Aanvalle teen buitelanders in KwaZoeloe-Natal duur voort.
Geweld teen buitelanders suid van die Groter Ethekwini Metro het na ander lokasies noord van Durban uitgebrei.
Sondag is sowat vyf winkels van buitelanders aangeval en aan die brand gesteek. Die winkels is in KwaMashu, Inanda en Siyanda.
‘n RSG-verslaggewer in die gebied, Dumisani Shange het berig dat hoewel ‘n bykomende 100 lede van die Polisie se Openbare Orde-eenheid ontplooi is, die xenofobiese aanvalle steeds na ander gebiede oorspoel.
Ongeveer 2 000 vlugtelinge word tans in tydelike kampe in Isipingo, Chatsworth en Greenwoodpark gehuisves.
Zimbabwe se Konsul-generaal in Suid-Afrika, Henry Mukonoweshuro, sê intussen diplomatieke bande tussen Suid-Afrika en Zimbabwe sal nie geraak word deur die voortgesette xenofobiese aanvalle in die groter eThekwini-gebied nie.
Honderde buitelandse burgers van Zimbabwe, die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK), Ethiopië en Somalië is is reeds uitgejaag na die aanvalle in Durban.
Mukonoweshuro sê hulle sal nou saamwerk met hul Suid-Afrikaanse eweknieë om ‘n oplossing te vind.
Hassan Ali, ‘n winkeleienaar sê al sy winkels in KwaMashu, noord van Durban, is geplunder en uitgebrand.
“Ek het vier winkels gehad, drie van hulle in die hostel. Hulle buit alles. Daar is nou niks meer binne oor nie. Hierdie ding is verskriklik. Ek weet nie hoekom mense ons aanval nie. Ons weet nie wat ons nou kan doen nie. Ons sukkel.”
