldaat wes van Bagdad geëis het. Die Amerikaanse Federale Speurdiens het Sadar se vingerafdrukke op twee van die bomme gekry.

Kort nadat President Barack Obama van Amerika die ontplooiing van ‘n bykomende 450 Amerikaanse militêre opleidingspersoneel na die Anbar-provinsie in Irak goedgekeur het, is hy deur die Australiese premier Tony Abbott ondersteun in ‘n oproep om djihadiste te beveg.

Die Islamitiese Staat het die afgelope tyd groot oorwinnings in die gebied behaal. Abbott sê die ISIS is ambisieus en het sy oog op verskeie dele van die wêreld.

Minstens agtien mense is dié week dood in ‘n reeks bomaanvalle in die Irakse hoofstad Bagdad.

Agt van die slagoffers is dood toe ‘n bom naby ‘n restaurant ontplof het. Die militante Islamitiese Staat word glo van die jongste terreuraanvalle verdink.

ISIS gaan van krag tot krag

Die Islamitiese Staat (ISIS) is die mees suksesvolle radikale Islamitiese groep wat groot dele van die grondgebied in die ooste van Sirië en oral in die noorde en weste van Irak ingeneem het.

‘n Verslag wat aan die VN se Veiligheidsraad in Julie verlede jaar voorgelê is deur ‘n VN-waarnemersmissie (UNDOF), toon dat dat Israel ten nouste betrokke is by die ondersteuning van ISIS.

Die Israelse premier Benjamin Netanyahu, het die skepping van ISIS verwelkom in ‘n toespraak in Junie 2014 by Tel Aviv Universiteit se INSS-byeenkoms.

Intussen het ‘n voormalige Amerikaanse generaal Wesley Clarke in ‘n onderhoud met CNN ook toegegee dat ISIS geskep is deur die VSA se “vriende en bondgenote”.

Die groep se brutale taktiek, insluitende massamoord en ontvoering van lede van godsdienstige en etniese minderhede, asook die onthoofding van soldate en joernaliste, het vrees en woede in die wêreld ontlok.

Die groep beplan die totstandkoming van ‘n kalifaat, ‘n staat wat deur ‘n enkele politieke en godsdienstige leier volgens sjaria, die Islamitiese wet, regeer word.

Al is die groep tans beperk tot Sirië en Irak, het ISIS beloof om die ” grense van Jordanië en Libanon te breek” en Palestina te bevry. Dit kry steun van Moslems oral in die wêreld en eis dat almal ‘n alliansie met sy leier, Ibrahim Awad Ibrahim Ali al-Badri al-Samarrai, beter bekend as Abu Bakr al-Baghdadi, aangaan.

ISIS se oorsprong dateer na die oorlede Abu Musab al-Zarqawi, ‘n Jordaniër wat die beweging Tawhid wa al-Jihad in 2002 tot stand gebring het. ‘n Jaar na die Amerikaans-geleide inval in Irak, het Zarqawi ‘n alliansie met Osama bin Laden aangegaan en Al-Kaïda in Irak (AQI) gestig, wat ‘n mag om mee rekening te hou in die insurgensie geword het. Die taktiek van Abu Musab al-Zarqawi is as te ekstreem deur Al-Kaïda se leiers beskou.

Na Zarqawi se dood in 2006, het AQI ‘n sambreelorganisasie, die Islamitiese Staat, in Irak (ISI) gevorm. ISI is stelselmatig verswak deur middel van Amerikaanse troepe se optrede en die vorming van Sahwa-rade (” ontwaking” ) deur Soenni Arabiese stamlede, wat die groep se wreedaardighede verwerp het.

Nadat hy in 2010 die leier geword het, het Baghdadi ISIS heropgebou. Teen 2013 was die groep opnuut besig met dosyne aanvalle ‘n maand in Irak. Dit het ook aangesluit by die rebellie teen pres. Bashar al-Assad in Sirië en die Al-Nusra Front tot stand gebring.

In April 2013 het Baghdadi ‘n samesmelting van sy magte in Irak en Sirië en die totstandkoming van die Islamitiese Staat in Irak en die Levant (ISIS) aangekondig.

Die leiers van Al-Nusra en Al-Kaïda het die skuif verwerp, maar vegters lojaal aan Al-Baghdadi het weggebreek van Al-Nusra en gehelp om ISIS in Sirië te hou.

Godsdienstige minderhede, veral Irak se Jazidi’s, is deur die Islamitiese Staat-groep geteiken.

Teen die einde van Desember 2013, het ISIS se fokus terug na Irak verskuif en ‘n politieke dooie punt tussen die Shia-geleide regering en die minderheid Soenni Arabiese gemeenskap uitgebuit. Met die hulp van stamlede, het die groep beheer oor die sentrale stad Falluja oorgeneem.

In Junie 2014 het Isis die noordelike stad Mosul ingeneem en toe suidwaarts in die rigting van Bagdad begin beweeg. Teen die einde van die maand, nadat die groep sy beheer oor dosyne stede en dorpe gekonsolideer het, het ISIS die skepping van ‘n kalifaat verklaar.

Sommige Soenni Arabiere het die Islamitiese Staat-groep ondersteun nadat Mosul ingeneem is. Sommmige waarnemers skat dat IS en sy bondgenote ongeveer 40 000 vierkante kilometer in Irak en Sirië beheer, ongeveer die grootte van België. Ander meen hulle beheer nader aan 90 000 vierkante kilometer, ongeveer die grootte van Jordanië. Die gebied sluit stede soos Mosul, Tikrit, Falluja en Tal Afar in Irak; Raqqa in Sirië, olievelde, damme, hoofpaaie en grenskruisings in.

Dit word beraam dat agt miljoen mense in die gebied woon, wat gedeeltelik of ten volle deur ISIS beheer word. In die gebiede het die groep streng vertolkings van Sharia geïmplementeer en word vroue gedwing om sluiers te dra, nie-Moslems gedwing om ‘n spesiale belasting te betaal of hulle tot Islam te bekeer en strawwe afgedwing wat geseling en teregstelling insluit.

Duisende buitelanders het vir ISIS in Sirië en Irak geveg. Amerikaanse amptenare is van mening dat daar tot soveel as 31 000 vegters in Irak en Sirië is. ‘n Deskundige oor Irak, Hisham al-Hashimi, sê ongeveer 30 persent is ” ideoloë” en dat die res uit vrees of onder dwang aangesluit het.

‘n Betekenisvolle aantal IS-vegters is nie Irakse of Siriese burgers nie. Die Soufan-groep het onlangs beraam dat meer as 12 000 buitelanders van minstens 81 lande, insluitende 2 500 uit Westerse lande, oor die afgelope drie jaar na Sirië gereis het om vir ISIS te veg.

Die Islamitiese Staat het een van die mees gedugte djihadistiese groepe ter wêreld geword. ISIS-vegters het toegang tot en is in staat om ‘n verskeidenheid klein en swaar wapentuig te gebruik. Dit sluit in vragmotorgemonteerde masjiengewere, vuurpyllanseeerders, lugafweerwapens en beweeglike grond-tot-lug-missielstelsels. Hulle het ook tenks en gepantserde voertuie van sowel die Irakse as Siriese weermagte gebuit. Dit sluit Amerikaanse Humvees en bombestande vragmotors in.

Die groep beskik klaarblyklik ook oor ‘n buigsame voorsieningsketting wat ‘n konstante voorraad ammunisie en klein vuurwapens tot vegters se beskikking stel. Die betekennisvolle vuurkrag het ISIS gehelp om in Augustus Koerdiese Peshmerga-posisies in die noorde van Irak, tot vele se verbasing, te verower.

Die Islamitiese Staat het glo US$ 2 miljard in kontant en bates, wat dit die wêreld se rykste militante groep maak. Aanvanklik het die meeste finansiële bystand van individue in Arabiese Golfstate gekom. Vandag is IS grootliks selfvoorsienend en verdien maandeliks miljoene dollar uit die olie- en gasvelde wat dit beheer, asook uit belasting, tolgeld, smokkelarry, afpersing en ontvoering. Die offensief in Irak was ook uiters lonend en het hulle toegang gegee tot die kontant wat in groot handelsbanke gehou is in die stede wat hulle verower het.

Onthoofdings, kruisigings en massaskietery is gebruik om hul vyande te terroriseer. ISIS-lede regverdig hierdie gruweldade deur verse uit die Koran waarin verwys word na ” kap die koppe van ongelowiges af” , maar Moslems verwerp dit.

Selfs die Al-Kaïda leier, Ayman al-Zawahiri, wat hom in Februarie 2014 van ISIS gedistansieer het oor die groep se optrede in Sirië, het Zarqawi in 2005 reeds gewaarsku dat sodanige brutaliteit daartoe sal lei dat dit ” Moslem-harte en simpatie” sal verloor.

Bron: Die Republikein, BBC, CNN, Jerusalem Post