Leon Lemmer: Danny Titus help die Afrikaanse Taalraad om Afrikaans skeef voor te stel

Deel op

Die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) was in die vorige eeu, dus van huis uit sedert sy stigting in 1930, ‘n Afrikanervereniging en daarby spesifiek vir christene. Die Afrikaans wat voorgestaan en aktief bevorder is, was Standaardafrikaans. In die nuwe Suid-Afrika is die ATKV egter getransformeer van ‘n Afrikaner- na eerder ‘n Afrikaanse vereniging; eintlik ‘n vereniging vir Afrikaanses, met die klem op die Afrikaanssprekendes wat nuut bygekom het. Dit het die weg vir iemand soos Danny Titus gebaan om as kultuurhoof van die ATKV aangestel te word, al is hy as ANC-meeloper en deeltydse menseregtekommissaris skepties oor, of afsydig van, Afrikaners. Die punt is: Daar is ‘n onmiskenbare etnies-kulturele kloof tussen Titus en Afrikaners.

Die situasies waarin Titus hom as ATKV-kultuurhoof laat geld, is wanneer die stert die hond swaai, dus wanneer die rol van die nuut bygesleepte Afrikaanses oorbeklemtoon en die tradisionele Afrikanersektor (grootliks) geïgnoreer word en die Afrikaanses hulle nuut gevonde vryheid moedswillig en eensydig (dus teen die geskiedenis en feite in) vier. In daardie milieu word eerstens Standaardafrikaans, tweedens Afrikaners as gesonde kulturele Afrikaanskern en derdens die werklike groot geeste van Afrikaans (bv taalkundiges, letterkundiges, historici, kultuurleiers, politici) almal doelbewus verswyg en by implikasie geminag. Hierdie ignorering spreek uit Titus se skrywe (Die Burger, 6 deser, p 10), gepubliseer onder die opskrif: “Vars lug waai oor Afrikaans”; dus: Weg is die Afrikanerbedompigheid van Afrikaans, oftewel: Nou gaan ons lekker loslit aanneuk met die mengeltaal Kaaps (met sy onbeperkte Engelse bagasie) en Standaardafrikaans soveel moontlik diskrediteer.

Titus skryf oor die Afrikaanse Taalraad (ATR) se Erfenisdagberaad wat op 24 September in Kaapstad gehou is. Let op watter mense Titus uitlig of by die naam noem. “Tony Ehrenreich was deel van die Afrikaanse stemme.” Afgesien van die politieke opsweping waaraan Ehrenreich hom dikwels skuldig maak, gebruik hy ‘n mengsel van Afrikaans en Engels wanneer hy “Afrikaans” praat. Titus opper nie beswaar teen so ‘n kwalitatief gebrekkige “Afrikaanse” stem nie. Seker omdat Ehrenreich se politiek guns in sy oë vind.

Daarna noem Titus die name van Lynette Francis, Steward van Wyk en Open Stellenbosch (OS), wat aan Van Wyk die geleentheid bied om aan te voer dat die beweerde uitsluiting weens Afrikaans waaroor OS kla, verband hou met (of soortgelyk is aan) die 1976-skole-opstand. Die skurke in albei verhale is Afrikaners. “Van Wyk sê Afrikaans moet vennootskappe met ander tale sluit … Ons moet Afrikaans ‘n vriendelike taal maak.” Anne-Marie Beukes, die voorsitster van die ATR, het redelik onlangs ook klem op vriendelike Afrikaans gelê (Praag 24 Augustus); dus nie ‘n bedompige, kwalitatief respekteerbare taal wat aan voorgeskrewe norme voldoen nie. ‘n Lekker opneukers-Afrikaans dus, soos Kaaps, wat onbeperk Engels-vriendelik is. Dit is waarom dit ‘n onbegonne taak is om die woordeskat van Kaaps te standaardiseer: enige Engelse woord is werklik of potensieel ‘n Kaapswoord.

Dan gebeur die verwagte, wat die status van die onvermydelike in die nuwe Suid-Afrika geniet: verwysings na die slawe, die Bo-Kaap en Distrik Ses, asof hierdie drie randeiers die noodsaaklike kern van enige gesprek oor Afrikaans moet wees. Wat van die Afrikaans wat in die middestad van Kaapstad en in sy blanke woonbuurte en aan bv die Oosgrens gepraat is (en van daar danksy die Groot Trek dwarsoor Suid-Afrika en selfs na ander lande, bv Namibië, Zimbabwe en Kenia, versprei is) en die Stellenbosch van weleer wat dikwels die bakermat van Afrikaans genoem is en die Paarl met sy Genootskap van Regte Afrikaners? Pleks daarvan skryf Titus oor ‘n Moslem, Fatima Allie, en die kos van die Bo-Kaap.

Maar Titus is nie die enigste wat die juk van eensydigheid dra nie: “Ons moet werk aan versoening deur Afrikaans, sê ‘n Potchefstroomse professor. [Dit klink vir my soos Wannie Carstens.] Hy vertel hoe hy die oggend by Distrik 6 verbygery en dit as ‘n skandvlek van Afrikaans beleef het.” Dié professor kan gerus verduidelik hoe Afrikaans die groepsgebiedewet veroorsaak het. Daar is algemene eerstemmigheid dat Distrik Ses ‘n krotbuurt en ‘n misdaadnes was. Verval kan dwarsoor die wêreld in middestede voorkom en daardie gebiede word dan na owerheidsingryping vernuwe. So ‘n proses hoef niks met apartheid te make te hê nie. In die geval van Distrik Ses was een van die deurslaggewende oorwegings dat die krotte in die pad van voorgestelde snelweë was. Die Bo-Kaap was nie in die pad nie en ook nie so vervalle nie en het dus behoue gebly.

Die “skandvlek” Distrik Ses is dus opgeruim, maar glad nie sonder deernis van die owerheid nie. Beter huisvesting is elders teen billike voorwaardes voorsien. Die meeste inwoners van Distrik Ses was in elk geval huurders. Daar was in hulle geval dus geen opsegging van erflatings nie. Vergelyk dit met blanke boere wat geslagte lank op plase woon. As hulle nie voortydig uitgemoor word nie, kan hulle plase (wat gekoop of as erflating bekom is en van niemand gesteel is nie) deur die owerheid sonder realistiese vergoeding onteien word. Ek vind die opmerkings wat aan ‘n anonieme Potchefstroomse professor toegedig is hoogs skandalig. Die blankes, veral Afrikaners, word tot vervelens toe oor Distrik Ses verwyt. My standpunt is dat as die Distrik Ses-verskuiwings die ergste is waaroor bv bruines kan kla, het hulle in historiese en wêreldperspektief bitter min om oor te kla. Hoeveel keer het ANC-kamerade al verontwaardiging oor plaasmoorde uitgespreek en om verskoning gevra? Het die Potchefstroomse professor en Titus al hierdie moorde skandvlekke genoem?

Titus verwys ook na ‘n Xhosa en ‘n Namibiër, asook na Farid Esack en Debra Meyer. Wat hulle, naas Afrikaanssprekendheid, gemeen het, is dat hulle almal nie-wit is. “Die ander African-Afrikaanssprekers is so verfrissend om na te luister. Maak die tonge los, sê Mathews Phosa,” ‘n ANC-“vryheidsvegter”. In Titus se weergawe van hierdie ATR-beraad word nie ‘n enkele naam van ‘n Afrikaner of blanke genoem wat werklik in en vir Afrikaans saak maak nie. Vir my lyk my beskuldiging van eensydigheid by Titus en by die ATR dus geregverdig. Titus en die ATR kyk nie werklik na “die vele gesigte en stemme van Afrikaans” nie. Polities korrek kyk hulle hoofsaaklik na die nie-wit sektor. Daarmee word die histories en kwalitatief belangrikste Afrikaanse kultuurgroep, die Afrikaners, ‘n onreg aangedoen.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.