Leon Lemmer: Afrikanertaal en -kultuur: ‘n Bestekopname

Deel op

Dit is nie moontlik om in ‘n enkele rubriek reg te laat geskied aan so ‘n omvattende onderwerp soos die Afrikaner se taal en kultuur nie. Al wat ek gaan doen, is om te reageer op wat onlangs by twee eens Afrikanerinstansies te kenne gegee is. Die radikale, verdoemende uitsprake waarmee deesdae oor Afrikanersake vorendag gekom word en wat meesal kritiekloos verbygaan, sou in die vorige eeu ondenkbaar gewees het. Hierdie verdwaaldheid en ontaarding kom voor by instansies wat voorheen deel van die hartklop van die Afrikanerdom was, te wete die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) en die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM).

Danny Titus

Danny Titus is die ATKV se hoof van kultuursake. Hy het met uitsprake vorendag gekom waaruit sy gesindheid duidelik blyk. Dit word ook weerspieël in wat hy ampshalwe by die ATKV en as deeltydse menseregtekommissaris doen. Ek verwys na sy opstel, “Ons het ons verlede vergeet” (LitNet, Menings, Seminare en essays, 17 deser). Titus sê nie hy skryf in sy persoonlike hoedanigheid nie. Geen instansie het hom (sover ek weet) gedistansieer van wat hy kwytgeraak het nie. Daar word dus aanvaar dat sy polities korrekte standpunt (grootliks) met dié van die ATKV ooreenstem. Dit is ‘n kwade dag om so ‘n element in die Afrikanermidde te hê. Wanneer gaan die ATKV ‘n regsomkeer maak en sê: Genoeg is genoeg?

Die deel van Titus se kultuurbewustheid wat na vore kom, is dat “Madibadag”, Vrouedag en Menseregtedag ooreenkomstig die (ANC se) bedoeling daarmee gevier moet word. Diegene wat op sulke dae “braai, woer en rumoer” is glo besig om “ons geskiedenis” uit te vee. Sulke verwysings na braai het ‘n metoniem vir Afrikaners geword. Hy stel hom dus as anti-Afrikaner op en gaan dan pro-bruin voort.

Hy pleit vir groter bewustheid van die bruin studente in die Wes-Kaap se betrokkenheid by die “struggle”. Hy haal Russel Botman se woorde tydens ‘n massabyeenkoms aan: “Vir wat moet ek bid?” en “‘n Revolusionêr het nie gebede nodig nie, hy het aksie nodig!” Dít komende van iemand wat aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) in die teologie, met onder andere Jaap Durand as dosent, gestudeer het, daarna predikant was en later die eerste “swart” rektor van die Universiteit Stellenbosch (US) geword het. Titus het klaarblyklik ongekwalifiseerde bewondering vir Botman gehad, selfs toe albei nog studente was. “Die tokkelokke het sterk leiding geneem. Duidelik die teken van die dinamika van Christenwees onder ‘n verdrukkende regering en heersende kerkorde.” Dit is die soort “christelikheid” wat by die Kairos-konkelaars, Belhar-propagandiste en Allan Boesak-nalopers in die VGK aangetref word; meesal nie by Afrikaners nie.

Titus is beswaard omdat blankes in beheer van die land was. Hy bestempel dit as ‘n “erge polisiestaat”. “Die NG Kerk was ‘n voorloper van die regverdiging van die onchristelike bestel. Die regeringgesinde universiteite het allerlei akademiese fundamente [grondslae?] vir rasseskeiding uitgekraam. Vandag word die rassiste van vroeër besing vir hul goeie deugde vanuit afgetrede historici en uitgediende politici. Vir die slagoffers van die onmenslike stelsel was hulle gewoon bewuste oortreders en skenders van fundamentele menseregte.”

Hy was in Worcester op skool. Daar het Titus se politieke (oor)bewustheid begin. Oor die skoliere sê hy: “Tog het ons bly presteer*, voortdurend geglo in ons menswees, veral in ons Christenwees … Ons het ons vryheid begin proe te midde van die hardste onderdrukking en polisiëring.” [* Dit is ‘n sydelingse kompliment aan homself; ook kenmerkend van etniese genote soos Michael le Cordeur (‘n “gerespekteerde” dosent) en Zelda Jongbloed (‘n “gerespekteerde” joernalis).] Die skoliere het linkse politieke propaganda (onkrities) verorber en Titus het dié leefwyse aan die UWK voortgesit. Hy haal Nelson Mandela goedkeurend aan: “The struggle is my life.” Wat hulle aangestig het, is glo nie “onluste” nie maar “opstande”. Hy verlustig hom daarin dat die onbeskaafde vernietigingsdrang van die UWK-kampus af wyer uitgesprei het: “Die Wes-Kaap ontbrand met ‘n passie.” Die jongmense het glo opgestaan “teen ‘n magtige sisteem van bevoordeling, van rassisme, van brutaliteit.”

Waarteen Titus dit veral het, is teen die polisie, die “bliksems”, die “donners”, “die Vorster-boewe”, wat wet en orde probeer handhaaf het. Ek hoop hy is tevrede met die chaos, misdaad en onvrede wat so kenmerkend van die nuwe Suid-Afrika is. In die Afrikaans van hierdie ATKV-kultuurhoof is daar plek vir woorde soos “nurste” en “polieste”. Hy probeer om homself voor te stel as een van die lofwaardige bydraers tot die “struggle”. Hy beweer selfs: “Ons het baie om ons jongmense te bied.” Hierdie “ons” vewys veral na die bruines wat gehelp het om die swartes aan die bewind te kry. Een van Titus se griewe is dat die bruines se bydrae tot die terreur nie genoeg erkenning by die swart swartes kry nie. Hy karakteriseer die swart swartes se houding as: “blacks in general and Africans in particular.” Daarmee verskuif die nuwe bewindhebbers se bevoordelingsklem van bruin swartes na swart swartes. Hiervan hou ‘n bruin swarte soos Titus glad nie. Hy wil hê bruines moet in nog groter mate baat by die misdade wat teen apartheid gepleeg is.

Titus is sekerlik geregtig op die politieke oriëntasie wat hy verkies. As individu is hy vry om sy vriende en helde te kies en hom te verlustig in hulle en sy eie wandade. Wat ernstig bevraagteken moet word, is of hy naasteby geskik is om as ATKV-kultuurhoof te funsioneer. Die ATKV is in 1930 gestig om die Afrikaanse taal en kultuur te bevorder, wat toe sinoniem met Afrikanertaal en -kultuur was. In die ou Suid-Afrika is die lidmaatskap tot blanke christene beperk en veral op spoorwegwerkers toegespits. In die nuwe Suid-Afrika is die lidmaatskap wyer oopgestel. In ‘n poging om hom van sy verlede te distansieer, is daar ‘n sterk neiging by die getransformeerde ATKV om toe te laat dat sy nuwe stert, waarvan Titus deel is, die hond swaai. Wesenlik is en bly die ATKV wat lidmaatskap betref (en duidelik onderskeibaar van die geluide wat sy bestuurslede en ander amptenare deesdae maak) ‘n organisasie van blanke Afrikaanssprekendes. Hulle kan gerus ‘n regsomkeer by die ATKV afdwing.

Ek beskou dit as vergesog dat ‘n aktivis soos Titus die taal en kultuur van blanke ATKV-lede kan bevorder. Hy het klaarblyklik geen aanvoeling hiervoor nie. Erger, met die gesindheid wat hy in sy jongste skrywe baie duidelik openbaar, posisioneer hy hom ondubbelsinnig as vyandig teenoor blanke Afrikaanssprekendes, oftewel Afrikaners. Die volgende lakmoestoets kan gebruik word: Hoe tuis voel Titus in die ATKV se museum op Hartenbos? Kan hy as ATKV-kultuurhoof ‘n groep Afrikaners daar begelei en hulle sinvol, waarheidsgetrou en met deernis aan hulle geskiedenis en kultuur bekendstel? Afrikanerkultuur is ‘n hartsaak gebaseer op deurleefde ervaring. Titus is ‘n buitestander in Afrikanergeledere wat seker, soos Conrad Sidego destyds by Die Burger, “soos ‘n koejawel in ‘n piesangboom” voel (Lizette Rabe, ‘n Konstante Revolusie, 2015, Kindle 1690).

Die ATM-taaldag

Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) het op 14 deser “Taaldag” gevier; nie Afrikaansdag soos dit hoort nie. Dit was ‘n drieledige viering: die erkennig van Afrikaans as amptelike taal 90 jaar gelede, die inwyding van die Afrikaanse Taalmonument 40 jaar gelede en die stigting van die Vriende van Afrikaans (VVA) 21 jaar gelede. Die VVA is in Stellenbosch gesetel met Amanda de Stadler aan die hoof. Die VVA beywer hom veral vir die bevordering van Afrikaans onder nie-wittes. In hierdie konteks is selfs ‘n besoek aan die Hector Pieterson-gedenkteken en -museum gebring, waarmee die VVA regimiteit aan amptelike anti-Afrikaansmites verleen het. Pieterson het postuum roem verwerf omdat hy tydens die Soweto-opstand in 1976 stokkiesgedraai en in die pad van ‘n dwaalkoeël beland het. De Stadler het die ATM-taaldag bygewoon en geen kritiek op daardie dag se verrigtinge gelewer nie; veel eeder hartlik saamgestem. (Ek het voorheen oor die VVA geskryf, bv Praag 16.02.2014.)

Die VVA se voorkeur vir Afrikaansaktiwiteite met nie-wittes word ook by die ATM aangetref. Dit kan toegeskryf word aan onder meer die ATM se afhanklikheid van owerheidsubsidiëring. Die ATM is volgens sy webwerf ‘n “agentskap van die Departement Kuns en Kultuur”. Die betrokke ANC-minister stel die ATM-direkteure na ANC-goeddunke aan (Praag 8 Maart). Vandaar die benaming Taaldag pleks van Afrikaansdag; almal moet welkom voel, nie net Afrikaanssprekendes nie. By implikasie word die klem wat op Afrikaans behoort te val (en op geen ander taal of tale nie), verwater. Aansluiting word dus by die Afrikaanse Taalraad (ATR) se meertaligheidsmanie gesoek, met die gevolg dat sowel die ATM as die ATR Afrikaans nie kompromisloos dien nie.

Maar daar is ‘n ander kanker wat hier voortwoeker. Wat word onder “Afrikaans” verstaan? Gaan dit om Afrikaans in sy agbare, algemeen-beskaafde vorm, te wete Standaardafrikaans, of word die term “Afrikaans” so wyd verwring dat dit ‘n mengeltaal soos die koeterwaalse Kaaps insluit? Erger, dit gaan by uitstek om die propagering en bevordering van mengeltaal wat moedswillig en oordrewe met Engelse woorde en uitdrukkings besoedel is. Daarmee word die gekose en verkose benaming Taaldag pleks van Afrikaansdag verstaan- en verklaarbaar maar nie minder verwerplik nie. Kaaps is in groot mate nie-Afrikaans; soms selfs ‘n parodie van Afrikaans. [Parodie: “belaglik makende nabootsing” (HAT).] Kaaps word soms misbruik om Afrikaners te tart op ‘n wyse soortgelyk aan Antjie Krog se uitgesproke erkenning dat sy doelbewus onnodige Engelse woorde in Afrikaanse teks gebruik. Sy het aan Daniel Hugo gesê: “Ek gebruik Engelse woorde om daardie [Standaard-] Afrikaans van jou te ondermyn.” Hugo noem Krog se Afrikaans “Strugglekaans” (LitNet 28.11.2000).

Ek ontken nie die bestaan van Afrikaansvariëteite nie. Ek beweer ook nie dat absolute taalsuiwerheid in Afrikaans moontlik is nie. Waarvoor ek pleit is dat Afrikaansinstansies soos die ATKV, ATM, VVA en ATR hulle nie deur politieke oorwegings moet laat lei nie, maar deur taalkundige oorwegings. Dan sal hulle besef dat Afrikaans, as die oorlewing daarvan vir hulle erns is, so suiwer moontlik van Engelse beïnvloeding gehou moet word. Dan sal hulle ook besef dat Kaaps, in die vorm wat ongebreideld Engels toelaat (bv Son-Afrikaans), nie ‘n verskansing teen toenemende verengelsing bied nie. Die voortbestaan van Afrikaans word bedreig deur verswelging deur Engels. Die voortbestaan van Afrikaners word bedreig deur verswelging deur swartes. Die hoogagent vir hierdie tweevoudige verswelging is die ANC. Afrikaans- en (eens) Afrikanerinstansies wat pro-Kaaps en pro-ANC ingestel is, bevorder ongetwyfeld die ondergang van sowel Afrikaans as Afrikaners. Ongelukkig is dít presies wat die ATKV, ATM, VVA en ATR kenmerk.

‘n Verslag oor die ATM se Taaldag, geskryf deur Jean Oosthuizen en Izak de Vries, is onder die opskrif “Wie se Afrikaans?” op LitNet (18 deser) gepubliseer. Nico Koopman het ‘n leidende rol in die verengelsing van die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Teologie gespeel. Hy is nou ‘n US-viserektor en ontken dat Afrikaans hoër funksies hoef te hê (Rabe 4055). Wat hom betref hoef Afrikaans dus nie as onderrigtaal aan die US behoue te bly nie. Maar dit is juis hy wat deur die ATM as spreker na die Taaldag genooi is; nie om hom te kritiseer en te looi nie, maar eerder om polities korrek met hom saam te stem.

Koopman is gepreokkupeer met hibriditeit. Die subteks is dat hy homself vanweë sy hibridiese etnisiteit as ‘n toonbeeld aan ander voorhou. Na analogie van etniese hibriditeit propageer hy taalhibriditeit; nie vir Engels (bv Cockney) nie, maar vir Afrikaans (bv Kaaps). [Hibried: “Dier of plant voortgespuit uit die kruising van individue van verskillende rasse, variëteite of soorte; baster” (HAT).] Breyten Breytenbach word soos volg aangehaal: “Ons is ‘n bastervolk met ‘n bastertaal. Ons aard is basterskap.” Elders het Breytenbach geskryf dat “ons gewaande stamidentiteit” gestol moet word.

Breytenbach se standpunt word as agtergrond vir Koopman se uitlatings aangebied. Koopman pleit vir ‘n “maksimalistiese identiteit van hibriditeit, van verbasterdheid.” Hy noem homself “‘n hibridiese, maksimalistiese kosmopolitaan”; dus iemand wat beskou kan word as maksimaal van die Afrikanerdom verwyderd en by implikasie eintlik ook van Afrikaans. Van iemand wat soos Koopman in die waan verkeer dat hy so identiteitloos soos ‘n wêreldburger is, moet daar nie verwag word dat hy Afrikaans sal koester nie. Op die ATM-webtuiste is Koopman se Facebook-inskrywing (15 deser) gepubliseer waarin hy punt vir punt en natuurlik deels in Engels herhaal wat hy by die ATM-taaldag te sê gehad het, asof dit iets is waarop hy met reg trots kan wees.

Janine van Rooy het Koopman ge-eggo met: “Ons is ‘n bastertaal en proud daarop.” Michael le Cordeur het gesê: “Ek voel nou so goed ek is sommer lus en spring in die lug en bly daar.” Almal wat daar teenwoordig was, is blykbaar sielsgelukkig daar weg. Dit is nou amptelik bekend: Daar mag maar met Afrikaans gemors word, want dit geniet die seën van die ATM. Karien Brits van die ATKV was ook een van die sprekers (hoewel daar niks afstootliks is in wat oor haar toespraak gerapporteer is nie) en kultuurhoof Danny Titus was ook daar om aan hierdie myns insiens tragiese gebeure groter drakrag en trefwydte te gee.

‘n Ander verslag oor die ATM-taaldag is op die ATKV-webtuiste (17 deser) gepubliseer. Daarin word verwys na ‘n Afrikaans wat “geherdifinieer” word. Dit is ‘n “inklusiewe taal” en klem word ook op die “diversiteit” van mense en taal geplaas. Wat hier bykomend oor Koopman se uitlatings genoem word, is: “As ons Afrikaans … gaan probeer beskerm … beteken dit ons sê iets is verkeerd. Dan baklei ons met mense. As ons egter veeltaligheid preek, dan werk ons saam.” Soos Henry Jeffreys (Rabe, 4055) sê Koopman dus dat Afrikaans nie (teen verdringing deur Engels) beskerm moet word nie en dat Afrikaans se (mate van) suiwerheid ook nie beskerm moet word nie. Ook dat die US nie Afrikaans as enigste onderrigtaal moet hê nie. Koopman voorsien nie net die voortgesette besoedeling van Afrikaans met Engels nie, maar ook dat dit gaan toeneem en hy hou hiervan: “Afrikaans is van Afrika. Afrikaans is ‘n bastertaal en die ready mix gaan uitbrei. Afrikaans is dus ‘n model vir mense. Dit neem van ons besit en deur Afrikaans ontdek ons nuwe wêrelde.” Soos Koopman probeer Le Cordeur om, indien nie die Europese oorsprong van Afrikaans te ontken nie, die nie-wit wortels van Afrikaans te oorbeklemtoon: “Die komvandaan [van Afrikaans] is nie uit hogere Nederlandse kringe nie.” Hy probeer Afrikaans tot ‘n laer of die laagste vlak neerhaal.

Die stereotipering van Afrikaans, Afrikaners en natuurlik apartheid waaraan party van hierdie mense hulle in gesprek na gesprek en artikel na artikel skuldig maak, is vir my weersinwekkend. Daar is geen blyke van ‘n gebalanseerde benadering nie. Elementêre vrae soos die volgende word nie gevra nie. Is die bevordering van taalsuiwer nie dalk ‘n bate nie? Is Standaardafrikaans nie ‘n besondere prestasie wat lofwaardige funksies vervul nie? Wanneer word die onoortroffe bydrae van Afrikaners tot die ontwikkeling van Afrikaans erken en geloof? Behoort Afrikaansinstansies nie eerder erns te maak met die identifisering en uitroeiing van die faktore wat die voortbestaan van Afrikaans bedreig nie? Les bes: Waarom rek julle nie julle bekke oor die afskaling en selfs verdwyning van Afrikaans in bv die openbare sektor, skole en universiteite nie? Daar is ‘n taalstryd ten behoewe van Afrikaans op die ATM se Paarlse drumpel aan die gang, bv aan die Landboukollege Elsenburg en die US, en julle swyg soos die graf en bewonder eerder ondermynende elemente. Dit is vir my duidelik dat die genoemde Afrikaansinstansie hulle aan skandalige versuim skuldig maak en dat hulle gebrekkige toewyding aan Afrikaans verdoem behoort te word.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.