Vragmotorbestuurder wat verwoesting op N12 saai, vas

Die bestuurder van die vragmotor wat die ongeluk op die N12 in Alberton veroorsaak het, sal volgens die polisie op vier aanklagte van strafbare manslag in die hof verskyn.

Die 44-jarige bestuurder van die beweerde onpadwaardige vragmotor was glo Dinsdagoggend vir die ongeluk verantwoordelik wat verwoesting op die hoofweg gesaai het.

Kapt. Doniah Mothutsane, polisiewoordvoerder, sê hy staar ‘n klag van strafbare manslag in die gesig.

Eienaars van veroerdienste word oor die algemeen beskuldig van ‘n gebrek aan instandhouding, te lang afstande wat gereis word, en nalatigheid deur vragmotorbestuurders.

Vier mense is dood en nog 17 beseer toe die vragmotor Dinsdag in bykans vyftig voertuie vasgery het.

Die bestuurder is Woensdag in hegtenis geneem en sal in Palm Ridge se landroshof verskyn.

Een van die remme van die vragmotor het glo nie ’n remskoen gehad nie.

Die polisieondersoek gaan nog voort.

Een van die 17 beseerdes is in ’n kritieke toestand in die hospitaal, het Santi Steinman, Netcare 911-woordvoerder, bevestig.

Taxi’s en busse weens onpadwaardigheid geskut

taxi2Meer as 200 taxis en busse is tydens ‘n padwaardigheidsoperasie in Johannesburg geskut.

Beamptes van die Padverkeerbestuurskorporasie het by taxi-staanplekke en busstasies in die stad besoek afgelê. Hulle sê bykans die helfte van alle taxis wat nagegaan is, het nie ‘n padwaardigheidstoets geslaag nie.

Die waarnemende hoof van die padverkeerbestuurskorporasie, Gilberto Martins het sy skok uitgespreek oor die toestand van sommige van die voertuie.

Hy sê van die probleme sluit in dat sommige taxis se wiele is nie behoorlik vasgedraai nie, terwyl ander taxis se sitplekke nie vasgeskroef is nie en dus vorentoe skuif as die taxibestuurders rem trap.

Die KwaZulu-Natalse verkeersowerheid het ook dié naweek ‘n vragmotor geskut wat aan Sagekal Logistics behoort – dieselfde maatskappy wat die vragmotor besit het wat twee weke gelede in die gru-ongeluk in Pinetown betrokke was.

Drie-en-twintig mense is in die ongeluk dood. Daar is bevind dat die vragmotor wat geskut is, onpadwaardig was weens onklaar remme.

Dit het na bewering die N3-hoofweg by Key Ridge tussen Pinetown en Pietermaritzburg versper, nadat dit sonder brandstof gaan staan het. – RSG