Die polisie in Durban het beslag gelê op 95 kilogram kokaïen ter waarde van sowat 29 miljoen rand. RSG het berig dat dit heroïen was.
‘n Woordvoerder sê die dwelms was versteek in ‘n vraghouer in die hawe wat van Buenos Aires in Argentinië afkomstig was.
Die intelligensie-operasie is gelei in samewerking met die SAPD DPCI, die Valke en die Doeane-enheid by die Durbanse hawe.
‘n Houer met kokaïen wat positief geïdentifiseer is deur die forensiese span van die SAPD, het een kilogram-blokke verpak gekry. ‘n Totaal van 95 blokke was in die houer.
Voorlopige ondersoeke het getoon dat die oorspronklike seël van die houer mee gepeuter was. Daar word vermoed dat die dwelms verwyder sou word voordat die houer aan die eienaar oorhandig moes word.
Die skip met die houer het vertrek uit Suid-Amerika op 5 September 2014 en het by Durban op die aand van 30 September omstreeks 22:00 aangekom.
Niemand is in hegtenis geneem nie en die ondersoek duur voort.
President Barack Obama het die gevangenisstrawwe van agt mense wat aan crack-kokaïen-oortredings skuldig bevind is, versag. Volgens die Amerikaanse president is hulle gestraf deur ‘n onbillike strafregstelsel wat verarmde swart gemeenskappe buitengewoon seermaak.
Al die gevangenes is vir ten minste 15 jaar tronk toe gestuur, waaronder ses wat lewenslange vonnisse opgelê is. Die meeste sal nou teen 17 April weens die presidensiële kwytskelding vrygelaat word.
Die gevangenes sou waarskynlik veel ligter strawwe ontvang het indien hulle onder ‘n wet gevonnis sou gewees het wat Obama drie jaar gelede onderteken het en wat die verskille in vonnis tussen crack-kokaïen en poeierkokaïen verminder het.
Obama het gesê die ses swartmans en twee -vroue is deur ‘n “onregverdige stelsel” tot gevangenisstraf gevonnis wat een gram crack-kokaïen dieselfde straf oplê as iemand wat met 100 gram poeierkokaïen gevang word, verhouding at deur die Billike Vonniswet van 2010 verminder is.
“Indien hulle kragtens die huidige wet gevonnis sou gewees het, sou baie van hulle reeds hul tronkstraf uitgedien en hul skuld aan die samelewing vereffen het,” het Obama in ‘n verklaring gesê.
“Pleks daarvan, vanweë ‘n wanbalans in die wet wat nou as onregverdig erken word, bly hulle in die gevangenis agter, teen ‘n koste van miljoene belastingbetalerdollars per jaar.” Die invloedryke American Civil Liberties Union-groep het Obama se besluit verwelkom maar beklemtoon dat hy een van die kleinste kwytskeldings- en vonnisversagtingsrekords van enige Amerikaanse president in die onlangse geskiedenis het.
Tydens sy vyf jaar as president het Obama voorheen 39 kwytskeldings en een vonnisversagting toegestaan.
“Dis een belangrike stap om die skade ongedaan te maak wat ekstreme vonnisse aan soveel mense in ons strafregstelsel berokken het,” het die ACLU se adjunkregsdirekteur Vanita Gupta gesê.
“Ons hoop dat die president sal voortgaan om sy begenadigingsmagte uit te oefen en sy steun aan stelselhervorming te verleen wat ons strafregstelsel slimmer, billiker en meer menslik sal maak.”
Die billike vonniswet van 2010 het die strawwe verminder sodat iemand wat met een gram crack nou dieselfde vonnis ontvang as iemand wat met 18 gram poeierkokaïen gevang word. Dit ruim ook die verplgte minimumstraf van vyf jaar vir die eenvoudige besit van crack uit die weg.
Net ‘n kwart van crack-kokaïengebruikers is swart, maar 81 persent van mense wat vir crack-besit of -handel in 2007 gevonnis is, was swart, volgens die Verenigde State se Vonniskommissie.
‘n Polisielid en ‘n amptenaar van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens verskyn vanoggend in die landdroshof op Komatipoort op aanklagte van dwelmsmokkelary.
Hulle is by die Lebombogrenspos in Mpumalanga in hegtenis geneem omdat hulle blykbaar ‘n taxibestuurder van Mosambiek gehelp het om dwelmmiddels na Suid-Afrika te smokkel.
“Die polisieman het ‘n taxi wat van Mosambiek op pad was, deursoek terwyl die bestuurder sy paspoort laat stempel het. Kokaïen met ‘n geraamde straatwaarde van meer as R3 miljoen is in ‘n plastiekhouer gevind,” sê kol. Leonard Hlathi, polisiewoordvoerder in Mpumalanga.
Die konstabel het na bewering die SAID-werknemer, wat nie aan diens was nie, gebel om die dwelms na sy huis te neem.
‘n Polisie-operasie was reeds aan die gang nadat beamptes ‘n wenk ontvang het oor die taxi wat die land binnekom. Die polisiebeampte is in hegtenis geneem.
“Nadat die konstabel aangekeer is, het hy ons na die ander verdagte se huis geneem, waar hy die dwelms oorhandig het en in hegtenis geneem is.”
Die drie verskyn Donderdag in die Komatipoort-landdroshof.