Noord-Kaap vir mediese nalatigheid gedagvaar

Die Noord-Kaapse gesondheidsdepartement staar ‘n R32 miljoen mediese nalatigheidseis in die gesig nadat ‘n baba met serebrale gestremdheid gediagnoseer is nadat hy by een van die provinsie se fasiliteite behandel is.

Die departement voer aan dat een van die grootste uitdagings is om mediese personeel na die provinsie te lok. Die tekort aan verpleegsters is veral die probleem.

Die hoof van dié departement, Gugulethu Matladpane, sê die dagvaarding is verlede maand ontvang. Dit is die jongste in ‘n reeks eise teen die departement van sowat R102 miljoen.

Matladpane het tydens ‘n sitting van die Nasionale Raad van Provinsies se Sosiale Dienste Komitee ‘n voorlegging gedoen waarin dié eise aan die lig gekom het.

Vrae oor die dekade-lange konstruksie van die omstrede psigiatriese hospitaal in Kimberley, wat ‘n groot hap uit die provinsiale begroting geneem het, is ook geopper.

Luidens ‘n verslag van die provinsiale tesourie oor provinsiale departemente se ongeouditeerde inkomste en uitgawes het die gesondheidsdepartement se onreëlmatige uitgawes van R20 miljoen in die 2013/14 boekjaar tot R526 miljoen in die vorige boekjaar gestyg.

One thought on “Noord-Kaap vir mediese nalatigheid gedagvaar”

  1. Gugu Bedpan, dit is nog n produk van BBEEE, waarom sal mediese personeel hulle haas na enige NSA hospitaal?

    Daar onder in die Kaap is n klomp serebraal gestremdes wat probeer om te regeer, miskien moet ons ook n eis van nalatigheid indien teen die regeringloos vir wan-administrasie en korrupsie.

    Ek sien die politici werk hard aan hulle aftree oord in Kimberley, die psigiatriese hospitaal

Maak 'n opvolg-bydrae