‘n Moslemgroep verbonde aan Al-Kaïda het aanspreeklikheid vir Vrydag se terroriste-aanval op ’n hotel in die hoofstad van Mali aanvaar.
Altesaam 19 mense, van wie die meeste buitelanders was, is in die voorval dood. Gerugte doen die ronde dat 27 lyke getel is. Minstens twee van die aanvallers is doodgeskiet.
Die twee name wat die owerhede vrygestel het, het laat blyk dat die aanvallers van Mali was, maar dit kon nie bevestig word nie.
Minstens 170 mense was in die hotel tuis toe die aanvallers Vrydagoggend daar ingestorm het.
Ses Russe, drie Chinese, twee Belge, ’n Amerikaner, ’n Israeli, ’n Senegalees en ’n lid van Mali se spesiale magte was onder die slagoffers.
Die owerhede is op soek na minstens drie mense wat met die aanval verbind word. ‘n Gas in die hotel het gehoor hoe die aanvallers Engels praat.
Die Russiese owerhede het intussen ‘n klag van moord teen die aanvallers geopen. Al ses Russe het vir die Volga-Dnepr-lugdiens gewerk. Russiese wetstoepassers sal oorlewendes ondervra oor die voorval.
Die Russe is glo heel eerste doodgeskiet.
Al Mourabitoun, wat aan Al-Kaïda verbonde is en in die woestyn in die noorde van die land gevestig is, het in ’n Twitter-boodskap aanspreeklikheid vir die aanval aanvaar.
Dié voormalige Franse kolonie is al jare in ’n stryd met Islamitiese rebelle gewikkel.
Die regering van Mali het ’n noodtoestand verklaar ná die dodelike nege-uur lange gyselaarkrisis Vrydag in die Radisson Blu-hotel, presies ’n week ná die aanvalle in Parys.
Die Al-Murabitoun groep, ’n Al-Kaïda-filiaal, gelei deur die berugte een-oog Algeriese militant, Mokhtar Belmokhtar, wat die bynaam die “onvangbare” of “Mr Marlboro” het, het verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar.
Ongeveer 10 gewapende mans het Vrydag in die vroeë oggendure die hotel beset en in die gange geskiet waarna 170 hotelgaste en personeel gyselaar geneem is.
Die aanval is beëindig toe Malinese en 40 Franse spesmagoperateurs die hotel om 3:00 bestorm het. Mali se president, Ibrahim Boubacar Keita, het bevestig dat buitelanders die hotel ontset het.
Die spesiale magte het ook glo twee Amerikaanse soldate ingesluit. Hulle het ‘n dramatiese reddingspoging, van vloer na vloer, uitgevoer en die besetting ná nege ure beëindig. Twee Franse soldate is beseer in die operasie.
Keita het in ’n televisie-boodskap gesê “terreur sal nie seëvier nie”. Hy het die hotel Saterdag besoek.
“Nêrens in die wêreld is enige iemand veilig van hierdie barbare uit ’n ander era nie. Hierdie aanvallers het besluit van weg te breek van die mensdom,” het hy gesê.
Mali het drie dae van nasionale rou afgekondig.

Putin sal die gespuis jag en uitsorteer
“…..het in ’n Twitter-boodskap aanspreeklikheid vir die aanval aanvaar….”
Corrupt, iets maak nie sin nie……hulle het n twitter rekening, kan hulle nie die mense opspoor nie, of wil hulle nie die twitter rekening van die cia/mosaad opspoor nie.
Stem saam met jou, hoop Putin sort hulle uit.