VN spreek kommer uit oor xenofobiese geweld

Die Verenigde Nasies se Vlugtelingagentskap het sy kommer uitgespreek oor voortslepende xenofobiese geweld in die land.

Nog twaalf mense is intussen in hegtenis geneem in Durban vir openbare geweld waarin vyf mense reeds omgekom het.

Die plundery het Dinsdag na die Indiërbuurt Verulam uitgebrei.

Die Vlugtelingagentskap het berigte van buitelanders landwyd ontvang wat sê dat hulle vir hulle lewens vrees.

Die woordvoerder, Tina Ghelli sê talle vlugtelinge en asielsoekers word dakloos gelaat weens die geweld teen hulle en hulle het geen heenkome nie.

Die minister van binnelandse sake, Malusi Gigaba het gesê leiers moet hulle daarvan weerhou om opruiende taal te gebruik, wat deur sommige mense as kritiek teen die koning vertolk is.

Gigaba en ander ministers van die veiligheids-groepering het vroeër met die Zoeloekoning samesprekings gevoer oor sy kommer oor migrasie-bestuur.

Die vergadering het op versoek van die regering plaasgevind.