Die regering probeer ‘n “misverstand” opklaar oor ‘n multi-miljard randse kernooreenkoms met Rusland, het RSG berig.
Die departement van energie sê nou die ooreenkoms met Rusland is deel van ‘n tenderproses wat ander mededingende lande insluit.
Amptenare sê die ooreenkoms met Rusland is nie ‘n kontrak om kernaanlegte te bou nie.
Die Russiese atoom-agentskap Rosatom het Maandagaand ‘n verklaring uitgereik waarin bekendgemaak is dat hy ‘n ooreenkoms ter waarde van R100 miljard met die Suid-Afrikaanse regering gesluit het vir die toevoeging van ‘n kernkrag-vermoë van negeduisend-600 megawatt.
Die bestuurshoof van die Kern-energiekorporasie Xolisa Mabhongo sê die ooreenkoms is in sy kinderskoene. ‘n Regeringsbron sê die Russiese aankondiging was voortydig.
Hy sê daar sal ‘n tenderproses wees voordat enige bindende kontrakte onderteken word. Soortgelyke ooreenkomste sal vermoedelik ook met lande soos Frankryk, Korea, die VSA en Japan gesluit word.
