praag.co.za

Tag: mali

  • Franse moeilikheid in Mali hou nie op nie

    Franse moeilikheid in Mali hou nie op nie

    ‘n Vredebewaarder van Togo en twee Malinese burgerlikes is dood in ‘n aanval op ‘n militêre konvooi in Mali, ná ‘n bloedige week vir buitelandse magte wat in die land gestasioneer is, het die Verenigde Nasies (VN) in ‘n verklaring gesê.

    Sewe ander vredebewaarders, ook van Togo, is in die aanval in die sentrale Mopti-streek dood, het die VN-sending in Mali, bekend as Minusma, gesê.

    Nadat ‘n landmyn of selfgeprakseerde ploftoestel ontplof het, het die aanvallers met gewere op die konvooi losgebrand. Die VN het nie die aanvallers geïdentifiseer nie.

    Meer as 11 000 VN-polisiebeamptes en militêre personeel doen tans diens in Mali in ‘n poging om die veiligheid in wettelose dele van die Sahel-nasie te verseker.

    Die aanval kom ‘n dag nadat ‘n Franse soldaat wat in Frankryk se “Barkhane”-teenterroristemag diens doen, in ‘n soortgelyke voorval dood is.

    Hy het aan sy beserings beswyk ná ‘n landmynontploffing naby die noordelike dorp Kidal waarvoor die Islamitiese groep Ansar Dine, wat bande met Al-Kaïda het, aanspreeklikheid aanvaar het.

    Die Franse minister van verdediging, Jean-Yves Le Drian, het Sondag ‘n beroep op Mali se president gedoen om vrede in die onstabiele noorde van die land te herstel.

    Ansar Dine het Sondag ook aanspreeklikheid aanvaar vir die plundering van ‘n weermagbasis in die noorde van die land waar hulle wapens en voertuie gesteel het nadat troepe van hul posisies gevlug het.

    Die djihadiste sê verskeie Malinese soldate is in die aanval dood, maar dit is deur onafhanklike bronne en weermagoffisiere ontken.

    Meer as 30 Minusma-troepe is reeds die afgelope jaar dood, die meeste nog in enige VN-vredesending. Die sending ly ook onder logistieke mislukkings en die VN het erken dat sy personeel hulle aan marteling en seksuele misbruik skuldig gemaak het en een gevangene in aanhouding dood is.

    Die Mopti-aanval het plaasgevind ten tyde van Kanada se minister van verdediging, Harjit Sajjan, se samesprekings met topamptenare in Bamako voor die ontplooiing van 600 Kanadese vredebewaarders in Afrika en waarskynlik in Mali.

    Die VN oorweeg dit om Kanadese taktiese helikopters in die gebied te ontplooi sodra Nederlandse lugsteun in Januarie 2017 onttrek word.

    Minusma het in 2013 in Mali ontplooi nadat Franse magte vroeër ontplooi is om djihadiste te verdryf uit sleutel noordelike stede wat deur hulle ingeneem is.

  • Toeareg-vegters blok djihadistiese smokkelroete

    Toeareg-vegters blok djihadistiese smokkelroete

    Ondanks Franse militêre optrede in 2013 om militante Islamitiese groepe in die noorde van Mali onder beheer te bring, is die gebied steeds polities onstabiel.

    ‘n Aantal uitgedorde brode is al wat in die hoofbakkery van Mali se noordelike woestyndorp, Kidal, oor is.

    Die eienaars het die bakkery verlaat toe meelpryse verdubbel het nadat gewapende vegters van ‘n meestal Toeareg-groep verlede maand die dorp geblokkeer het, wat op ‘n hoofsmokkelroete geleë is.

    Die blokkade is deel van ‘n bitter stryd tussen opposisie Toeareg-stamme, wat pogings om ‘n 2015-vredesooreenkoms te implementeer om die noordelike deel van Mali en die Sahel te stabiliseer, in die wiele te ry.

    Tien miljoene dollar in Westerse hulp, wat aangebied is om die oorsake van die voortdurende Toeareg-opstande in die noorde die hoof te bied, is vir eers opsy geskuif totdat spanning tussen die gewapende groepe, soos die Kidal-blokkade toon, verlig word.

    Die afwesigheid van ‘n wettige weermag in die noorde het ‘n leemte gelaat wat bendes Islamitiese militante, toegelaat het om toenemend uitdagend te raak. Hulle is eers verjaag gedurende die Franse militêre operasie van 2013, maar nie verslaan nie.

    Om griewe van die sekulêre gewapende Toeareg-groepe op te los, wat uit duisende gewapende vegters bestaan, word gesien as noodsaaklike stap om teenstand te bied teen rondtrekkende djihadiste in die gebied.

  • Mali gaan steeds gebuk onder djihadiste-aanvalle

    Mali gaan steeds gebuk onder djihadiste-aanvalle

    Minstens vyf Malinese soldate word vermis ná ’n aanval in die sentrale Mopti-streek van Mali, waar gewapende Islamitiese ekstremiste aktief is, het ’n militêre woord­voerder gesê.

    Die aanvallers het Maandag een van die weermag se posisies tussen Tenenkou en Sevare aangeval. Die weermag gee Ansar Dine die skuld vir die aanval.

    Ansar Dine is ’n hoofsaaklik Toeareg-groep wat vroeg in 2012, met die hulp van twee ander bewegings, waaronder Al-Kaïda in die Islamitiese Maghreb (AQIM), beheer oor die noordelike woestyngebied geneem het.

    Die djihadiste is in Frans-geleide militêre operasies in 2013 uit die gebied verdryf, maar hulle voer steeds aanvalle van hul skuilings in die woestyn uit.

    Ansar Dine het aanspreeklikheid aanvaar vir ’n aanval op ’n militêre basis by Nampala op 19 Julie waarin 17 soldate dood en 37 gewond is en ses vermis word.

    Voortgesette internasionale militêre betrokkenheid sedert Januarie 2013 het die Islamitiese vegters uit belangrike bevolkingsentrums verdryf, maar groot dele van die land is steeds nie onder die beheer van Malinese of internasionale magte nie.

    Djihadistiese groepe het vroeg verlede jaar begin om aanvalle in die sentrale en noordelike dele van Mali uit te voer.

  • Aanval in Mali op EU militêre sending

    Aanval in Mali op EU militêre sending

    Gewapende mans het Maan­dagaand ’n hotel in Mali se hoofstad, Bamako, bestorm, waar die Europese Unie (EU) se militêre opleidingsending tuis is. Een persoon is in die aanval dood.

    Die gewapendes het die hotel omstreeks 18:30 aangeval waarna hulle onder geweervuur van veiligheidswagte ontsnap het.

    “Vier mense het probeer om hul weg te baan deur ’n barrikade terwyl hulle geskiet het,” het ’n lid verbonde aan die EU-opleidingsending in Mali (EUTM) gesê.

    “Een van die vier is geneutra­liseer, ons soek nog na drie ander,” het hy aan AFP gesê.

    Die polisie het ’n foto van die dooie aanvaller aan AFP gewys. Hy het ’n denim-broek aangehad en in ’n poel van sy eie bloed gelê.

    ’n Malinese veiligheidsbron sê troepe is op soek na ’n vermeende selfmoordbomaanvaller wat vermoedelik in die omgewing van die EUTM se hoofkwartier is.

    Die minister van binnelandse veiligheid, Salif Traore, het gesê twee verdagtes is aangekeer en veiligheidsmagte is besig om die gebied te beveilig in dieselfde woonbuurt waar die Radisson Blu hotel geleë is.

    Dit is daar waar 20 mense deur djihadiste in ­November vermoor is.

    Veiligheidsmagte het ook die sak wat die dooie aanvaller by hom gehad het, deursoek omdat vermoed is dat dit moontlik plofstof kon bevat.

    EUTM werk om Mali se weermag se vermoë te verbeter om djihadiste die stryd aan te sê. Die EU-sending benut die kundigheid van personeel uit 25 lande met meer as 600 personeel wat in Mali gesta­sioneer is.

    Magte van Frankryk en die Verenigde Nasies probeer die weermag ondersteun, maar die ekstremiste gebruik voortdurend nuwe tegnieke om terreur te laat posvat nadat hulle in 2013 deur ’n Frans-geleide koalisie uit sleutel noordelike dorpe verdryf is.

    Die noorde van Mali het in 2012 in die hande van ’n djihadistiese groep met bande met Al-Kaïda geval, en die regering was nie in staat om veiligheid met plaaslike magte te handhaaf nie.

    Sedert hulle uit die noorde van Mali verdryf is, het die djihadiste sporadiese aanvalle op die land se weermag en VN-vredesbewaarders uitgevoer. Dosyne mense is in die aanvalle dood.

    Meer onlangs het hulle gewilde burgerlike teikens gekies vir hul aanvalle. Al-Kaïda in die Islamitiese Maghreb (AQIM) het aanspreeklikheid vir drie onlangse aanvalle in Wes-Afrika aanvaar.

    Dit sluit ’n aanval op ’n strandoord verlede maand in die Ivoorkus en nog ’n ander aanval in Januarie in Burkina Faso, asook die aanval op die Radisson Blu-hotel in Bamako in November 2015 in.

    Die polisie in die Ivoorkus het intussen 15 mense in hegtenis geneem in verband met die aanval vroeër die maand by `n vakansieoord waarin 19 mense dood is.

    Die polisie soek nog na die leier van die aanvallers. Die Ivoriaanse staatsaanklaer sê sy naam is Kounta Dallah.

    Gewapende mans het op 13 Maart die oord by Grand Bassam aangeval. Ses aanvallers is doodgeskiet.

    Volgens die staatsaanklaer is die verdagtes aangekeer op grond van inligting wat op die toneel gevind is.

  • AU wil sending na Mali stuur

    AU wil sending na Mali stuur

    Die Afrika-unie sal binne die volgende weke ’n sending na die noorde van Mali stuur, het Reuters berig.

    Die sending sal ondersoek instel na die oprigting van ‘n teenterrorisme-mag om die vredesending van die Verenigde Nasies (VN) te ondersteun.

    Die Bamako-regering asook sommige lede van die VN-magte in Mali (Minusma), het hulp gevra in die stryd teen insurgente met bande aan al-Kaïda, wat ondanks die teenwoordigheid van Franse, Malinese en VN-troepe, toenemend aktief is.

    Franse magte het die djihadiste in 2013 uit die noorde van Mali verdryf, maar hulle het hergroepeer.

    In November 2015 het die insurgente onder die vaandel van ISIS ‘n luukse hotel in Bamako aangeval waartydens 20 mense omgekom het.

  • Islamitiese terroriste val soldate in Mali aan

    ’n Organisasie wat jihadistiese webtuistes monitor, berig dat Al-Kaïda se tak in Noord-Afrika aanvoer dat die ekstremistiese groep, Ansar Dine, barakke in die noorde van Mali aangeval het.

    Die aanval was in die stad, Nione in die Segou-streek, volgens die nuusagentskap AP.

    Verskeie soldate is dood, ander is gewond en die aanvallers het wapens gesteel.

    Volgens die Islamitiese ekstremiste is die aanval deel van die operasie wat daarop gemik is om Franse magte uit die land te verdryf.

    Intussen is die Radisson Blu-hotel weer heropen, het Reuters berig. Die hotel is Dinsdag in Bamako, Mali heropen na ‘n terreuraanval.

    Dit is die eerste keer dat die hotel sy deure weer vir gaste oopstel nadat dit in November deur gewapende Islamitiese terroriste aangeval is.

  • China maak reg vir Suid-Afrikaanse besoek

    Volgens die Chinese minister van buitelandse sake, sal Beijing bilaterale samewerking met Afrikalande verhoog in die stryd teen terrorisme en ekstremisme.

    China sal sy samewerking met Afrikalande in die stryd teen terrorisme verhoog ná die onlangse aanval op ‘n Malinese hotel wat die lewens van 19 mense, waaronder drie Chinese burgers, geëis het, het die Chinese minister van buitelandse sake Wang Yi Donderdag gesê.

    “‘n Paar dae gelede, in Mali, was daar ‘n terroriste-aanval met gyselaars, waarin drie Chinese burgers gedood is. China sal voortgaan om pragmatiese samewerking met Afrika te bevorder, en terselftertyd bilaterale samewerking in die stryd teen terrorisme en ekstremisme verstrek,” het hy gesê op ‘n forum wat die Chinese leier Xi Jinping se besoek aan Suid-Afrika voorafgaan.

    Die Chinese leier se besoek aan Suid-Afrika is geskeduleer vir die begin van Desember.

    Die minister van buitelandse sake het beklemtoon dat China ‘n “aktiewe deelnemer” is in die behoud van vrede en stabiliteit in Afrika.

    Op 20 November, het gewapende mans van die Islamitiese Staat die Radisson Blu Hotel in die hoofstad Bamako bestorm, en 170 mense gyselaar geneem, meestal buitelanders. Negentien mense is doodgeskiet.

    Die Chinese leier het die aanval veroordeel en Chinese veiligheidsagentskappe gemaan om Chinese burgers en maatskappye in die buiteland beter te beskerm.

  • Ses Russe eerste doodgeskiet in Mali-aanval

    Ses Russe eerste doodgeskiet in Mali-aanval

    ‘n Moslemgroep verbonde aan Al-Kaïda het aanspreeklikheid vir Vrydag se terroriste-aanval op ’n hotel in die hoofstad van Mali aanvaar.

    Altesaam 19 mense, van wie die meeste buitelanders was, is in die voorval dood. Gerugte doen die ronde dat 27 lyke getel is. Minstens twee van die aanvallers is doodgeskiet.

    Die twee name wat die owerhede vrygestel het, het laat blyk dat die aanvallers van Mali was, maar dit kon nie bevestig word nie.

    Minstens 170 mense was in die hotel tuis toe die aanvallers Vrydagoggend daar ingestorm het.

    Ses Russe, drie Chinese, twee Belge, ’n Amerikaner, ’n Israeli, ’n Senegalees en ’n lid van Mali se spesiale magte was onder die slagoffers.

    Die owerhede is op soek na minstens drie mense wat met die aanval verbind word. ‘n Gas in die hotel het gehoor hoe die aanvallers Engels praat.

    Die Russiese owerhede het intussen ‘n klag van moord teen die aanvallers geopen. Al ses Russe het vir die Volga-Dnepr-lugdiens gewerk. Russiese wetstoepassers sal oorlewendes ondervra oor die voorval.

    Die Russe is glo heel eerste doodgeskiet.

    Al Mourabitoun, wat aan Al-Kaïda verbonde is en in die woestyn in die noorde van die land gevestig is, het in ’n Twitter-bood­skap aanspreeklikheid vir die aanval aanvaar.

    Dié voormalige Franse kolonie is al jare in ’n stryd met Islamitiese rebelle gewikkel.

    Die regering van Mali het ’n noodtoestand verklaar ná die dodelike nege-uur lange gyselaarkrisis Vrydag in die Radisson Blu-hotel, presies ’n week ná die aanvalle in Parys.

    Die Al-Murabitoun groep, ’n Al-Kaïda-filiaal, gelei deur die berugte een-oog Algeriese militant, Mokhtar Belmokhtar, wat die bynaam die “onvangbare” of “Mr Marlboro” het, het verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar.

    Ongeveer 10 gewapende mans het Vrydag in die vroeë oggendure die hotel beset en in die gange geskiet waarna 170 hotelgaste en personeel gyselaar geneem is.

    Die aanval is beëindig toe Malinese en 40 Franse spesmagoperateurs die hotel om 3:00 bestorm het. Mali se president, Ibrahim Boubacar Keita, het bevestig dat buitelanders die hotel ontset het.

    Die spesiale magte het ook glo twee Amerikaanse soldate ingesluit. Hulle het ‘n dramatiese reddingspoging, van vloer na vloer, uitgevoer en die besetting ná nege ure beëindig. Twee Franse soldate is beseer in die operasie.

    Keita het in ’n televisie-boodskap gesê “terreur sal nie seëvier nie”. Hy het die hotel Saterdag besoek.

    “Nêrens in die wêreld is enige iemand veilig van hierdie barbare uit ’n ander era nie. Hierdie aanvallers het besluit van weg te breek van die mensdom,” het hy gesê.

    Mali het drie dae van nasionale rou afgekondig.

  • Suid-Afrikaner dood in Mali-aanval

    Die Suid-Afrikaanse regering het die aanval op burgerlikes by ‘n hotel in Mali veroordeel.

    ‘n Suid-Afrikaner, Roelof Janse van Rensburg, is in die aanval dood nadat die hotel waar hy as gyselaar aangehou is, deur Franse spesmagte bestorm is.

    Hy het kort voor sy dood nog met sy vrou gepraat. Janse van Rensburg was die pa van vier kinders.

    Die regering sê dit is tragies dat Janse van Rensburg gesterf het terwyl hy gehelp het om bestendigheid in Mali te probeer bring.

    Hy het as paramedikus vir ‘n Russiese lugvaartmaatskappy gewerk wat deel van die VN-vredesending in die sentrale deel van Mali is.

    Twaalf mense is in die aanval op ‘n hotel in die dorp Sevare dood.

    Gewapende aanvallers het die hotel Vrydag bestorm en ‘n groep mense as gyselaars aangehou. Die beleg het sowat 24 uur geduur voordat die gyselaars ontset is.

    Die politieke onbestendigheid in Mali is vererger deur ‘n invloei van wapens in 2011 met die Amerikaans-geleide inval in hul buurland Libië.

    Die teenwoordigheid van islamiste in die noorde het in Maart 2012 tot ‘n militêre staatsgreep gelei in Mali en die vestiging die Islamitiese sjariawet.

    Ecowas het ingestem om ‘n gekoördineerde militêre ekspedisie te loods op ‘n vergadering in Nigerië in November vanm dieselfde jaar, met die VN se steun.

    Die regering in Bamako het Frankryk intussen versoek om militêr in te gryp. Franse troepe het Islamitiese vestings in die noorde skoongemaak, en die grootste deel van die opstand beëindig, maar die toestand bly steeds gespanne.

  • Ebola eis nog ‘n slagoffer in Mali

    Ebola het nog ‘n slagoffer in Mali geëis.

    ‘n Gesondheidswerker wat ‘n ebola-pasënt van Guinee behandel het, het die tweede persoon geword om in die land aan die virus te sterf.

    Die kliniek in Bamako waar die gesondheidswerker gewerk het, is intussen deur die polisie afgekordon.

    Die gesondheidswerker het ‘n man wat van Guinee gekom het by die Pasteur Clinic behandel.

    Bykans 5000 mense is reeds in die Wes-Afrikalande, Guinee, Siera Leone en Liberië aan die siekte dood.

    Die jongste geval hou nie verband met die eerste nie toe ‘n twee-jarige meisie dood is aan die siekte aan die einde van Oktober.

    Dinsdag is dit voorts bevestig dat Marokko nie meer die gasheer vir die 2015 Afrika-beker van Nasies sal wees nie, as gevolg van sy vrese oor ebola.

    Sierra Leone bied intussen $5000 in vergoeding aan die families van gesondheidswerkers wat gesterf het as gevolg van die behandeling van pasiënte met ebola.

    Elders het plaaslike leiers van ‘n dorp in Guinee ‘n eetstaking gehou in protes teen die weermag se teenwoordigheid daar sedert September.

    Die laaste bekende persoon in die VSA met ebola, spandokter, Craig Spencer, het herstel en is uit die hospitaal ontslaan.

    Intussen versprei die virus steeds in Sierra Leone, met byna 300 nuwe infeksies net in die laaste drie dae.

  • WGO-liggaam wil ebola-entstowwe vir SA bespoedig

    Die organisasie African Vaccine Regulatory Forum (AVAREF) het in Pretoria vergader in ‘n poging om wyses te bespreek waarop entstowwe asook die behandeling vir die ebolavirus so gou moontlik deur Suid-Afrikaanse owerhede goedgekeur kan word.

    Die eerste twee dae van die vergadering sal gewy word aan die nood wat die ebola-virussiekte (EVD) veroorsaak en die potensiële behandeling rakende entstowwe, medisyne en bloedprodukte.

    Die forum sal veral op GlaxoSmithKline se GSK ChAd3 en Newlink/NIH VSV fokus as voorkeurkandidaat-ebola-entstowwe.

    AVAREF is ‘n onderdeel van die Wêreldgesondheidsorganisasie. Dit is die negenede vergadering in die land.

    Verlede week het die organisasie bevestig dat daar 13 567 gevalle van ebola in ses lande is.

    Die WGO se verteenwoordiger in Afrika, Dicky Akanmori, sê navorsing word binne en buite Afrika gedoen.

    Dit sluit Guinee, Liberië, Mali, Sierra Leone, Spanje en Amerika in.

    Die pandemie het uitgebreek nadat Amerikaanse navorsingsinstellings met ‘n BSL-4-klaring (Bio Safety Lab Level-4) klaarblyklik entstowwe teen die siekte getoets het.

    Daar is drie Amerikaanse laboratoriums wat spesialiseer in biologiese wapennavorsing in Wes-Afrika.

    Twee van die lande waar die aanvanklike gevalle van ebola aangeteken is, naamlik Guinee en Liberië het nie die Internasionale Konvensie teen Biologiese Wapens onderteken nie.

    Die derde, Sierra Leone, is ‘n voormalige Britse kolonie wat dit wel onderteken het.

    Die vergadering sal openbare gesondheidsamptenare en regulatoriese en industriële kundiges bymekaar bring in ‘n poging om die lewering van nuwe entstowwe te bespoedig asook regulatoriese hersiening ander behandelings teen “EVD” te hersien.

  • AU stuur gesondheidspersoneel na ebola-gebiede

    Die voorsitter van die Afrika-Unie Kommissie, Nkosazana Dlamini-Zuma, sê verskeie lidlande het onderneem om gesondheidspersoneel na ebola-geteisterde gebiede te stuur.

    Afrika-lande gaan meer as ‘n duisend gesondheidswerkers na Liberië, Sierra Leone en Guinee stuur wat die ergste deur die ebola-virus geraak word.

    Sy het nie nadere besonderhede oor die sending gegee nie, maar lande in Oos-Afrika het glo meer as 600 werkers belowe, volgens die AU-voorsitter.

    Dlamini-Zuma sê die internasionale gemeenskap het met groter erns op versoeke vir infrastruktuur en gesondheidspersoneel gereageer.

    Sy is tans op besoek aan die drie lande wat die ergste onder die virus gebuk gaan.

    Byna 5000 mense is reeds in Wes-Afrika aan die siekte dood en meer as 10 000 het die virus opgedoen.

    Intussen het Mali sy eerste geval van Ebola bevestig.

    Dit is nou die sesde land in Wes-Afrika wat deur die jongste uitbreking van die virus geraak word.

    Mali se minister van Gesondheid, Ousmane Kone het op staatstelevisie gesê die pasiënt is ‘n twee-jarige meisie in die westelike dorp Kayes.

    Sy is onlangs na Mali gebring van die buurland, Guinee, waar haar ma dood is. Diegene wat in kontak was met die meisie is geïdentifiseer en word gemonitor.

  • NAVO-lande onttrek personeel uit Libië

    In Libië is meer as 97 mense dood en 400 beseer in wekelange gevegte, maar die dodetal mag aansienlik hoër wees.

    Die konflik wat twee weke gelede dramaties toegeneem het, gaan tans om beheer oor die Tripoli internasionale lughawe waar strydende faksies poog om dit oor te neem.

    Die land se ministerie van gesondheid sê die jongste syfers van die groeiende dodetal is gegrond op verslae van agt openbare hospitale in die hoofstad. Dit sluit nie mediese sentrums buite die stad in nie.

    Amerika, Frankryk, Duitsland, Brittanje en Nederland het vroeër hul diplomatieke personeel gevra om die land so spoedig as moontlik te verlaat uit vrees vir hul veiligheid.

    Dié lande het vroeër aan die NAVO-geleide aanval op Libië deelgeneem, om wat president Obama genoem het “universele waardes” te vestig.

    Libië beskik nie meer oor ‘n weermag nie en die land het na drie jaar sedert NAVO se “humanitêre” ingryping in chaos verval met verskeie militante groepe wat meeding om beheer in die land oor te neem.

    Al Kaida, een van die groepe, is deur die VSA befonds.

    Intussen berig Algeriese bronne dat die gebied steeds wemel van jihadiste wat benewens wapens ook ‘n BUK-missielstelsel gebuit het.

    Die gebuite Libiese toerusting is glo na Mali geneem waar Air Algerie 5017 verlede week neergestort het. Die Amerikaanse Federal Aviation Administration verwys na die gebied as ‘n “hoë-risiko vlugsone”.

    Met die ongeluk naby Gao, Mali van Air Algerie is 110 passasiers en bemanning dood, net enkele dae nadat die Oekraïne ‘n Maleisiese vliegtuig, vlug MH17 met meestal Nederlandse passasiers aan boord glo met dieselfde soort missiel afgeskiet het.

    Die Air Algerie-vlug was op pad van Ougadougou, Burkina Faso, na Algiers, en die moontlikheid dat BUK-missiele uit Libië is gebruik is om die vliegtuig neer te skiet, kan nie uitgesluit word nie.

    In 2013 is so ‘n BUK aangewend in ‘n terreuraanval op die Ain Amena-aardgasaanleg in die Algerynse Sahara. Die jihadiste het 40 Westerlinge en ander gyselaars vermoor.

    Een-en-vyftig van die 110 passasiers aan boord Air Algerie 5017 was Franse burgers.

    Dertien minute nadat die vlug om 09:17 opgestyg het van Ouagadougou-lughawe, het die Air Algerie vlieënier toestemming van lugverkeerbeheer in Niger versoek om ‘n “vliegtuig” in die gebied te vermy. Die ander “vliegtuig” kon ‘n grond-missiel gewees het.

    Die Verenigde State van Amerika bedryf ‘n program met die kodenaam CREEKsand vanaf die militêre kant van Ouagadougou-lughawe sê Franse ontleders. Hulle stuur onbemande tuie vandaar oor die gebied.

    Obama en Hillary Clinton se steun vir Libiese jihadistiese groepe in die omverwerping van Moeammar Gadaffi het gelei tot die verspreiding van wapens dwarsdeur die Sahara-streek.

    Dié twee en ander lede van die Obama-administrasie dra die volle verantwoordelikheid vir die verspreiding van sulke wapentuig aan radikale groepe, aangesien hulle herhaaldelike waarskuwings daaroor geïgnoreer het.

    Dit sluit ‘n paar 480 SA-24 “Grinch” draagbare stelsels, sowel as die BUK-missielstelsel in. Op 22 September 2011, het ‘n senior intelligensie-amptenaar aan The Daily Telegraph gesê: “As die SA-24 missiele in die verkeerde hande kom, sal geen burgerlike vliegtuie in die streek meer veilig teen ‘n aanval wees nie.”

  • Wrak van Algerynse passasiersvliegtuig opgespoor

    Die wrak van ‘n passasiersvliegtuig van ‘n Algerynse lugdiens is in Mali opgespoor. Dié vliegtuig het Donderdag vermis geraak. Dit blyk dat Julie ‘n donker maand vir lugrederye is, nadat ‘n vliegtuig in Taiwan ook verongeluk het.

    Die Franse regering het Vrydag ‘n krisisvergadering saamgeroep om die ramp te bespreek, alhoewel amptenare vroeër gesê het “weerstoestande” het dalk ‘n rol gespeel het in die vliegtuig se verdwyning.

    Die Franse minister van binnelandse sake, Bernard Cazeneuve, het gesê swak weerstoestande is die “beste hipotese” maar hulle weet nie wat die oorsaak kon gewees het nie.

    Die Franse sekretaris van Vervoer, Frédéric Cuvillier, sê dit is byna seker dat die vliegtuig nie “afgeskiet” is nie, en daar is dalk oorlewendes.

    Die koördineerder van rampbestuur in Ouagadougou sê die wrak is 50 kilometer noord van die Burkina Faso-grens in die Gossi-streek van Mali gevind.

    Die Franse lugmag het dadelik twee vegvliegtuie gestuur om te help met die soektog toe die straler vermis geraak het. Mali, Algerië en Niger het aan die soektog deelgeneem.

    Die vliegtuig met 116 mense, onder wie 51 Franse burgers, het tussen Burkina Faso en Algerië vermis geraak. Die bemanningslede was Spanjaarde.

    Die Franse president Francois Hollande het dadelik sy beplande lugreise na La Réunion, Mayotte en die Comores afgestel nadat die nuus bekend geraak het.

    Volgens Hollande het die vliegtuig van sy roete afgewyk, maar dit was glo weens die weerstoestande. Hy het nietemin gesê dat Frankryk “alle militêre middele tot sy beskikking sal inspan” in die rampbestuur.