Rektor gebruik Open Stellenbosch om Afrikaans te wil afskaf

Engels sal Afrikaans by die Universiteit van Stellenbosch vervang as kommunikasie- en administrasietaal. Dié verwikkeling is Donderdag op ’n spesiale senaatsvergadering bekend gemaak.

Koshuise sal ook voortaan slegs Engels by huisvergaderings en amptelike geleenthede mag gebruik as die voorstelle aanvaar word.

Die US se huidige taalbeleid, wat in 2014 deur die raad aanvaar is, gee aan Afrikaans en Engels gelyke status.

Die rektor, prof. Wim de Villiers, die rektor, sê insette is van Open Stellenbosch verkry om Afrikaans af te skaf.

Open Stellenbosch, nie besonder getalryk of wetsgehoorsaam nie, is openlik vyandig teenoor Afrikaans.

Die voorstelle sal op 30 November aan die US-raad voorgelê word.

“Aangesien Engels die omgangstaal in Suid-Afrika is, sal alle onderrig by die Universiteit Stellenbosch in Engels gefasiliteer word en beduidende akademiese ondersteuning sal in ander Suid-Afrikaanse tale voorsien word volgens studente se behoeftes,” lui die verklaring.

Leon Lemmer: Standaardtaal en Standaardafrikaans

‘n Standaardtaal is, soos die term aandui, ‘n taal wat gestandaardiseer is, dus in ‘n groot mate ‘n vaste vorm het. Daardie vastigheid sluit nie evolusionêre ontwikkeling uit nie. “Vaste vorm” dui op ‘n gestandaardiseerde spelling, woordeskat en grammatika. ‘n Redelike mate van vastigheid sal kwalik in ‘n taal wat net in gesproke vorm bestaan, bereik kan word; des te meer as die taal oor ‘n groot geografiese gebied gepraat word. Die bestaan van ‘n skryftaal toon dat daardie taal ‘n ontwikkelingsgang deurloop het; ‘n gesofistikeerde stadium bereik het. Hoewel die gesproke taal as die lewende en eintlike taal beskou word en die geskrewe taal die voorstelling/konkretisering, bv simbolisering (bv veralfabettering), daarvan is, kan die geskrewe taal op sy beurt die gesproke taal beïnvloed. Daar is in meerdere of mindere mate verskille tussen die gesproke en geskrewe taal. Daardie gaping is geneig om met verloop van tyd groter te word omdat die geskrewe taal periodiek maar dikwels stadig/konserwatief by die gesproke taal aangepas word. Die geskrewe taal kan daarom ‘n stabiliserende of behoudende uitwerking op die gesproke taal hê. Veral in die oorvloedig gedokumenteerde inligtingsera oefen die geskrewe taal oor ‘n groot geografiese area ‘n beduidende standaardiserende invloed op die gesproke taal uit, veral in gesofistikeerde geledere via die massamedia (pers, radio, rolprent, televisie, internet). Selfs die uitspraak kan in groot mate standaardisering ondergaan, veral streeks- maar ook landsgewys, en dan veral in wat as die ontwikkelde, opgevoede of elitistiese geledere beskou word.

Die leiding in die standaardisering van ‘n taal gaan tradisioneel uit van stede as handels- en regeringsentra, bv van die parlement (hoewel die parlementêre taalgebruik in die nuwe Suid-Afrika nie ‘n navolgenswaardige voorbeeld is nie), asook die howe, skole en universiteite. Maar die aanvanklike vaslegging van ‘n taal vind tradisioneel in die ouerhuis plaas en word die moedertaal van die kind genoem. In die parlement verwerf ‘n taal wetlike status en kan dit tot amptelike landstaal verklaar word. ‘n Taalkommissie kan oor die heil van ‘n taal waak. Die werk van taalkundiges kan neerslag in bv woordeboeke vind. Skrywers bestendig en versterk ‘n taal met literatuurprodukte. In hierdie proses kan ‘n taal aanvaarding en selfs populariteit verwerf.

‘n Standaardtaal kan gedefinieer word as “a particular variety of a language that is regarded as the most correct way of writing or speaking the language” (Wiktionary). Die standaardtaal is dus daardie variëteit wat as die korrekste beskou word. Daar is hier sprake van taalvariëteite wat in ‘n rangorde geplaas word (een word beter as die ander beskou) en van ‘n waardebepaling waarvolgens die korrekste variëteit tot die norm, tot die navolgenswaardigste voorbeeld, verhef word. Maar wie se mening is deurslaggewend by die bepaling van die korrekste variëteit? Histories was dit die ontwikkelde, opgevoede of elitistiese komponent van die samelewing wat hulle taalvariëteit tot die standaardtaal verhef en sorg gedra het dat die taal in daardie vorm gestabiliseer en uitgebou word. As ‘n mens hieroor besin, word dit duidelik dat dit kwalik anders kon wees; mense in leidende posisies het bepaal wat rigtinggewend in die samelewing was.

By die aanvang van die nuwe Suid-Afrika het ons ‘n tydperk betree waarin baie van die tradisionele waardes waarop die Westerse en veral Europese beskawing gebou is, nie net ondergrawe word nie, maar doelbewus gestigmatiseer en verwerp word. Die massa, die gepeupel, het die leidinggewende rol van die elite oorgeneem. Dit is nie dat die massa doelbewus ‘n identifiseer- en bereikbare doel nastreef nie. Al wat as rigtingewende kompas funksioneer, is die behae om anders as die vorige bedeling te probeer wees. Dit word transformasie genoem; dus verandering wat nie noodwendig verbetering is nie. Deel van wat teen wil en dank moet verander, is Standaardafrikaans. Omdat die kiesers deesdae hoofsaaklik uit die on(der)ontwikkelde en selfs funksioneel ongeletterde deel van die bevolking kom, word die (veral gesproke) taalvariëteite wat daar aangetref word tot die gewenste nuwe norme verhef. In die nuwe Suid-Afrika het die polities geïnspireerde begeerte dus ontstaan om daardie Afrikaansvariëteite te vertroetel wat by diegene aangetref word wat aan die bedenklikste Afrikaans in die massamedia, bv televisie en die koerant Son, blootgestel is; dus nie die Afrikaans van diegene wat bv literêre en wetenskaplike tekste lees nie.

Die historiese perspektief is dat die opgang of wonder van Afrikaans hoofsaaklik aan blankes te danke is. In daardie geledere het nasionalisme as aanmoediging vir die vinnige ontwikkeling van Afrikaans gedien. Dit is veral duidelik in die aanloop tot en stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) op 14 Augustus 1875 in die Paarl. In die daaropvolgende eeu is die stabiliseringsproses voltrek en het ons Standaardafrikaans as kosbare kleinood ontvang. Standaardafrikaans het ontstaan in ooreenstemming met hoe standaardtale in die res van die wêreld tot stand gekom het, naamlik elitisties. In die geval van Engels word aanvaar dat cockney, soos aanvanklik gepraat in die ooste van Londen, nie as spoorslag vir Standaardengels kan dien nie. In die chaotiese nuwe Suid-Afrika het ons egter ‘n uiters skadelike mengsel van misplaaste vryheid en buitensporige demokrasie waarin kwalitatiewe verskille deur onrealistiese gelykverklaring ondermyn word. Teoreties almal, maar in die praktyk eintlik die gepeupel, maak aanspraak op eiendomsreg op alles, nie net op al die grond en die minerale onder die grond nie, maar ook op ‘n kulturele produk soos Afrikaans. Hierin word sulke aktiviste gesteun deur taalkundiges wat aanvaarding en selfs gewildheid in die huidige tydsgewrig soek, sonder om noodwendig die ideologiese konteks afdoende te begryp.

By die onlangse Swart Afrikaanse Skrywersimposium aan die Universiteit van Wes-Kaapland is bruin swart genoem en is daar geen poging aangewend om uitdrukking aan die dikwels hooggeprese inklusiwiteit te gee nie. Blankes mag maar uitgesluit voel. As daar ‘n Blanke Afrikaanse Skrywersimposium bedink word, sou die hel los en beskuldigings van die voortsetting van apartheid rondgeslinger gewees het. Pieter Odendaal het ‘n toespraak oor (eintlik teen) Standaardafrikaans gelewer (Rapport, Weekliks, 18 Oktober, p 9). Sy eerste sin is: “Afrikaans was nog nooit ‘n wit taal gewees nie.” Dit is ‘n ontkenning van die mate waarin Afrikaans wel nie net die moedertaal van blankes was en is nie, maar ook van die groot mate waarin Afrikaans die maaksel van Afrikaners is. Daardie eerste sin weerspieël die anti-Afrikanertrant van sy hele betoog. [Odendaal se eerste sin is soortgelyk aan Wim de Villiers se stelling: “Die Universiteit Stellenbosch is nie ‘n Afrikaanse universiteit nie”; ‘n ontkenning van die mate waarin die US Afrikaans was en is en die maaksel van Afrikaners was en is.]

Odendaal het dit teen die standpunt dat die Afrikaans wat blankes praat as norm funksioneer. Dit vervreem glo nie-Afrikaners, maar Standaardafrikaans is in werklikheid in ooreenstemming met die elitisme wat dwarsoor die wêreld as norm vir die standaardtaal geld. “Die standaardisering van Afrikaans is dus onlosmaaklik deel van die uitsluiting van die meerderheid van sy sprekers.” Dit is louter twak. Niemand word uitgesluit nie. Vir elkeen is daar die onbelemmerde geleentheid/moontlikheid om sy taalgebruik tot Standaardafrikaans te verhef. Odendaal se uitgangspunt is egter dat taalstandaarde, soos ander standaarde, in die nuwe Suid-Afrika verlaag moet word. Hy verwys na Neville Alexander se bewering dat bruin skoolkinders beter vaar as hulle vrae in Kaaps pleks van Standaardafrikaans beantwoord. Ons het hier dus weer ‘n poging om Standaardafrikaans ongunstig met die mengeltaal Kaaps te vergelyk.

Kwantiteit word in die nuwe Suid-Afrika verafgod en kwaliteit word onderbeklemtoon of geïgnoreer. Daarom verwys Odendaal vervolgens na die demografie; dat daar meer bruin as wit Afrikaanssprekendes is (as ‘n mens Kaaps-/mengeltaalsprekers byreken) en dat die oorwig van bruin Afrikaanssprekendes gaan toeneem. Dan volg hierdie gevolgtrekking: “As ons aanhou om die meerderheid Afrikaansstudente te dwing om hul opvoeding in Standaardafrikaans te kry, gaan ons aanhou tweedeklas-burgers opvoed.” Hier is die twak tweeledig. Eerstens word bruines nie gedwing om in Afrikaans te studeer nie. Hulle kan vryelik tussen Standaardafrikaans en Standaardengels kies en hel toenemend oor na Engels. Tweedens, deur ‘n bereikbare taalnorm te stel, word sommige nie benadeel of afgegradeer tot tweedeklasburgers nie. Wat Odendaal doen, is pleit vir die afgradering van Standaardafrikaans en nie vir enige aanpassing van Standaardengels nie. Dit is in ooreenstemming met wat kenmerkend van die nuwe Suid-Afrika is: Geen fout word met Engels gevind nie, maar Afrikaans word alewig verdag gemaak en gekritiseer. Etnies is daar ‘n soortgelyke neiging: nie-wittes (veral swartes) word sonder meer as goed en blankes (veral Afrikaners) as sleg voorgehou. As ‘n mens egter objektief na die plaaslike geskiedenis kyk, is dit juis die blankes en veral die Afrikaners wat hulle voortreflik gedra en uitmuntend gepresteer het.

Pieter Odendaal verwys vervolgens na Gerda Odendaal se proefskrif waarin drie redes vir die herstandaardisering van Afrikaans aangevoer word: “[1] Die oormatige vernederlandsing van die taal tydens standaardisering; [2] die miskenning van die Engelse invloed op Afrikaans deur middel van anglisismejag; en [3] die miskenning en uitsluiting van ander variëteite tydens die standaardiseringsproses.” Hier word heelwat doelbewuste misleiding gepleeg om ‘n polities gedrewe saak vir die herstandaardisering van Afrikaans te probeer uitmaak.

  1. Nederlandse invloed word gekritiseer omdat die huidige politieke maghebbers wil hê dat ons almal eerder entoesiasties oor Afrika as oor Europa moet wees. Die GRA het aanvanklik gepoog om heeltemal weg van Nederlands te breek deur ‘n vereenvoudigde fonetiese spelling te propageer. Mettertyd is groter erkenning aan die Nederlandse invloed gegee, wat geblyk het korrek/gepas te wees omdat die spelling toe meer geredelik aanvaar is.
  2. Engelse invloed is nie misken nie. Suiwer taalkundig en histories korrek is eerder aansluiting by Nederlands en Duits gesoek. Anglisismes is vermy ten einde die eie aard van Afrikaans te beskerm en uit te bou. ‘n Mengeltaal is taalkundig en kultureel onvoortreflik. ‘n Onderskeibare etniese groep, soos die Afrikaners, vind kultureel groot baat by ‘n duidelik onderskeibare taal. As ‘n ander etniese groep, soos die bruines, geen behae in kulturele eiesoortigheid en ‘n onderskeibare taal het nie, staan dit hulle sekerlik vry om voorkeur aan ‘n mengeltaal te gee. Maar dit is nie ‘n billike en aanvaarbare argument vir die neerhaal van Afrikaans van onderskeibare, eiesoortige taal tot mengeltaalstatus nie. In elk geval is daar die neiging om Engelse invloed toenemend in Standaardafrikaans toe te laat. Dit is ‘n voorbeeld van taalimperialisme en gebeur eerstens vanweë die ANC-regering is voorliefde vir die koloniale taal, tweedens omdat Engels ‘n wêreldtaal is en derdens weens sommige taalkundiges se ANC-gedienstigheid; Standaardfrikaans word ‘n slagoffer van demokrasie, nasiebou, versoening, ens, gemaak. Maar dit is ook ‘n feit dat Engels op ‘n ongekende, onrusbarende en toenemende mate in die gesproke en geskrewe taal van baie Afrikaanssprekendes ingedring het, veral vanweë die invloed van televisie. Daar word nie afdoende besef dat die minagting van Standaardafrikaans deel is van ‘n volgehoue veldtog om Afrikaners te beledig, verkleineer en verguis nie.
  3. Dit is oordrewe om te beweer dat ander variëteite in Standaardafrikaans misken en uitgesluit word. Ingevolge internasionale gebruik was en is elitistiese Afrikaans die hoofbron van Standaardafrikaans, maar daar was deurgaans en daarby toenemend erkenning van ander variëteite. Daar was en is evolusionêre ontwikkeling; dermate dat revolusionêre herstandaardisering onnodig is. Sodanige herstandaardisering is ook ongewens omdat so ‘n gebeurtenis baie huidige Afrikaanssprekendes sou vervreem; iets wat niemand sou voorstaan wat die heil van Afrikaans op die hart dra nie. In die huidige stryd teen verengelsing moet alles moontlik gedoen word om Afrikaans te bevorder en die taal met sy eiesoortige aard in geen opsig te benadeel nie.

Dit is linkse politieke elemente wat dit teen Standaardafrikaans het. Pieter Odendaal beweer by implikasie dat Standaardafrikaans opvoedkundige voordeel vir blankes het en dat Standaardafrikaans ter benadering van bruines aangewend word. “Die herstandaardisering van Afrikaans het ook ‘n sosiale geregtigheids-dimensie. Hoe kan ons praat van geregtigheid as ons aanhou om ‘n standaard slaafs na te volg wat nie net onverteenwoordigend van die meerderheid sprekers is nie, maar ook aktief dié sprekers uitsluit en misken?” Standaardafrikaans is in werklikheid nie ‘n onveranderlike taal wat slaafs nagevolg word nie. Dit ondergaan evolusionêre verandering. Odendaal se suiwer kwantitatiewe norm is nie sonder meer regverdigbaar nie. Op iedere terrein waar konstruktiewe resultate gelewer word, gaan die leiding van ‘n minderheid uit. Dit is in elk geval hoogs oordrewe om voor te gee dat alle bruin Afrikaanssprekendes Kaaps as voertaal het. Veral plattelandse bruines het nie die probleme met Standaardafrikaans wat Kaapsaktiviste en hulle linkse politieke meelopers daaraan toedig nie. Weereens: daar is by Standaardafrikaans geen aktiewe uitsluiting en miskenning nie. Die aktiviste wat teen Standaardafrikaans ‘n kruistog voer, is chaossaaiers wat dit teen bestaande standaarde het.

“Dit sal ook nie veel help as hierdie voorgestelde herstandaardisering slegs sekere variëteite ten gunste van ander bevoordeel nie. Nee, die standaard moet plek maak vir die breedste spektrum van variëteite – insluiting is die hoofsaak.” Inklusiwiteit, ‘n polities gelaaide term, is die hoofsaak vir Odendaal. Hy verwys na “inklusiewe herstandaardisering” en “‘n meer inklusiewe toekoms vir Afrikaans.” Met hierdie resep kan Standaardafrikaans net so normloos en chaoties soos die nuwe Suid-Afrika word. By taalstandaardisering moet daar noodwendig op grond van uitgangspunte/beginsels gekies word. Die huidige Standaardafrikaans sal as die gevestigde vorm die leeue-aandeel in enige verantwoordelike hergestandaardiseerde Afrikaanspotpourri hê. Die enigste taalkundig-regverdigbare uitgangspunt is dat Standaardafrikaans ‘n duidelik onderskeibare, dus eiesoortige, taal moet bly. Dan word Afrikaans nie tot ‘n mengeltaal afgegradeer nie en word verkaapsing in groot mate voorkom.

Odendaal, wat glad nie uitmunt in oorspronklikheid nie, noem dat Afrikaans as onderrigtaal aan die US as ‘n uitsluitingsmeganisme funksioneer. Herstandaardisering word deur hom voorgehou as ‘n manier om hierdie beweerde onverkwiklike situasie te beredder. My eerlike mening is dat herstandaardisering nie die wanpersepsies oor Afrikaans (beduidend) sal afskaal nie. Afrikaans as sodanig, afgesien van watter vorm dit aanneem, is waarteen beswaar gemaak word.

Met die volgende opmerkings van Pieter Odendaal stem ek saam. “Daar is egter ‘n tendens om bruin Afrikaanssprekers in argumente te misbruik om die voortgesette gebruik van Afrikaans op Stellenbosch te verseker. ‘Afrikaans is ook ‘n bruin taal,’ word gesê. ‘Moenie bruin mense verhoed om tersiêre onderrig in hul moedertaal te ontvang nie.’ Hierdie soort argument word meestal deur die ouer wit garde ingespan in ‘n verhulde poging om hul weergawe van Afrikaans te red en die voortbestaan van hul standaard te verseker.” Dit is verstaanbaar waarom die belange van bruines hier vooropgestel word. Dit is omdat die ANC-regering se gesindheid afsydig, selfs vyandig, teenoor alles is wat in die blankes en veral die Afrikaners se belang is. In werklikheid het sowel blanke as bruin Afrikaanssprekendes behoefte aan ‘n Afrikaanse US, veral in die geval van plattelandse studente. In die praktyk blyk dat blanke studente ‘n groter belang by onderrig in Afrikaans het omdat hulle geneig is om meer Afrikaansgetrou of -lojaal te wees, terwyl baie (moontlik die meeste) bruines veral na die eerste studiejaar voorkeur aan Engels gee. Om hierdie rede is my standpunt dat ‘n mens sonder omhaal van woorde moet sê dat die US Afrikaans moet wees primêr omdat Afrikaners dit so wel hê en dat sommige bruines ook baat hierby vind. Daar is historiese feite wat ook in gedagte gehou moet word: Die Universiteit van Wes-Kaapland was ‘n hoofsaaklik Afrikaanse universiteit vir bruines. Die UWK is getransformeer in ‘n eentalige Engelse universiteit sonder dat daar (veel) protes uit bruin geledere opgeklink het. Daar is nog geen poging uit bruin of enige ander geledere aangewend om die UWK weer Afrikaans te maak nie. Omdat die UWK nie sy Afrikaanssprekende bruin studente gekoester het nie, kan daar kwalik met reg van die US verwag word om nou as entoesiastiese plaasvervanger op te tree. Maar dit is presies wat tydens Russel Botman se bewind om etnies-politieke redes in allesoortreffende mate gedoen is; dus om nie-akademiese redes.

Daar is nog vlieë wat Odendaal wil afvang. “‘n Verdere struikelblok is die verandering van mense se persepsies oor die eiendomlikheid van Afrikaans en die Afrikaanse kultuur. Die historiese miskenning van sekere spraakvorme het ook gepaard gegaan met die miskenning van diverse kulturele gebruike en die wederregtelike toe-eiening van kultuurgoedere as spesifiek ‘Afrikanerbesit’. Dink aan die FAK en al die slaweliedjies daarin vervat. Die fiksie van die Afrikanervolk staan vierkant op die illusie dat Afrikaanse kultuurgoedere slegs aan Afrikaners behoort. Die transformasie van die taal is dus onlosmaaklik deel van die transformasie van persepsies oor Afrikaanse kultuurbesit.” Eienaarskapaanspraak is ‘n ANC-slagspreuk. Dit is vrugteloos om oor die eienaarskap van Afrikaans se redekawel. Nie-wittes het deur Nederlands skeef en krom te praat moontlik ‘n aandeel in die ontstaan van Afrikaans gehad, maar dit is feitlik uitsluitlik blankes wat die taal ontwikkel, gestandaardiseer en amptelike beslag laat kry het. Die beskuldigings oor die miskenning van spraakvorme, kulturele gebruike en die wederregtelike toe-eiening van kultuurgoedere is problematies en heel moontlik vals. Daar is ‘n mate van oorvleueling by wit en bruin kultuur, maar daar is ook duidelike verskille. Odendaal se anti-Afrikaner-ingesteldheid blyk uit sy bewering dat slaweliedjies deur Afrikaners as kultuurbesit gekaap is omdat dit in die FAK se sangbundel opgeneem is. In werklikheid beskou Afrikaners die slawe glad nie as Afrikaners nie. Die aanknopingspunt hier is Afrikaans. Wanneer Afrikaners in hierdie opsig met ‘n poging tot veelgeprese inklusiwiteit vorendag kom, word hulle van “wederregtelike toe-eiening van kultuurgoerdere” beskuldig; dus diefstal. Afrikaners is al meerdere male van die diefstal van Afrikaans beskuldig; dat die taal ‘n uitvinding van die Khoi-San en slawe is. RSG se Magdaleen Kruger verkeer in die waan dat Afrikaans deur Afrikaners gekaap is; dus van die bruines gesteel is. In werklikheid het Afrikaners kultureel en andersins soveel meer as bruines tot stand gebring dat hulle hulle nie tot diefstal hoef te wend nie; moreel sal hulle dit ook nie doen nie. Die onregverdigbare gesindheid wat deur Odendaal en diesulkes geopenbaar word, is sodanig dat Afrikaners nooit eerbaar in hulle oë sal word nie.

Odendaal sluit sy voordrag soos volg af: “Ons het niks minder as ‘n kulturele revolusie nodig nie – ons moet ons wortels herevalueer en ons verknooptheid aan mekaar bevestig. Ons moet hierdie laat geleentheid vir versoening met alles aangryp.” Dit is ironies dat hy van versoening praat nadat hy die hele pad lank gif teen Afrikaners gestrooi het. “Revolusie” dui op waar hy hom ideologies bevind. Daardie wortels wat herevalueer moet word, is historiese wortels. Odendaal kan gerus probeer om objektief die waarde van iedere etniese groep se bydrae te evalueer. Ons mate van “verknooptheid” behoort gebalanseer of aangevul te word met ‘n realistiese besef van groepsverskille, sowel etnies as kultureel.

Waar sal Odendaal se hulp vandaan kom? Van bv ‘n militante ANC-aktivis soos Hein Willemse: “Dit is tyd dat Afrikaans gered word van die Afrikaner-nasionaliste … ‘Dit het as taal baie te bied wat betref maatskaplike kohesie'” (Die Burger, 6 deser, p 4). Vir Afrikaners is Afrikaans onontbeerlik deel van hulle kerngesonde nasionalisme. Beswaardes, potpourri-voorstanders, sal ons nie ontmoedig om Afrikaans, soos voorheen, vir nasionalistiese doeleindes te benut nie.

Dan Roodt: Die oorlog teen Afrikaans is deel van die volksmoord

Niemand kan meer ontken dat daar ‘n oorlog teen Afrikaans woed nie. En dit kom nie net van die ANC-staat af nie, maar ook van groot maatskappye en selfs liberale Afrikaanse joernaliste soos Max du Preez en Adriaan Basson. Dit is ook geen spontane of toevallige proses nie; vir seker sit daar ‘n linkse komplot wat vanuit die binnekringe van die SAKP en ander radikale groeperings in die land gevoer word, daaragter. Dit strek vanaf die etniese haat wat die Gautengse LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi teenoor Afrikaners en hul taal koester, tot die konstante aanvalle op universiteite soos Stellenbosch en Potchefstroom waar daar steeds Afrikaanse klasse bestaan.

As ons verder teruggaan in die geskiedenis, moet ons erken dat daar nog altyd ‘n Boerehaatkliek in die land was, bestaande uit immigrante wat graag Engels wou wees en wat weens hul eie onsekere identiteit ‘n intense haat vir Afrikaans ontwikkel het. Tydens die Anglo-Boereoorlog het dié mense daarop aangedring dat die Engelse ons almal uitwis: man, vrou en kind. Van hulle het selfs briewe aan die Britse generaals en owerheid geskryf waarin hulle volksmoord op die Boer en die Afrikaner bepleit. “Wis hulle almal uit,” was die refrein.

Vandag is die slagspreuk: “Wis Afrikaans uit. Maak alles Engels.” Maar Afrikaans is, soos apartheid, net ‘n metoniem vir die mense wat dit praat en veral daarin wil skoolgaan en studeer. Dis nie net ons taal wat hulle wil uitwis nie; ook die mense wat dit praat, moet uitgemoor word. Elke Afrikaanse standbeeld of pleknaam moet insgelyks uit die weg geruim word.

Vir ‘n baie lang tyd het ek gewonder oor die term “volksmoord” en of dit werklik van toepassing is op die situasie van die Afrikaner in die huidige Suid-Afrika. Is dit nie ‘n te ekstreme tipering van plaasmoorde, huisaanvalle en ander geweld wat teen ons gepleeg word nie? Die antipatie en haat vir Afrikaans is egter die stukkie wat die legkaart voltooi. Dit verskaf die ontbrekende etniese element wat vir ons sê dat hier wel ‘n etniese konflik aan die gang is, en dat ons geteiken word.

Dis ook nie ‘n eenvoudige swart-wit-rassekonflik nie, hoewel die rassetamboer gedurig geslaan word. Ras is ‘n wapen in die arsenaal van die volksmoordenaar, maar dit gaan nie in die eerste plaas om ras nie, maar oor identiteit en etnisiteit. Omdat die Afrikaner ‘n nasionale minderheid met sy eie taal en kultuur is, word hy gehaat. Juis daarom moet ons en ons taal uitgewis word.

Selfs Rapport, wat deel van die links-liberale Media24-groep is en vere vir die Afrikaner voel, erken vandag in ‘n hoofartikel:

Die konfronterende styl van die Gautengse LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi, wat baie duidelik sy mes in het vir Afrikaanse openbare skole in die provinsie, help ook nie om die vermoede te besweer nie dat die druk aan’t opbou is op ouergemeenskappe wat graag self besluite wil neem oor wat die beste vir hul kinders en skool is.

Die “druk op ouergemaanskappe” waarvan Rapport praat, gaan oor meer as bloot die beheer oor skole en die taalbeleid ten einde Engels af te dwing. Dit gaan ook daaroor om ons kinders van die geleentheid op ‘n opvoeding as sodanig te ontneem. Ons word reeds op grond van ras van die arbeidsmark uitgesluit. Slegs ons opleiding stel ons in staat om ten spyte van diskriminerende wetgewing en beleid steeds werk te kry of aan die ekonomie deel te neem. Deur die Afrikaanse skole en universiteite in chaos te omskep, wil die vyand ons kinders verdom en sonder kwalifikasies laat.

Volgens internasionale definisies, kan volksmoord op verskeie maniere plaasvind. Assimilasie is een daarvan, asook wat as “kulturele volksmoord” bekendstaan. Op 26 Augustus 1994 het die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies sonder teenstem ‘n Konsepverklaring oor die regte van inheemse volkere aangeneem. Artikel 7 van dié verklaring lui:

Indigenous peoples have the collective and individual right not to be subjected to ethnocide and cultural genocide, including prevention of and redress for:
(a) Any action which has the aim or effect of depriving them of their integrity as distinct peoples, or of their cultural values or ethnic identities;
(b) Any action which has the aim or effect of dispossessing them of their lands, territories or resources;
(c) Any form of population transfer which has the aim or effect of violating or undermining any of their rights;
(d) Any form of assimilation or integration by other cultures or ways of life imposed on them by legislative, administrative or other measures;
(e) Any form of propaganda directed against them.

Daar word tans fisieke en kulturele volksmoord teen ons gepleeg. In vele dele van die land kan die Afrikaner daarop aanspraak maak dat hy die “inheemse volk” daar is. Byvoorbeeld in Pretoria en sy hele omgewing, het ons die stad aangelê en ontwikkel en is Afrikaans nog steeds die omgangstaal. Groot dele van die ou Transvaal, die Vrystaat, Noord-Natal en die Kaapprovinsie word al eeue lank deur Afrikaners beset en ons is die oorspronklike inwoners van daardie gebiede.

Byna elkeen van die subartikels van die Konsepverklaring oor inheemse volkere word tans deur sowel die owerheid as privaat instellings soos groot winkelgroepe wat Engels tot openbare taal verklaar het, oortree. Ons grond word van ons af weggeneem en daar heers ‘n hatige, gewelddadige veldtog om ons “integriteit as ‘n afsonderlike volk” af te breek en ons kinders óf dood te maak óf te assimileer.

Subartikel (e) praat van “propaganda wat teen die volk gerig word”. In die geskiedenis was daar seker nog nooit so ‘n intense propagandaveldtog teen enige volk soos teen die Afrikanervolk nie. Daagliks word ons deur die hoofstroommedia in dié land verguis, selfs in Afrikaans. Max du Preez en sy medegespuis van verloopte, fanatiese (anti-)Afrikaners laat geen geleentheid verbygaan om hul sielkundige oorlog en propaganda teen ons voort te sit nie, waarvan die einddoel net ons vernietiging kan wees.

In die verlede toe ons volk met sy rug teen die muur was, by Vegkop en Bloedrivier, maar ook ná die Britse invalle van 1877 en 1899, het ons die wapen opgeneem om ons te verdedig. Tydens die twintigste eeu, toe daar ‘n felle taal- en identiteitstryd in die 1930’s gewoed het, het ‘n uitgebreide ondergrondse organisasie soos die Ossewabrandwag ontstaan wat nie gehuiwer het om sabotasie en sluipmoorde te pleeg nie.

Ek of PRAAG het nog nooit geweld voorgestaan nie en ons sal aanhou om deur vreedsame verset en in die howe die aanslag op die Afrikaner en Afrikaans die hoof te bied. Ons moet egter erken dat die howe reeds verengels is en dat die meeste landdroste en regters eintlik self as volksmoordagente teen die Afrikaner optree. Hoeveel geregtigheid ons in die howe kan verwag, is dus ‘n ope vraag. Nou onlangs het ‘n landdros in Randburg vir my gesê dat haar hof Engels is en dat ek ‘n soort buitelander verteenwoordig wat Engels verstaan, en daarom nie eens op ‘n Afrikaanse tolk geregtig is nie!

Op sy minste sou ek wou sien dat ons in Afrikanergebiede daardie winkels en instellings wat Afrikaans as taal misken, met oranje verfbomme aanval. Indien genoeg mense dit gereeld doen, sal daardie winkels dit naderhand baie moeilik vind om normaal sake te doen en waarskynlik die soort erkenning aan Afrikaans gee wat op elke ander plek ter wêreld as normaal beskou word.

Hoe ons ons teen die gewelddadige aanvalle op ons, asook die nimmereindigende haatveldtogte en propaganda gaan verdedig, is ‘n netelige vraag. Indien daar ‘n tweede soort Ossewabrandwag ontstaan wat op meer hardhandige wyse met ons vyande begin handel, sal ek as iemand wat my lewe lank byna ‘n pasifis was, nie self daaraan kan deelneem nie, maar sal dit kan begryp. Enige neutrale buitelandse waarnemer sou dit ook kon begryp.

Ek is bevrees die situasie wat die ou Broederbond en NP met hul onverkwiklike oorgawe aan ‘n radikale terroriste-organisasie soos mnr. Joe Slovo se Umkhonto we Sizwe geskep het, raak tans onhoudbaar. Ons is totaal uitgelewer en sonder enige invloed by die stembus, in die media of waar ook al. Ons stemme word nêrens behalwe op die internet gehoor nie, terwyl die owerheid en sekere sakegroepe hulle daaraan afvee. Wat hulle betref, is die Afrikaner reeds dood. Hy moet nog net begrawe word, ook letterlik as daar plaasmoorde of huisaanvalle gepleeg word.

Ons veg tans om oorlewing. Dat dit baie meer doelgerig en georganiseerd gedoen sal moet word, spreek vanself.

Leon Lemmer: Leon Wessels en Danny Titus oor Open Stellenbosch

LitNet publiseer die afgelope tyd bydraes tot sy Open Stellenbosch- (OS) seminaar. Wat eienaardig is, is dat LitNet, wat oorwegend ‘n Afrikaanse webwerf is, in hierdie geval voorkeur aan bydraes in Engels gee. Mense wat Afrikaanssprekend is en meesal in Afrikaans publiseer, word deur die redaksie gevra om hulle bydraes in Engels te lewer. Oor die algemeen handel die kommentaar eerder oor politiek as oor die akademie. Daar is uitstekende bydraes maar ook ander wat oorloop van anti-blanke, anti-Afrikaner- en anti-Afrikaans-sentiment, selfs -haat. Johannes Comestor se Afrikaanse bydrae, wat streng akademies is, is as ‘n brief gepubliseer (LitNet 5 deser) en nie as ‘n OS-seminaarbydrae nie, gevolglik sal dit gouer in die vergetelheid verdwyn. Gelukkig het Praag (7 deser) dit hergepubliseer.

In hierdie skrywe gaan ek my aandag beperk tot twee van die LitNet-bydraes, dié deur Leon Wessels en Danny Titus. Dit impliseer nie dat ons hier met meerderwaardige insig deur twee menseregtekommissarisse te make het nie; eerder die teenoorgestelde. Ek moet Wessels se skrywe voor die teks van Titus bespreek, nie omdat dit vroeër gepubliseer is nie maar omdat Titus goedkeurend daaruit aanhaal, so asof sy eie sêgoed opgeraak het. Ek het al by meer as een geleentheid oor Titus se onverkwiklike gesindheid geskryf; ook heel onlangs (Praag 7 deser en 22 Augustus).

Leon Wessels

Leon Wessels is bekend as een van die destydse blanke regering se hoofonderhandelaars, wat FW de Klerk se beloofde politieke magsdeling in algehele magsoorgawe getransformeer het. Wessels het ‘n boek oor die gebeure geskryf, asof dit ‘n besondere prestasie was om weens onvermoë in (feitlik) elke opsig sy eie mense (taal- en kultuurgenote) en hulle nageslag onberekenbare skade te berokken. Ek het sy boek, Vereeniging (2010), in besonderhede bespreek (Praag 20.10.2013). Vroeër vanjaar was Wessels in die nuus vanweë die groot akademiese skade wat hy met sy verslag op die Potchefstroomse universiteitskampus veroorsaak het (Praag 29 Maart).

Teen hierdie agtergrond moet sy jongste skrywe, “Open Stellenbosch: The elephant in the room” (LitNet 15 September), beoordeel word. Wessels begin met verwysing na die destydse onderhandelings oor die landstale. Hy ag dit steeds wonderlik dat daar kort voor die sperdatum op elf amptelike tale ooreengekom is en dat Cyril Ramaphosa oor Venda kon sê: “Just to think that my language is now getting constitutional recognition; it is up there alongside English and Afrikaans.” Wessels weeg nie die guns wat aan Ramaphosa en ander swarttaalsprekers gedoen is op teen die groot, duur en onpraktiese las wat elf amptelike tale die land oplê nie.

Wessels dink blykbaar steeds dat aan Engels geen “special place” toegeken is nie. Hy erken ook nie dat Afrikaans die enigste plaaslike taal is wat in hierdie proses oneindige groot skade gely het nie. Dit lyk asof Wessels steeds nie besef dat dit doelbewuste strategie/taktiek van die bose ANC was om, na analogie van die gebeure in Vietnam, besluite oor omstrede sake so lank moontlik te vertraag nie. Daarom kon die ANC sy wil (Engels as die eintlike amptelike taal) kort voor die sperdatum afdwing. Lees oor hierdie ANC-taktiek in Anthea Jeffery se uitstekend nagevorsde boek, People’s War (2009).

Terwyl Afrikaners en Afrikaans weens politieke dwaasheid onvergeefbare skade berokken is, het enkele blankes, waarvan Wessels een is, materieel (bv as menseregtekommissaris) by die magsoorgawe gebaat. Nege van die elf amptelike tale word deur die ANC-regering aktief verwaarloos, terwyl Afrikaans doelbewus ondermyn en sover moontlik benadeel word. Let op hoe misleidend Wessels hierdie situasie verwoord:

“The lost place of Afrikaans and the concern of Afrikaners about language usage just do not carry the same weight as the other questions that the authorities are battling with now.”

Hy haal Naledi Pandor soos volg goedkeurend aan: “Any appeal for extraordinary status for Afrikaans or any [!] other language [English?] will be difficult to justify in a democratic South Africa.” Wessels erken dat regeringsdepartemente die grootste oortreders is weens “ignoring the other ten official languages.” Maar kan die man dan nie maar erken dat die Nasionale Party-regering se verteenwoordigers, waarvan hy een was, op groot skaal drooggemaak het tydens die grondwetlike onderhandelings nie, insluitende mbt die amptelike tale, en dat dit naïef was om die bose ANC in enige positiewe opsig te vertrou nie?

Ek bespeur geen teken van berou by Wessels nie. Hy verwys bv na wat Pierre de Vos oor transformasie aan die Universiteit Stellenbosch (US) kwytgeraak het. Hierdie opmerkings is ook op bv die Potchefstroomse universiteitskampus toepaslik. “The change of policy, which will lead to the diminishing of the rights of Afrikaans students to be taught in their mother tongue, will stand the test of constitutional scrutiny because of past racial discrimination.” Dus, omdat daar voorheen teen nie-wittes gediskrimineer is, is dit ingevolge die grondwet, by name regstellende aksie, heeltemal in orde dat daar nou teen blankes en Afrikaans gediskrimineer word. Wessels erken uiteraard nie dat dit dwaas was om so ‘n grondwet te aanvaar nie; ook nie dat dit onnosel was om nie eens ‘n keerdatum vir die beëidiging van hierdie bevoordeling/diskriminasie te stel nie.

Tog is dit blykbaar geoorloof om sedert 1994 herhaaldelik na die nuwe Suid-Afrika as ‘n nie-rassistiese land te verwys. ‘n Mens moet darem ‘n dik vel hê as sulke deurtrapte valsheid jou nie hinder nie. Heeltemal teenstrydig met wat pas hier uiteengesit is, skryf Wessels waaragtig: “Politically speaking: anything [!] that suggests exclusion and racial discrimination will not carry the day.” Maar dit is so duidelik soos daglig dat Afrikaanssprekendes aan al die eens Afrikaanse universiteite al hoe meer van Afrikaans as onderrigmedium uitgesluit word (dus “exclusion”) en dat daar suiwer rassisties op groot skaal teen blanke studente (bv by universiteitstoelating, studiebeurstoekennings en koshuisplasings) en teen blanke dosente (bv by aanstelling en bevordering) gediskrimineer word (dus “racial discrimination”). Wessels verwys na die US-rektor, Wim de Villiers, se refrein, “Stellenbosch is not an Afrikaans university” en sê dan: “This bold statement has to be applauded.” Dit is vir my kwalik moontlik om ‘n polities meer onredbare mens as oud-Broederbonder Wessels voor te stel.

Wessels sluit sy essay soos volg af. Dit is die teksgedeelte wat deur Titus aangehaal word asof dit evangelie is. “During language debates the elephant in the room is often racism. I have sat around dinner tables when interlocutors will boldly say, ‘I am not a racist’ and then continue to demonstrate the opposite. There are many Afrikaans pundits who are not racists. There are, however, also many who shield their racist attitudes by glibly citing constitutional provisions. Racists nowadays ain’t what they used to be and they don’t look alike. They are to be found on different sides of the argument. They have to be exposed because they will not find constitutional protection. To isolate them will not be difficult if peace-loving people stand up to be counted; normally this is not what they do when the heat is on. There is too much at stake now to allow hot-headed racists – from all sides of the divide – to dominate the discussions. For multilingualism to succeed at our tertiary institutions we have to rekindle the spirit of the drafters of the Constitution: to listen to one another and to believe that a solution to harness the interests of everyone is possible.”

Laasgenoemde aanhaling is op talle maniere oop vir kritiek. Hier volg enkele voorbeelde:

  • Let op hoe die aanvaarbaarheid van die hoogs onvolmaakte grondwet deur Wessels as die grondslag vir stellinginname veronderstel word.
  • Die naïewe gees waarin die blanke bewind se onderhandelaars die grondwet benader het, verskil hemelsbreed van die voorbedagte en volgehoue bedrieglikheid van die ANC-onderhandelaars. Dit is waarom bv FW de Klerk sedertdien kort-kort beweer dat die letter pleks van die gees van die grondwet in die ANC-regering se dade weerspieël word.
  • Die oorgangsgrondwet verskil van die finale grondwet tot verdere nadeel van blankes en Afrikaans. Vergelyk bv die 1993-taalartikel met die 1996-taalklousule (dié tekste is beskikbaar in bv JC Steyn, Ons gaan ‘n taal maak, 2014, p 525-527). In die 1993-teks staan daar: “[1] Regte met betrekking tot taal en die status van tale wat by die inwerkingtreding van hierdie Grondwet bestaan, word nie ingekort nie … [2] nóg die regte met betrekking tot die taal nóg die status van ‘n amptelike taal … verminder mag word … [3] die nie-vermindering van regte met betrekking tot taal en die status van tale wat by die inwerkingtreding van hierdie Grondwet bestaan.” Hierdie drie bepalings is in die 1996-teks met ‘n enkele bepaling vervang: “Gesien die historiese inkorting van die gebruik en status van die inheemse tale van ons mense, moet die staat praktiese en daadwerklike maatreëls tref om die status van dié tale te verhoog en hul gebruik te bevorder.” Waar dit in die 1993-teks veral om die behoud of nie-vermindering van die status van Afrikaans gegaan het, word Afrikaans in die 1996-teks effektief uitgesluit van enersyds behoud van status en andersyds selfs van bevordering. Steyn skryf: “Die belangrike bepaling in verband met die nie-inkorting van taalregte en -status is in die finale Grondwet van 1996 weggelaat” (p 443). Dit gaan immers nou om die bevordering van die inheemse tale wat na bewering histories benadeel is, dus swart tale. Die verraad wat hier gepleeg is, is moontlik gemaak deur die onderhandelaars van die blanke bewind, wat toegee het aan die ANC se eis dat die 1994-verkiesing ingevolge die oorgangsgrondwet gehou moet word en dat die parlement, wat deur die swart meerderheid gekies is, oor die finale grondwet sou besluit. Vergelyk die huidige lot van Afrikaans met FW de Klerk se pragtige voor-Kodesa-woorde: “Die posisie van Afrikaans is nie onderhandelbaar nie” (Steyn p 423).
  • Terwyl daar skynbaar vir rassiste aan albei kante van die spektrum gepreek word, is dit myns insiens hier, soos elders, eintlik maar die blankes en veral die Afrikaners wat vir veroordeling uitgesonder word. Dit is dieselfde soort gesindheid wat by plaasmoorde geopenbaar word. As daar gevra word vir ANC-regeringsveroordeling van plaasmoorde word gesê: Alle moorde word veroordeel.
  • Wessels se verwysing na vrede laat my dink aan die teksvers: “Vrede, vrede! – terwyl daar geen vrede is nie” (Jeremia 6:14).
  • Daar word na meertaligheid aan ons tersiêre inrigtings verwys, maar Wessels versuim om uit te wys dat dit ‘n verpligting is wat uitsluitlik op eens Afrikaanse universiteite gelê word. Eentalige Engelse inrigtings word sonder meer vrygestel van enige poging tot meertaligheid.
  • Wessels gee voor dat “a solution to harness the interests of everyone is possible.” Dit is soortgelyk aan die valse slagspreuk wat ANC-kamerade herhaaldelik gebruik en wat hy aanhaal: “A better life for all.” In die nuwe Suid-Afrika is blankes en veral Afrikaners in baie opsigte in die praktyk nie by daardie almal ingesluit nie. Wessels beweer egter in sy boek: “Alle Suid-Afrikaners se regmatige aspirasies word in die Grondwet vervat” (p 270).

Danny Titus

Toe Danny Titus in 2008 as ATKV-kultuurhoof aangestel is, het Hanlie Retief ‘n onderhoud met hom gevoer (Rapport, 12.03.2008). Daar word genoem (en ek dink heel tereg) dat die ANC beïndruk met die ATKV is.* Toe Titus ‘n student aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) was, was Allan Boesak sy held. Terwyl Titus, ‘n boorling van Worcester, in Nederland gestudeer het, het hy sy werkstukke nie in Afrikaans of Nederlands geskryf nie, maar in Engels. In Suid-Afrika het sy kind ‘n Engelse skool bygewoon en hy praat Engels met haar. Daar is klaarblyklik by hom die begeerte om eerder Engels as Afrikaans as huistaal te hê. As Titus se plattelandse oorsprong en Nederlandse verblyf in ag geneem word, het ons myns insiens hier met ‘n uiterste geval van Afrikaansdislojaliteit te make. Weens sy gesindheid kan hy kwalik inpas by die kultuurmilieu van die ATKV, selfs al word gepoog om hierdie vereniging buitensporig te transformeer. Maar Titus het by diensaanvaarding hierdie goeie voorneme gehad: “Dit sal dom wees om mense te vervreem.”

[* Christo van der Rheede skryf: “Verder bly samewerking tussen gemeenskappe die grootste uitdaging vanweë die kunsmatige etniese verdeling van die verlede en gevolglike wantroue tussen gemeenskappe. Heelparty van die beste praktyke is egter deur verskeie Afrikaanse organisasies soos die AHI (wat in die ekonomiese omgewing aktief is), Agri SA in die landbou-omgewing en die ATKV in die kultuuromgewing wat op ‘n konkrete wyse impetus gee aan die verantwoordelikhede vervat in die Nasionale Grondswet” (Die Burger, 20 deser, p 11). “Uitdaging” is ‘n gewilde ANC-eufemisme vir onvermoë. Etniese verdelings word “kunsmatig” genoem, maar die ANC se beleid maak in buitensporige mate hiervan gebruik sodat blankes benadeel en veral swartes bevoordeel kan word. Van der Rheede verwys goedkeurend na die AHI (waar hy uitvoerende hoof was) en Agri SA (waar hy nou uitvoerende adjunkhoof is), asook na die ATKV (waar Titus die kultuurhoof is). Dit is dus enersyds ‘n geval van selfrugkrapping en andersyds die rugkrapping van ‘n etniese genoot. Van der Rheede was voorheen die uitvoerende hoof van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans. ‘n Belangrike deel van sy ampspligte was om bruin kinders aan te moedig om Afrikaanse skole by te woon. Sy eie kinders is egter in Engelse skole geplaas. Red nou Afrikaans met so ‘n mens.]

Daar is bruines, soos Richard van der Ross en Adam Small, wat aanvaar dat hulle bruin is. Daar is egter ook bruines, soos Henry Jeffreys en Zelda Jongbloed, wat eerder swart wil wees. Toe Titus sy pos by die ATKV aanvaar het, was sy eerste projek die loodsing van die Bruin Belange Inisiatief (BBI) by Goudini. Ek het destyds gewonder wat dit met die ATKV te make het, maar aanvaar dat sy nuwe werkgewer Titus aanvanklik met rus gelaat het; hom as’t ware ‘n bietjie tou gegee het. Van der Ross het die BBI gesteun, terwyl Jeffreys (as redakteur) en Jongbloed (as senior adjunk-redakteur) die BBI-stigtingsbyeenkoms geboikot het en ‘n junior verslaggewer van Die Burger na die verrigtinge gestuur het. Dit lyk asof Titus in daardie stadium nog bruin was. Sedertdien verkies hy om swart te wees: “The discovery of our blackness as pride in who we are,” soos hy in sy onlangse LitNet-artikel (kyk hier onder) skryf.

Daar is bruines, soos Adam Small en Jakes Gerwel, wat as Afrikaanssprekend beskou wil wees. Daar is egter ook bruines, soos Russel Botman en Franklin Sonn, wat eerder Engelssprekend wil wees en hulle kinders Engels opgevoed het. Titus vereenselwig hom met laasgenoemdes. Die punt is: Etnies en taalgewys neem Titus, as van huis uit ‘n bruin Afrikaanssprekende, ‘n radikale standpunt in. In albei opsigte kan ek kwalik insien hoe so iemand (doeltreffend) as die kultuurhoof van ‘n hoofsaaklik blanke en daarby Afrikaanse vereniging kan funksioneer.

Maar kom ons toets Titus se bydrae tot die OS-seminaar, “Open Stellenbosch: ‘Why did God make me black?'” (LitNet 16 deser), aan sy voorneme om nie mense te vervreem nie; uitgaande van die (redelike/billike) veronderstelling dat Afrikaners ook mense is. Ek vra my ook af of hy hierdie agt bladsye lange betoog in werktyd geskryf het, dus of dit ‘n integrerende deel van sy ATKV-ampspligte is. Anders as by baie ander amptenare noem hy (soos by vorige geleenthede) nie dat hy in sy persoonlike hoedanigheid skryf nie. Kan dit waar wees dat die ATKV hom so ongekwalifiseerd aan die kant van OS skaar? Weerspieël dit die standpunt van die ATKV-raad en die meerderheid ATKV-lede?

Soos die US-rektor, Wim de Villiers, beoordeel Titus die OS se Luister-video nie as (misleidende) propaganda nie, maar as evangelie. “So many voices have been raised on the video – the Open Stellenbosch movement, Afrikaans, racism, it is almost refreshing to be confronted with such raw, and brutally honest debate … the video speaks with voices that are honest, clear and rattling all my cages … words that open the wounds of slavery, colonisation, apartheid, resistance, struggle.” Hier is ongetwyfeld ‘n militante ANC-aktivis aan die woord; iemand wat al die afgesaagde wanvoorstellings opdiep. “The issue of language cannot be brushed aside anymore.” Titus beskou besware teen Afrikaans dus nie as ‘n vyeblaar waaragter die OS-studente skuil om hulle akademiese onvermoë te kamoefleer nie, maar as ‘n misbruikbare middel tot transformasie.

Titus verlustig hom in die bekende stereotiperings: dat swartes reeds eeue lank weens hulle velkleur benadeel word; dat die swartbewussynsideologie die verdrukkers in die tronk plaas eerder as die verdruktes; dat bevrydingsteologie heilsaam is (“a Liberator God … who stood on the side of the poor, the widow and the orphan … the God who created us black”); dat die toorn van apartheid in ‘n polisiestaat uitdrukking gevind het, ens. Apartheid word gekarakteriseer as ‘n kriminele stelsel: “inhumane, unjust, unholy and unchristian” en die NG Kerk was “hand in glove with the apartheid state.” Nêrens maak Titus hom skuldig aan ‘n oorspronklike gedagte nie. Die UWK word ‘n “Bush College” genoem. Titus het daar gestudeer, hoogs waarskynlik met ‘n beurs van die Departement Kleurlingsake, maar sy gees is nie groot genoeg om so iets te erken nie. Die Departement Kleurlingsake was toe soos ‘n groot koelteboom vir die Titus-gesin, want sy ouers was as onderwysers in diens van daardie departement. Dankbaarheid vir wat hy mildelik en goedgunstiglik van blankes ontvang het (plaaslik en in Nederland), word polities korrek nie uitgespreek nie.

Aan die UWK “access, language, race and racism were intertwined.” Van 1960 af, in die eerste drie dekades van sy bestaan, was die UWK ‘n inrigting waarin onderrig hoofsaaklik in Afrikaans aangebied is, ooreenkomstig die moedertaal van die oorgrote meerderheid studente. As plattelander het dit Titus sekerlik gepas. Omtrent al wanneer Engels uitgehaal is, is wanneer die studente betoog het. Akademies kon die studente vryelik tussen Afrikaans en Engels kies. Met sy bewering dat taal en rassisme ineengestrengel was, wend Titus ‘n lomp maar valse poging aan om die destydse UWK sleg te maak. Toegang is inderdaad beperk tot bruines, maar dit was sekerlik nie in alle opsigte ‘n onding nie. Etniese homogeniteit, soos ander soorte homogeniteit, bevorder akademiese prestasie. Bruin kultuur het gedurende die genoemde drie dekades gebloei soos nooit voorheen of sedertdien nie. Nóg bruin kultuur nóg Afrikaans floreer in die huidige era van swart oorheersing. Maar Titus verkondig eerder hierdie onverdunde twak oor die destydse UWK: “Limited, restricted and yet you had to excel … We were given a limited, and biased, education.” Dan volg die gebruiklike leuen: “You had to perform even better” as die wittes, as jy as bruine/swarte êrens wou kom.

Vir Titus as UWK-student het dit primêr nie om akademie gegaan, dus om vakkennis te bekom, nie. Vir hom as aktivis “social consciousness was the most influential discipline.” Hy het radikaal linkse politieke literatuur gelees: “one constant avalanche of knowledge and conscientisation.” “In this alternative education we came to learn of the lies of apartheid and colonialism, that Roman-Dutch Law did not come with Van Riebeeck, that Van Riebeeck and colonialism stole the land of the indigenous peoples.” Die UWK was destyds akademies geseën met uiters bekwame blanke dosente. Maar bruin oudstudente uit daardie era opper geen dankbaarheid teenoor hulle nie. Hulle beperk hulle lof gewoonlik tot twee bruin dosente wat linkse politiek binne en buite die klaskamer verkondig het: Adam Small en Jakes Gerwel. Titus verwys na Gerwel en Franklin Sonn se negatiewe etikettering van Afrikaans. Oor die twee uitnemende akademici (Joubert en Böhmke) wat die grondslag van Titus se regskennis gelê het, swyg die snood ondankbare Titus, seker omdat albei blank is.

Titus se siening van die US word ook deur linkse politiek bepaal. Die twee mense wat hy hier uitsonder vir bewondering is die rektore Chris Brink en Russel Botman. Dit is gedurende hulle ampstermyne dat Afrikaans deurlopend afgeskaal is, dat die US eksponensieel verswart en verengels het. Wim de Villiers gaan akkoord hiermee. Daarom hierdie positiewe opmerking: “A unifying institutional culture, thus. I see Wim de Villiers walking in this direction.”

Hoe moet die getransformeerde universitêre leergange volgens ‘n radikale ANC-aktivis soos Titus lyk? “I want to believe that Steve Biko is taught at university, the struggles of the Khoisan against colonialism too; that Nelson Mandela and the resistance against apartheid feature prominently, the dehumanising experience of black people in South Africa has prominence, the struggle for liberation has found its way into academic discourse.” En die pioniers wat Europese beskawing oor derduisende kilometers in lewensgevaarlike omstandighede na Suidelike Afrika gebring en hierdie land oor eeue met bloed en sweet tot die suksesvolste en vooruitstrewendste in Afrika ontwikkel het? Is dit moreel en suiwer feitelik in orde dat sulke mense net smaad van Titus ontvang?

Dit is juis teen daardie voortreflike, blanke wenkultuur wat Titus dit het; die tradisionele, akademies-sinvolle, institusionele kultuur wat aan die eens Afrikaanse universiteite aan die orde van die dag was. “Institutional cultures, said [Naledi] Pandor, are embedded at many different levels and require changes in both structure and attitudes and consciousness on the part of academic staff and administrators. If we ‘fail to frame a unifying institutional culture the promise and potential inherent in the institutional restructuring process is likely to be compromised’.” Leon Wessels het soortgelyke besware teen die institusionele kultuur op die Potchefstroomse universiteitskampus geopper. Dit maak nie saak hoe akademies sinvol en suksesvol oorwegend blanke universiteite met Afrikaans as onderrigmedium is nie. Ter wille van ANC-politiek moet dit verander. In hierdie proses boet universiteite akademiese waarde/gehalte in.

Titus onderskryf polities gemotiveerde transformasie. Hy haal Zola Saphetha van Nehawu oor “a radical second phase of our transition” goedkeurend aan: “In line with the interconnectedness of education and social transformation, there is a need to revolt against the commodification of education and to create a mass-based education for all. We need to radically change the form and content of the current model of co-operative governance into real organs of people power.”

Op hierdie manier hits Titus OS tot voortgesette en erger opstand aan. “I have little sympathy for the difficulty Stellenbosch is in. Honestly. If I was a black student I would have raised hell long ago … we know that you cannot trust the boers … You know they are going to appoint people that are like them.” Titus kan die “boere” in die ATKV seker ook nie vertrou nie. Het hulle ‘n mens wat etnies, kultureel en taalgewys soos hulle is as kultuurhoof aangestel, of het hulle oorboord gegaan en die pos met ‘n heeltemal ander soort organisme gevul? Dit is daardie mens wat hierdie versugting uitspreek: “We yearn for the leadership of a Nelson Mandela, a Desmond Tutu, some saintly intervention.”

“We approach our work at the Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) with respect for the dignity of individuals and cultures; at the Human Rights Commission we are mandated to monitor the protection and promotion of human rights and human dignity as a constitutional mandate.” Toon Titus in hierdie teks enige respek vir Afrikaners, Afrikanerkultuur en Afrikaans? Ek dink nie so nie. Word die regte en waardigheid van Afrikaners, Afrikanerkultuur en Afrikaans in dieselfde mate en net so entoesiasties as swartes, Afrikakultuur en Engels deur die Menseregtekommissie (met Wessels en Titus as voorbeelde van menseregtekommissarisse) beskerm en bevorder? Ek dink nie so nie.

In hierdie artikel het Titus in aanstootlike mate vrye teuels aan sy vooroordele gegee. Geen poging tot ewewig, objektiwiteit of oorspronklike insig is aangewend nie. Wat ek by Titus waarneem, is veeleerder bitterheid en moontlik selfs haat. Hoe kan so iemand die kultuurhoof van ‘n Afrikaanse kultuurvereniging en daarby ook ‘n menseregtekommissaris wees? Transformasie/regstellende aksie is klaarblyklik ‘n meedoënlose ontaardingsproses.

Betoger glo raakgery by Kovsies

Betogers het Dinsdagaand op die Bloemfontein-kampus van die Universiteit van die Vrystaat (UV) met geweld gedreig nadat ‘n finalejaarstudent glo in ‘n tref-en-trap raakgery is.

Die betoger was deel was van die protes teen verhogings in klasgelde.

Die betogings, wat dreig om eindeksamens by die betrokke instellings in gedrang te bring, is oënskynlik teen verhogings in klasgelde aanstaande jaar.

Die oproer het na die Vrystaat oorgespoel nadat meestal swart studente by universiteite landswyd amok begin maak het, met talle wat onder die indruk verkeer dat hulle teen “wit beheer” in opstand is.

Die 22-jarige vroulike betoger het op ‘n sypaadjie gesit terwyl honderde betogers die hoofhek in Nelson Mandelarylaan in Bloemfontein probeer afsper het.

Die bestuurder het ongeduldig geraak met die massa en die betoger getref in ‘n poging om deur te ry.

Die kampussekuriteit het die bestuurder agternagesit, maar dit is nie duidelik of hulle die voertuig opgespoor het nie.

Geen inligting oor die betoger se beserings is beskikbaar nie.

‘Pukke moeg vir politiekery’

Die huidige onrustigheid in die tersiêre onderwyssektor is wat gelei het tot die totstandkoming van “NWU-Pukke Breek die Stilte”, ‘n groep studente wat die belange van die Noordwes-Universiteit Potchefstroomkampus op die hart dra.

Dit is volgens SR-voorsitter, Paul Maritz, wat vanoggend ‘n nuusverklaring uitgereik het waarin hy onder meer sê dat studente op die Potchefstroomkampus “moeg is vir politiekery” en “vals beskuldigings van rassisme” asook “onderdrukking onder die vaandel van transformasie”.

Dit volg nadat ‘n ander groep, Reform PUK, verlede week ‘n memorandum van griewe aan visekanselier Dan Kgwadi oorhandig het waar hulle onder meer die behoefte aan transformasie op die kampus beklemtoon.

Maritz sê studente sal Vrydag in die Sanlam-ouditorium op kampus geleentheid kry om hul menings rondom hierdie en ander sake te lug.

Leon Lemmer: Neville Alexander: Groot in ‘n era oorheers deur klein mensies

In ‘n normale, ontwikkelde, beskaafde samelewing is daar die vermoë om tussen goed en kwaad te onderskei. Misdaad is sekerlik een van die dinge wat met afkeer bejeën behoort te word; des te meer as ‘n land in sy geheel wêreldwyd as ‘n misdaadnes bekend staan. In die geval van Suid-Afrika word die misdadigheid van die verlede, veral van die periode 1984-1994, tot in die hede voortgesit. Onder die dekmantel van nuutgevonde vryheid is die grootste booswigte in leidende magsposisies ontplooi. Die algemene voorkoms van booswigte in topposte is eintlik al sigbare teken van FW de Klerk se beloofde wigte en teenwigte. Hoe groter die vergrype, des te meer word hierdie boosdoeners vereer. Die boodskap wat hiermee aan die gepeupel oorgedra word, is dat misdaad lonend is; selfs dat dit moontlik die lonendste, toeganklikste en volhoubaarste plaaslike bedryf is.

Daar het in plaaslike menseheugenis ‘n radikale, revolusionêre omkering van waardes plaasgevind. Onbevoegdes kwalifiseer om die hoogste poste in die land te beklee. Die allerverderflikste misdadigers word vereer en tot rolmodelle verhef. Diegene wat die morele kern van die land verteenwoordig, word verguis. Bouers word as veragtelik en brekers as voortreflik voorgestel. Van diegene wat hulle goed gedra en ‘n misdaadvrye rekord het, word verwag om herhaaldelik om verskoning te vra. Almal wat weens ernstige misdade op Robbeneiland aangehou is, word egter sonder meer as goed geklassifiseer. In hierdie konteks word Neville Alexander (1936-2012) hier geëvalueer. Hy kwalifiseer tans vir verering omdat hy nie-wit is en veral omdat hy saam met Nelson Mandela ‘n gevangene op daardie eiland was (1964-1974). Alexander se kommunisme (Troskiïsme, dus permanente revolusie) verleen deesdae verdere glans aan hom.

Weerkaatste Mandela-lig bou op ‘n misplaaste manier aan Alexander se beeld; nie net in die politiek nie, maar ook in die akademie en ongelukkig, hoe vergesog ook al, selfs in die konteks van Afrikaans. Wie sou in die vorige eeu kon dink dat die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) hieraan medepligtig sou wees deur sy prestigetoekenning na Alexander te vernoem? (Praag 17 September). Weens geestelike ontreddering tree universiteite deesdae eerder polities as akademies korrek op. Die allerheiligstes in die NG Kerk spreek hulle seën oor bv die Belhar-belydenis en homoseksualiteit uit. Waarom kan die ATM dan nie maar probeer om Robbeneiland pleks van die Taalmonument tot die toonbeeld en gevangenes soos Mandela en Alexander tot die vaandeldraers van Afrikaans te verhef nie? Mandela het immers Ingrid Jonker se gedig “Die kind” in die parlement voorgedra.* Uiteindelik kan hierdie ingesteldhede tog maar net tot die vernietiging van onderskeidelik die akademiese lewe, die NG Kerk en Afrikaans lei. Die huldiging van Jonker vandeesmaand by die kykNET Foxwood-fees (LitNet 13 deser) word ongetwyfeld deels deur linkse politiek gemotiveer.

[* Die gedig handel oor ‘n swart kind wat deur die blanke bewind se veiligheidsmagte gedood is. Dit is dus duidelik dat Mandela ‘n politieke motief gehad het toe hy hierdie gedig uitgesoek het. Omdat alles wat Mandela sedert sy vrylating in 1990 gedoen het normaalweg gunstig bejeën is, is sy optrede in die parlement geloof as ‘n erkenning van Afrikaans. Die misbruik van die gedig vir politieke doeleindes word voortgesit. Bongani Ndodana-Breen, wat die oratorium Credo, gebaseer op die Vryheidsmanifes, gekomponeer het, het nou ook “Die kind” getoonset. Vir die komponis gaan dit oor “die immoraliteit van apartheid”. Die “militarisering van die apartheidstaat” word in Afrikaprotesmusiek verklank. ‘n “Struggle-lied ‘Oliver Tambo thetha noBotha’ (Oliver Tambo praat met Botha)” word aangehaal. “Die bekroonde sopraan Goitsemang Lehobye gaan in die première sing.” Die komposisie sal op 22 deser in die Kaapstadse stadsaal deur die Kaapstadse Filharmoniese Orkes uitgevoer word (Die Burger, 12 deser, p 9).]

Dit is moontlik na aanleiding van die ATM se Alexander-manie dat LitNet op 28 September ‘n teks van Alexander, wat uit 2001 dateer, hergepubliseer het: “Die oorlewing van die nie-dominante tale van Suid-Afrika“. Dit is ‘n voordrag wat hy by die KKNK gelewer het. Hierdie betoog gee ‘n verteenwoordigende aanduiding van Alexander se taalbenadering en bevestig myns insiens dat hy ‘n randfiguur in Afrikaans was en glad nie iemand wat met reg op ATM-verering aanspraak kon maak nie; veral nie in vergelyking met talle groot geeste in die Afrikaanswêreld nie. Sy nie-wit- en Robbeneiland-status was deurslaggewend.

Soos dit ‘n ANC-aktivis betaam, opper Alexander geen beginselbeswaar teen elf amptelike tale met (teoreties) gelyke regte nie. Daardie gelyke regte moet, volgens hom, in die praktyk toegepas word. In werklikheid is dit onprakties, maar diegene wat oor die taalopset in die nuwe Suid-Afrika onderhandel het, het (soos in so baie ander opsigte) nie deur die ANC se sluwe plan gesien om die koloniale taal Engels in die praktyk eintlik die enigste amptelike taal te maak nie. Deur verraad in eie geledere is die land, Afrikaners en Afrikaans sedert 1990/1994 ernstige skade berokken.

In die geval van universitêre onderrigtale is daar diegene wat dink dat dit aan “die mark”/aanvraag oorgelaat moet word, wat “die doodsvonnis vir ‘n relatief klein taal soos Afrikaans sou beteken … dit in die moderne regsgeskiedenis en in die praktyk tog vas staan dat die dominante taal of tale altyd op die sogenaamde vrye mark sal seëvier.” Hierdie benadeelde posisie van Afrikaans volg uit die bepalings in die grondwet, maar Alexander erken dit nie uitdruklik nie; ook nie dat Engels vanweë die grondwet baie gebaat het en dat Afrikaans die enigste plaaslike taal is wat (moontlik onherstelbare) skade gely het nie. Hendrik Verwoerd het Afrikaans “die taal van ons wonderlike toekoms” genoem (JC Steyn, Sonkyker, Kaapstad: Tafelberg, 2008, p 167) en dit vroeër selfs as enigste amptelike taal voorgestaan. In die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party, daarenteen, is daar diegene wat die getal amptelike tale tot drie wil verminder (Engels, ‘n Nguni- en ‘n Sotho-taal) en Afrikaans wil afgradeer van ‘n amptelike tot ‘n nasionale taal (Die Burger, 30 Junie, p 2).

Hierna oorweeg Alexander die taalverskynsel in die globale konteks en kom tot die gevolgtrekking dat daar ‘n “lemmingsvaart na eentaligheid” is, veral in die Anglo-Amerikaanse wêreld. In die Europese Unie bespeur hy egter die erkenning van veeltaligheid. Tereg bepleit Alexander politieke, biologiese, kulturele en taaldiversiteit. Ek dink nie politieke diversiteit word noodwendig deur die ANC voorgestaan nie. In daardie geledere is daar veral onder die kommuniste geen beginselbeswaar teen ‘n eenpartystaat nie. Biologiese diversiteit is ook nie hoog op die ANC-agenda nie. Dit word immers teengespreek deur die beleid van gelyk- en eendersmaking, gedwonge rasse-integrasie en nasiebou; ‘n bevolking wat reeds oorwegend swart is en daarby toenemend verswart.

As ANC-aktivis wil Alexander Afrikaans deel van so ‘n opset maak. “Afrikaans kan ‘n sleutelrol in die bevestiging van die demokrasie in Suid-Afrika speel namate dit sy bates en voordele met die ander inheemse tale van die land deel.” Alexander wil dus Afrikaans inspan om die huidige grondwetlike bedeling te onderskraag. Volgens hom moet Afrikaans nie slegs ter wille van homself bevorder word nie, maar saam met die ander inheemse tale. Afrikaans moet dus toelaat dat op hom geparasiteer word; ‘n tipiese ubuntu-oproep waarin die een party (Afrikaans) gee en die ander partye (Afrika-tale) ontvang, bv waar “die geletterdheid of ‘n leeskultuur en die een of ander Afrikataal … bevorder” word.

Dit is die soort taleverhouding wat deesdae glad nie meer as vergesog geag word nie. Die Afrikaanse Taalraad (ATR), die ATM en die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) onderskryf die beginsel van parasitering. Die ATR wil om die dood nie letterlik ‘n Afrikaanse taalraad wees nie. Hy beskryf homself eerder as ‘n versoenings- en meertaligheidsraad. Alexander loof hierdie soort houding as ‘n bydrae tot “die uitbou en behoud van die demokrasie in Suid-Afrika” en as “een van die natuurlikste maniere om regstellende aksie sonder enige verwysing na ras of kleur te bevorder. Dit is ook een van die belangrikste maniere om te verseker dat die wil van Afrikaanssprekende mense in Suid-Afrika om die status en gebruik van die taal te behou nie ‘n masker is vir die strewe na die behoud van minderheidsvoorregte wat uit ‘n ander tydvak afkomstig is nie.” In hierdie aanhaling is daar heelwat verdraaiing waaroor ek nie uitwei nie, want dan sal my teks te lank word.

My standpunt is dat Afrikaansinstansies, soos die ATR, ATM en WAT, hulle sekerlik in hoofsaak by Afrikaans moet bepaal, indien nie uitsluitlik nie; dat Afrikaans in ‘n stryd om oorlewing teen Engels en die ANC-regering verkeer en energie en aksies dus op Afrikaans toegespits moet word. Daar moet liefs nie (ongevraagd) ten bate van Afrika-tale gearbei word nie, want jy sal waarskynlik ondankbaarheid oes en heel moontlik ook van paternalisme beskuldig word. Daar moet “nie sonder deeglike beraadslaging inisiatiewe vir andere van stapel [ge]stuur [word] nie … ons moet enige aanduiding van paternalisme en beterwetery vermy … ‘n Mens kan adviseer, maar jy moet nie voorskryf nie.” Dus, al weet blankes beter, al is swartes hulpbehoewend, mag dit nie te kenne gegee word nie. Bowenal, as jy daarby Afrikaans en Afrikaner is, onthou wat die apostel Paulus geskryf het: “Laat ons dan nie moeg word om goed te doen nie” (Galasiërs 6:9), al ontvang jy smaad in ruil daarvoor.

Alexander troos hom met hierdie ydele hoop: “dat ‘n samewerking, bondgenootskap of alliansie van die nie-dominante tale en hul sprekers in Suid-Afrika daartoe kan lei dat ‘n ewewig tussen al [!] die tale van die land herstel en gehandhaaf kan word”. Die punt is egter: Selfs al staan al tien ander tale eendragtig saam, sal Engels hulle steeds in die huidige grondwetlike bedeling oorheers. Daar moes nooit aan die vorige bedeling van twee amptelike tale getorring gewees het nie. As alternatief moes Afrikaans eerder die enigste amptelike taal gewees het, soos in 1941 deur onder andere Hendrik Verwoerd voorgestel is, want Afrikaans versinnebeeld Europese beskawing, wat eens heilsaam Suid-Afrika en Namibië tot in hulle verste uithoeke gekenmerk het. Engels was net ‘n stadstaal. Afrikaans was dié landstaal.

Alexander gaan egter selfs verder met sy goedpraat van die huidige onverkwiklike taalsituasie: “dat ons enige neiging tot diglossie op die gebied van amptelike tale moet teenwerk.” [Diglossie: “Vorm van tweetaligheid wat daarin bestaan dat daar ‘n hoër en laer vorm van dieselfde taal voorkom, een vir formele en een vir informele gebruik” (HAT).] As ons diglossie ietwat aanpas, word beweer: dat Standaardafrikaans nie as ‘n hoër taal as Kaaps geag moet word nie; dat hierdie onderskeid liefs nie gemaak moet word nie. Daarmee word die verskansing wat Standaardafrikaans teen verengelsing bied, afgebreek. Kaaps bied geen sodanige verskansing nie omdat dit wesenlik ‘n mengeltaal met ‘n groot Engelse komponent is.

Wat Alexander voorstaan, is die verdere verswakking van die posisie van Afrikaans. Ook omdat hy verkies dat Afrikaans onbeskermd gelaat word: “Ek wil hier ook duidelik sê dat ek nie vir die verskansing van taalregte as groepregte te vinde is nie.” Die ATR verkondig deurgaans die gelykheid van Afrikaansvariëteite maar bevorder Kaaps baie meer luidrugtig as Standaardafrikaans. Dit is kenmerkend van die nuwe Suid-Afrika in die breë: om wat op ‘n hoë vlak is, neer te haal tot ‘n laer vlak, of dit nou onderwys of dienslewering of wat ook al is; om dinge op ‘n laer vlak tot onverdienstelike gelykheid te bring.

Enersyds is daar optimisme by Alexander: “Afrikaans mag en sal nie kwyn, of selfs verdwyn, nie … daar geen rede is om te vrees dat Afrikaans gaan verdwyn nie … In ‘n demokratiese Suid-Afrika gaan Afrikaans nie uitsterf nie … daar geen rede is om paniekbevange te wees nie.” Asof die soort demokrasie wat ons plaaslik het nie ‘n verswelgingsmeganisme is nie, word dit voorgehou as ‘n waarborg vir die voortbestaan van Afrikaans. Hierdie onbekommerdheid oor Afrikaans is kenmerkend van al die bruin Afrikaanssprekendes wat hulle dikwels in die massamedia oor Afrikaans uitlaat, bv Henry Jeffreys, Michael le Cordeur en Danny Titus. Daarom weier hulle om hulle by die Afrikaanse taalstryd te laat betrek. Taalbulle is glo onnodig.

Volgens Alexander word ‘n taalstryd vermy as “Afrikaanssprekende mense ‘n vennootskap met ander Afrikataal-sprekers teweegbring … dit die enigste manier is om ‘n nuwe etnies gebaseerde taalstryd te vermy … Dit is my benadering in hierdie saak dat die geskiedenis op ‘n baie paradoksale wyse vir Afrikaanssprekende mense en hul leierskap die geleentheid bied om op ‘n grootse manier die eenheid in die diversiteit van die Suid-Afrikaanse samelewing te versterk en te onderskraag deur sekere inisiatiewe op hierdie gebied te neem.” Myns insiens gaan saamstaan met Afrika-tale Afrikaans min baat of glad nie. Die taalstryd vir Afrikaans is teen die dominansie van Engels, plaaslik en internasionaal, en die vyandigheid van die ANC-regering gemik.

Andersyds besef Alexander dat hy met die optimisme oor Afrikaans ‘n grashalm beet het. “As ons en ander nie-Engelssprekende Suid-Afrikaners nie ons moue oprol en daadwerklik aan die handhawing van die nie-dominante tale werk nie, dan is daar geen waarborg dat enige een van hulle sal oorleef nie … As daar nie wal gegooi word nie, sal ons binnekort die situasie hê waar ‘n taal soos Afrikaans net in die kerk of in gesins- en gemeenskapskonteks en altemit nog gedurende die eerste drie jaar op primêre skool gehoor gaan word. Natuurlik sal ons ook nog radioprogramme en betaaltelevisie kan ‘geniet’. Dit is immers die situasie waarin alle ander Suid-Afrikaanse amptelike tale, Engels uitgesonder, hulself bevind. En wie wil beweer dat die Afrikaanse pers sy lewensvatbaarheid sal behou wanneer die aantal mense wat die taal kan lees en skryf begin afneem?” Soos gebruiklik in bruin geledere word geen woord gerep oor die gehalte/suiwerheidsgraad van daardie Afrikaans nie. Omgangsafrikaans het reeds dermate versleg dat ek nie Afrikaanse televisie kan geniet nie.

Die Universiteit Stellenbosch (US) het deesdae ‘n rektor wat ontken dat die US ‘n Afrikaanse universiteit is. In Alexander het Wim de Villiers ‘n voorganger: “‘n Universiteit wat voorgraads Afrikaansmedium-klasse aanbied, maar ook toesien dat ander tale op sekere maniere voorgraads en veral nagraads geakkommodeer word, is … nie ”n Afrikaanse universiteit’ nie. Dit is wel ‘n universiteit waar die handhawing en die verdere ontwikkeling van Afrikaans as taal gewaarborg [!] word; ‘n Afrikaans-georiënteerde universiteit, dus. Sulke universiteite is ‘n conditio sine qua non vir die voortbestaan van Afrikaans as wetenskapstaal en as taal van die hoër kultuur.” In werklikheid word die voortbestaan van Afrikaans aan geen universiteit gewaarborg nie; sekerlik nie aan die De Villiers-US nie. Dit is opvallend hoe dikwels enige moontlikheid dat daar steeds so iets soos ‘n Afrikaanse universiteit bestaan, ontken word. Die bestaan van (uitsluitlik) Engelse universiteite word nooit ontken nie. Waarop dit myns insiens dui, is dat Afrikaanse universiteite sonder meer as ongewens en Engelse universiteite as gewens beskou word.

Teen die einde van die artikel laat Alexander hom soos volg uit: “Ek meen ons moet aanvaar dat daar ruimte onder ons is om van mening te verskil oor hoe ons met ons etniese erfenis moet omgaan. Solank ons toesien dat ons die bevolking van Suid-Afrika bymekaar hou [dus nasiebou], dat hulle nie op grond van sogenaamde [!] ras, taal, kultuur of ander kenmerkende verskille onstabiel raak en uitmekaarspat nie, het ons almal die reg om vir ons visie van ‘n toekomstige Suid-Afrika te mobiliseer. Wat die taal self betref is dit baie duidelik dat die grondwet, die taalwet waarmee ons op die oomblik besig is, die feit dat Afrikaans die derde grootste taal in die land is, die wil van Afrikaanssprekende mense [feitlik uitsluitlik Afrikaners, maar Alexander sal dit nie erken nie] om hul taal te handhaaf, die bestaan van talle Afrikaanse organisasies en projekte, die dinamiek van die moderne Afrikaanse literatuur, musiek- en verhoogkunste en die tegniese en tegnologiese kundigheid en infrastruktuur waarop voortgebou word, die beste basis vir die instandhouding van die taal is.” Let op hoe Alexander by voorkeur van “die taal” praat en nie Afrikaans by die naam noem nie en ook nie Standaardafrikaans nie en bowenal nie Afrikaners nie. Wat hy “die beste basis” vir Afrikaans noem, is heeltemal ontoereikend. Wat nodig is, is grondwetlike erkenning van hoogstens twee amptelike tale, waarvan Afrikaans een is, en ‘n regering wat Afrikaans as ‘n kleinood koester en daadwerklik bevorder.

Hierdie voordrag toon duidelik dat Alexander ‘n afstand tussen hom en Afrikaans gehandhaaf het. Dié verwydering kan veral aan politieke oorwegings toegeskryf word. In sy geskrifte gaan dit nie spesifiek om die bevordering van Afrikaans nie, maar eerder om die propagering van die waarde van moedertaalonderrig en veeltaligheid. In die konteks van Afrikaans het Alexander hoogstens in die tweede liga gespeel en selfs daar was hy seker nie meer as ‘n reserwespeler nie. Daarom is dit misplaas van die ATM om hom op so ‘n buitensporige manier te vereer. Dit bevestig die vermoede dat dit vir die ATM eerder om politiek as die heil van Afrikaans gaan.

Henry Jeffreys

Ter versagting van wat ek oor Alexander geskryf het, moet ek byvoeg dat sy gesindheid jeens Afrikaans glad nie so aanstootlik soos dié van Henry Jeffreys is nie. In ‘n onlangse artikel vra Jeffreys waarom swart Afrikaanssprekendes so stil oor Afrikaans is; waarom hulle toelaat dat die agenda deur blankes bepaal word (Die Burger, 9 deser, p 15). Vir Jeffreys as swartmagaktivis is bruines, soos hy, eintlik swart. Hy wil kennelik in dieselfde mate as swart swartes bevoordeel word. Die rede waarom blankes, volgens hom, op die terrein van Afrikaans meer bedrywig en suksesvol is, is omdat hulle tydens apartheid bemagtig, dus bevoordeel, en beter toegerus is. Dit is die ou storie: As bruines dieselfde geleenthede gehad het, sou hulle net so goed gepresteer het.

Hy verwys dan oudergewoonte na “ons ongelukkige geskiedenis”. Wat hy doelbewus miskyk, is die uitsonderlike prestasies van blankes en veral Afrikaners oor ‘n tydperk van meer as drie en ‘n halwe eeue in Suidelike Afrika. Kontrasteer dit met die relatiewe prestasieloosheid van die Khoi-San, slawe, bruines en swartes; húlle ongelukkige geskiedenis. Die vraag is of Jeffreys nie dalk aan ‘n ernstige graad van gene-jaloesie ly nie. Maar Jeffreys se gemeenheid strek verder. Hy beweer Afrikaners (“ons medetaalsprekers”) het die nie-wit Afrikaanssprekendes van koers af gelei. Soos die gebruik geword het, word blankes ook hier die skuld vir nie-blankes se relatiewe prestasieloosheid gegee. “Daar is eenvoudig te veel om oor skaam te wees oor Afrikaans se geskiedenis.” Let op die volgende uiters aanstootlike formulering: “Swart” Afrikaners se “eie skugterheid om openlik vir die taal [soos by Alexander word Afrikaans nie by die naam genoem nie] op te kom kan dus te doen hê met ‘n skaamheid dat daardie lelikheid op ons kon afsmeer en ons besmet.” Ek kan my kwalik groter goorheid as dié van Jeffreys voorstel en hy kom sonder protes daarmee weg in ‘n hoofstroom Afrikaanse koerant!

Jeffreys verwys na “wit taalsprekers se emosionele … verknogtheid aan die taal” en kontrasteer dit met “ons, die stiefkinders van die taal.” Dan kom hy met nog ‘n goor gevolgtrekking: “Byna die ganse Afrikaanse media – koerante, tydskrifte en televisie – word deur wit taalsprekers oorheers en bestuur. Dit beteken dus dat alle besluite oor die taal geneem word uit die baie beperkte en waarskynlik bevooroordeelde perspektiewe van wit taalsprekers.” Aan wie het ons hierdie nie-beperkte en onbevooroordeelde perspektief te danke? Aan Henry Jeffreys, wat deur bevooroordeelde wittes met beperkte perspektief jaar na jaar toegelaat word om anti-blanke- en veral anti-Afrikaner-propaganda in rubriek na rubriek te verkondig. As redakteur van Die Burger (2006-2010) het hy die beskaafde, Europeesgeoriënteerde, tradisionele lesers van die koerant vervreem. Hy is gelas om sy kantoor binne ‘n dag te ontruim. Tog word sy onverkwiklike aanvalle op blankes en veral Afrikaners sedertdien steeds in Die Burger toegelaat. Hy word polities korrek toegelaat om groter as lewensgroot te vertoon in ‘n era oorheers deur klein mensies.

Oor die US skryf Jeffreys: “Ek het nog altyd gewonder en ook geskryf oor hoekom Stellenbosch belas [!] moet word as die bewaker van Afrikaans.” Hy beweer “dat daar mense is wat ‘n emosionele verknogtheid aan die taal het en nie veel dink nie aan die skade wat die aandrang daarop as voertaal die beeld van die universiteit aandoen in ‘n veranderende Suid-Afrika wat geskoei is op beginsels van nierassigheid en toeganklikheid.” Hy noem dat die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) “die bakermat vir swart Afrikaanse skrywers en digters was. Ek reken ons het so ‘n instelling nodig. As dit dan Maties moet wees, is dit daarnatoe, mits die grondbeginsels van die nuwe Suid-Afrika nie ondermyn word nie.” Soos Alexander stel Jeffreys die heil van Afrikaans ondergeskik aan ANC-politiek. Soos Alexander wil Jeffreys nie hê dat Afrikaans beskerm moet word nie, maar dit sou goed wees as dit aan die US ten bate van bruines bestaan. Geen verwyt word na die UWK oor sy verengelsing geslinger nie; net so min as wat Jeffreys die US sy toenemende verengelsing sal verwyt. Hy het net lof vir Russel Botman se afskaling van Afrikaans gehad; hom selfs ‘n stryder vir Afrikaans genoem. Afrikaans en Afrikaners kan sonder ‘n kommentator soos Jeffreys klaarkom.

Ongelukkig onderskryf Adam Small wat Jeffreys kwytgeraak het, maar hy kap hom darem omdat Jeffreys so graag swart pleks van bruin wil wees (Die Burger, 16 deser, p 17).

Slot

Alexander en Jeffreys se verhouding tot Afrikaans word gekenmerk deur bv afstandelikheid, dislojaliteit, onbesorgdheid en ondankbaarheid. Die grondliggende rede hiervoor is geknogtheid aan linkse politiek. Dit geld ongelukkig ook vir die meeste ander bruines wat hulle oor Afrikaans uitlaat.

Ek het hier bo ‘n aanduiding gegee van hoedanig ek Alexander in die konteks van Afrikaans en die Afrikaner evalueer. Hoe word hy deur andere getakseer? In 2013 het die Pan South African Language Board sy studiebeurs na Alexander vernoem. Vanjaar het die Universiteit Kaapstad sy geesteswetenskappegebou na Alexander vernoem, onder meer ter erkenning van sy ANC-aktivisme (Die Burger, 31 Augustus, p 5). Die Universiteit van Suid-Afrika het op 8 deser ‘n Alexander-gedenklesing deur Crain Soudien in Parow aangebied (Die Burger, 2 deser, p 12).

Les bes is daar die ATM wat op 10 deser die eerste keer sy Neville Alexander-prestigetoekenning oorhandig het. Die ATM-olifant het ‘n muis gebaar. “Die medewenners is Sabina Dumas, opvoeder aan die New Orleans Sekondêre Skool in die Paarl, en die fakulteit onderwys van die Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie (KSUT) in Wellington” (Die Burger, 12 deser, p 7). Laasgenoemde is eintlik bekend as die Cape Peninsula University of Technology (CPUT). Volgens sy rektor is dit ‘n eentalige Engelse inrigting.

Die era van ‘n Langenhoven en ‘n Van Wyk Louw is klaarblyklik verby. Dit is hierdie twee skrywers wat die ontwerp van die Afrikaanse Taalmonument deurslaggewend beïnvloed het (Praag 31.08.2014). Tans vereer klein geeste eerder soortgelyke geeste. Volgens die koerantberig is die toekenning bedoel “vir ‘n individu of instelling wat op enige gebied van Afrikaans ‘n beduidende bydrae op voetsoolvlak maak.” “Voetsoolvlak” is ‘n politiek gemotiveerde term wat in die nuwe Suid-Afrika in omloop gekom het en op ‘n onderstelaag-ingesteldheid dui. Die uitgangspunt is om (normaalweg) blankes uit te sluit.

‘n Idee van hoedanig die 40ste bestaansjaar van die Afrikaanse Taalmonument gevier is, kan verkry word uit die foto’s wat by daardie geleentheid geneem is (LitNet 14 deser). Op die ATM-webwerf is daar nog geen berig oor hierdie verrigtinge gepubliseer nie. In ‘n onderhoud het die ATM-skakelbeampte die monument ‘n “simbool van versoening en nasiebou” genoem (Die Burger, By, 10 deser, p 2). Soos by die ATR word Afrikaans dus ondergeskik aan politieke oogmerke gemaak. Die voorsitter van die ATM, Mashudu Mashige, word “‘n trotse derdetaal-Afrikaansspreker” genoem. Die vraag wat gevra moet word, is: Waarom is ‘n derdetaal-Afrikaansspreker en daarby ‘n Engelsdosent die voorsitter van die ATM-raad? Die antwoord is: Omdat die ANC se Departement van Kuns en Kultuur hom aangestel het en hy polities en etnies aanvaarbaar is; asof daar nie dosyne Afrikaanssprekendes is wat suiwer vakkundig meer geskik is om hierdie funksie te vervul nie. Daar word beweer dat “alle raadsake in Afrikaans gevoer word,” wat (sover ek weet) nie die volle waarheid is nie. Die tragedie is dat selfs die vanselfsprekende status vir Afrikaans as ATM-voertaal nie meer vanselfsprekend in die ATM-raad is nie.

Ek het voorheen (31.08.2014) sterk beswaar geopper teen die misleidende inligtingspanele wat in die besoekersentrum uitgestal is. Die goeie nuus is dat hulle verwyder is. Soos gesien kan word op minstens een van die foto’s waarna in die vorige paragraaf verwys is, is ‘n nuwe permanente uitstalling in wording. Hierdie inligtingspanele word deur die ATM geskep. Die enkele panele wat reeds uitgestal word, vertoon egter dieselfde neiging tot ANC-politieke gedienstigheid as die voriges. Daar is bv reeds ‘n aanhaling van Nelson Mandela, asook een van Mathews Phosa. Dan is daar die skynbaar onvermybare foto van Mandela, ‘n relaas oor die Soweto-opstand in 1976 en ‘n verwysing na Ingrid Jonker se gedig “Die kind”. Dít is klaarblyklik prioriteitsake vir die ATM. Daar is nog geen verwysing na enige blanke wat ‘n beduidende bydrae tot Afrikaans gelewer het nie. Die ATM sou verkies dat Sneeuwitjie swart moet wees. In die eerste paneel is daar ‘n steurende taalfout: “as sulks” pleks van “as sodanig”.

PUK se vise-kanselier moedig belhamels aan om te veg teen Afrikaans

‘n Klag van aanhitsing tot geweld is by die polisie ingedien teen die swart vise-kanselier van die Noordwes Universiteit

Dan Kgwadi het glo aan studente tydens ‘n openbare vergadering gesê om te veg.

Die universiteit sê sy woorde “Ek moedig julle aan om te veg” [I’m encouraging you to fight] is verkeerd geïnterpreteer.

Kgwadi het Dinsdag met studente van die Reform PUK vergader.

Die woordvoerder vir Afriforum Jeug, Ian Cameron beweer Kgwadi het studente aangemoedig om te veg, nadat hulle blykbaar geëis het dat daar weggedoen word met Afrikaans en ‘n standbeeld op die Potchefstroom-kampus.

Cameron sê Kgwadi se politieke agenda veroorsaak rassespanning op die kampus.

Kgwadi se woordvoerder, Johannes Froneman sê dit is onverantwoordelik om Kgwadi se woorde te interpreteer as aanmoediging om geweld te pleeg.

Die universiteit sê Kgwadi het studente aangemoedig om standpunt in te neem, met mekaar te praat en te probeer verstaan, en hul vir geregtigheid te beywer.

Volgens Froneman is Kgwadi hoegenaamd nie onpartydig nie want hy is teen die reste van “ou en nuwe apartheid” omdat hy “inklusiwiteit en maatskaplike geregtigheid” wil bevorder.

Reform PUK betoog teen Afrikaans

Nagenoeg 150 studente het op die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit het Dinsdag betoog om ‘n memorandum van griewe aan die universiteitsbestuur te oorhandig.

Reform PUK, wat die belange van swart studente wil bevorder, het egter gesê dat indien hul klagtes nie aandag kry nie, hulle die kampus onregeerbaar sal maak.

Hul klagtes sluit onder meer die gebruik van tolkdienste in, wat hulle meen ondoeltreffend is en swart studente uitsonder as buitestaanders.

Volgens verteenwoordiger Ignatius Mokhatle skep die gebruik van Afrikaans as onderrigtaal ‘n versperring wat verhoed dat swart studente aan die kampus kan of wil studeer.

Visekanselier Dan Kgwadi het ingestem om binne die volgende sewe dae terugvoer te gee.

ANC stoom voort met verengelsingsplan vir skole

Voorstelle ter beperking van die magte van skoolbeheerliggame is glo deel van ‘n voorgestelde wysigingswetsontwerp van die departement van Basiese Onderwys.

Die departement wil inmeng met die aanstelling van die bestuur en skoolhoofde, en wil skole dwing om Engels as die taal van onderrig te aanvaar.

Dié maatreël is in die besonder gemik teen Afrikaanse skole.

Een van die besluite wat geneem is deur die ANC by sy nasionale algemene raadsvergadering die afgelope naweek was om die magte van skoolbeheerliggame in te perk.

Die Federasie van Beheerliggame van SA Skole se voorsitter Paul Colditz het gesê hy ondersteun meertaligheid.

Colditz het gesê Fedsas is bereid om te werk met die voorstel van onderrig in meer as een taal vir skole.

Fedsas het egter in Mei vanjaar ‘n dringende aansoek gebring teen die Gautengse departement van onderwys om gesentraliseerde opnames te stop vir 2016 en sy plan om enkelmediumskole in parallel-medium te omskep, in die wiele gery.

Regter Gregory Wright het beslis dat skole geregtig is om waglyste vir leerlinge op te stel asook hul eie toelating en taalbeleid te bepaal.

“Ons moet veeltaligheid bevorder. Maar, as daar ‘n opdrag vir ‘n ander taal van onderrig is, moet die staat die nodige hulpbronne daarvoor bewillig,” het Colditz gesê.

Matakanye Matakanya, die sekretaris-generaal van die Nasionale Vereniging van Skoolbeheerliggame, het die voorstel oor Engels in Afrikaanse skole verwelkom.

“Dit is regtig ‘n probleem. As jy daardie tipe skool [enkelmedium] in die nuwe Suid-Afrika het, weerspieël jy nog steeds apartheid,” het hy aan News24 gesê.

‘n Ouer wat valse verklarings maak om kinders in ‘n spesifieke skool te kry, kan ses maande se tronkstraf in die gesig staar, volgens nog ‘n voorgestelde wetsontwerp deur die departement van Basiese Onderwys.

Colditz het aan News24 gesê hy ondersteun die voorstel, wat hy reeds bespreek het met die minister van Basiese Onderwys Angie Motshekga.

Brief: Universiteit Stellenbosch as akademiese onderneming

Op LitNet is die debat oor die Universiteit Stellenbosch (US) tot dusver hoofsaaklik in Engels gevoer. Ek vind dit eienaardig, nie net omdat LitNet hoofsaalik Afrikaanse teks publiseer nie, maar ook omdat gepoog word om die lot van ‘n eens voortreflike Afrikaanse universiteit met propaganda in veral Engels te beïnvloed. Dié propaganda word by uitstek deur ANC-politiek gemotiveer en by name kommunistiese kenmerke, soos dat wat is, omvorm of verander moet word. Dít is per slot van sake die kernbetekenis van “transformsasie”, te wete verandering, wat nie noodwendig verbetering is nie.

Ek het geen begeerte om uitgaande van ‘n dogmatiese standpunt, soos ANC-afrikanisering of kommunisme, aan ‘n propaganda-oorlog deel te neem nie. Wat ek gaan doen, is om die akademiese wese van die universiteit as uitgangspunt te gebruik en op grond daarvan my standpunt eerder te stel as te propageer. ‘n Universiteit is veronderstel om ‘n plek te wees waar die vrye uitwisseling van idees nie net moontlik is nie, ook nie bloot toelaatbaar is nie, maar inderdaad aangemoedig en gekoester word. Dit word akademiese vryheid genoem. Die ideaal is dat ingeligte menings ewewigtig gestel word, wat veronderstel dat diegene wat aan debatte deelneem oor grondige kennis en insig beskik.

Dit impliseer op sy beurt dat dit onwaarskynlik is dat bv eerstejaarstudente groot waarhede in pag het; des te meer as sulke studente vanweë hulle agtergrond nie eens eerstehandse ondervinding van ‘n behoorlik funksionerende skool het nie, wat nog te sê van ‘n universiteit. Hoewel enige student toegelaat kan word om sy mening te lug, behoort geen verantwoordelike akademikus sonder meer aan eise uit hierdie oord toe te gee nie; om die eenvoudige rede dat sulke studente nie ‘n benul het van wat ‘n universiteit veronderstel is om te wees nie. ‘n Student wat akademies ingestel is, gaan na ‘n universiteit om te studeer, om inligting tot kennis te verwerk en insig te verwerf; nie om die inrigting in die ANC-/kommunistiese tradisie met slagspreuke, optogte, onrusstoking en eise te verander nie.

Vrye meningsvorming en -uiting as die grondslag van ‘n universiteit noodsaak die grootste moontlike onafhanklikheid van die inrigting. Dit word universitêre outonomie genoem. ‘n Universiteit kan nie na behore funksioneer as hy finansieel afhanklik van regeringsubsidiëring is én bv die betrokke minister hom aanmatig om voor te skryf hoedanig die universiteit ingevolge regeringspolitiek moet wees nie. Die universiteit moet vry wees om oor studentetoelating, maniere van onderrig, onderrigtaal, akademiese standaarde, kulturele oriëntasie, ens, te besluit. Wat kultuur betref, is daar talle verdienstelike universiteite wat ‘n bepaalde land of groep se kultuur bevorder, of selfs ‘n ideologie, bv religieuse oriëntasie. Dit is nie taboe nie, mits dit binne redelike perke geskied en rasionele, kritiese en wetenskaplike besinning nie weens dogmatisme aan bande gelê word nie. Ideologieë soos kommunisme en fundamentalistiese Islamitiese religie, wat fanaties op wêreldwye uitbreiding en die uitroeiing van (alle) ander menings ingestel is, is anti-akademiese verskynsels wat nie bevorderlik vir vrye akademiese bedrywighede is nie.

Die akademiese ideaal is dat die verskillende ideologiese (politieke en religieuse) standpunte wat vryelik op ‘n kampus gestel word gesamentlik op die ideologiese neutraliteit van die universiteit dui. ‘n Universiteit wat aan bv ANC-verslaafdheid ly, is net so onaanvaarbaar as een wat deur NP-gedienstigheid gekenmerk is. In die vorige eeu is die sogenaamde gewetensklosule aan die universiteite te Bloemfontein en Potchefstroom toegepas. Daarvolgens is vereis dat dosente belydende christene moet wees. Dit was ‘n ideologiese korset wat indruis teen die akademiese wese van die universiteit. Daar is selfs verder gegaan deur ‘n verpligte eerstejaarskursus in ‘n christelik-nasionale lewens- en wêreldbeskouing vir alle studente in te stel. Op Potchefstroom is dit die “studium generale” genoem; ‘n ernstig skeefgetrekte misbruik van ‘n Middeleeuse frase. [LitNet kan dit gerus oorweeg om my skrywe, gepubliseer op 4 Februarie verlede jaar, te herpubliseer as deel van die huidige US-debat. Die teks is geskryf na aanleiding van Miriam Joseph se boek, The Trivium (1937/2002), en werp lig op die oorsprong en wesenlike aard van die universiteitsverskynsel; iets waaroor daar groot onkunde bestaan, ongelukkig ook by baie van diegene wat leidende posisies in die hedendaagse plaaslike universiteitswese beklee.] As bv ‘n rektor oor hierdie agtergrondskennis beskik en die nodige akademiese insig het, sal hy nie as deel van transformasie ‘n verpligte, ideologie-gelaaide eerstejaarskursus vir alle studente instel nie. Dit kom immers neer op die gedwonge indoktrinasie van alle inkomende studente, wat indruis teen die universiteitsideaal van ideologiese neutraliteit. Maar so ‘n kursus is sekerlik iets wat deur anti-akademiese kamerade in die ANC-alliansie verwelkom word. Die Universiteit Vrystaat het reeds so ‘n verpligte indoktrinasiekursus ingestel en die Universiteit Stellenbosch het aangekondig dat hy hierdie akademies dwase voorbeeld gaan navolg.

‘n Universiteit moet hom nie laat afgedreig met die terughouding van owerheidsubsidiëring deur bv ‘n kommunistiese minister van hoër onderwys nie. ‘n Universiteit is nie daar om ‘n bepaalde ideologie dogmaties te bevorder of enige politieke party se beleid uit te voer nie. ‘n Universiteit kan en behoort die reg op te eis om self oor bv sy onderrigtaal en kulturele oriëntasie te besluit. Voorbeelde van sulke universiteite word dwarsoor die wêreld aangetref. Sou ‘n regering begeer dat ‘n universiteit bv ook in ‘n ander taal onderrig verskaf, is dit vir die universiteit om die meriete van die versoek te oorweeg en indien hy instem, kan en behoort voldoende addisionele subsidiëring, om die addisionele koste te bestry, as ‘n ononderhandelbare voorwaarde gestel en vooraf beding te word.

Daar is niks inherent boos aan ‘n nie-Engelse, bv Afrikaanse, universiteit nie. Die enigste akademiese vereiste vir ‘n universitêre onderrigtaal is dat dit ‘n vaktaal moet wees en Afrikaans beskik in uitnemende en bewese mate oor daardie hoër funksies. Enige onderrigtaal kan sekere studente uitsluit. Vir ‘n student is die aangewese weg om ‘n universiteit te soek wat onderrig verskaf in die taal wat hy verkies, met as alternatief om die betrokke taal aan te leer. Ek vind dit ironies dat van die (swart) studente, wat die ANC-regering na Kuba vir mediese onderrig stuur, verwag word om Spaans te leer voordat hulle onderrig kan ontvang. In Suid-Afrika verseg swart studente egter om Afrikaans, wat vir baie van hulle nie so ‘n vreemde taal soos Spaans is nie, te leer. Die uitgangspunt is dat die plaaslike universiteite (en nie die studente nie) moet aanpas of verander. Die studente word in hulle onredelike houding deur die ANC-regering gesteun. Dit word om politieke redes gedoen. Die ANC gee voorkeur aan die koloniale taal Engels, onder meer onder die voorwendsel dat dit nasiebou en sy beleid van gelyk- en eendersmaking bevorder. Die hedendaagse mode is dat op ooreenkomste by mense gefokus en verskille geïgnoreer word. In werklikheid verskil mense individueel en groepsgewys; insluitende in akademiese vermoë. Byvoorbeeld, in die VSA word tans algemeen aanvaar dat Asiate (bv Indiërs, Japannese, Chinese) akademies beter as enige ander etniese groep presteer.

Voorgraadse studente is oorwegend jeugdiges. Op die universiteitskampus ervaar baie van hulle die eerste keer vryheid van ouerlike gesag en geen skooltoesig nie. As hierdie nuutgevonde vryheid nie doeltreffend met behulp van reëls en regulasies gekanaliseer word nie, kan dit lewenslange nadelige gevolge vir die studente en chaotiese implikasies vir die universiteit inhou. Daarom word daar bv verwag dat studente-organisasies om erkenning by die universiteitsowerheid aansoek doen en vooraf goedkeuring moet kry vir aksies wat op die kampus geloods word. Dit is gewoon dwaas as ‘n universiteit sou toelaat dat ‘n nie-geregistreerde organisasie sy gesag uitdaag en sonder vooraf goedkeuring maak soos hy wil; des te meer as dosente aan die opstoking meedoen. Dié situasie word vererger as die universiteit desnieteenstaande (glad te) geredelik toegee aan eise wat uit so ‘n oord kom.

‘n Universiteit in toegeemodus bevind hom in ‘n glysituasie. Iedere toegewing lei tot eise vir nog toegewings. Dié eise neig om eerder radikaler en onredeliker as redeliker te word. Die motief is om sake tot die punt te dryf waar die universiteit ‘n streep in die sand trek. Dan word chaos en geweld as regverdigbare opsies beskou. Wat van meet af aan nodig was, was om te verseker dat al die studente die reëls en regulasie nakom; dus om rammetjie-uitnekneigings in die kiem te smoor. As dit nie slaag nie, moet tugstappe volg. Dit is bekend dat van die belhamels universiteitsbeurse ontvang. Omdat beurstoekennings, soos tewens ook universitêre studie, ‘n voorreg is wat ‘n minderheid mense beskore is, kan en behoort die finansiële ondersteuning van ontwrigtende elemente sonder gewetenswroeging onttrek te word en hertoelating kan, indien nodig, ook geweier word. Die universiteit moet nie toelaat dat die oorgrote meerderheid studente deur ‘n klein groepie onrusstokers en oproermakers verontrief en die universiteitsowerheid weens ruggraatloosheid gyselaar gehou word nie.

Deel van universitêre outonomie is dat die universiteit self besluit hoeveel studente hy kan of wil akkommodeer. Dit sou dwaas wees as ‘n universiteit in ‘n plek soos Stellenbosch sou toegee aan ‘n regeringsversoek dat hy onbepaald en daarby eksponensieel moet uitbrei. ‘n Faktor wat ‘n universiteit in sy outonomie sterk, is dat geen stemgeregtigde owerheidsverteenwoordiging in sy raad toegelaat word nie. Waarnemers sonder stemreg behoort in afdoende mate oor owerheidsbelange te kan waak. As daar reeds raadslede is wat deur die betrokke minister benoem is, is die akademiese ideaal dat hulle getal tot nul verminder word; sekerlik nie dat hulle meer word en politieke owerheidsbeheer oor die universiteit gevolglik toeneem nie. ‘n Universiteit se besluite moet deur akademiese (nie politieke nie) oorwegings bepaal word.

‘n Egte universiteit laat hom by studentetoelating deur die bewese akademiese prestasie van applikante lei; nie deur bv ras- of geslagsoorwegings nie. Ook nie deur die beweerde potensiaal van aansoekers nie, want potensiaal word dikwels nie verwerklik nie. By studiebeurstoekennings behoort naas bewese akademiese verdienste die finansiële situasie van applikante in ag neem te word. Die resultaat behoort ‘n studentebevolking van hoë gehalte te wees wat nie die demografie (‘n nie-akademiese, politieke norm) weerspieël nie, maar wat stukrag aan die stel van optimale akademiese standaarde gee. Remediërende onderrig sal dan oorbodig wees of tot die minimum beperk kan word. Van ‘n universiteit kan daar nie met reg verwag word om op tersiêre vlak reg te stel wat die staat weens ondoeltreffendheid op skoolvlak verbrou nie.

Insgelyks is dit onbillik om aan universiteite, naas die tradisionele funksies van navorsing en onderrig, ‘n derde funksie, naamlik gemeenskapsdiens, op te dring, waardeur van die universiteit verwag word om op daardie terrein te doen wat die staat weens onvermoë versuim om te doen. In die nuwe Suid-Afrika word, anders as voorheen, male sonder tal beweer dat die private sektor met dit of dat moet help, dat die staat dit nie alleen kan vermag nie. Dit kom neer op meer as ‘n erkenning van ondoeltreffende regering. Onderliggend is die kommunistiese veronderstelling dat die inwoners eintlik aan die staat behoort. Daarom word bv al hoe meer ‘n jaar of twee lank op graduandi beslag gelê om verpligte gemeenskapsdiens te doen.

Ter onderskraging van akademiese gehalte behoort die owerheidsubsidie nie beïnvloed te word deur die getal studente wat hulle leergange suksesvol voltooi nie omdat dit die deurlating van substandaardstudente bevorder. ‘n Student wat studeer net om ‘n formele kwalifikasie te verwerf en daarna ‘n werk te kry, is ‘n ongewenste element op die kampus. ‘n Student moet studeer om kennis en insig vir sy eie geestelike vorming en verryking te verwerf. Hy hoef sy akademiese ervaring nie noodwendig ten bate van die samelewing aan te wend nie. ‘n Mens, insluitende ‘n student, mag ‘n enkeling of individu wees. Hy hoef nie ‘n sosiale wese of gemeenskapsmens te wees nie. ‘n Student wat ter geestelike selfverryking studeer, het die reg op universitêre studie, hoewel hy nie noodwendig op ‘n studiebeurs aanspraak kan maak nie. Die huidige oorbeklemtoning van diensbaarheid aan die gemeenskap het ‘n kommunistiese geurtjie. In die meeste gevalle sal studente hulle akademiese arbeid egter gebruik om die nodige bekwaamheid vir werk te bekom en nie om reeds as student die universiteit of die land of die wêreld te verander nie. So ‘n student sal ‘n student wees, dus ‘n studerende mens en nie ‘n opneuker of kroegvlieg nie.

Uitnemende universitêre onderrig vereis dat die beste dosente en navorsers ingevolge suiwer akademiese vereistes aangestel en bevorder word. Daar kan en behoort uiteraard geen ruimte vir bv ras- en geslagskwotas te wees nie. Enige universiteit wat erns met suiwer akademiese oorwegings maak, word gekenmerk deur akademici wat glad nie die etniese of geslagsdemografie van die land weerspieël nie, om die eenvoudige rede dat akademiese oorwegings die deurslaggewende rol speel en nie bv die politieke mode van die oomblik nie.

Daar is nog ‘n kenmerk van die huidige US wat my bekommer. Feitlik net Open Stellenbosch stel pro-aktief ‘n standpunt. Daarna volg die US-bestuur se reaktiewe stellinginname, wat grootliks sy seën oor daardie nie-akademies gefundeerde radikaliteit uitspreek, bv dat die US voortaan nie meer Afrikaans gaan beskerm nie. Daar is geen fundamentele openbare besinning oor wat ‘n universiteit veronderstel is om te wees nie. Oor die potensieel gevaarlike aard van ideologie, bv kommunisme, word geswyg. Die geskiedenis van die universiteitswese word nie belig nie. Die ooreenkomste en verskille, die akademiese voor- en nadele, van die ou en die nuwe US word nie opgeweeg nie. Gesprekvoering oor die plek en toekoms van Afrikaners en Afrikaans word vermy. Die US-webwerf dra, met die seën van die US-bestuur, (feitlik) uitsluitlik linkse en grootliks pro-ANC-propaganda. Die Adam Tas-vereniging en Solidariteit maak soms sagte geluide, maar die strekking neig om te toegeeflik te wees, veral in vergelyking met die anti-akademiese boosheid wat die US tot in sy akademiese kern bedreig.

Johannes Comestor

Leon Lemmer: Danny Titus help die Afrikaanse Taalraad om Afrikaans skeef voor te stel

Die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) was in die vorige eeu, dus van huis uit sedert sy stigting in 1930, ‘n Afrikanervereniging en daarby spesifiek vir christene. Die Afrikaans wat voorgestaan en aktief bevorder is, was Standaardafrikaans. In die nuwe Suid-Afrika is die ATKV egter getransformeer van ‘n Afrikaner- na eerder ‘n Afrikaanse vereniging; eintlik ‘n vereniging vir Afrikaanses, met die klem op die Afrikaanssprekendes wat nuut bygekom het. Dit het die weg vir iemand soos Danny Titus gebaan om as kultuurhoof van die ATKV aangestel te word, al is hy as ANC-meeloper en deeltydse menseregtekommissaris skepties oor, of afsydig van, Afrikaners. Die punt is: Daar is ‘n onmiskenbare etnies-kulturele kloof tussen Titus en Afrikaners.

Die situasies waarin Titus hom as ATKV-kultuurhoof laat geld, is wanneer die stert die hond swaai, dus wanneer die rol van die nuut bygesleepte Afrikaanses oorbeklemtoon en die tradisionele Afrikanersektor (grootliks) geïgnoreer word en die Afrikaanses hulle nuut gevonde vryheid moedswillig en eensydig (dus teen die geskiedenis en feite in) vier. In daardie milieu word eerstens Standaardafrikaans, tweedens Afrikaners as gesonde kulturele Afrikaanskern en derdens die werklike groot geeste van Afrikaans (bv taalkundiges, letterkundiges, historici, kultuurleiers, politici) almal doelbewus verswyg en by implikasie geminag. Hierdie ignorering spreek uit Titus se skrywe (Die Burger, 6 deser, p 10), gepubliseer onder die opskrif: “Vars lug waai oor Afrikaans”; dus: Weg is die Afrikanerbedompigheid van Afrikaans, oftewel: Nou gaan ons lekker loslit aanneuk met die mengeltaal Kaaps (met sy onbeperkte Engelse bagasie) en Standaardafrikaans soveel moontlik diskrediteer.

Titus skryf oor die Afrikaanse Taalraad (ATR) se Erfenisdagberaad wat op 24 September in Kaapstad gehou is. Let op watter mense Titus uitlig of by die naam noem. “Tony Ehrenreich was deel van die Afrikaanse stemme.” Afgesien van die politieke opsweping waaraan Ehrenreich hom dikwels skuldig maak, gebruik hy ‘n mengsel van Afrikaans en Engels wanneer hy “Afrikaans” praat. Titus opper nie beswaar teen so ‘n kwalitatief gebrekkige “Afrikaanse” stem nie. Seker omdat Ehrenreich se politiek guns in sy oë vind.

Daarna noem Titus die name van Lynette Francis, Steward van Wyk en Open Stellenbosch (OS), wat aan Van Wyk die geleentheid bied om aan te voer dat die beweerde uitsluiting weens Afrikaans waaroor OS kla, verband hou met (of soortgelyk is aan) die 1976-skole-opstand. Die skurke in albei verhale is Afrikaners. “Van Wyk sê Afrikaans moet vennootskappe met ander tale sluit … Ons moet Afrikaans ‘n vriendelike taal maak.” Anne-Marie Beukes, die voorsitster van die ATR, het redelik onlangs ook klem op vriendelike Afrikaans gelê (Praag 24 Augustus); dus nie ‘n bedompige, kwalitatief respekteerbare taal wat aan voorgeskrewe norme voldoen nie. ‘n Lekker opneukers-Afrikaans dus, soos Kaaps, wat onbeperk Engels-vriendelik is. Dit is waarom dit ‘n onbegonne taak is om die woordeskat van Kaaps te standaardiseer: enige Engelse woord is werklik of potensieel ‘n Kaapswoord.

Dan gebeur die verwagte, wat die status van die onvermydelike in die nuwe Suid-Afrika geniet: verwysings na die slawe, die Bo-Kaap en Distrik Ses, asof hierdie drie randeiers die noodsaaklike kern van enige gesprek oor Afrikaans moet wees. Wat van die Afrikaans wat in die middestad van Kaapstad en in sy blanke woonbuurte en aan bv die Oosgrens gepraat is (en van daar danksy die Groot Trek dwarsoor Suid-Afrika en selfs na ander lande, bv Namibië, Zimbabwe en Kenia, versprei is) en die Stellenbosch van weleer wat dikwels die bakermat van Afrikaans genoem is en die Paarl met sy Genootskap van Regte Afrikaners? Pleks daarvan skryf Titus oor ‘n Moslem, Fatima Allie, en die kos van die Bo-Kaap.

Maar Titus is nie die enigste wat die juk van eensydigheid dra nie: “Ons moet werk aan versoening deur Afrikaans, sê ‘n Potchefstroomse professor. [Dit klink vir my soos Wannie Carstens.] Hy vertel hoe hy die oggend by Distrik 6 verbygery en dit as ‘n skandvlek van Afrikaans beleef het.” Dié professor kan gerus verduidelik hoe Afrikaans die groepsgebiedewet veroorsaak het. Daar is algemene eerstemmigheid dat Distrik Ses ‘n krotbuurt en ‘n misdaadnes was. Verval kan dwarsoor die wêreld in middestede voorkom en daardie gebiede word dan na owerheidsingryping vernuwe. So ‘n proses hoef niks met apartheid te make te hê nie. In die geval van Distrik Ses was een van die deurslaggewende oorwegings dat die krotte in die pad van voorgestelde snelweë was. Die Bo-Kaap was nie in die pad nie en ook nie so vervalle nie en het dus behoue gebly.

Die “skandvlek” Distrik Ses is dus opgeruim, maar glad nie sonder deernis van die owerheid nie. Beter huisvesting is elders teen billike voorwaardes voorsien. Die meeste inwoners van Distrik Ses was in elk geval huurders. Daar was in hulle geval dus geen opsegging van erflatings nie. Vergelyk dit met blanke boere wat geslagte lank op plase woon. As hulle nie voortydig uitgemoor word nie, kan hulle plase (wat gekoop of as erflating bekom is en van niemand gesteel is nie) deur die owerheid sonder realistiese vergoeding onteien word. Ek vind die opmerkings wat aan ‘n anonieme Potchefstroomse professor toegedig is hoogs skandalig. Die blankes, veral Afrikaners, word tot vervelens toe oor Distrik Ses verwyt. My standpunt is dat as die Distrik Ses-verskuiwings die ergste is waaroor bv bruines kan kla, het hulle in historiese en wêreldperspektief bitter min om oor te kla. Hoeveel keer het ANC-kamerade al verontwaardiging oor plaasmoorde uitgespreek en om verskoning gevra? Het die Potchefstroomse professor en Titus al hierdie moorde skandvlekke genoem?

Titus verwys ook na ‘n Xhosa en ‘n Namibiër, asook na Farid Esack en Debra Meyer. Wat hulle, naas Afrikaanssprekendheid, gemeen het, is dat hulle almal nie-wit is. “Die ander African-Afrikaanssprekers is so verfrissend om na te luister. Maak die tonge los, sê Mathews Phosa,” ‘n ANC-“vryheidsvegter”. In Titus se weergawe van hierdie ATR-beraad word nie ‘n enkele naam van ‘n Afrikaner of blanke genoem wat werklik in en vir Afrikaans saak maak nie. Vir my lyk my beskuldiging van eensydigheid by Titus en by die ATR dus geregverdig. Titus en die ATR kyk nie werklik na “die vele gesigte en stemme van Afrikaans” nie. Polities korrek kyk hulle hoofsaaklik na die nie-wit sektor. Daarmee word die histories en kwalitatief belangrikste Afrikaanse kultuurgroep, die Afrikaners, ‘n onreg aangedoen.

Dan Roodt: Eurokaner en kreool

PRAAG was vyftien tot twintig jaar gelede ‘n stem roepende in die woestyn sover dit die taalkwessie aanbetref. Deesdae word daar meer oor die lot van Afrikaans, veral aan universiteite, geskryf, maar het ons werklik vordering gemaak? Eerder as wat dit verflou het, het die argument vir volslae verengelsing toegeneem. Soos ek onlangs aangedui het, is daar selfs Afrikaners soos Gita du Toit wat dit deesdae bepleit dat Afrikaans heeltemal uit die akademie en uit die opvoedingstelsel geweer word.

Benewens hierdie anglofiele of anglosentriste, is daar ‘n tweede groep wat Afrikaans nie noodwendig wil verbied of uitsluit nie, maar die taal van binne af wil rysmier deur dit as ‘n “kreool” voor te stel. Die skrywers Antjie Krog en André P. Brink het al by verskeie geleenthede bepleit dat Afrikaans en Engels “gemeng” moet word sodat ‘n nuwe mengeltaal of kreool daaruit kan ontstaan. Deel van die marxistiese “revisionisme” wat in Suid-Afrika aan die gang is, behels dat nie net die geskiedenis nie, maar ook ons taalgeskiedenis en ons identiteit hersien moet word. In sommige kringe, veral onder akademici en die omroepers van RSG, het die woord “Afrikaner” ‘n vloekwoord geword. In 1994 is die Afrikaner afgeskaf, is min of meer hul redenasie.

Meer grondliggend egter, gaan dit om ‘n kultuurkonflik in die land tussen Afrika en Europa wat reeds eeue lank duur. Vandaar dus die term “Eurokaner” wat ek gebruik om ‘n bepaalde tipe Afrikaner te definieer wie se taal (Standaardafrikaans), kultuur, identiteit en selfs sy fisieke voortbestaan vandag onder beleg verkeer. Iewers het ek die huidige bestel die “Derde Britse Besetting” genoem; inderdaad word ons beset en word Engels en politieke korrektheid op alle gebiede op ons afgedwing.

Benewens die kultuurkonflik tussen Afrika en Europa in ons land, spreek ‘n ander kultuurbotsing sterk uit ons geskiedenis: dié tussen Nederland en Engeland, wat later die botsing tussen Boer en Brit tydens die negentiende en twintigste eeue geword het. Die sogenaamde “anti-apartheidstryd” het nie primêr om beleid of selfs rassepolitiek gegaan nie, maar om die Afrikaner vir altyd van alle seggenskap of beskikking oor sy eie lot te beroof. Ook binne Afrikanergeledere self het die jingo, of die Engelsgesinde, die oorhand oor ons verkry en word die Europeesgesinde Afrikaner, of Eurokaner, vandag gejag, uitgesluit, gesensureer en verguis.

Immers is die Kasteel in die Kaap nie oorspronklik gebou om ons teen die Hottentotte of ander inboorlinge te beskerm nie, maar teen die Engelse. Hendrik Potgieter wou so ver moontlik die binneland intrek omdat hy van die see af wou wegkom, want so het hy gesê, “waar die see is, is altyd Engelse”. Helaas het ons nie daarin geslaag om van Engelse weg te kom nie. Vandag, in dié provinsie, word al die Afrikaanse skole beheer deur ‘n Engelse dame, mev. Barbary Creecy en haar marionet, ene Panyaza Lesufi. Mev. Creecy is ‘n produk van die Johannesburgse privaatskool Roedean, asook die Universiteit van die Witwatersrand, waar Boerehaat by tye tot ‘n kultus verhef is.

In die naam van “demokrasie” word ons – dis die toppunt van ironie – alle seggenskap oor ons eie sake, ons onderwys, kultuur, selfs ons taal, biblioteke, kunsversamelings, simbole en monumente, ontsê. Indien ons deur ‘n outokratiese Britse monarg geregeer sou gewees het, sou ons waarskynlik beter daaraan toe gewees het.

As ons kyk na die argumente wat vandag teen Afrikaans – ook toenemend binne die taal self – gevoer word, dan is dit helder dat sowel Standaardafrikaans as die Afrikaner moet verdwyn. Daarmee sal alle Europese invloed wat vanaf 1652 en die koms van Nederlanders, Duitsers en Franse na ons land geduur het, insgelyks wegraak. Dis miskien iets wat die meeste van ons mense nie verstaan nie: Boerehaat beteken op sy minste ook ‘n renons en ‘n wrewel in Europa, veral Noordwes-Europa en daardie lande van waar ons voorouers afkomstig is. Die vergoddeliking van Engels en van die swartman – en veral die “swart Engelsman” soos Nelson Mandela na hom in sy outobiografie verwys – onderlê ‘n afkeer van beide Afrikanerskap en Europeërwees:

The principal of Healdtown was Dr. Arthur Wellington, a stout and stuffy Englishman who boasted of his connection to the Duke of Wellington. At the outset of assemblies, Dr. Wellington would walk onstage and say, in his deep bass voice, “I am the descendant of the great Duke of Wellington, aristocrat, statesman, and general, who crushed the Frenchman Napoleon at Waterloo and thereby saved civilization for Europe — and for you, the natives.” At this, we would all enthusiastically applaud, each of us profoundly grateful that a descendant of the great Duke of Wellington would take the trouble to educate natives such as ourselves. The educated Englishman was our model; what we aspired to be were “black Englishmen,” as we were sometimes derisively called. We were taught — and believed — that the best ideas were English ideas, the best government was English government, and the best men were Englishmen. (Mandela, Long walk to freedom, hoofstuk 6.)

Die “dr. Wellington” waarna Mandela hier verwys, was skoolhoof van ‘n sendingskool in die Oos-Kaap; in sulke skole is die swart elite gebreinspoel om sowel Boerehaat as Eurofobie te omhels. Vandaar dus die toestand van byna universele chauvinisme en anti-Westerse, anti-Afrikaanse fanatisme wat in Suid-Afrika heers. So ‘n houding is oor baie jare en op verskillende maniere – deur die sendingskole, die pers en ander massamedia – by die bevolking ingeprent.

‘n Student van Tukkies het ‘n klompie jare gelede vir my sy ervaring verwoord deur te sê: “Jy mag nie té Afrikaans wees nie.” Net so mag ‘n mens in Suid-Afrika nie té Europees wees nie. Jy mag nie te veel van Franse boeke of Vlaamse skilders of Duitse filosowe of Skandinawiese ontwerp hou nie, dan bring dit jou in botsing met die stelsel. En tog is dít wat Afrikaners, veral intellektuele Afrikaners, tot onlangs toe hartstogtelik begeer het: om Europeërs te wees. Veral “goeie Europeërs” in die sin waarin Nietzsche en soveel ander dit gebruik het, om ‘n opgevoede, kosmopolitiese, veeltalige Westerling te wees.

Die negentiende eeu was oor die algemeen ‘n verskriklike tydvak in Suid-Afrika. Nie net is daar massamoorde op die Voortrekkers gepleeg nie, maar daar was ook die verskroeide-aardebeleid en die konsentrasiekampe waarin vele van ons voorouers, veral kinders, gesterf het. Omdat Engeland, asook Engelse sendelinge wat altyd met ywer hul Boerehaat onder swartes sou versprei, sinoniem was met hierdie verskrikkinge en gruweldade, selfs misdade teen die mensdom, wat ons beleef het, spreek dit vanself dat ons op verskeie maniere die Vasteland van Europa geïdealiseer het. Min mense het waarskynlik al die aandag daarop gevestig – ten minste weet ek nie van so iemand nie – maar die opkoms van Afrikaans en Afrikanerskap vanaf die laat negentiende eeu het saamgeval met ‘n verkenning van Europese idees, boeke, musiek, vorme, musiek, style en selfs modes. Dit is een van die ironieë en paradokse van Afrikanerskap en die Afrikaanse beweging, dat ons op dieselfde tydstip toe ons kliphard aan ‘n nuwe taal, nuwe identiteit en nuwe volkskap “gewortel in Afrika” gewerk het, ons ons terselfdertyd en toenemend met die Europese Vasteland en veral met ons stamlande vereenselwig het. Dit geld vir Van Wyk Louw en die Dertigers, maar ook die vroeë Sestigers wat juis Parys – en nie Londen nie – as hul intellektuele en artistieke hoofstad aanvaar het.

Iewers tydens die sewentigerjare het daar egter ‘n kentering gekom en sedertdien word Engelse idees, veral ook die ideologie van liberale Amerika, as toonaangewend in Suid-Afrika ervaar. Hoe meer Engels, hoe beter. Dit geld ook die hoeveelheid Engelse woorde wat jy besig as jy Afrikaans praat.

Sowel André P. Brink as Breyten Breytenbach het die grootse kulturele en intellektuele beweging wat Afrikaners tydens die hele twintigste eeu gekenmerk het, verraai. Eers die skrywers, toe die politici. Die De Klerks, Wimpie en FW, was bloot die laastes van ‘n hele trop wat Engels en halfgebakte Engelse linkse idees – noem dit maar die Britse marxisme – geesdriftig aangegryp het.

Nou die dag verneem ek van ‘n seminaar wat vandeesweek by Wits gehou sou word oor die mite van rasvermenging in Mexiko. Dit is ‘n hele interessante onderwerp en tot my spyt kon ek dit nie bywoon nie. Die Spaanse woord vir rasvermenging is mestizaje en dié term maak deel uit van die identiteit van Latyns-Amerika, dermate dat vele akademici dit vandag as ‘n mite beskryf. (Sien ook die artikel: “Mestizaje and the Discourse of National/Cultural Identity in Latin America”, 1845-1959 deur Lourdes Martinez-Echazabal, Latin American Perspectives, Vol. 25, No. 3, Race and National Identity in the Americas (May, 1998), pp. 21-42.)

Só byvoorbeeld het die Kubaanse digter Nicolás Guillén in 1931 verklaar dat “die gees van Kuba mestizo (kleurling) is”. In 1973 het Breyten Breytenbach iets soortgelyks gesê toe hy beweer het:

“Ons is ‘n bastervolk met ‘n bastertaal. Ons aard is basterskap. Dis goed en mooi so. Ons moet kompos wees, ontbindend om wéér in ander vorme te kan bind. Net, ons het in die slagyster getrap van die baster wat aan bewind kom. In daardie gedeelte van ons bloed wat van Europa kom, was die vloek van meerderwaardigheid…” ‘n Seisoen in die paradys, 1976, bl. 123)

Europa word van “die vloek van meerderwaardigheid” beskuldig. Dog enigeen wat deesdae luister na wat gesê word, sal kan getuig dat daar tans ‘n soort meerderwaardigheid van die mezisto of mulat geld. Wyle Chris Louw het reeds ingesien dat die huidige rektor van die Vrystaatse Universiteit, Jonathan Jansen, vas glo dat die kleurling of die rasgemengde “die volk van die toekoms” en daarom ‘n soort uitverkore volk is.

Breyten Breytenbach het hom nooit uitgelaat oor die soort meerderwaardigheid wat dr. Wellington en moontlik ander Metodistepredikante in ons land teenoor Europa voel nie: die “onbeskaafde Franse” teenoor die beskaafde en verhewe Engelse. By Breyten Breytenbach, Antjie Krog en selfs Leopold Scholtz, die seun van G.D. Scholtz wat eens ‘n leidende rol in die Afrikanerbeweging van die twintigste eeu gespeel het, kom mens die idee teë dat mestizaje of métissage of – om dit by sy minder neutrale Afrikaanse naam te noem – “verbastering” vir ons ‘n bestaansvoorwaarde geword het. Met ander woorde, jy mag in Suid-Afrika as “verowerde” goedgunstiglik aanbly solank jy instem “om te meng”. In dié opsig hou ek van die Sweedse term wat algemeen vir “multikulturalisme” gebruik word: mångkultur oftewel “mengkultuur”. Mengkultuur het, nie net in Suid-Afrika nie, maar oral waar Anglo-Amerikaanse invloed sterk is, de rigueur geraak.

Om te sê dat Afrikaans as taal baie naby aan Nederlands staan – trouens, 95% van Afrikaans se woordeskat ís Nederlands! – het byna taboe geword. Taalkundiges van Potchefstroom tot Stellenbosch wedywer met mekaar om ons te oortuig dat Afrikaans eintlik ‘n KhoiSan-taal is. Op ‘n sekere vlak word die Europese en Wes-Germaanse oorsprong van Afrikaans ontken. Voeg daarby die projek om Afrikaans te herstandaardiseer tot Mengels of ‘n “mengtaal”, half Engels, half Afrikaans, en ons kan sien dat dit hier gaan om nie net die hele Afrikaanse beweging van die afgelope anderhalf eeu ongedaan te maak nie, maar ook om die laaste oorblyfselfs van ons Europese identiteit te vernietig. Die invloedryke Britse minister van kolonies, Joseph Chamberlain, het tydens die Tweede Vryheidsoorlog gesê dat hy “die laaste oorblyfselfs van Afrikanerisme in Suid-Afrika wil uitwis”. Hy kon net sowel vandag geleef het, want presies dieselfde beleid geld nog steeds!

Ons sien dus dat die angsvallige pogings om Afrikaans as ‘n “kreoolse taal” voor te stel, Standaardafrikaans af te takel en ‘n nuwe “Mengels” tot stand te bring (dié term is ontleen aan die Kaapse digter Loît Sols), uit die ongewenstheid van Afrikaans se Europese afkoms spruit. Indien Afrikaans ‘n koloniale taal soos Engels, Frans of Portugees was, sou dit vir almal in Suid-Afrika aanvaarbaar gewees het. Die oersonde wat Afrikaners gepleeg het, was egter om hulself as ‘n Westerse-volk-in-Afrika te sien en om ‘n nasionale kultuur na die vastelandse, “nasionalistiese” model na te streef. Kyk na dié beroemde YouTube-video waarin die Amerikaanse-Joodse akademikus, Barbara Lerner Spectre, voorspel dat Swede en die res van Europa ‘n “groot transformasie” na die mengkultuur gaan deurmaak, ‘n transformasie waarin Jode ‘n “leidende rol” gaan speel.

Die Afrikaner staan vandag in die beskuldigdebank, maar saam met ons staan ook die Hongare, die Franse, die Swede, die Dene, die Nederlanders, die Duitsers, die Italianers, die Vlaminge, kortom, elke selfstandige volk wat nog nie deel van die groot Anglo-Amerikaanse mengkultuur geword het nie. Amerika, die mezisto-imperium, bedreig ons almal, selfs die meer behoudende Amerikaner wat sigself aan Europa verwant voel. Die “waansin van ons tyd” is dat die magtige Amerikaanse staat deesdae sy eie burgers – afstammelinge van die Stigters of “Founding Fathers” – as sy vyand beskou, net soos wat die linkse “Afrikaanse” elite in ons land vandag die Afrikaner as ‘n indringer en “ongewenste” beskou.

Onlangs is daar gepraat van “Kaaps” wat groter erkenning moet kry. Daar word selfs daarop aangedring dat “Kaapse” woorde, wat vermoedelik oorwegend ook in die Engelse woordeboek voorkom, in Afrikaanse woordeboeke opgeneem moet word. Asof een vyand in die vorm van Engels en die Engelse staat van Suid-Afrika nie genoeg was nie, het Standaardafrikaans nou ‘n nuwe bygekry: Kaaps en die kreoolse beweging.

Hoe meer dinge verander, hoe meer bly hulle dieselfde. Anders as in 1875, is daar miskien nie meer “Afrikaners met Engelse harte, Hollandse harte en Afrikaanse harte” nie, maar steeds ‘n verdeling tussen verengelste Afrikaners, die kreole en kreoolsgesindes wat Standaardafrikaans wil afbreek, enersyds, en “ware Afrikaners” of Eurokaners andersyds wat ons taal en tradisie byna vanselfsprekend as deel van die groter Europese of Westerse kultuur sien.

Feitlik alle instellings in Suid-Afrika word óf deur Engelgesindes óf deur kreoolsgesindes beset. Die staat, universiteite en hoofstroommedia is reeds van byna alle Afrikaners gesuiwer. Die geledere van “ware Afrikaners” het reeds gekrimp tot enkele honderdduisende, moontlik nie veel meer as Yslanders nie. En tog verteenwoordig hierdie klein groepie alles wat goed en mooi en eg Afrikaans is. Ons praat of skryf nie Mengels nie. Ons is “goeie Europeërs” in die sin dat ons graag deelneem aan klassieke musiek of moderne kunsmusiek, letterkunde, argitektuur, skilderkuns en daardie kritiese gees wat Europa al eeue lank teen elke dogma laat opstaan, ook die eietydse dogma van die mengkultuur. Ons mag geheel en al gemarginaliseer wees in hierdie heropvoering van die Sowjetunie met sy ideologiese voorskrifte en politieke korrektheid, maar vanuit ons huise en studeerkamers en op die internet kan ons steeds die vlam van kritiese denke en verset lewendig hou.

Teenoor “die romantiek van die baster” wat Breyten Breytenbach of sy Kubaanse eweknie Nicolás Guillén verwoord het, staan die grootse tradisie van die Europese Afrikaner of Eurokaner in dié land wat deelagtig in die prestasies van Noord-Europa is. My vrou wys my nou die dag op die ironie van “kombuistaal”, die “kombuis” synde die kajuit op ‘n skip waar voedsel voorberei is. Omdat ons voorouers vanaf Nederland en België se riviere en kanale, maar ook die Oossee tussen Duitsland en die Skandinawiese lande afkomstig was, is Afrikaans tot vandag toe deurdrenk van skeeps- en seeterme – al was Potgieter so desperaat om van die see en van Engelse af weg te kom. Die ossewaens met hul wit seile was die “skepies” waarmee ons die binneland van Afrika binnegevaar het. Inderdaad spreek die “kombuis” van ons pioniersgees en wil om die wêreld te verken. Insgelyks staan dit in die teken van ons beskawing, want tot vandag toe is die kombuis ons trots, daardie vertrek waar die Afrikanervrou met elke Franse sjef kan wedywer as dit by verfynde disse kom.

Daarom ook leef die gees van die Oossee en die kanale in ons voort. Daar is twee woorde wat elke Sweed aanmekaar gebruik: “Presis” (presies) en “trevlig” (voortreflik). Trouens, ‘n Switser wys my ‘n rukkie terug daarop dat daar net twee volkere op aarde is wat so aanmekaar “presies” sê en dis Swede en Afrikaners. Ook die uitspraak is feitlik presies(!) dieselfde. Dis ‘n gewoonte wat ons beslis nie van die KhoiSan oorgeneem het nie. Waarskynlik het dit in Sweeds posgevat omdat almal in die Oosseegebied van 1300 tot 1600 ‘n gemeenskaplike handelstaal of lingua franca gepraat het wat baie naby aan teenswoordige Afrikaans was.

Nou weet u reeds dat Sweeds, ook om ander redes, insgelyks ‘n “kombuistaal” is… Seker dié dat die Nobelprys in Stockholm, die stad wat op veertien eilande gebou is, en met water wat ‘n derde van die stad se oppervlak beslaan, uitgeloof word.

Die keuse wat deur die huidige bestel aan ons opgedring word, is egter helder: dié tussen Eurokaner en kreool.

ANC gekant teen Afrikaans by Maties

Die ANC het sy stem gevoeg by diegene wat gekant is teen, wat hulle noem, die eksklusiewe gebruik van Afrikaans by tersiêre instellings, het RSG berig.

Die voorsitter van die ANC in die Wes-Kaap, Marius Fransman het aan studente van die Universiteit Stellenbosch gesê die taal kan nie gebruik word om ander etniese groepe uit te sluit nie.

Fransman sê hoewel die party die gebruik van Afrikaans sal verdedig, moet dit nie op mense afgedwing word nie.

Fransman sê Afrikaans behoort aan almal en kan nie gebruik word om te verdeel en mense uit te sluit nie. Fransman was ‘n spreker by ‘n lesing oor transformasie op die kampus.

Die ANC sê na 21 jaar van demokrasie is 83 persent van die akademiese personeel en 62 persent van die studente by die universiteit steeds wit.

Die ANC-voorsitter, Baleka Mbete was die hoofspreker by die geleentheid.