Sakelui gaan Nkandla-geld betaal

‘n Groep Durbanse sakelui wat aangebied het om ‘n gedeelte van die geld terug te betaal wat aan opknappings aan President Jacob Zuma se privaatwoning op Nkandla bestee is, meen die land moet van die saak af aanbeweeg.

Die Openbare Beskermer, Thuli Madonsela het in haar verslag bevind dat die president en sy familie onregmatig uit die opgraderings voordeel getrek het, het RSG berig.

Die projek het meer as R200 miljoen gekos en Madonsela het aanbeveel dat Zuma van die koste dra.

Die voorsitter van die groep, wat as die Public Members Unit Team bekend staan, Vumelani Mchunu sê hulle wil eerder daarop fokus om saam met die president ‘n beter Suid-Afrika tot stand te bring as om op een kwessie te hamer.

Die groep sê hulle gaan fondse begin insamel sodra daar op ‘n gepaste bedrag besluit is.