Sewende Vigs-konferensie in Durban gehou

Die sewende Suid-Afrikaanse Vigs-konferensie het in Durban geopen met hernude beroepe vir vennootskappe in die stryd teen MIV/Vigs, het RSG berig.

Wetenskaplikes, aktiviste en regeringsverteenwoordigers vergader die week om Vigs in Suid-Afrika te bespreek, en om strategië vir die toekoms te bepaal.

Suid-Afrika huisves sowat 18 persent van die wêreld se MIV-positiewe bevolking.

Die voorsitter van die konferensie, Nono Simelela sê hoewel baie vordering gemaak is, is daar steeds reuse uitdagings.

Die voorsitter van die Suid-Afrikaanse Nasionale Vigs-raad, adjunk-president Cyril Ramaphosa sê intussen Suid-Afrika vorder in die stryd teen Vigs.

Hy het verwys na die regering se veldtog waartydens 20 miljoen mense Vigstoetse in 20 maande ondergaan het, en die gemiddelde lewensverwagting wat van 53 jaar in 2006 na 62,2 jaar in 2013 gestyg het.

Stakende taxi-operateurs in Durban raak gewelddadig

Die Ethekwini-munisipaliteit en die Suid-Afrikaanse Taxi-raad het ‘n ooreenkoms bereik nadat taxi-operateurs Dinsdag gewelddadig geraak het in die Durbanse middestad en omliggende gebiede.

Die polisie moes van traanrook en rubberkoeëls gebruikmaak om die oproeriges te verwilder wat begin plunder en breek het.

Die sekretaris van Santaco in KwaZulu-Natal, Yusuf Khaliva het gesê normale bedrywighede sal weer Woensdag hervat word.

Honderde oproerige taxi-operateurs het nie-stakende operateurs aangeval, pendelaars hardhandig uit taxis geruk en aangerand en busse onder klippe gesteek.

Khaliva sê die munisipaliteit het ingestem om meer as driehonderd taxis terug te gee wat geskut is.

Onderhandeling sal verder gevoer word oor die uitreiking van taxipermitte.

Dit is nie die eerste keer dat owerhede en taxi’s vassit nie. In Junie verlede jaar het taxi-geweld ook die gebied geteister.

MRK ontvang dreigemente oor ondersoek teen Zoeloe-koning

City Press het berig dat dreigemente om die Mensregtekommissie (MRK) in Durban af te brand ontvang is as die kommissie met sy ondersoek teen die Zoeloe-koning, Goodwill Zwelithini, sou voortgaan.

Veiligheid by die MRK moes dringend verskerp word ná die dreigemente van geweld.

Zwelithini het by ‘n byeenkoms buitelanders met miere en luise vergelyk en hulle aangeraai om hul tasse te pak en te gaan in sy toespraak verlede maand in Pongola, KwaZulu-Natal.

Hy het egter ‘n “Derde Mag” en die media blameer vir aanhitsing van geweld.

‘n Georkestreerde veldtog is in Afrikalande teen suksesvolle Suid-Afrikaanse maatskappye opgemerk.

Volgens City Press is die MRK aangeraai om dadelik op te hou met hulle ondersoek om te verhoed dat die MRK-kantoor aan die brand gesteek word met werknemers binne-in. MRK-personeel word glo dopgehou.

Isaac Mangena, woordvoerder van die MRK, het bevestig dat die kommissie dreigemente ontvang het.

Mangena het gesê Zwelithini speel geen rol in die dreigemente nie en die koning het glo sy volle samewerking aan die MRK gegee.

Die regering sê intussen hulle gaan nie sy hoë kommissaris in Nigerië terug roep nie, ten spyte van Abuja wat sy ambassadeur uit Pretoria ontbied het.

Suid-Afrika het Nigerië se besluit gekritiseer en sê Nigerië het nooit aangedui dat hy die kwessie van xenofobiese geweld met Suid-Afrika wil bespreek nie.

‘n Woordvoerder van die departement van internasionale betrekkinge, Clayson Monyela sê hulle gaan die kwessie met Nigerië se nuwe regering bespreek, wat aanstaande maand ingehuldig word.

Zim sê dodetal in xenofobiese geweld ‘n grys gebied

Die polisie in Gauteng het Maandag ontken dat ‘n Zimbabwiese vrou wat onthoof is in Killarney verlede week, ‘n slagoffer van xenofobiese geweld was, maar Zimbawiese hooggeplaastes sê die dodetal is ‘n grys gebied.

Lungelo Dlamini, polisiewoordvoerder, het aan News24 gesê die vrou se liggaam is Dinsdag gevind “naby die plek waar die hawelose mense was bly” in Killarney.

“Ons dink nie dat dit verband hou met die xenofobiese geweld nie. Dit lyk soos ‘n beplande moord. Sy is elders vermoor, en haar liggaam is daarna in die plastieksak gestop en weggegooi,” het Dlamini gesê, wat bevestig het dat die polisie die motief vir die vrou se moord ondersoek.

Dlamini het nie die naam van die slagoffer bekend gemaak nie, maar die staatsbeheerde media in Zimbabwe het Maandag lede van ‘n gesin in Harare aangehaal wat gesê het hul familielid is onthoof in die Houghton-gebied.

Sy is glo Naome Garusa en hulle glo sy was inderdaad ‘n slagoffer van die xenofobiese geweld in dele van Durban en Johannesburg wat vir meer as ‘n week gewoed het.

“Plunderende xenofobiese elemente, het haar geteiken toe sy van haar werkplek gekom het”, het die Herald berig.

Buitelandse kinders wat in Suid-Afrika skoolgaan, is ook geraak deur die onlangse xenofobiese aanvalle, het die Nasionale Professionele Onderwysersorganisasie van SA (Naptosa), gister gesê.

“Leerders is ook ontwrig deur die geweld en ‘n paar buitelandse leerders is geïntimideer,” sê Naptosa se president Basil Manuel.

Onderrig is ook ontwrig in sommige skole, en sommige buitelandse onderwysers in Suid-Afrika was bang om te rapporteer vir diens.

Zimbabwe se ambassadeur in Suid-Afrika Isak Moyo, wat tans in Durban is, sê die dodetal is ‘n “grys gebied”. Suid-Afrikaanse bronne beweer net sewe mense is dood in die onlangse geweld.

Hy het aan die Chronicle-koerant Maandag gesê dat daar slegs een Zimbabwiese slagoffer amptelik bevestig is, ‘n man wat bekend staan ​​as Mhofu. Amptenare probeer om sy liggaam te repatrieer.

Maar daar is vroeër berig dat nog twee Zimbabwiërs, ‘n vrou en ‘n kind, dood is in die geweld.

Zimbabwe het begin om honderde burgers in die nasleep van die aanvalle terug te bring huistoe.

Die eerste groep van 407 Zimbabwiërs, waaronder byna 100 kinders, het Maadag by die Beitbrug-grenspos aangekom.

Gigaba loof buitelanders se bydrae tot SA

Buitelandse burgers moet nie aangeval word nie, omdat die meeste ‘n positiewe bydrae tot die land lewer, het die minister van Binnelandse Sake Malusi Gigaba Donderdag in die Parlement gesê

“Om mee te begin wil ons graag uitdruklik verklaar dat die meeste buitelandse burgers ‘n baie positiewe bydrae tot die samelewing maak,” het hy gesê.

Hy het xenofobiese aanvalle in Durban en ander dele van die land veroordeel tesame met president Jacob Zuma en al die opposisie partye.

Gigaba het gesê baie buitelanders in hospitale en skole sorg vir Suid-Afrikaners.

Hulle het ook die nasionale fiskus vergoot, alhoewel hulle hul geld uit Suid-Afrika stuur na hul eie lande.

Die Durbanse middestad was Donderdag ‘n chaotiese toneel van skokgranate, rubberkoeëls, traangas, en ‘n groot polisieteenwoordigheid toe ‘n vredesoptog wat gehou is om xenofobiese aanvalle te beëindig, in verdere geweld en plundery ontaard het.

‘n Burger van Burundi Moses Sefumama, moes gered word van ‘n skare deur die metropolisie in Durban, het News24 berig. Inwoners kla dat buitelanders dwelms aan kinders smous.

Die polisie moes mensekettings in die strate vorm met hul bevelvoerder wat skree “hou die lyn, hou die lyn” terwyl tierende swart skares probeer deurbreek.

Pres. Zuma het in sy toespraak in die parlement gesê die land sal ferm bly staan teen “rassisme, xenofobie, homofobie en seksisme.”

VN spreek kommer uit oor xenofobiese geweld

Die Verenigde Nasies se Vlugtelingagentskap het sy kommer uitgespreek oor voortslepende xenofobiese geweld in die land.

Nog twaalf mense is intussen in hegtenis geneem in Durban vir openbare geweld waarin vyf mense reeds omgekom het.

Die plundery het Dinsdag na die Indiërbuurt Verulam uitgebrei.

Die Vlugtelingagentskap het berigte van buitelanders landwyd ontvang wat sê dat hulle vir hulle lewens vrees.

Die woordvoerder, Tina Ghelli sê talle vlugtelinge en asielsoekers word dakloos gelaat weens die geweld teen hulle en hulle het geen heenkome nie.

Die minister van binnelandse sake, Malusi Gigaba het gesê leiers moet hulle daarvan weerhou om opruiende taal te gebruik, wat deur sommige mense as kritiek teen die koning vertolk is.

Gigaba en ander ministers van die veiligheids-groepering het vroeër met die Zoeloekoning samesprekings gevoer oor sy kommer oor migrasie-bestuur.

Die vergadering het op versoek van die regering plaasgevind.

Zoeloes verjaag buitelanders

Grootskaalse plundery in Durban se lokasies het verlede nag uitgebreek soos spanning aangevuur deur xenofobiese retoriek en werkloosheid oorgekook het.

Verskeie mense is dood en duisende is uit hul wonings gejaag in die mees gewelddadige onlangse aanvalle teen buitelanders wat steeds in ‘n deel van KwaZoeloe-Natal voortduur.

Sporadiese geweld is veral in Suid-Durban opgemerk. Honderde polisielede is ontplooi in die stad van alle uithoeke van provinsie, terwyl duisende Zoeloes op buitelanders se winkels toegesak het.

Die eThekwini Metro se hele brandweer is na verneem word ontplooi in net KwaMashu alleen, soos plunderaars winkels aan die brand steek asook huise wat aan buitelandse burgers behoort.

Die polisie se Openbare Orde-eenheid het gesukkel om die eiendom van buitelanders te beveilig. Volgens berigte het groepe mense in Umlazi en in KwaMashu van winkel tot winkel beweeg en voedsel gebuit voordat winkels aan die brand gesteek is.

Die sentiment van Zoeloe-inwoners is vervat in kommentaar deur die Zoeloekoning Goodwill Zwelithini, wat voorgestel het dat nie-Suid-Afrikaanse burgers hulle “tasse moet pak” en terugkeer huis toe.

Zwelithini se opmerking volg te midde van die regering se pogings om duisende ontwortelde buitelanders aan te moedig om na hul gemeenskappe terug te keer.

Die vlaag xenofobiese geweld kan toegeskryf word aan buitelanders wat ongehinderd oor Suid-Afrika se grense stroom en meeding om werk in ‘n arbeidsmark waar werkloosheid reeds hoogty vier.

Berigte dat ‘n kind geskiet is, kon nie bevestig word nie.

‘n Groot groep swart mans wat by die Dalton mans-hostel in die Durbanse middestad saamgetrek het, is ook uiteengejaag.

Aanvalle teen buitelanders by Durban duur voort

Aanvalle teen buitelanders in KwaZoeloe-Natal duur voort.

Geweld teen buitelanders suid van die Groter Ethekwini Metro het na ander lokasies noord van Durban uitgebrei.

Sondag is sowat vyf winkels van buitelanders aangeval en aan die brand gesteek. Die winkels is in KwaMashu, Inanda en Siyanda.

‘n RSG-verslaggewer in die gebied, Dumisani Shange het berig dat hoewel ‘n bykomende 100 lede van die Polisie se Openbare Orde-eenheid ontplooi is, die xenofobiese aanvalle steeds na ander gebiede oorspoel.

Ongeveer 2 000 vlugtelinge word tans in tydelike kampe in Isipingo, Chatsworth en Greenwoodpark gehuisves.

Zimbabwe se Konsul-generaal in Suid-Afrika, Henry Mukonoweshuro, sê intussen diplomatieke bande tussen Suid-Afrika en Zimbabwe sal nie geraak word deur die voortgesette xenofobiese aanvalle in die groter eThekwini-gebied nie.

Honderde buitelandse burgers van Zimbabwe, die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK), Ethiopië en Somalië is is reeds uitgejaag na die aanvalle in Durban.

Mukonoweshuro sê hulle sal nou saamwerk met hul Suid-Afrikaanse eweknieë om ‘n oplossing te vind.

Hassan Ali, ‘n winkeleienaar sê al sy winkels in KwaMashu, noord van Durban, is geplunder en uitgebrand.

“Ek het vier winkels gehad, drie van hulle in die hostel. Hulle buit alles. Daar is nou niks meer binne oor nie. Hierdie ding is verskriklik. Ek weet nie hoekom mense ons aanval nie. Ons weet nie wat ons nou kan doen nie. Ons sukkel.”

Universiteit van Kaapstad stem in om Rhodes-beeld te verwyder

Die Universiteit van Kaapstad sê die verwydering van die standbeeld van Cecil John Rhodes is ‘n “belangrike mylpaal in die transformasie van die land se tersiëre instellings”.

Die Universiteitsraad het gister eenparig besluit dat die standbeeld om vyfuur vanmiddag verskuif moet word. Die standbeeld sal na ‘n plek van veilige bewaring geneem word.

Die Wes-Kaapse Erfenisraad sal die finale besluit oor die standbeeld se lot neem.

Gisteraand se raadsvergadering is meer as ‘n uur lank ontwrig nadat van die studente die saal binnegestorm het waar die vergadering gehou is en geëis het dat hulle dit as waarnemers bywoon.

Die Raad het geweier om dit toe te laat en was op die punt om te verdaag sonder ‘n finale besluit oor die standbeeld, maar die studente het hulle verhinder om die vertrek te verlaat.

Die dooiepunt is eers opgelos nadat die studente padgegee en die Raad toe sy werk kon afhandel.

Koning George V is verlede maand die menslike ontlasting gespaar wat die Rhodes-beeld getref het, maar ‘n standbeeld van hom in Durban is met wit verf getakel en daarna bepleister met plakkate.

Swart studente eis ‘n einde aan wit voorreg aan die Universiteit van KwaZulu-Natal.

‘n Verteenwoordiger van die SA Studente Kongres sê die skending sal voortgaan totdat die standbeeld verwyder word.

Kabinet gaan kragkrisis bespreek

Die Kabinet gaan na verwagting Woensdag vergader om die land se elektrisiteitkrisis te bespreek, het RSG berig.

Eskom het Vrydag fase drie van beurtkrag ingestel na probleme by drie steenkoolkragstasies.

Die elektrisiteitskrisis het gisteraand tot chaos in Durban gelei, waar sowat tien duisend mense op treine gestrand gelaat is.

Metrorail het beurtkrag die skuld gegee vir die voorval.

Die provinsiale hoof van kommunikasie, Zama Nomnganga sê weens kragonderbrekings kon operateurs in kontrolekamers nie die treinverkeer reguleer nie, en daarom het die treine stilgestaan.

Die kabinetsvergadering volg ook te midde van verbruikers wat skadevergoeding van munisipaliteite begin eis weens kragonderbrekings.

Twee joernaliste by gevangenis gevang

Twee Indiër-joernaliste is oor die naweek by die Westville-gevangenis in Durban in hegtenis geneem nadat hulle hulself glo voorgedoen het as familielede.

Taschica Ramlackan en Suthentira Kaissri wou onder dié voorwendsel met een van die gevangenes ‘n onderhoud voer.

“Die joernaliste se name en publikasie vir wie hulle werk gaan nie in die stadium bekend gemaak word nie,” het die departement van korrektiewe dienste Donderdag in ʼn verklaring gesê. “Die twee het hulself as familielede van die gevangene voorgedoen en is betrap toe hulle besig was om ʼn onderhoud met die oortreder te voer.”

Hulle het na bewering Afdeling 122 van die Wet op Korrektiewe Dienste 111 van 1998 oortree.

Die wet verbied ondermeer ongemagtigde publikasie, valse voorstellings asook winsbejag uit die publikasie van misdade waarvoor oortreders vonnisse uitdien.

Hulle is aan die polisie oorgegee en het Maandag in die Pinetownse landdroshof verskyn waar hulle op R500 borg elk vrygelaat is.

Berigte oor ebola-slagoffer in Durban misleidend

Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes sê berigte dat ‘n ebola-slagoffer in Durban aangemeld is, is misleidend.

Volgens die Instituut is die man se simptome nié dié van ebola nie, hy is voorts nooit daarvoor getoets nie en is ook nie opgeneem nie.

Luidens verskeie berigte is ‘n man vir toetse vir die ebola-virus in Durban se Addington-hospitaal opgeneem.

Daar is berig dat die man tyd in Sierra Leone deurgebring het, een van die state in Wes-Afrika waar die pandemie uitgebreek het.

Dié nuus het konsternasie by die hospitaal veroorsaak.

Die man werk as ‘n vlootbestuurder vir ‘n maatskappy in Sierra Leone en daar is volgens die Instituut geen risiko dat hy aan die virus blootgestel is nie.

Sakelui gaan Nkandla-geld betaal

‘n Groep Durbanse sakelui wat aangebied het om ‘n gedeelte van die geld terug te betaal wat aan opknappings aan President Jacob Zuma se privaatwoning op Nkandla bestee is, meen die land moet van die saak af aanbeweeg.

Die Openbare Beskermer, Thuli Madonsela het in haar verslag bevind dat die president en sy familie onregmatig uit die opgraderings voordeel getrek het, het RSG berig.

Die projek het meer as R200 miljoen gekos en Madonsela het aanbeveel dat Zuma van die koste dra.

Die voorsitter van die groep, wat as die Public Members Unit Team bekend staan, Vumelani Mchunu sê hulle wil eerder daarop fokus om saam met die president ‘n beter Suid-Afrika tot stand te bring as om op een kwessie te hamer.

Die groep sê hulle gaan fondse begin insamel sodra daar op ‘n gepaste bedrag besluit is.

Polisie lê beslag op houer vol kokaïen

Die polisie in Durban het beslag gelê op 95 kilogram kokaïen ter waarde van sowat 29 miljoen rand. RSG het berig dat dit heroïen was.

‘n Woordvoerder sê die dwelms was versteek in ‘n vraghouer in die hawe wat van Buenos Aires in Argentinië afkomstig was.

Die intelligensie-operasie is gelei in samewerking met die SAPD DPCI, die Valke en die Doeane-enheid by die Durbanse hawe.

‘n Houer met kokaïen wat positief geïdentifiseer is deur die forensiese span van die SAPD, het een kilogram-blokke verpak gekry. ‘n Totaal van 95 blokke was in die houer.

Voorlopige ondersoeke het getoon dat die oorspronklike seël van die houer mee gepeuter was. Daar word vermoed dat die dwelms verwyder sou word voordat die houer aan die eienaar oorhandig moes word.

Die skip met die houer het vertrek uit Suid-Amerika op 5 September 2014 en het by Durban op die aand van 30 September omstreeks 22:00 aangekom.

Niemand is in hegtenis geneem nie en die ondersoek duur voort.