Namibiër sal regsaksie teen US voortsit

Dr. Joggie Briedenhann het Dinsdag by navraag aan die Republikein bevestig dat hy die siviele regsaksie teen die Universiteit van ­Stellenbosch (US), Open ­Stellenbosch en die studenteraad gaan voortsit ondanks die rektor van dié unversiteit, dr. Wim de Villiers, se skriftelike verskoning aan hulle.

Die regstappe sal gedoen word hangende die verslag wat deur ’n onafhanklike kommissaris opgestel word om die instansie se hantering van die beweerde rassevoorval vroeër die maand te ondersoek.

Briedenhann se dogter en ‘n vriendin het hulself pers geverf vir ‘n partytjie. Hulle is deur die instansie se verteenwoordigers as rassiste uitgekryt nadat foto’s van hulle gemanipuleer is om na “black-face” te lyk.

Danksy die kwade wil van die US se fotomanipulasie is die twee daarna uit die koshuis geskors.

“Ons is nie agter die US se geld nie. Ons gaan voort met die siviele saak om die universiteit die dwing om die ondersoek af te handel. Ons wil ook verhoed dat dit net nóg ’n verslag is wat gaan stof vergaar,” sê Briedenhann.

Die aanstelling van ’n onafhank­like kommissaris volg ná openbare woede oor die universiteit se optrede rakende die saak in die media en hoe dit op sosiale media bekend gemaak is.

Luidens De Villiers se verklaring Vrydag is hy spyt oor die trauma wat die voorval vir die betrokke studente en hul ouers veroorsaak het.

Briedenhann meen egter die siviele saak sal die US noodsaak om die verslag se ­bevindinge aan die publiek bekend te maak én om erns te maak met die verslag se aanbevelings.

“Dit gaan oor die beginsel van die saak,” sê Briedenhann.

Die optrede van ene Mathew Smorensburg, verbonde aan die universiteit se sentrum vir ­studentestrukture, gaan onder meer ondersoek word.

Toe die klag van rassisme en “blackface” by die universiteit ingedien is, is Christine en haar vriendin na sy kantoor ontbied. Hy het hulle na bewering ontmoedig om ’n ­regsverteenwoordiger aan te stel en het hulle ook afgeraai om hul vriende of ouers te kontak.

Smorensburg het die twee daarna gedwing om ‘n inkriminerende boodskap wat hyself geskryf het, onder hul eie name uit te stuur.

Twee wit studente se eise teen Kovsies van die hand gewys

Twee wit studente se eise, wat ondermeer laster insluit, teen die Universiteit van die Vrystaat het nie geslaag nie. Afriforum het die regsgeding behartig.

Die universiteit het oor hul oorwinning gekraai en gesê die saak teen twee van sy voormalige studente word beskou as afgehandel.

Cobus Muller en Charl Blom het in twee afsonderlike sake elk vyf miljoen rand van die universiteit vir onder meer laster en skadevergoeding geëis.

Die hof het dié week die eise met koste van die hand gewys.

Muller en Blom het die eise ingestel nadat die hof die twee onskuldig bevind het op aanklagte van poging tot moord en aanranding.

Die twee is twee jaar gelede by van rassisme beskuldig deur ‘n swart leuenaar na sy versinsels oor ‘n beweerde voorval op die kampus.

Die rektor, Jonathan Jansen, het dadelik die swarte se weergawe van die beweerde insident aanvaar en die wittes veroordeel.

Muzi Damane Gwebu, het beweer hy is omgery en daarna aangerand by die Universiteit van die Vrystaat, en gesê dit is nie die eerste keer dat hy rassistiese mishandeling op die Bloemfontein-kampus moes verduur nie.

Die Menseregtekommissie kon egter bewyse van die beweerde rassisme teen Gwebu kry nie.

Eise teen SAPD kos belastingbetalers R860 miljoen

Belastingbetalers moes die afgelope ses jaar al meer as R860 miljoen opdok vir siviele eise teen lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD).

As die skikkingsooreenkomste wat die SAPD sedert 2011 aangegaan het ook bygereken word, styg die bedrag tot meer as R1,04 miljard.

In 2009 is slegs sowat R80 miljoen vir sulke eise uitbetaal, het Netwerk24 berig.

Gareth Newham, senior navorser van die Instituut vir Sekerheidstudie, het aan Netwerk24 gesê die stygende eisuitbetalings toon dat siviele eise gewilder is by die publiek eerder as om by die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) te gaan kla waar ondersoeke lank kan sloer.

Die SAPD se jaarlikse gebeurlikheidsbegroting vir siviele eise wat moontlik nog in die toekoms ingestel kan word, het in die afgelope boekjaar meer as R312 miljard beloop.

Die SAPD se jaarverslae en parlementêre antwoorde van Nathi Nhleko, minister van polisie, wys voorts die polisie het in die 2009-’10-boekjaar regskoste betaal van sowat R89 miljoen.

Teen Maart vanjaar was die bedrag reeds ‘n yslike R278 miljoen.

Die jaarverslae wys ook die meeste van die eise wat teen die polisie ingestel is, was weens algemene polisie-optrede wat byvoorbeeld gedrag tydens inhegtenisnemings insluit, skietvoorvalle en motorongelukke.

In 2012 is berig ’n interne SAPD-oudit het gewys meer as 27 000 polisielede uit nagenoeg 157 000 wat toetse afgelê het om vuurwapens te hanteer, het gedruip.

In die 2010-’11-boekjaar toe die rybewysvereiste vir nuwe rekrute geskrap is, was dié eisuitbetalings nagenoeg R10 miljoen. Dié vereiste is intussen heringestel weens die groot eisuitbetalings agv motorongelukke.

Die SAPD se jaarverslag vir die 2011-’12-boekjaar het gewys van die grootste eisuitbetalings (R12,7 miljoen) was weens skietvoorvalle.

Daar is vandag 1 448 veroordeelde misdadigers wat in die polisiemag dien.

Noord-Kaap vir mediese nalatigheid gedagvaar

Die Noord-Kaapse gesondheidsdepartement staar ‘n R32 miljoen mediese nalatigheidseis in die gesig nadat ‘n baba met serebrale gestremdheid gediagnoseer is nadat hy by een van die provinsie se fasiliteite behandel is.

Die departement voer aan dat een van die grootste uitdagings is om mediese personeel na die provinsie te lok. Die tekort aan verpleegsters is veral die probleem.

Die hoof van dié departement, Gugulethu Matladpane, sê die dagvaarding is verlede maand ontvang. Dit is die jongste in ‘n reeks eise teen die departement van sowat R102 miljoen.

Matladpane het tydens ‘n sitting van die Nasionale Raad van Provinsies se Sosiale Dienste Komitee ‘n voorlegging gedoen waarin dié eise aan die lig gekom het.

Vrae oor die dekade-lange konstruksie van die omstrede psigiatriese hospitaal in Kimberley, wat ‘n groot hap uit die provinsiale begroting geneem het, is ook geopper.

Luidens ‘n verslag van die provinsiale tesourie oor provinsiale departemente se ongeouditeerde inkomste en uitgawes het die gesondheidsdepartement se onreëlmatige uitgawes van R20 miljoen in die 2013/14 boekjaar tot R526 miljoen in die vorige boekjaar gestyg.

Kabinet gaan kragkrisis bespreek

Die Kabinet gaan na verwagting Woensdag vergader om die land se elektrisiteitkrisis te bespreek, het RSG berig.

Eskom het Vrydag fase drie van beurtkrag ingestel na probleme by drie steenkoolkragstasies.

Die elektrisiteitskrisis het gisteraand tot chaos in Durban gelei, waar sowat tien duisend mense op treine gestrand gelaat is.

Metrorail het beurtkrag die skuld gegee vir die voorval.

Die provinsiale hoof van kommunikasie, Zama Nomnganga sê weens kragonderbrekings kon operateurs in kontrolekamers nie die treinverkeer reguleer nie, en daarom het die treine stilgestaan.

Die kabinetsvergadering volg ook te midde van verbruikers wat skadevergoeding van munisipaliteite begin eis weens kragonderbrekings.