Die Ethekwini-munisipaliteit en die Suid-Afrikaanse Taxi-raad het ‘n ooreenkoms bereik nadat taxi-operateurs Dinsdag gewelddadig geraak het in die Durbanse middestad en omliggende gebiede.
Die polisie moes van traanrook en rubberkoeëls gebruikmaak om die oproeriges te verwilder wat begin plunder en breek het.
Die sekretaris van Santaco in KwaZulu-Natal, Yusuf Khaliva het gesê normale bedrywighede sal weer Woensdag hervat word.
Honderde oproerige taxi-operateurs het nie-stakende operateurs aangeval, pendelaars hardhandig uit taxis geruk en aangerand en busse onder klippe gesteek.
Khaliva sê die munisipaliteit het ingestem om meer as driehonderd taxis terug te gee wat geskut is.
Onderhandeling sal verder gevoer word oor die uitreiking van taxipermitte.
Dit is nie die eerste keer dat owerhede en taxi’s vassit nie. In Junie verlede jaar het taxi-geweld ook die gebied geteister.

