‘Afrika kan nie meer kolonialisme blameer nie’

Die voormalige hoof van die Internasionale Atoomenergie-agentskap, Mohamed ElBaradei, sê Afrika kan nie meer die kolonialiste blameer vir sy probleme nie.

Hy het bygevoeg dat die Afrika-Unie ook ’n klaaglike rekord van oplossings vir Afrika-probleme wys.

Netwerk24 berig dat ElBaradei in Pretoria tydens ’n mediagesprek wat deur die Thabo Mbeki-stigting gereël is, gesê het niemand anders nie as die vasteland se leiers moet die skuld kry vir die konflikte wat herhaaldelik opvlam.

Volgens hom het die kontinent die afgelope jaar 65 persent meer aan wapentuig bestee as die vorige jaar en dit dui daarop dat lande hulle eerder gereed maak vir oorlog as vir vrede.

Hy het gesê dis goed om Afrikadag te wil vier, maar daar is nie veel om te vier op die vasteland of in die wêreld nie.

Hy het voorgestel dat sanksies teen Burundi ingestel word om die president te dwing om gehoor te gee aan Westerse eise dat hy nie vir ‘n derde termyn dien nie.

Hy het gesê armoede is ‘n “wapen van massavernietiging”.

Geld vloei van Russe na Hillary vir uraan

Amerikaners kan hulself die skouspel van ‘n verkiesing in 2016 en miljarde dollar spaar. Al wat die VSA moet oorweeg is ‘n jong Clinton wat met ‘n junior Bush afhaak, sê ontleders.

Dit is die realiteit van die VSA se gebroke politiek stelsel in 2015, waar invloed bloot gekoop word deur belangegroepe om beleid te rig en selfs die opposisie tot ‘n elite-klas behoort wat hul voorregte klaarblyklik oorerf.

Dit is uiters ironies dat ‘n land wat “demokrasie” uitvoer, dws, deelname aan die politieke proses, nou die mees geslote politieke stelsel in die Westerse wêreld verteenwoordig.

Met dié dat slegs twee families Washington beheer, raak die magsintriges al hoe meer makaber.

Terwyl president Wladimir Poetin deurentyd deur die Anglo-Amerikaanse meningsvormers sleggesê word omdat hy groot dele van Eurasië se energiehulpbronne in ‘n ystergreep klem, het hy ook opgemerk dat die VSA se volgende president, Hillary Clinton, te koop is.

Prawda se trompetgeskal in ‘n artikel van Januarie 2013, dat Poetin vir Rusland se kernenergiekorporasie Rostom die wêreld oorwin, het aangedui hoe die Russiese atoomenergie-agentskap dmv ‘n oorname van ‘n Kanadese maatskappy nou uraan-ontginning vanaf Sentraal-Asië tot die Amerikaanse Weste beheer.

Danksy die oorname van Urianium One is Rosatom tans een van die wêreld se grootste uraanprodusente en het dit Poetin nader aan sy doelwit gebring om die beheer van baie van die aardbol se uraanvoorsieningsketting oor te neem.

En dit het die Russiese president klaarblyklik mbv van Hillary Clinton reggekry.

Die Russe beheer op die oomblik ‘n vyfde van die Verenigde State se totale uraanproduksiekapasiteit. Omdat uraan beskou word as ‘n strategiese bate, met implikasies vir nasionale veiligheid, was die transaksie veronderstel om deur ‘n komitee bestaande uit verteenwoordigers van ‘n aantal van regeringsagentskappe goedgekeur te word.

Die agentskappe se aanbevelings is uiteindelik afgeteken deur die State Department, onder leiding van Hillary Clinton.

Die Russe het geleidelik beheer van Uranium One in drie afsonderlike transaksies tussen 2009-2013 oorgeneem, het Kanadese rekords aangetoon, met ‘n stewige vloei van kontant na die Clinton-stigting.

Daardie bydraes is nie openbaar gemaak deur die Clintons nie, ten spyte van ‘n ooreenkoms tussen die Withuis en Hillary om alle skenkers te verklaar.

En kort ná die Russe se aangekondig van hul voorneme om ‘n meerderheidsbelang in Uranium One te bekom, het Clinton $500 000 ontvang vir ‘n toespraak in Moskou.

Die geld het van ‘n Russiese beleggingsbank wat met die Kremlin verbind word, gekom en die bank het Uranium One se aandele aanbeveel.

Rosatom en die Amerikaanse regering het allerlei beloftes gemaak na kommer oor die prysgawe van beheer oor die maatskappy se bates aan die Russe aan die lig gekom het. Daardie beloftes het herhaaldelik gebreek, toon rekords in die besit van die New York Times.

Dié aangeleentheid werp nuwe lig op Suid-Afrika se besluit om in kernkrag te belê.

Westinghouse woedend oor Franse kontrak

Die wêreld se grootste vervaardiger van kernbrandstof, Westinghouse gaan appelleer teen ‘n hofbeslissing wat weier om die tenderproses ter waarde van meer as R4 miljard met Eskom, weer oop te stel.

Die Franse maatskappy, Areva het die kontrak gekry om stoomkragopwekkers te vervang.

Westinghouse, wat deel van Toshiba in Japan is, beweer die tenderproses om die Koeberg-kernkragsentrale in die Wes-Kaap van stoomkragopwekkers te voorsien, is onder verdenking.

Die Hooggeregshof in Johannesburg het sy aansoek verlede week van die hand gewys.

Die dringende aansoek in die Suid-Gautengse hooggeregshof in September verlede jaar wat Eskom se besluit om die kontrak aan Areva toe te ken vir die vervanging van ses stoomkragopwekkers by die Koeberg-kernkragsentrale, is die kern van die dispuut.

Westinghouse probeer die regering dwing om dokumentasie te oorhandig om sy beweringe te staaf.

Op 5 September het Eskom die kontrak met Areva vir die stoomkragopwekkers by Koeberg in 2018 aangegaan. Die 2018-installasie skedule val saam met die onderhoudsaktiwiteite wat beplan word vir die fasiliteit.

Eskom se waarnemende groepbestuurder vir tegnologie en kommersiële sake, Matshela Koko sê daar was geen hindernis met die ondertekening van die kontrak met Areva nie, aangesien Westinghouse nooit geïdentifiseer is as die voorkeurbieër in die tenderproses wat in 2011 begin het nie.

Suid-Afrika se Departement van Energie is midde in ‘n kernstorm danky ‘n ander ooreenkoms wat met die Russiese maatskappy Rosatom onderteken is vir nuwe kernkragsentrales wat Russiese VVER-reaktore behels.

Die regering sê egter kernsamewerking tussen Suid-Afrika en Rusland is maar een van die “meer as 60” samewerkingsooreenkomste wat onderteken is deur die Suid-Afrikaanse regering om “verskillende energiebronne” te ontgin.

Japannese woedend oor kernkrag

Betogers in Tokio, Japan, het plakkate uit protes teen die gebruik van kernkrag opgehou. Die land se regering onderspeel die skade wat die ramp veroorsaak het.

Duisende beswaardes het tydens hul optog ’n beroep op die regering gedoen om kernkrag in hul land te staak.

Die optog volg op die vooraand van die vierde herdenking van die 11 Maart-aardbewing en tsoenami wat verskeie ineenstortings by die Foekoesjima Dai-itsji-aanleg veroorsaak het.

Ten spyte van Japan se kernramp het sy regering vroeër besluit dat kernkrag as bron van elektrisiteitvoorsiening sal voortgaan.

Verskeie kernkragreaktors wat sluimerend was, is weer aangeskakel. Die land se minister van handel en nywerheid het verlede jaar aan verslaggewers gesê dat die regering “realistiese en pragmatiese energievoorsiening” beoog.

Japan het voor 2011 se Foekoesjimakernramp ongeveer 30% van die land se totale kragvoorsiening van kernkrag ontwikkel.

Ten minste 23 reaktors in die VSA is dieselfde generasie foutiewe General Electric-model wat misluk het in Foekoesjima.

Die Obama-administrasie word intussen daarvan beskuldig dat hulle die gevare van die reaktor se ontwerp onderbeklemtoon.
  
Tot nou toe, is dit geheim gehou dat General Electric die ses kernreaktors ontwerp het wat beskadig is en gesmelt het in 2011.

In werklikheid, het GE ook drie van die ses vervaardig, terwyl Toshiba twee gebou het en Hitachi een.

Die ontwerp van vyf van die ses reaktors is die GE Mark I model, terwyl die sesde die GE Mark II weergawe verteenwoordig.

Beide modelle is gekritiseer in die 1960’s as gebrekkige ontwerpe.

Byna vier dekades gelede het Dale G. Bridenbaugh en twee van sy kollegas by General Electric hul werke bedank nadat hy al hoe meer oortuig geraak het dat die kernreaktorontwerp so gebrekkig is dat dit kan lei tot ‘n verwoestende ongeluk.

Vrae oor die vermoë van die Mark 1 om die geweldige druk te hanteer wat wat opbou indien die reaktor sy verkoelingskrag verloor, het nooit opgehou nie en is ongelukkig deur die uiteindelike ramp te laat beantwoord.

GE en sy voorsitter Jeff Immelt persoonlik is albei rojale donateurs van Barack Obama en die Demokratiese Party.

Brand breek by Rössing-uraanmyn uit

‘n Brand het kort na die middaguur by die verwerkingsaanleg van die Rössing Uraanmyn by Arandis uitgebreek. Volgens voorlopige aanduidings het die brand in die bergingsaanleg vir uraanoksied ontstaan, maar het nie na die res van die aanleg versprei nie.

Selfs die brandweer van Swakopmund is ingeroep om bystand te verleen aan die eie brandweerdiens van die myn.

Op die oomblik is die brand onder beheer en bestrydingspanne laat nou net voldoende tyd toe om die dromme met uraanoksied te laat afkoel voordat die brandtoneel besoek kan word.

Alle personeel in die myngebied is ontruim en alle personeel in die verwerkingsaanleg word op die oomblik onderwerp aan bestralingstoeste. Die myn sê dit is net ‘n voorsorgmaatreël.

Rössing is in die spervuur oor gerugte dat Noord-Korea in die myn belangstel, nadat die maatskappy aangekondig het dat ‘n kontrak vir die lewering van uraan aan Frankryk teen die einde van 2012 gesluit het en dat die grootste oopgroef-uraanmyn in die wêreld nou ‘n besluit moet neem oor sy voortbestaan.

Suid-Korea het voorheen aangedui dat sy regering graag uraan van Namibië wil invoer en daarop gewys dat die uraan benodig word om as brandstof te dien om energie by kernkragsentrale in Suid-Korea op te wek.

Die eerste kernkragsentrale in Suid-Korea is in 1997 opgerig en sedertien het dit tot 16 kragsentrales gegroei wat sowat 40 persent van die land se elektrisiteitsverbruik voorsien. Die beplanning is dat ‘n verdere agt kernkragsentrales tot 2014 in die land opgerig gaan word.

Suid-Korea se aanvraag vir die voorsiening van elektrisiteit het sedert 1990 met nege persent jaarliks toegeneem. Die land voer tans sy uraan in van Kanada, Australië en ander onbekende bestemmings.

Hy het voorts aangedui dat Suid-Korea belangstel om vis in Namibiese gebiedswaters te kom vang.

Rössing Uraan oorweeg verskeie opsies om die leeftyd van die myn te verleng. Ten eerste word dieper delwery in die bestaande groef oorweeg, ten tweede sal die uitbreiding van die oop groef in ‘n noordwestelike rigting oorweeg word om volle kapsiteit van 4 500 ton te produseer en ten derde kan die groef aanvullend tot die tweede moontlikheid ook suidwaarts uitgebrei word.

Sou opsie 3 die besluit wees, kan die myn tot 2020 voortbestaan totdat ‘n geskatte N$284 miljoen aangewend gaan word om dit te sluit.

Noord-Koreane ontken bande met wapenbedryf in Namibië

Die Namibiese tak van die Noord-Koreaanse staatsmaatskappy Mansudae Overseas Project Group of Companies (M.O.P.) sê hy het géén bande met die omstrede Korea Mining Development Trade Corporation (KOMID) teen wie streng internasionale sanksies ingestel is nie.

KOMID is Noord-Korea se grootste wapenhandelaar en is by die verspreiding van ballistiese missiele en ander wapentuig aan lande soos Iran en Sirië betrokke. Die maatskappy verskans sy bedrywighede dikwels deur Noord-Koreaanse frontorganisasies te gebruik in die lande waar hy sake doen.

Volgens ’n goedgeplaaste intelligensiebron bestaan ’n verbintenis tussen M.O.P. in Namibië en KOMID.

Mnr. Ryong Choe, woordvoerder van M.O.P Architectural & Technical Services (Namibia), het vandeesweek gesê die maatskappy waarvoor hy werk “doen nét kuns- en konstruksiewerk en het niks met wapens te make nie”.

Volgens hom ken hy nie die twee Noord-Koreaanse amptenare, Kil Jong Hun en Kim Kwang Yon, wat in Namibië woon en KOMID se belange in Suider-Afrika behartig nie.

Hulle is twee van die tien Noord-Koreane teen wie die Amerikaanse tesourie in Januarie sanksies ingestel het.

Dit is gedoen omdat hulle resolusie 1718 van die Veiligheidsraad van die Verenigde Nasies (VN) oortree het. Dié resolusie is op 14 Oktober 2006 aanvaar nadat Noord-Korea op 9 Oktober 2006 ’n kerntoets uitgevoer het, strydig met die kernsperverdrag waarvan dié land ’n ondertekenaar is.

Ingevolge hierdie resolusie moet lidlande van die VN alle oorsese bates van individue en maatskappe betrokke by Noord-Korea se wapensprogramme bevries. ’n Internasionale reisverbod is ook op werknemers van hierdie programme en hul families geplaas.

Die twee mans se teenwoordigheid in die land het die Namibiese regering in ’n groot diplomatieke verleentheid gedompel. Dit het verlede week bekend geword die VN gaan op grond van dié gebeure ’n amptelike ondersoek gelas na Namibië se skending van resolusie 1718 van die Veiligheidsraad. Namibië is net soos Noord-Korea ’n ondertekenaar van die kernsperverdrag.

Volgens Choe verwerp M.O.P. in Namibië enige beweringe dat hy as frontorganisasie vir KOMID optree.

“Ons is reeds vir dekades wyd bekend in Namibië as een van die groot konstruksiemaatskappy en het ’n goeie naam onder ons kliënte en diensverskaffers. Ons het niks met KOMID te make nie en is nie ’n filaalmaatskappy van KOMID nie.

“Ons moedermaatskappy Mansudae Art Institute ”

Hy sê gerugte hieroor bring mee dat groot diensverskaffers wat reeds jare lank bou- en ander konstruksiemateriaal aan M.O.P. lewer, vra skielik vrae en wil weet wat aangaan.

Choe sê M.O.P. het noue bande met die Namibiese regering wat een van dié maatskappy se grootste en mees gewaardeerde kliënte is.

“Ons het staatshuis, die Heldeakker, die Oorlogsmuseum op Okahandja en die Gedenkmuseum vir Onafhankliheid gebou en was ook by talle ander kleiner konstruksieprojekte betrokke.”

Hy ontken dat M.O.P. enigsins betrokke was by die bou van die wapenfabriek by Luiperdsvallei en sê dit was ’n “ander Noord-Koreaanse maatskappy”, maar hy ken nie die naam daarvan nie.

Volgens die waghondliggaam North Korean Economy Watch, is Namibië die land in Afrika wat die meeste geld, naamlik sowat US$67 miljoen, aan monumente en ander bouwerk deur M.O.P. bestee het.

“Noord-Korea het reeds meer as US$160 miljoen in die laaste tien jaar verdien uit die oprigting van reusemonumente en beeldhouwerke in lande in Afrika. Die grootste deel hiervan was afkomstig uit Namibië”, sê dié liggaam op sy webtuiste.

Bron: Die Republikein

Organisasie wat kragkrisis help skep, vaar uit teen kernkrag

Die organisasie, Earthlife Africa, ‘n versameling ekstremiste wat omgewingskwessies vir politiek aanwend, het die regering se planne om nuwe kernkragaanlegte te bou skerp veroordeel.

Dié organisasie is direk verantwoordelik vir die huidige kragkrisis in Suid-Afrika nadat hulle gesorg het dat die korrelbedkernreaktor vir Eskom gesink word in 2003.

Alhoewel byna niks oor ELA se eie struktuur en befondsing bekend is nie, sê hulle planne vir die nuwe kernaanlegte is nie deursigtig nie.

Earthlife Africa sê voorts dat groter infrastruktuur nie die oplossing vir die energiekrisis in die land is nie.

Die organisasie se woordvoerder oor energie-beleid, Dominique Doyle sê die inhoud van die ooreenkoms tussen Suid-Afrika, Amerika, Suid-Korea, Rusland, Frankryk en China bly steeds ‘n raaisel.

Doyle sê dit is wensdenkery dat die land se energiekrisis opgelos gaan word deur kernkrag.

Die presidensie het vroeër gesê die voorbereidende fase vir die nuwe kernkragaanlegte kan begin.

Die regering beplan om 9600 megawatt deur middel van kernkrag tot die kragnetwerk te voeg.

ELA het voorheen ook ‘n veldtog teen Sasol gevoer as ‘n besoedelende “apartheidsmonster”.

Kernkrag-tender sluit ander spelers in sê ANC

Die regering probeer ‘n “misverstand” opklaar oor ‘n multi-miljard randse kernooreenkoms met Rusland, het RSG berig.

Die departement van energie sê nou die ooreenkoms met Rusland is deel van ‘n tenderproses wat ander mededingende lande insluit.

Amptenare sê die ooreenkoms met Rusland is nie ‘n kontrak om kernaanlegte te bou nie.

Die Russiese atoom-agentskap Rosatom het Maandagaand ‘n verklaring uitgereik waarin bekendgemaak is dat hy ‘n ooreenkoms ter waarde van R100 miljard met die Suid-Afrikaanse regering gesluit het vir die toevoeging van ‘n kernkrag-vermoë van negeduisend-600 megawatt.

Die bestuurshoof van die Kern-energiekorporasie Xolisa Mabhongo sê die ooreenkoms is in sy kinderskoene. ‘n Regeringsbron sê die Russiese aankondiging was voortydig.

Hy sê daar sal ‘n tenderproses wees voordat enige bindende kontrakte onderteken word. Soortgelyke ooreenkomste sal vermoedelik ook met lande soos Frankryk, Korea, die VSA en Japan gesluit word.

Rand sukkel met tekort op lopende rekening

Suid-Afrika se tekort op sy lopende rekening maak beleggers bekommerd oor die invloei van buitelandse kapitaal.

China, Suid-Afrika se grootste handelsvennoot, se ekonomiese verlangsaming sal Suid-Afrika negatief beïnvloed, sê ekonomiese ontleders.

Die rand het sy laagste vlak in sewe maande teen die Amerikaanse dollar bereik as gevolg van die swak ekonomiese groei in een van die wêreld se grootste ekonomieë.

Die swak groei in China plaas druk op die geldeenhede van ontwikkelende lande. Die rand het Maandag teruggesak tot R11.18 teenoor die dollar.

Die rand sukkel reeds geruime tyd as gevolg van Suid-Afrika se swak ekonomiese grondbeginsels waar miljarde verkwis word om ‘n bevolkingsontploffing te skep van onderpresteerders.

Die Minister van Energie, Tina Joemat-Petterson, het intussen gesê kernkrag sal ‘n belangrike faktor vir die land se ekonomiese groei wees.

Sy het op die aankondiging van die Russiese atoom-energie-agentskap Rosatom gereageer wat agt kernreaktors aan Suid-Afrika gaan voorsien.

Die direkteur-generaal van Rosatom, Sergei Kirienko, sê die strategiese ooreenkoms van meer as R500 miljard tussen Suid-Afrika en Rusland sal duisende plaaslike werksgeleenthede skep.

Die ooreenkoms wat in die Oostenrykse hoofstad, Wene onderteken is, maak ook voorsiening vir Rusland om te help met die opbou van infrastruktuur in Suid-Afrika.

Kirienko sê dit sal ‘n inspuiting van bykans `n R100 miljard vir die plaaslike ekonomie beteken.

Argentinië, Egipte smee opnuut bande

Die Argentynse minister van buitelandse sake Hector Timerman het besoek gebring aan Egipte met ‘n groot sake-afvaardiging waar hy verlede naweek met president Al-Sisi en Sameh Shoukry, die minister van buitelandse sake ontmoet het.

Die samewerking tussen die twee lande het ‘n lang geskiedenis, sedert die regerings van Juan Peron in Argentinië en Gamal Abdel Nasser in Egipte na die Tweede Wêreldoorlog ontmoet het.

Shoukry het trots gesê dat sy pa in die eerste regering van Peron ambassadeur in Buenos Aires was. Hy sal Argentinië in 2015 besoek. Die minister van buitelandse sake het beklemtoon in ‘n gesamentlike verklaring van beide lande dat hulle moet saamstaan teen roofkapitaliste.

Timerman het die Egiptenare in die besonder bedank vir steun met die skuldresolusie tov Argentinië by die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering op 9 September.

President Al-Sisi en Timerman het ook oor Argentinië se belangstelling in die “groot potensiaal” van Egiptiese landbou en landbou-tegnologie samesprekinge gevoer, asook die samewerking wat kerntegnologie betref. Die Argentynse maatskappy INVAP is reeds werksaam in Egipte.

Daarbenewens het Timerman met die sekretaris-generaal van die Arabiese Liga, Nabil Elaraby, oor die stryd teen terrorisme en ander kwessies gesels. Hy het beklemtoon dat Argentinië sy roterende voorsitterskap van die Veiligheidsraad van die VN volgende maand sal gebruik om die behoeftes van die Palestyne te beklemtoon.

Op 14 September het die Argentynse minister van Nywerheid, Debora Giorgi met ‘n honderdsterk sake-afvaardiging na Moskou vertrek. Daar word verwag dat die toekenning van kontrakte ter waarde van $5 miljard sal volg, waarvan $4 miljard Argentynse voedseluitvoere as ‘n plaasvervanger vir EU-produkte onder sanksies sal wees.

Argentinië kan glo onmiddellik benewens pluimvee, wyn, suiwelprodukte, gedroogde vrugte en vis, ook landboutoerusting lewer.

BRICS dring aan op Iran se reg tot kernkrag

Die BRICS-groep (Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika) het daarop aangedring in sy finale verklaring Dinsdag dat Iran ‘n reg tot vreedsame kernkrag het.

“Ons erken die onvervreembare reg van Iran op die vreedsame gebruik van kernkrag in ooreenstemming met sy internasionale verpligtinge,” lui die nota bekend as die Verklaring van Fortaleza, aangehaal deur die Russiese nuusagentskap ITAR-Tass.

“Terwyl ons weer ons siening bevestig dat daar geen alternatief vir ‘n onderhandelde skikking rakende die kernkwessie is nie, bevestig ons ons steun vir ‘n politieke en diplomatieke en onderhandelde skikking,” sê die teks deur die vyf presidente van BRICS.

Verder het die vyf die “positiewe momentum” verwelkom wat deur dialoog tussen Iran en die Groep 5 + 1 (VSA, die Verenigde Koninkryk, Frankryk, Rusland en China, plus Duitsland) tot stand gekom het.

Die groep het die hoop uitgespreek dat die volle implementering van die aanvanklike ooreenkoms bekend as die Gesamentlike Aksieplan sal volg tussen Iran en die ses lande wat in November 2013 in die Switserse stad Genève bereik is, ten einde ‘n omvattende en volhoubare oplossing vir die kernkwessie vir die Perse te vind.

Tans word die kerngesprekke tussen Iran en die G5 + 1 in Wene, Oostenryk se hoofstad, gehou waar die partye poog om ‘n finale ooreenkoms voor 20 Julie te bereik, wanneer die termyn van die ooreenkoms verstryk.

Infrastruktuurwet gepromulgeer

Die Wet op die Ontwikkeling van Infrastruktuur is deur President Jacob Zuma gepromulgeer.

Die doel van die wetgewing is om die instelling van die Regering se ontwikkelingsplan te versnel, het RSG berig.

Dit maak voorsiening vir die samestelling van die Presidensiële Infrastruktuur Koördineringskommissie en die magte en mandaat van die kommissie.

Dit gee Zuma ook die mag om lede van al drie vlakke van regering vir die kommissie te benoem.

Die minister van energie, Tina Joemat-Petterson het die insette van kenners versoek oor die ontwikkeling van ‘n meestersplan vir energie.

Die plan is voorgestel om die land se huidige energiekrisis aan te pak. Die kabinet het reeds vier jaar gelede so ‘n plan goedgekeur.

Hernubare energie en kernkrag is volgens die nasionale ontwikkelingsplan veronderstel om teen 2030 twee-derdes van die kragverbruik in Suid-Afrika uit te maak.

Joemat-Petterson sê daar is nie baie tyd om te redeneer oor hoe die einddoel bereik gaan word nie.

 

Kernkrag is uitgemaakte saak sê minister van energie

Kernkrag is nou ‘n uitgemaakte saak om die land se energie-tekort te verlig, sê die minister van energie Tina Joemat-Pettersson.

Sy het by ‘n New Age sake-ontbyt Woensdag gesê: “Kernkag sal gebruik word. Hierdie versekering het tot nou toe ontbreek.”

Sy het verwys na President Jacob Zuma se bevestiging in sy staatsrede Dinsdagaand.

In sy toespraak het Zuma die oplossing van die energiekwessie as sentraal tot SA se toekomstige ekonomiese groei geïdentifiseer.

Joemat-Petterson sê die regering kyk na radikale transformasie in die energiesektor om die beperkings op elektrisiteit te bowe te kom.

Duisende huishoudings en sake-ondernemings word tans deur beurtkrag geraak.

Die minister sê dit is van kritieke belang dat daar by Eskom ingegryp word om strukturele veranderinge in die sektor teweeg te bring.

“Hierdie situasie vra vir ‘n radikale transformasie van die energie-sektor, ‘n volhoubare energiemengsel wat bestaan ​​uit steenkool, son, wind, hidro-, gas en kernkrag,” het sy gesê.

Die Nasionale Kernreguleerder en Energie Uitvoerende Koördinerende Komitee sal in ‘n Kabinet-subkomitee oor energie-sekuriteit omgeskakel word om institusionele kapasiteit te skep.

‘n Subkomitee sal verantwoordelik wees vir die toesig van, koördinering oor en rigting aan die energiesektor.

Zuma se nuwe subkommittee sal dus volle beheer oor die land se elektrisiteitbesluitneming neem. Dit sal waarskynlik ‘n Russiese kernkragplan en die Inga-projek bevoordeel.

“Kernkrag het die moontlikheid van die opwekking van meer as 9000 MW, terwyl skaliegas erken word as ‘n spel-wisselaar vir ons ekonomie,” het Zuma Dinsdag gesê.

Daar is egter baie weerstand teen hidrobreking wêreldwyd.

Israel, Saoedi-Arabië beplan aanval op Iran

israelsaudIsrael is besig met die koördinering van planne vir ‘n militêre aanval op Iran. Hulle werk saam met Saoedi-Arabië.

Riyadh sal taktiese ondersteuning bied aan Jerusalem, het ‘n Britse koerant berig vroeg Sondag.

Saterdag het Bibi Netanyahu aan die Franse dagblad Le Figaro oor die situasie verklaar dat Israel en die “voorste lande in die Arabiese wêreld ” saamstem wanneer dit kom by Teheran en sy kernvermoëns.

“Ons almal dink dat Iran nie toegelaat moet word om die kapasiteit te hê om kernwapens te maak nie,” het hy gesê. “Ons glo dat as Iran was kernwapens bekom, dit kan lei tot ‘n kernwedloop in die Midde-Ooste, en sal die die Midde-Ooste in ‘n kernkruitvat verander.”

Volgens die Sunday Times, het Riyadh ingestem om Israel toe te laat om sy lugruim in ‘n militêre aanval op Iran te gebruik en saam te werk oor die gebruik van reddingshelikopters, brandstofvliegtuie en onbemande tuie.

“Die Saudies is woedend en bereid om aan Israel al die hulp wat hulle nodig het te gee,” het ‘n anonieme diplomatieke bron aan die koerant gesê .

Die verslag kom te midde van Netanyahu se blitsbesoeke om steun te probeer werf teen ‘n internasionale alliansie wat sal toelaat dat Iran uraan sal verryk.

Iran het egter herhaaldelik gesê dat hulle nie belangstel in kernwapens nie.

As die eerste minister van Israel, het hy beklemtoon, moet hy sorg vir “die oorlewing van my land”.

CNN berig dat Netanyahu ook gesê het in die onderhoud dat hy sal doen wat dit nodig is om te doen om Israel te beskerm.

Indien ‘n ooreenkoms bereik word by gesprekke wat in Genève Woensdag hervat, volgens die Israeliese diplomatieke bron, is ‘n militêre opsie terug op die tafel.

Saoedi-Arabië se taktiese ondersteuning, in plaas van rugsteun van die Pentagon, sal deurslaggewend wees vir ‘n langafstand aanval op Iran se kernprogram .