Leon Lemmer: Anne-Marie Beukes: ‘n Vriendelike gesig vir Afrikaans?

“Is dit nodig dat ons Engelse woorde in gedigte indra as ons sulke lekker woorde soos beduimeld, smeuïg, adret en liemaak kan gebruik?” Joan Hambridge het hierdie vraag gevra toe sy Ilse Salzwedel se Onvertelde Stories van Afrikaans (Pretoria: LAPA Uitgewers, 2012, 199p) geresenseer het (Die Burger, 15.10.2012, p 13).

Salzwedel se eerste opstel, wat voorheen in De Kat gepubliseer is, handel oor die “swart Afrikaners” van Onverwacht naby Cullinan. Hulle is die nasate van nie-blankes wat in 1857 as werksmense, agterryers en huisbediendes saam met die blanke trekkers in hierdie deel van die Bosveld aangekom het. Sommige van hulle het selfs aan Boerekant in die Anglo-Boere-oorlog geveg. “Ons het nooit moeilikheid gehad met die boere van wat ek ken [kan] onthou nie” (p 15). “Ons het lekker geleef uit die boer se huis” (p 18). Hulle berei en eet steeds boerekos, stook en drink mampoer, speel boeremusiek en doen moeite om te verseker dat hulle kinders skoolonderrig in Afrikaans ontvang. Die grond waarop hulle woon, het hulle gekoop en die huise waarin hulle bly, het hulle self gebou met roustene wat hulle self gemaak het. Dit is ‘n getuigskrif vir die goeie invloed wat van Afrikaners uitgegaan het, maar iets wat deesdae meesal verswyg word.

Murray la Vita het ‘n onderhoud met Anne-Marie Beukes, die voorsitster van die Afrikaanse Taalraad (ATR), gevoer (Die Burger, 21 deser, p 15). Soos gebruiklik is Beukes se invalshoek nie-wittes se Afrikaans. Hierdie keer is dit die “swart Afrikaners” van Onverwacht. Uit alles wat van en oor Beukes as ATR-voorsitster gepubliseer is, blyk hierdie preokkupasie met nie-wittes se Afrikaans. Daardie Afrikaanssprekendes van Onverwacht wek deernis by my, maar ek vra my af: Wat van die blanke Afrikaanssprekendes wat blykbaar nooit in die visier van Beukes en die ATR is nie, of dan in elk geval nie by voorkeur nie? By blankes het die gehalte van Afrikaans die afgelope twee dekades drasties agteruitgegaan. Baie van hulle wend geen poging meer aan om werklik Afrikaans te wees nie. Hulle kinders word in Engels onderrig.

Ek is diep bewus daarvan dat die blanke Springbokrugbyspelers wat oorgebly het en hulle blanke afrigters almal miljoenêrs is en dink dat “die nasie” hulle moet eer. Die “coach” is ‘n belangrike man en die spelers weet hoe om die “game” te speel en soms selfs hoe om te “score”. Maar hoeveel van hulle kan ‘n paar Afrikaanse sinne praat sonder om onnodige Engelse woorde te gebruik? Taalgewys kyk hierdie honger skape na bo maar word nie gevoed nie. Vir die ATR en ander Afrikaansinstansies lê ‘n groot sendingveld hier braak, maar niks word hieromtrent gedoen nie.

Oral is die verval van Afrikaans waarneembaar. Hinder Son-Afrikaans en 7de Laan-Afrikaans nie vir Beukes en die ATR nie? Blykbaar nie, want volgens die ATR is die hoofkenmerk van Afrikaans dat hy uit variëteite bestaan. In ‘n poging om niemand aanstoot te gee nie (maar eintlik deur slegs nie-wittes in ag te neem) en omdat hy oorbewus daarvan is dat die meeste Afrikaanssprekers bruin is, bevorder die ATR eerder ‘n mengeltaal soos Kaaps. Soos by die ANC is die ATR se benadering kwantitatief. Die meerderheid bepaal dus wat as goed beskou word. Daarom word Kaaps vertroetel en geen poging aangewend om die gehalte van Afrikaans te verbeter nie. Hierin kan die kiem van die ondergang van Afrikaans opgesluit lê, want Kaaps bied geen doeltreffende verskansing teen verswelging deur Engels nie.

Beukes se voorkeur vir kwantiteit blyk ook uit haar wens dat “die voetspoor” van Afrikaans vergroot moet word, dus dat meer Afrikaanssprekers gewerf moet word. ‘n Kwalitatiewe norm, soos Standaardafrikaans, word nie in ATR-geledere genoem nie, of sekerlik nie na behore geag nie. Hiervoor is daar eerder ‘n politieke as ‘n taalkundige rede: Standaardafrikaans word as witmens-Afrikaans geëtiketteer, asof dit ‘n diskwalifikasie is. Is blankes in Suid-Afrika en elders in die wêreld nie dalk nog steeds die norm/maatstaf waaraan ander etniese groepe hulle meet en waarna hulle (in sekere opsigte) streef nie? Behoort Standaardafrikaans nie veel eerder deur die ATR en ander Afrikaansinstansies geloof en as norm voorgehou te word waarna ander Afrikaansvariëteitsgebruikers behoort te streef nie?

Dwarsoor die wêreld is die standaardtaal uit variëteite gedistilleer. Uit die eenheid wat ‘n standaardtaal bewerkstellig, put ‘n taal sy krag en verbeter sy kanse op oorlewing. Pleks van in die geval van Afrikaans die standaardtaal te koester en diegene wat nie op peil is nie aan te moedig en op te voed, verkies die ATR om eerder ‘n verloorperd soos Kaaps op te saal. Deur taaldiversiteit te predik, word die oorlewingskanse van Afrikaans beduiwel. In taaleenheid is daar krag. Die massamedia maak dit deesdae baie makliker as voorheen om sodanige eenheid te bewerkstellig. Maar dit is juis weens die massamedia (pers, radio, rolprent, televisie, internet) dat die gehalte van Afrikaans in ‘n sorgbarende toestand verval het; primêr om politieke redes, maar ook omdat hierdie honger skape nie deur Afrikaansinstansies soos die ATR gevoed word nie.

Daar word aangevoer dat Standaardafrikaans nie vir die meeste sprekers van Afrikaans aanvaarbaar is nie omdat dit witmenstaal is. Daar kan gerus op die volgende historiese juistheid ooreengekom word. Nie-wittes (bv die Khoi-San en slawe) het ‘n rol by die ontstaan van Afrikaans gespeel. Maar die grondslag van Afrikaans kom uit Europa (bv Nederlands en Duits) en dit is feitlik uitsluitlik blankes wat Afrikaans ontwikkel en gestandaardiseer en leesstof en naslaanwerke (soos woordeboeke) geskep het. Dit is moontlik om Afrikaans te herstandaardiseer, maar dit sal ontwrigtend wees; iets wat Afrikaans tans kwalik kan bekostig. Taalstandaardisering is in elk geval ‘n voortdurende proses. Dit geskied evolusionêr. Politieke aktiviste moet nie hulle sin gegee word deur toe te laat dat hulle revolusionêre ingesteldheid op Standaardafrikaans afgedwing word nie. Almal met ‘n oop en eerlike gemoed behoort dankbaar te aanvaar dat Standaardafrikaans een van die baie lofwaardige prestasies van Afrikaners is. Standaardafrikaans sal evolusionêr verder ontwikkel word en die wense van ander etniese groepe kan (binne perke) in ag geneem word; dus mits sodanige aanpassings nie die wesenlike aard of eiesoortigheid van Afrikaans aantas nie.

Tydens die onderhoud was Beukes in ‘n hotel in die Bo-Kaap. Op 15 deser is Afrikaansdag daar met ‘n staptog gevier. Dit is ook daar waar Beukes van Onverwacht se “swart Afrikaners” gepraat en Afrikaans ‘n Afrikataal genoem het. Sy het Taaldag ook in George gevier en opper geen beswaar dat dit nie Afrikaansdag genoem word nie. Soos Nico Koopman beklemtoon sy eerder mense as die taal. In die konteks van Afrikaans beteken dit dat die oorwig by nie-wittes lê. Polities korrek word etnisiteit die afgod. “Die vriendelike gesig van Afrikaans is eintlik die sprekers van Afrikaans; en hoe ons lewens in en déúr Afrikaans leef.” As hierdie vriendelikheid of welwillendheid oordryf word, kan die erns van die Afrikaanssaak myns insiens in die slag bly.

“Taal is eintlik ‘n abstraksie sonder haar [!]* gemeenskap. Ons het nou baie mooi hier in die Bo-Kaap gesien hoe lekker ontspanne mense is.** Dis waarskynlik waar Afrikaans ontstaan het; dis die wiég van die taal.*** Afrikaans is régtig ‘n gedeelde erfenis.” [* Beukes misbruik Afrikaans glad te dikwels om feministiese kniebuigings te maak. Ek verpes sulke swak Afrikaans. ** Daarmee dek sy die tafel vir “loslit” Afrikaans. *** Polities korrek rep sy geen woord oor die Europese oorsprong van Afrikaans nie.]

Vervolgens openbaar Beukes haar politieke (oor)verligtheid. “Daar is nog die koloniale en die apartheidswonde, én die nieu-apartheidswonde,* en ‘n mens moet dáái brug slaan. Ons moet kans gee dat die rofies gesond word.” Heling is klaarblyklik baie nodig en omdat die wonde diep is, sal dit seker heelwat tyd in beslag neem, al word die verwonding meer as ‘n eeu terugdateer tot by kolonialisme, dus tot voor 1910. [* Wie het die “nieu-apartheidswonde” toegedien? Dit kan net die wittes wees, want Beukes sal nie-wittes nie so iets ten laste lê nie.]

“Daai territorial imperative wat die groepe in ‘n sekere sin het; dit is ‘n belemmering. Die gebrek aan kennis ook oor die ontstaan van Afrikaans en daai ontkenning van die gedeelde erfenis, dink ek is in ‘n groot mate ‘n probleem. ‘n Deel van die gebrekkige kennis is dat daar nog daardie persepsie is dat Afrikaans ‘n witmenstaal is.* Dáái goeters, dáái bewusmakingsproses moet gebeur.” [* Dáái erken nog nie dat Afrikaans óók ‘n witmenstaal is nie.]

Dan kom sy met statistiek waarvolgens die meeste Afrikaanssprekers nie-wit is. “Daai voetspoor moet ons groter maak. Ons het nog altyd net gedink aan die groepie wat uit huis uit* Afrikaans praat.” [* In my HAT (2000, p 418) staan: “Uit huis uit is foutief.” Dit moet “van huis uit” wees. As Beukes ‘n Praag-leser was, sou sy sedert 14 deser hierdie fout kon vermy het. Dit het my al voorheen opgeval hoe dikwels Beukes in Afrikaans taalblapse begaan.]

Vir die verligte Beukes is rasse-integrasie nie genoeg nie. Taalintegrasie in die vorm van die naasmekaaropstelling van Afrikaans en Engels word deur haar bepleit, bv sowel Afrikaans as Engels as onderrigtale aan ‘n universiteit. Dit is ‘n selfmoordsituasie vir Afrikaans, soos haar Universiteit Johannesburg duidelik bewys: “Ek het dit natuurlik gesien gebeur by die Universiteit van Johannesburg, nè. Die demograaf prof Flip Smit het gesê die vinnigste domeinverlies waarvan hy weet, is die verengelsing van hoër onderwys met betrekking tot Afrikaans.” Sy bepleit hierdie naasmekaaropstelling van Afrikaans en Engels omdat die bevordering van meertaligheid pleks van bloot Afrikaans ‘n gevestigde ATR-dogma is. “Máár, die ander ding wat vir my báie belangrik is, is ek wil die boodskap van die naasmekaarbestaan-beginsel sterker laat uitkom; dat ons nie net vir onsself ruimte opeis nie.” Engels is nie ons vyand nie, sê sy. “Die anglofobie; dis mos nou nonsens. In die naasmekaarbestaan-beginsel verstaan ons mos hoe belangrik Engels is. Engels is ‘n wónderlike instrument en ons moet dit as ‘n instrument sién.” Vir selfmoord kan ‘n instrument myns insiens nodig wees; ook in die geval van ‘n taal.

La Vita vra dan die voor die hand liggende vraag: “En die beskouing dat Engels die vermoë het om kleiner tale soos Afrikaans te verdring, byvoorbeeld aan universiteite?” Beukes se pap antwoord is: “Dit is so. So dit is waarskynlik ‘n funksieverskuiwing. Ons sien dit as ‘n domeinverlies vir Afrikaans … dalk moet ons met ander oë na die goed kyk. Ek dink ‘n groot gedeelte van die Afrikaanse gemeenskap sit met ‘n enórme gevoel van verlies … Ons begryp gedeeltelik hoekom dit gebeur het, maar ons kan ons nie opsaal met hierdie verliesgevoel nie. Domeinverlies is ‘n probleem. Ek het nie antwoorde oor hoe ‘n mens dit teëwerk nie.” Een manier om die afskaling van Afrikaans teen te werk, is om nie so geredelik soos Beukes hierdie verlies te aanvaar nie. Afrikaansinstansies soos die ATR het deurgaans versuim om daadwerklik tot die taalstryd in skole en universiteite toe te tree. Onder die leiding van mense soos Beukes sal hierdie onaanvaarbare stand van sake voortduur.

Op die lange duur voorsien sy hoogstens die moontlikheid van voortgesette primêre onderwys in ‘n moedertaal soos Afrikaans. Sy skryf die bedenklike toestand waarin Afrikaans beland het toe aan “‘n taalpolitieke konteks in Suid-Afrika.” Verdienstelike inisiatiewe is deur “‘n partypolitieke situasie … gekelder”. Dit is vae formulerings wat nie die fundamentele boosheid en sluheid van die ANC aan die kaak stel en veroordeel nie. Die twee hoofvyande of -bedreigings van Afrikaans, te wete Engels en die ANC, is nog glad nie in afdoende mate deur Beukes geïdentifiseer nie.

“‘n Ander ding, wat natuurlik vir puriste ‘n kwelling is, is die hibridiese tale wat besig is om te ontwikkel. Ons konsep van taal is netjies ingeboks: Afrikaans is Standaardafrikaans en dan het hy sy variëteite, en húlle is ook ingeboks, en dit is mos ‘n onrealistiese kyk na taal. Taal is vloeibaar, en veral in die stedelike kontekste waar die jong mense so dinámies méng en verkéér … Dit is ‘n hibridiese taal. Dit is ‘n weerspieëling van die moderne realiteit. Ons hét nie meer oral daardie duidelike koppeling aan ‘n nasionalisme nie.” Daardie koppeling aan nasionalisme word, volgens Beukes, “‘n uitgediende kyk na taal”.

Daar is wêreldwyd ‘n proses van identiteitsvernietiging aan die gang (veral in die Weste, wat tradisioneel die welvarendste lande het): etnies, kultureel en taalgewys. Dit is veral blankes wat met verswelging bedreig word. Tog is daar ‘n sprankie hoop. Na die Tweede Wêreldoorlog was daar ‘n oorreaksie deurdat nasionalisme sonder meer as boos geëtiketteer is. In hierdie eeu is daar in baie lande en in groeiende mate ‘n terugkeer na nasionalisme. Daardie nasies-in-wording kan elk ‘n eie (bv nie-internasionale) taal hê wat stukrag aan nasievorming verleen. Klein, meer harmonieuse, monokulturele lande kan ontstaan wat jaloers teen die (verdere) hibridisering van die inwoners en hulle moedertaal sal waak. Wat Afrikaans betref sal daar in ‘n Afrikanerstaat geen negatiewe “funksieverskuiwing” en “domeinverlies” geduld word nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.
  • leonlemmer

    Beukes het in “Die tale wat ons praat” (RSG, 23 deser) haar gewone storie herhaal. Dit is as ‘n RSG-potgooi beskikbaar. Daarin kom ‘n elementere blaps voor. Sy praat van “weer herhaal” terwyl “her” reeds “weer” beteken.

  • Rooikop

    Sy het die kat aan die stert beet.

  • leonlemmer

    Ek vra verskoning vir die tikfout in die eerste paragraaf. Dit moet Hambidge wees. Op LitNet (SeNet, 24 deser) stel Jaco Fourie ‘n ander standpunt as myne.

  • Karel Combrinck

    Sy maak nie taalblapse nie, want volgens Me Pukes van die Vaaltaalraad is daar nie iets soos korrekte Afrikaans nie. Korrekte Afrikaans is witmensafrikaans en dit behoort mos tot die verlede. Gerieflik né?

  • Statetheobvious

    Ek stem nog steeds nie saam dat Afrikaans ontstaan het in die Bo Kaap nie. Daar is ‘n redelike ooreenkoms tussen Hollands en Duits en ek glo woorde is aangepas sodat die ouens mekaar kon verstaan. Dis sommer nonsens hierdie dat selfs die ontstaan van die Taal ons ontneem woord

  • Riempies

    Die kern van ons Afrikaners se taal probleem is dat “uitenemendheid”
    en die “beste” vir n gegewe disipline gekelder moes word om by die nuwe
    derdewereld standaard aan te pas. Mense wat werklik net oor derderangse kwaliteite
    beskik om poste te vul word nou op die voorgrond gedruk deur die
    derdewereldregering om die derderangse standaarde te akkommodeer.

    Ons Afrikaners moet egter nooit vergeet dat ons n lewende
    taal praat – solank daar Afrikaners is sal Standaard Afrikaans lewend bly omdat
    ons taal uitenemendheid en die beste verteenwoordig – ontwikkelde Afrikaners
    wat hulle opvoeding in Afrikaans gekry het bly gesog dwarsoor die wereld.

    n Nota vir al die bitterbek afbrekers van ons taal – julle
    sal nie onthou word nie – mense word onthou vir wat hulle bygedra het en gebou
    het nie vir wat hulle afgebreek het nie. Die ANC regering kan ook sommer
    hierdie waarheid inneem as hulle kan.

    Daar is natuurlik uitsonderings – FW de Klerk Pik Botha en
    Roelf Meyer sal in die geskiedenis as die grootste volksverraaiers van alle tye
    bekend staan. Die res is maar baie derderangs en te onbelangrik.

  • Pingback: Leon Lemmer: Danny Titus help die Afrikaanse Taalraad om Afrikaans skeef voor te stel | praag.co.za()