Leë kinderskoene voor Parlement vir Gasa

Ter ondersteuning van die Palestyne in Gasa, het ‘n groep Maandag omstreeks 13:00 by die parlement se hoofhek in Kaapstad agter ’n ry leë kinderskoene stelling ingeneem.

Die leë skoene is gebruik om die dood van meer as 1 000 Palestyne te simboliseer, onder wie baie kinders, wat tot dusver in die konflik in die Gasastrook omgekom het. Die Palestynse gebied is onder Israelse beleg.

Die betoging is gereël deur die Kaapse groep Aksieforum ter Ondersteuning van Palestinia.

Shaheed Mahomed, organiseerder, sê die groep beplan om vandeesweek daagliks op die paradegronde in Kaapstad te betoog. Hy sê die betogings sal daagliks voortduur “tot die Suid-Afrikaanse regering die Israelse ambassadeur uit die land skors”.

Hy het gesê hulle sal daagliks op die Parade byeenkom, totdat dit soos Tahrirplein [in Egipte] lyk.

Die forum het die regering ook gevra om die Suid-Afrikaanse ambassadeur na Israel onmiddellik terug te roep, alle handels- en militêre bande met Israel op te skort en om lasbriewe vir die inhegtenisneming van alle Suid-Afrikaners wat in die Israelse weermag dien, uit te reik.

“Ons regering moet handelsbande met Israel beëindig,” het hy gesê.

Die forum het ‘n beroep op Suid-Afrikaners gedoen om plaaslike kleinhandelaars wat “voortgaan om voedselprodukte in te voer vanaf Israel” te boikot.

Dit behels om “trollies met Israeliese produkte en produkte van maatskappye wat Israel ondersteun vol te maak, dit by die kasregisters te laat oplui en dan die bestuurder te roep en te vra dat al hierdie goedere van die rakke verwyder word.”

Mahomed het nie spesifiek aangedui of hulle Joodse sakeondernemings soos Pick’n Pay en Woolworths sal boikot nie.

Imtiaz Sooliman, stigter van Gift of the Givers, het gesê hul “spanne het reeds broodnodige hulp wat na verskeie hospitale in Gasa gestuur.”

Tien lande skort vlugte na Israel op weens konflik-risiko

Die Israeliese weermag se verbete aanslag op die Palestynse het gelei tot ‘n massa-opskorting van internasionale vlugte na Tel Aviv.

Dinsdag het vyandelikhede in die Gasatrook verdiep en die onstabiele situasie het uitgebrei om die internasionale lughawe Ben Gurion.

As gevolg hiervan, het 15 maatskappye uit 10 lande dadelik alle vlugte na Israel opgeskort. Internasionale lugvaartpassasiers vrees ‘n herhaling van die mees onlangse lugramp van vlug MH17 in die Oekraïne.

Die stap is geneem na die Europese Agentskap vir Lugvaartveiligheid waarskuwings oor die gevaar van vlieg in hierdie streek van die Midde-Ooste uitgereik het.

Die agentskap sal na verwagting ‘n amptelike verklaring uitreik oor hierdie saak wat “streng aanbevelings” aan alle Europese lugdienste sal insluit.

Onder die lugdienste wat hul vlugte na Tel Aviv gekanselleer het, is Brussels Airlines, Air Baltic, Lufthansa, Swissair, Austrian Airlines, Germanwings, Air France, KLM, Cyprus Airways, Turkish Airlines, Air Serbia en Air Canada.

Intussen het die Israeliese se departement van Vervoer gekla dat hulle nie saamstem met hierdie evaluering van die situasie nie, alhoewel die Israelse regering verklaar het dat Hamas 70 vuurpyle na Israel afgeskiet het.

Die Israelse premier, Benjamin Netanyahu het die Amerikaanse Minister van Buitelandse Sake, John Kerry in ‘n telefoniese gesprek gevra om die 24 uur verbod op Amerikaanse vlugte na Israel op te hef.

Dit volg nadat die Amerikaanse Federale Lugvaart-administrasie ook alle nasionale lugrederye verbied het om vir dié tydperk op die Ben Gurion Internasionale Lughawe in Tel Aviv te land. Netanyahu sê die lughawe is veilig

Daar is egter ‘n woonhuis vernietig deur ‘n bom net 1,5 km van die lughawe.

Sedert 8 Julie bestook die Palestyne en Israel mekaar in Gasa.

Vlieëniers van die plaaslike dienste El Al en Arkia, asook ‘n aantal Europese lande kla dat hulle al “verblind” is deur militante Palestynse groepe.

Oor die twee weke van Israel se militêre operasie in Gasa, is 583 mense vermoor, insluitend 121 kinders. Soveel as 3600 mense, insluitend meer as 900 kinders, is beseer. Meer as 100,000 mense is ontwortel en 15.000 mense is van hulp afhanklik.

Totale verwarring heers in ANC oor Palestyne

Maite Nkoane-Mashabane, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, sal Dinsdag ’n mediakonferensie hou oor Israel se dodelikste aanval die afgelope vyf jaar op Gasa.

Daar heers tans totale verwarring in die ANC se geledere oor die regering se houding jeens die Palestyne.

Arthur Lenk, die Israelse ambassadeur, het aan Beeld gesê dat die Suid-Afrikaanse regering geen druk op hom plaas nie, in weerwil van talle ANC-lede wat ontevrede is oor Israel se aanvalle.

Lenk het selfs openlik namens die ANC gepraat.

Die huidige regering het, in navolging van Mandela, Israel veroordeel maar nog geen tugstappe geneem teen dié land nie. Dit is duidelik uit Zuma se toespraak in Bloemfontein Sondag dat Suid-Afrika nie beoog om teen Israel op te tree nie, ten spyte van allerlei heftige verklarings.

Meer as 500 Palestyne het reeds omgekom in wat beskryf kan word as ‘n disproporsionele vergeldingsaanval op Gasa waarin veral burgerlikes en kinders die spit afbyt.

Palestina het die ANC versoek om ‘n “onapologetiese” houding en “ferm standpunt” in te neem teen voortgesette Israelse aggressie.

Die Palestynse ambassade in Pretoria het Maandag weer eens in ‘n verklaring die bloedbad aan Israel toegeskryf en oorlogsmisdade teen die Palestyne veroordeel.

Die internasionale gemeenskap is geskok oor oproepe uit die Knesset wat vir die uitdelging van die Palestynse moeders vra.

In antwoord daarop het die kantoor van Stone Sizane, ANC-hoofsweep, vroeër in ’n verklaring gesê die party glo sterk dat die regering die Suid-Afrikaanse ambassadeur aan Israel moet onttrek en dat die Israelse ambassadeur in Suid-Afrika die land “onmiddellik moet verlaat”.

Die Palestynse ambassade het die posisie van die ANC-koukus verwelkom.

Lenk, die Israelse ambassadeur, is egter nie deur Sizane se oproep verontrief nie. Hy is glo in daaglikse kontak met die departement van internasionale betrekkinge en daar is volgens Lenk “geen aanduiding dat enigiemand iets anders wil hê nie”.

“Suid-Afrika wil, soos Israel, ’n einde aan die geweld sien en die vredesproses weer aanwakker,” het Lenk namens die ANC-regime gesê.

Pres. Jacob Zuma het Sondag in Bloemfontein in ’n toespraak die aanvalle op Gasa as “skokkend” bestempel, maar ook die vuurpylaanvalle deur Hamas op Israel veroordeel wat onskuldige burgerlikes se lewens bedreig.

Christelike vrywilligers sterf nadat Israel offensief verskerp

Van die dertien “Israelse soldate” wat Sondag dood is in Gasa, is glo Amerikaanse Christelike vrywilligers wat aan die kant van die Jode veg.

Die internasionale gemeenskap het Israel veroordeel vir die disproporsionele geweld wat die land teen die Palestynse minderheid monster en wêreldwyd het duisende mense Sondag teen die aggressie betoog.

Die dodetal het dramaties gestyg in Israel se vergeldingsaanvalle teen die Palestyne wat twee weke gelede begin het, nadat Israel hul offensief uitgebrei het.

‘n Humanitêre skietstilstand-ooreenkoms tussen Israel en Hamas wat nooddienste tot die dooies en gewondes toegelaat het, het slegs ‘n uur gehou voordat Israel gevegte hervat het.

Die Palestynse dodetal staan nou op byna vyfhonderd meestal burgerlikes waaronder ook kinders. Daar is in totaal 18 Israelse soldate dood.

Volgens berigte is 34 Palestyne vroeg Maandagoggend in die Gasa-strook dood. Sondag het minstens 99 Palestyne in aanvalle in die gebied omgekom.

Meer as 60 van die sterftes was in die Shejaiya-distrik, waar sowat 250 Palestyne ook gewond is.

Inwoners van Israel word deur Iron Dome beskerm teen vuurpylaanvalle. Talle het die bombardement juigend vanaf ‘n hoogte gevolg waar hulle aan buitelandse verslaggewers gesê het hulle hoop dat die Palestyne heeltemal uitgedelg word.

Van simpatie of medelye met die Palestynese kinderslagoffers is daar min sprake .

Die Deense joernalis Allan Sørensen het enkele dae gelede fototwiets uit Sderot gestuur van Israeli’s wat die bommereën vanaf ‘n heuwel toejuig terwyl hulle springmielies eet.

Gesondheidswerkers sê meer as die helfte van die kinders in Sderot ly aan post-traumatiese stresversteuring.

Harriet Sherwood van die Guardian het berig egter dat daar nie tekens van “vreesbevange” Israelse inwoners is nie, ten spyte van berigte dat “die hele land in vrees lewe” vir vuurpylaanvalle van Hamas.

Die CNN verslaggewer Diana Magnay, het later getwiet dat die skare “dreig om haar motor te vernietig” as sy verder berig oor die oorlogstoeriste se barbaarse optrede en tierende bloedlus.

Sy het daarna na haar intimideerders as “skuim” verwys, maar moes inderhaas die twiet verwyder weens druk van haar werkgewer. Magnay is dieselfde dag uit haar pos in Israel teruggeroep.

Westerse korrespondente, waaronder Ayman Mohyeldin van die Amerikaanse NBC en France 24 se korrespondent Gallagher Fenwick, asook verskeie ander joernaliste, was ooggetuies van die gru-aanval op vier Palestynse kinders, almal onder 10, Woensdag op ‘n strand.

Die kinders se ouers is almal lede van Fatah, die gematigde Palestynse party en mededinger van Hamas.

Mohyeldin se verslag het wêreldwyd opslae gemaak, maar sy base by NBC het hom dadelik teruggeroep en ‘n Engelssprekende joernalis met geen ervaring van die konflik en wat geen Arabies verstaan nie, in sy plek aangestel.

Die Veiligheidsraad van die VN het ‘n oproep om ‘n onmiddellike skietstaking in die Gasa-strook gedoen ná ‘n noodvergadering Sondagnag oor die stygende sterftesyfer in die gebied.

Jordanië het die noodvergadering versoek. Ban Ki Moon het na die Midde-Ooste gereis om die met die bemiddelling vir ‘n skietstaking te help.

Dood van vier kinders lei tot skietstilstand in Gasa

Israel en Hamas het ‘n skietstilstand van vyf uur aangekondig nadat vier kinders op ‘n strand in ‘n Israelse lugaanval dood is, het eNCA Donderdag berig.

Die VN het dié versoek gerig in ‘n poging om ‘n langtermyn oplossing vir Israel se aggressie teen Palestynse burgerlikes te vind.

Daar is ooreengekom dat alle spervuur van 10:00 tot tot 15:00 gestaak sal word. Israel berei glo vir ‘n grondaanval voor teen die inwoners van Gasa wat die dodetal aansienlik sal verhoog.

Israel se onwettige militêre operasie teen Hamas het Donderdag sy tiende dag bereik.

Daar het reeds 224 Palestynse inwoners gesneuwel waarvan 80% burgerlikes is.

Sedert 2009, het Israel drie groot aanvalle in die Gasagebied onderneem, wat tot ‘n groot aantal sterftes en beserings gelei het, meestal van burgerlikes.

Na elke aanval het Israel sy eie militêre “ondersoek” onderneem na die dood van slagoffers.

Hulle het hulself ook elke keer vrygespreek van die slagting van burgerlikes en vernietiging van Gasa se hulpbronne, geboue, huise en kritieke infrastruktuur.

Die ontoereikendheid van hierdie “ondersoeke” word skerp deur die internasionale gemeenskap veroordeel.

Die Verenigde Nasies, Amnestie Internationaal, die Israeliese organisasie B’Tselem en talle ander menseregtegroepe wys op die algehele gebrek aan onafhanklikheid of deursigtigheid.

Onder die internasionale reg, is state verplig om ‘n geloofwaardige ondersoek in te stel en daarna vergoeding aan die slagoffers van oorlogmisdade aan te bied.

In 2013 het Amnestie Internasionaal gesê dat die slagoffers en menseregteorganisasies geen insae in die ondersoeke gegun word nie.

In November 2012, is 165 Palestyne gedood waarvan 35 persent onder die ouderdom van agtien, terwyl niemand in die Israelse weermag ondersoek of vervolg is nie.

Die vorige militêre ondersoek het geeneen aanspreeklik gehou vir die aanvalle op twee hospitale, vier klinieke en 10 lede van een gesin waaronder vier kinders tussen die ouderdomme van een en sewe nie.

In 2005, het die Israeliese eerste minister Ariel Sharon besluit om te onttrek van Gasa. Sharon, skepties oor Palestynse onafhanklikheid, het tot die gevolgtrekking gekom dat die Israeliese besetting nie in Israel se belang is nie.

Sharon het die Israeliese buiteposte ontruim en 10000 setlaars teruggebring. Dit was ‘n uiters omstrede skuif in Israel.

Die huidige Israeliese eerste minister, Benjamin Netanyahu, het destyds uit die regering bedank uit protes.

Ontleders meen Sharon is vergiftig vir die stappe wat hy geneem het om vrede te bewerkstellig.

Egipte beheer die enigste ander toegang tot Gasa, benewens Israel.

Israel verskerp veiligheid na Sharon se afsterwe

sharonNa die dood van Ariel Sharon, het Isreal sy sekuriteit vir die voormalige Eerste Minister se begrafnis naby die grens van Gasa verhoog.

Die Amerikaanse vise-president Joe Biden sal die begrafnis bywoon.

Sharon is op die ouderdom van 85 Saterdag oorlede ná agt jaar in ‘n koma wat veroorsaak is deur ‘n beroerte.

‘n Roudiens sal in Jerusalem gehou word Maandag in die Parlement en ‘n middagbegrafnis naby die Sharon familieplaas sowat 10 km van Gasa.

Die Verenigde State van Amerika was onder 18 lande wat afvaardigings sal stuur na die staatseremonie vir Sharon in Jerusalem.

Die Wit Huis het gesê Biden sal ook na die begrafnis by Sycamoreplaas se Poppy Hill, in die suidelike Negev-woestyn, gaan.

Gedurende sy kort besoek aan Israel sal Biden poog om die vrugtelose diplomatieke vredespogings met die Eerste Minister Benjamin Netanyahu en President Shimon Peres te bespreek, Amerikaanse amptenare gesê.

Biden word deur Israel en sy Amerikaanse ondersteuners beskou as een van die land se beste vriende in Washington waar hy die Senaat se Buitelandse Betrekkingekomitee as voorsitter gelei het voor hy vise-president geword het.

Obama het onlangs na Suid-Afrika gereis om ‘n gedenkdiens vir die voormalige president Nelson Mandela by te woon, die enigste reis van die soort wat hy onderneem het as president.

Misdade teen die beskawing

Die Armeense kunsmuseum in die hoofstad, Jerewan
Die Armeense kunsmuseum in die hoofstad, Jerewan

deur Leon Lemmer

Ons lewe in ‘n tyd waarin ons wys gemaak word dat alle mense gelyk en selfs wesenlik eenders is; of só behoort te wees. Dit dien as die grondslag van een mens, een stem. A weet na bewering net so goed soos B wie moet regeer, gevolglik het albei stemme dieselfde gewig. Ek sou eerder die teenoorgestelde beweer: Dat geen twee mense eenders is nie; dalk selfs nie sogenaamde identiese tweelinge nie.

Dit lyk vir my sommige mense is intelligenter as ander. Sommige is beter ingelig as ander. Sommige het meer as ander gedoen om iets wat die moeite werd is tot stand te bring. Andersom kan ‘n mens beweer dat sommige meer afgebreek het as ander, ens. Die werklikheid is dat sommige mense ‘n bate en ander ‘n las vir die samelewing is. Net die batiges behoort toegelaat te word om ‘n land se lot te bepaal.

Veralgemenend is dit ook moontlik dat sommige groepe mense gewoon beter as ander is. Dit kan op bv verskille in kultuur dui, terwyl die gelykwensers van ons almal bv Afrikane of wêreldburgers wil maak.

In die nuwe Suid-Afrika mag ons nie diskrimineer op grond van ras/kleur nie, behalwe as dit ten gunste van nie-wittes, en veral swartes, en ten koste van wittes is. Dan staan dit bekend as “billike diskriminasie”. Maar om praktiese redes moet ons liewer ons onderskeidingsvermoë behou. Byvoorbeeld, wanneer groepe mense beoordeel word, is dit in die openbare belang om tussen presteerders en nie-presteerders te onderskei. Ek verwys na “prestasie” in die positiewe of konstruktiewe sin; nie in die negatiewe of afbrekende sin van bv terroriste wat ‘n suksesvolle bomplantveldtog gevoer het nie.

Dit lyk vir my asof gesê kan word dat bv die Duitsers hulle (in sommige opsigte) as presteerders bewys het. Die kort tydperk van naziisme (1933-1945) kan nie alle Duitsers van alle tye vir sodanige huldiging diskwalifiseer nie. ‘n Mens hoef natuurlik ook nie oorboord te gaan en daarom naziisme (of fascisme of nasionaal-sosialisme) of sosialisme (of selfs kommunisme), of watter staatkundige ideologie ook al, in elke opsig te verdoem nie.

Insgelyks kan die blankes of die Afrikaners as presteerders gereken word op grond van wat hulle in Suid-Afrika tot stand gebring het. Die vier dekades van apartheid (1948-1989) diskwalifiseer blankes nie vir sodanige erkenning nie, onder meer omdat apartheid nie in iedere opsig sleg was nie.

Ook is dit ‘n wanvoorstelling om alles oor die politieke boeg te gooi. In die tydperk 1933 tot 1945 was daar baie nie-naziïstiese verskynsels in die Duitse samelewing. In die versmaaide apartheidsera het dit ook om baie meer as bloot apartheid gegaan. Die lewe en die geskiedenis behels baie meer as die politiek.

Wanneer erkentlikheid teenoor ‘n groep mense se prestasies openbaar word, impliseer dit nie dat jy noodwendig van hulle hou nie. Die Jode kan as voorbeeld dien. As die Jode (of die Romeine) vir Jesus se dood verantwoordelik gehou word, behoort ‘n mens nie daarom alle Jode (of Romeine) te verdoem nie. ‘n Mens hoef nie van Jode te hou nie, maar dit is onteenseglik waar dat hulle ‘n lang geskiedenis van buitengewone prestasie het. Daar is baie Duitse Jode wat weens anti-semitisme uit Europa gevlug en ‘n belangrike rol in die ontwikkeling en voorspoed van bv die VSA gespeel het.

Ek het onlangs ‘n omvattende boek oor die Armeniese volksmoord gelees. Die Armeniërs het hulle lank voor die Turke in wat nou Turkye genoem word, gevestig. In vergelyking met die Turke was die Armeniërs presteerders, onder meer omdat hulle meer ontwikkeld (of beskaafd) was. Armenië was sedert die 4de eeu ‘n Christelike staat; die eerste in die wêreld. Die Turke was jaloers op die Armeniërs se groter welvaart en vyandig teenoor hulle omdat hierdie Turke die Moslem-geloof fanaties aangehang het. Turke het uit sentraal-Asië na Turkye gestroom en die Armeniërs getalgewys verswelg.

Ingevolge John Stuart Mill (1806-1873) se tirannie van die meerderheid het die Turke meer as ‘n miljoen Armeniërs vermoor of in kampe laat sterf en die res uit die land gedryf. In die klein hedendaagse staat Armenië (aangrensend aan Turkye) is daar skaars 3 miljoen Armeniërs, terwyl sowat 8 miljoen van hulle hulle in ander lande bevind. Dit is ‘n klassieke voorbeeld van wat kan gebeur as ‘n beskaafde minderheid dieselfde grondgebied met ‘n minder ontwikkelde meerderheid moet deel; ‘n meerderheid wat die land regeer.

Die Armeniese volksmoord voor en tydens die Eerste Wêreldoorlog was in talle opsigte ‘n kleedrepetisie vir die Joodse holocaust tydens die Tweede Wêreldoorlog. In Duitsland en Oostenryk was die Jode presteerders en welvarend. Sedertdien het baie Jode hulle in Israel gevestig. Daar doen ‘n situasie soortgelyk aan die Armeniërs teenoor Turke hom voor, naamlik Jode teenoor Palestyne. In Israel is die Jode in die meerderheid maar in die omliggende Palestynse en oorwegend Moslem-gebiede is die Jode ‘n beskaafde minderheid.

In die geval van sowel die Armeniërs/Turke as die Jode/Palestyne is daar parallelle met Suid-Afrika. Geen wonder dat daar hartlike samewerking, bv militêr, tussen die “apartheidsregime” en Israel was nie. As eerste minister het DF Malan Israel in 1953 besoek en ongekwalifiseerd sy bewondering vir die land uitgespreek.

Teen hierdie agtergrond kan Kevin Bloom se boek, Hating Goldstone: the Jewish community against the judge (Johannesburg: Parktown Publishers, Mampoer Shorts, 2012, $2.99 – slegs elektronies beskikbaar), beoordeel word. Op die Mampoer-webwerf word Bloom se objektiwiteit in leserskommentaar bevraagteken, maar hierdie kritiek moet myns insiens eerder toegeskryf word aan die verdeeldheid wat daar oor hierdie saak binne die Joodse gemeenskap bestaan. Ek het die outeur se uiteensetting ewewigtig gevind, behalwe dat, soos deesdae die gewoonte is, apartheid sonder meer verdoem word.

Verdeeldheid is ‘n relatiewe term. As daar ‘n enkele kenmerk van die Jode is wat Afrikaners gerus kan navolg, is dit Jode se vermoë om hulle groepsverwantskap te behou. Al woon hulle verspreid oor die aarde klou baie van hulle aan hulle geskiedenis en kultuur (bv taal, godsdiens en ander gewoontes) vas. Hulle integreer dikwels hoogstens in ‘n mate met ander groepe. Sedert 1948 het die Jode ‘n tuisland wat internasionaal as ‘n staat erken word.

Is daar naasteby dieselfde mate van samehorigheid by Afrikaners? Sal die Afrikaner-diaspora met verloop van tyd in dieselfde mate as die Jode hulle identiteit behou? Waar is die Afrikaner-tuisland? Orania kan ‘n begin in hierdie rigting wees. Lees gerus Leanne George se redelik positiewe kommentaar oor Orania: Koeksister Commerce: Rebranding the White Homeland (Johannesburg: Parktown Publishers, Mampoer Shorts, 2013, $2.99 – slegs elektronies beskikbaar).

Vir jou waardes kan ‘n mens ‘n geestelike tuiste binne jouself skep. Maar ‘n konkrete, fisiese tuisland waarin jy jou in veiligheid en vrede saam met kultuurgenote kan uitleef, is sekerlik ook nodig. Dit moet ‘n ruimte wees waarmee jou hart se punt spontaan aanklank vind; iets waarop jy trots is en wat moeiteloos jou lojaliteit verdien.

Dit moet nie ‘n land wees wat feitlik onherkenbaar verander het en waarin jy ‘n tweederangse burger geword het weens die verradelike gedrag van enkele politici nie. Die Armeniërs en Jode het elk net ‘n klein landjie wat hulle hulle eie kan noem, maar hulle was en is bereid om vir die behoud daarvan te veg. Hulle sal, soos ek, sekerlik nooit die kolossale onnoselheid van ‘n De Klerk & kie aanvaar wat ‘n groot, ontwikkelde en potensieel voorspoedige land aan ‘n myns insiens immorele bende grypsugtiges verkwansel het nie.

Richard Goldstone (gebore in 1938) is in 1980 as regter aangestel en het in 2003 as regter in die Grondwethof afgetree. Hy het bekendheid verwerf as die voorsitter van die Goldstone-kommissie, wat die plaaslike geweldpleging van 1991 tot 1994 probeer uitpluis het. Daarna was hy betrokke by die ondersoek van menseregteskendings in Joego-Slawië en Rwanda (1994-1996) en Gasa (2009). Dit is sy verslag oor die gebeure in Gasa wat groot ontevredenheid in Israel en verdeeldheid in die Joodse gemeenskap in Suid-Afrika en elders veroorsaak het.

Goldstone het sowel die Israeli’s as die Palestyne aan growwe menseregteskendings skuldig bevind. In 2011 het hy teruggekrabbel oor sy skynbaar oordrewe veroordeling van die Israeli’s deur te beweer dat verdere inligting intussen aan die lig gekom het. Eintlik was Goldstone se aanvaarding van hierdie missie van die Verenigde Nasies (VN) kortsigtig, want as hy in die guns van Israel beslis het, kon daar gesê word: Dit is wat van ‘n Jood te wagte is. Daarenteen was die verwagting by die VN se Menseregteraad dat Israel veroordeel moet word. Goldstone se opdrag was om net die gedrag van die Israeli’s te ondersoek. Hy het egter albei partye se dade beoordeel.

In die konteks van bv Israel/Palestina is gevra in hoeverre daar “misdade teen die mensdom” gepleeg is. Laasgenoemde is ‘n mode-frase wat hom tot die uiterste misbruik leen. Terugverwysend na wat ek hierbo oor die kwalitatiewe verskille tussen mense geskryf het, moet ek dit in die midde lê dat ek veel eerder “misdade teen die beskawing” vir beswaar sou uitsonder. Pleks van ‘n kwantitatiewe benadering, waarvolgens die getal mense wat na bewering “benadeel” is van deurslaggewende belang is, verkies ek ‘n kwalitatiewe uitgangspunt.

Dwarsdeur die geskiedenis is dit begaafde indiwidue en klein uitgelese groepe, en nie die massa nie, wat positiewe dinge tot stand gebring en die voortgang en vooruitgang van die beskawing bevorder het. Andersins vra ek my af in watter mate ontwikkelde mense se lewensgehalte weens negatiewe gebeure afgeskaal is; beskawing dus blatant ondermyn is. In Turkye, Palestina en Suid-Afrika is onvergeefbare misdade teen die beskawing gepleeg.

Wat Suid-Afrika betref, sal anti-blanke elemente akkoord met “onvergeefbare misdade” gaan deur te beweer dat die blanke bewind plaaslik agtereenvolgend deur slawerny, kolonialisme en apartheid gekenmerk is en dat dit vreeslik onbeskaafd daaraan toe gegaan het. In werklikheid het die ANC en PAC se terreurveldtogte die agteruitgang van Westerse beskawing in Suid-Afrika ingelui. Plaaslik word hierdie “bevrydingsbewegings” se geweldstradisie tot op hede in die vorm van bv plaasmoorde voortgesit. Die ruggraatlose en mandaatlose magsoorgawe van 1990/1994 was myns insiens onmiskenbaar en onvergeeflik ‘n “misdaad teen die (Westerse) beskawing”.

Wat die destydse plaaslike slawerny betref, moet besef word dat die inheemse bevolking nie verslaaf is nie. Die slawe is ingevoer. Die rede hiervoor is dat die Khoisan, wat in die suide en weste aangetref is, nie bruikbare arbeiders was nie. Die swartes, wat uit die noorde en ooste die land binnegestroom het, was ook nie gretig om arbeid te verrig nie. Hoewel daar ‘n ooraanbod van swart werkloses was, het die owerheid dit dikwels eerder gerade geag om arbeiders vir die myne uit buurlande en Oosterlinge uit Indië vir die suikerplantasies in te voer.

Diegene wat die blanke bewind kritiseer oor slawerny, kolonialisme en apartheid skreeu ten hemele oor beweerde “misdade teen die mensdom”. Te midde van al hulle oordrywing kry hierdie kritici dit nie reg om die blankes van die ou Suid-Afika van volksmoord te beskuldig nie; iets wat wel tydens kolonialisme elders in die wêreld ten koste van die inheemse bevolking voorgekom het. Met verwysing na bv plaasmoorde is volksmoord dalk veel eerder ‘n potensiële kenmerk van die nuwe Suid-Afrika.

Om klaarblyklike redes beklemtoon ek eerder verskille as ooreenkomste tussen mense. Sodra ‘n presteerder aan ‘n gelykwenser erken dat alle mense gelyk behoort te wees, word daar onmiddellik met die waarneming gekom dat daar groot ongelykhede in die praktyk is. Die volgende stap is om met die verwyt te kom dat hierdie ongelykhede aan die marginalisering, benadeling, uitbuiting, ens, van nie-wittes toe te skryf is. Blankes kry dan die skuld hiervoor.

Bloom vertel hoe hartlik Goldstone met die hoëlui van die “apartheidsregime” gesosialiseer het. Ook dat Goldstone as regter noodwendig gehelp het om die apartheidstelsel aan die gang te hou. Hy was sekerlik nie ‘n anti-apartheidsaktivis nie. Goldstone beweer deesdae dat hy probeer het om apartheid van binne af te hervorm. In hierdie verband word dan verwys na sy uitspraak dat diegene wat ingevolge die wet op groepsgebiede verskuif word van alternatiewe huisvesting voorsien moet word. Die indruk wat die teks by my gewek het, is dat Goldstone nie van opportunisme vry te pleit is nie.

Enkele jare gelede is ‘n onderhoud met Goldstone op BBC-televisie gevoer. Hy noem toe dat hy hom in Amerika gevestig het. Die rede waarom hy uit die nuwe Suid-Afrika verkas het, is glo omdat sy kinders en kleinkinders in Amerika woon. Dit laat my dink aan die oorverligte Jodin wat ek as ‘n kollega gehad het. Sy het alles wat van die ANC se kant af gekom het skynbaar as manna beskou. Sedertdien het sy en haar gesin hulle sak en pak in Australië gevestig.

Vanselfsprekend verkwalik ek mense wat hulle met woord en daad vir ‘n ANC-regering beywer het maar nie kans sien om te woon in die omstandighede wat hulle help skep het nie. Maar daar is lastige vrae wat periodiek by my opkom: Is dit nie dalk deel van die briljantheid van Jode dat hulle weet wanneer om ‘n sinkende skip te verlaat nie? Is Suid-Afrika nie onmiskenbaar vir altyd opgedonder nie? Het die tyd vir blankes in Afrika nie onherroeplik uitgeloop nie? Ek wil nie so dwaas soos bv JP (Silwerrandjie) Landman wees om die donker wolk doelbewus mis te kyk nie.

Geweld in Egipte dreig om te verhewig

egyptunrestDie VN Sekretaris-Generaal Ban Ki Moon het ‘n beroep op die Egiptiese weermag gedoen om die afgesette president Mohammed Morsi en ander leiers van die Moslem Broederskap vry te laat.

Ban het die oproep gedoen terwyl teenstanders en ondersteuners van Morsi gereed maak om landwye massa-betogings te hou.

Westerse leiers hou die krisis in Egipte met toenemende kommer dop met ‘n hewige konfrontasie wat tussen die twee strydende groepe dreig, nadat die hoof van die weermag, genl. Sisi belowe het om die ‘terroriste” te vernietig.

Hulle vrees dat die weermag se belofte dat die land binnekort na ‘n demokrasie sal terugkeer, niks minder as ‘n rookskerm is om ‘n langdurige magsoorname te verdoesel nie.

‘n Senior Egiptiese weermag-amptenaar het intussen die Palestynse groep Hamas in Gaza daarvan beskuldig dat hulle wapens aan militante groepe verskaf.

Generaal Osama Aschar sê 19 vuurpyle wat in die Suez-gebied gevind is, is dieselfde soort as wat deur Hamas se militêre vleuel, die Izz al-Din al-Quassam brigades, gebruik word.

Die Egiptiese weermag het reeds tientalle tonnels vernietig wat die Sinai-skiereiland met Gaza verbind.

Die tussentydse leiers het ‘n plan vir ‘n nuwe grondwet in die aanloop tot ‘n verkiesing voorgelê, maar twyfel bestaan of hulle dié onderneming gestand sal doen.

‘n Bom het vroeër buite ‘n polisiestasie in die stad Mansoura in Egipte se Nyldelta ontplof. Regeringsamptenare sê minstens 17 mense is beseer, wat polisiebeamptes en burgerlikes insluit.

Volgens berigte is een persoon in die ontploffing dood.

Botsings het Maandag tussen ondersteuners en teenstanders van die afgesette president uitgebreek. Dertien mense is dood en tientalle beseer.

Morsi se familie het hulle daartoe verbind om die weermag weens die staatsgreep te dagvaar.

President Barack Obama van Amerika die aflewering van vier F16 vegvliegtuie aan Egipte vir eers gekanselleer in die lig van die onrussituasie, nadat vyftien Palestyne dood is in ‘n vuurpylaanval op ‘n vlugtelingkamp in suid-Damaskus in Sirië.

Die slagoffers was meestal vroue en kinders. Die vlugtelingkamp onder rebelle-beheer is deur die Siriese veiligheidsmagte van President Bashar Assad aangeval.

‘n Woordvoerder van die Pentagon, George Little, sê dit sal in die huidige omstandighede in Egipte nie die korrekte ding wees om te doen om wapentuig te lewer nie.

Egipte se openbare staatsaanklaer het vroeër opdrag gegee dat die leier van die Moslem Broederskap, Mohamed Badie, en agt senior lede van dié beweging in hegtenis geneem word weens bewerings van die aanhitsing van geweld.

Badie is sedert President Mohammed Morsi se bewind op 3 Julie omvergewerp is deur die Weermag, minstens een keer vir ondervraging aangekeer en later weer vrygelaat.- RSG

Israel verwerp VN-resolusie oor Gasa

Die Verenigde Nasies het ‘n versoek aan Israel en Palestina gerig om beweerde oorloggeweld wat gedurende die Gasa-oorlog plaasgevind het, te ondersoek. Israel het hierdie voorstel egter van die hand gewys.

“Israel verwerp die resolusie van die VN se Algemene Vergadering,” het die buitelandse ministerie in ‘n verklaring gesê.

Volgens die VN se verslag het die Israelse magte “hoër waardes getoon as enige van die aanhitsers” tydens die 22 dae van oorlog, waartydens 1 400 Palestyne en 13 Israeliete gesterf het.

Donderdag het 192 lede by die vergadering die verslag goedgekeur waarin beweer word Israel en Palestinië is skuldig van moontlike oorlogmisdade en misdade teen die mensdom.

Van die 192 verteenwoordigers het 114 in guns van die verslag gestem, 18 was daar teen en 44 het buite stemming gebly.

Die VN se verslag het aanbeveel dat sy bevindinge na die Internasionale Strafhof in Den Haag gestuur word, indien Israel en die Hamas-leiers versuim om ‘n ondersoek na die oorlog in te stel.

 

траверсы дляФильчаков Александр Васильевич