Westinghouse vat Eskom aan oor ‘politieke inmenging’

Westinghouse, ‘n Amerikaans-Japanse kernkragmaatskappy het Maandag ’n tweede hofgeding teen Eskom aanhangig gemaak.

Die toekenning van die Koeberg-vernuwingskontrak aan die Franse maatskappy Areva is in die spervuur.

Westinghouse het Maandag hofstukke by die Suid-Gautengse hooggeregshof ingedien waarin hy die hof versoek om die kontrak van R4,2 miljard wat Eskom in Augustus aan Areva toegeken het, nietig te laat verklaar.

Die kontrak behels lewering van nuwe stoomopwekkers in die twee kernreaktors. Die stoomopwekkers moet vervang word na ‘n ontwerpleeftyd van 30 jaar.

Die stoomopwekkers se leeftyd kan nog langer uitgerek word weens die hofgeding wat die veiligheidsrisiko’s ook verhoog.

Die reaktors het in 1984 en 1985 in bedryf gekom en moet dus in 2014 en 2015 vervang word, maar vertragings met die toekenning van die kontrak en die hofsaak beteken dat die stoomopwekkers eers in 2018 vervang sal kan word.

Westinghouse voer aan dat die kontrak “deur politieke inmenging” aan Areva toegewys is. Bewerings van omkopery is ook in die hofstukke genoem.

Die ramp by die Foekoesjima-kernaanleg in Japan het intussen duisende mense in Tokio Dinsdag die strate laat invaar. Die aanleg is deur Westinghouse ontwerp.

Daar heers fel kritiek teen die regering se skuif om weer twee van Japan se kernreaktors aan te skakel.

Meer as 16,000 aktiviste het in die Japannese hoofstad betoog teen die 10 September-besluit om twee reaktors by die Sendai-aanleg weer te begin.

Malema se korrupsie-verhoor gaan voort

Julius Malema, die EFF-leier se verhoor oor bewerings van bedrog, korrupsie en geldwassery word Dinsdag in die Hooggeregshof te Polokwane voortgesit.

Die polisie is in die stad asook in die Seshego-lokasie, Malema se eertydse tuiste, ontplooi.

EFF-lede en ondersteuners drom sedert Maandag naby die hof saam. Lede van die provinsiale wetgewer en parlement het ‘n nagwaak vir Malema naby die hof gereël.

Regter Ephraim Makgoba het die verdediging se versoek om die aanklagte te laat terugtrek, in November verlede jaar van die hand gewys.

Die staat voer aan dat Malema sowat R4 miljoen uit korrupte sakebedrywighede verdien het.

Die woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NGV), Nathi Mncube sê Malema, asook sy twee medebeskuldigdes en van hul maatskappye staar 54 aanklagte in die gesig.

Drie paaie naby die hof is sedert Maandagaand gedeeltelik vir verkeer gesluit.

Intussen het die Wes-Kaapse Hooggeregshof die Ekonomiese Vryheidsvegters se aansoek om ‘n dringende interdik teen dissiplinêre stappe teen 20 van sy parlementêre lede van die hand gewys.

Die verhore sou vanoggend begin het.

Die saak spruit voort uit die voorval toe lede van die EFF President Jacob Zuma se antwoorde oor Nkandla in die nasionale vergadering ontwrig het tydens vraetyd.

Kort voordat regter Vincent Saldanha sy bevel uitgereik het, is hy deur ‘n parlementêre regsverteenwoordiger in kennis gestel dat die verhore met ‘n week uitgestel is.

Die regsverteenwoordiger van die lede, Luvuyo Godla sê daar is steeds ‘n kans dat hulle verdere aansoeke kan bring.

Polisie se vuurwapenregister in chaotiese toestand

Terwyl die jongste misdaadstatistieke toon dat veral geweldmisdade “onaanvaarbaar” hoog is, veroorsaak algehele chaos by die sentrale vuurwapenregister (SVR) dat die polisie bykans geen beheer oor vuurwapens het nie.

Die parlementêre portefeuljekomitee oor polisiesake was gister geskok toe hul besoek aan die sentrale vuurwapenregister (SVR) in Pretoria aflê. Stapels onverwerkte lêers in die gange, op tafels en kantoorvloere het hulle begroet, ‘n toneel wat deur sommige LP’s as ‘n “brandgevaar” beskryf is.

Dít terwyl lede van die publiek desperaat is om vuurwapenlisensies te bekom en die polisie se eie onlangse misdaadstatistieke ‘n onrusbarende styging in moord, gewapende roof en motorkapings toon. Oor die afgelope jaar is daar 17 068 mense in die land vermoor, een van die hoogste syfers ter wêreld en selfs hoër as ander lande met veel groter bevolkings as Suid-Afrika.

‘Geen rekord van 100 000’e wapens uit tuislande’

‘n Verdere onthulling is deur generaalmajoor Bransby Luke, die waarnemende bevelvoerder van die sentrale vuurwapenregister (SVR), gemaak toe hy bevestig het dat honderdduisende wapens wat in die voormalige tuislande gelisensieer is, nooit na die sentrale register oorgedra is nie. Luke het gesê: “Ons weet nie wat van daardie wapens geword het nie.”

Die rede waarom die SVR tans oor ‘n “waarnemende hoof” beskik, is omdat die vorige hoof van dié eenheid “weens korrupsie in die pad gesteek is”.

‘Stank van urine en ontlasting’

Van die werknemers by die eenheid het by lede van die portefeuljekomitee gekla oor die stank van urine en ontlasting as gevolg van plakkers buite die gebou. Hulle word insgelyks deur rotte en voëlluise lastig geval.

Nog ‘n feit wat onder die portefeuljekomitee se aandag gekom het, is die 39 000 polisiemanne wat self oor geen bevoegdheidsertifikate beskik om ‘n vuurwapen te hanteer nie, maar tog met vuurwapens uitgereik word.

Die voorsitter van die portefeuljekomitee vir polisie, Francois Beukman van die ANC, meen daar bestaan ‘n sterk verband tussen geweldsmisdade en vuurwapens, daarom moet die toestand reggeruk word.

“Ons kan nie ’n situasie toelaat waar misdaad met wettige en onwettige vuurwapens buite beheer raak nie,” het Beukman aan die media gesê. “Daar moet ná 20 jaar van demokrasie van vuurwapens uit die voormalige tuislande verantwoording gedoen kan word. Ons moet weet wie almal vuurwapens in die land besit.”

Terwyl die polisie steeds oor ‘n rekordaantal personneellede beskik, is daar glo ‘n “personeeltekort” wat die verwerking van vuurwapenaansoeke betref. Blykbaar is polisiebeamptes by polisiekantore wat die aansoeke moet bestuur ook nie “behoorlik opgelei” nie.

Baie duisende lisensie-aansoeke raak sommer net verlore omdat daar nie behoorlike rekord gehou word nie. Met die huidige stelsel kan dieselfde vuurwapen ook in in al nege provinsies gelisensieer word en een persoon kan tot 120 vuurwapens besit.

Die portefeuljekomitee het van die polisiekommissaris, genl. Riah Phiyega, vereis dat daar teen 7 Oktober ‘n herstelplan aan die parlement voorgelê word. So ‘n herstelplan kan egter nog jare duur aangesien korrupsie en ‘n gebrek aan rekenaarvaardighede die polisie kortwiek.

Die DA-lid van die komitee, Dianne Kohler Barnard, het die gebou wat die eenheid huisves, as “absoluut walglik” getipeer.

Dodetal in Nigeriese kerkramp vermoedelik hoër

President Jacob Zuma het vroeër die sterftes bevestig van die 67 Suid-Afrikaners wat dood is in die ineenstorting van ‘n kerkgebou in Lagos, Nigerië, en sy meegevoel betuig met die gesinne.

Minstens vier Suid-Afrikaanse toergroepe het pastoor TB Joshua se Kerk besoek. Die President het steun beloof aan diegene wat geraak word en sê hulp sal verleen word met die uitkenning en herwinning van liggame.

Daar word egter vermoed dat die dodetal veel hoër is as die amptelike syfer omdat geen joernaliste naby die ramptoneel toegelaat word nie.

Die kerk gebruik glo sy eie reddingswerkers en die gebied is vir die publiek afgesper.

TB Joshua se bewerings van ‘n vreemde vliegtuig wat kort voor die ineenstorting van die gebou vier keer laag oor die gebou gevlieg is glo volgens veiligheidskenners ‘n foefie om die blaam vir die tragedie op Islamitiese Boko Haram te plaas.

Die land gaan reeds dekades lank gebuk onder godsdiensgeweld wat vir politieke doelwitte aangewend word.

Die “Profeet” beskik oor aansienlike politieke invloed in Afrika met presidente en premiers wat sy raad en aanbevelings as navolgingswaardig beskou.

Geboue wat ineenstort is ‘n alledaagse verskynsel in Nigerië. Die oorspronklike gastehuis, wat uit vier verdiepings bestaan het, het onlangs nog twee verdiepings bygekry, maar vermoedelik was die onderste struktuur nie sterk genoeg daarvoor nie.

Bouregulasies wat sogenaamd “nagekom word” in Nigerië se korrupsienes behels ‘n sertifikaat waarop staan “Hierdie gebou is veilig”. Dit word glo in die meeste gevalle bloot gekoop.

Die “heldersiende profeet” kan blykbaar ongelukkig nog nie betonsterkte verbeter nie. Joshua het onlangs beweer dat hy selfs slagoffers wat met die Ebola-virus besmet is, met soutwater kan genees.

“Moeilike tye kan my toets, kan hulle my nie vernietig nie,” het Joshua Dinsdag getwiet en op Facebook het hy 2 Kronieke 12:5-8 aangehaal: “God het die vyand toegelaat om Israel te oorwin sodat hulle kon besef hoe om God te dien verskil van hoe om die duiwel te dien. As dit nie vir ons moeilike tye was nie, sou ons nie die aangesig van God gesoek het nie. Ek bedoel, as dit nie vir ons moeilike tye was nie, sou die mens uit sy bose natuur nie die aangesig van God gesoek het nie. Dit beteken God gebruik soms moeilike tye om ons na Homself te trek sodat ons ons regte posisie en besitting in Hom kan inneem.”

Reddingswerkers kla dat “Die Sinagoge”, soos die kerk bekendstaan, hulle werk bemoeilik deur geen samewerking te gee nie.

Ten minste vyf Suid-Afrikaanse kerk toergroepe was by Die Sinagoge ten tye van die ineenstorting, volgens Suid-Afrikaanse amptenare.

Van die Oekraïene tot Gasa

Van die Oekraïne tot Gasa is daar geopolitieke risiko’s wat swaar weeg, met nog talle verwikkelinge daar buite wat nie die nuus haal nie.

Die Amerikaanse middeltermynverkiesings kan ‘n Republikeinse oorwinning in die Senaat en die Huis beteken wat die sukkelende presidentskap kan ontspoor en die VSA kan lamlê.

Amerikaanse kiesers voel nie meer dat hulle ‘n invloed op beleidsbesluite van hul regering het nie. Obamacare, grense wat nou oopstaan vir bruin immigrante en ‘n algemene verveling met die presidentskap kan aan die Demokrate later vanjaar ‘n pak besorg wanneer kiesers na die stembus gaan.

As die president beheer van die Kongres verloor, sal hy nie in staat wees om beleggingsvertroue in sy land te herstel nie.

Skotse onafhanklikheidsreferendum

As kiesers sê “ja” vir Skotse onafhanklikheid, sal dit Brittanje in trurat gooi. Britte raak paniekerig dat ‘n oorwinning vir die “Ja”-stem kan ‘n morsige geskil tussen Edinburgh en Londen sal veroorsaak oor hoe om onafhanklikheid te definieer.

Dit sal skokgolwe stuur deur Britse markte en die pond terwyl Skotland sy geldeenheidopsies oorweeg. Meer belangrik, miskien, is dat die Verenigde Koninkryk se voortbestaan ​​in twyfel getrek mag word, en Brittanje sy vetoreg in die Verenigde Nasies en die G7 nie meer seker is nie.

Die gevolge vir die Britse ekonomie kan enorm wees en die pond laat tuimel.
 
Anti-korrupsie veldtog in China

Politiekery oor anti-korrupsie in China kan sakevertroue in Asië se ekonomiese reus nadelig raak, en die wêreldwye ekonomiese herstel uitstel.

Na jare van gryp-wat-jy-kan groei daar is baie wie se rekords nie heeltemal skoon is nie. Die probleem is dat sulke individue se einde ook die einde van dele van China se ekonomie kan beteken.

Selfs net gerugte oor ‘n uitvoerende hoof kan belegging raak en laat ontspoor wat ‘n domino-effek op die ekonomie kan hê.

Daar wag dus nog groot opwinding voor 2014 sy asem uitblaas.

SOE vra R155 miljoen van Nkandla-argitek terug

Die Spesiale Ondersoek-eenheid (SOE) probeer om meer as R155 miljoen van die sogenaamde Nkandla-argitek, Minehle Makhanya terug te kry, het RSG berig.

Hulle bestempel hom as die hoofrolspeler wat primêr verantwoordelik was vir die verhoogde koste van die veiligheidsopgraderings by president Jacob Zuma se woning op Nkandla in KwaZulu-Natal.

Die eenheid het ‘n dagvaarding teen Makhanya bekom.

Die eenheid se finale verslag oor sy ondersoek na Nkandla sal na verwagting aanstaande week bekendgemaak word.

‘n Forensiese advokaat van die eenheid, Ashish Gosai, sê Makhanya is onwettig deur die Departement van Openbare Werke aangestel.

Hy is die eerste van ‘n aantal individue en maatskappye wat deur die eenheid genoem word in dokumente wat hulle volgens berigte beplan om te vervolg.

Makhanya se optrede het na bewering daartoe gelei dat kostes van die gemagtigde R27 miljoen, wat deur Openbare Werke goedgekeur is, die hoogte ingeskiet het.

Valke ondersoek korrupsie van R1,6 miljard in Gauteng

Die Valke het Vrydag bevestig dat hulle ‘n regeringsamptenaar ondersoek vir korrupsie waarby R1.6 miljard betrokke is.

“Daar is geen formele klag by die oomblik nie, maar ons kan bevestig dat ‘n aansoek in die hoërhof voorberei word,” het kaptein Paul Ramaloko gesê.

Die korrupsie is na bewering tydens die amptenaar se ampstermyn gepleeg. Ramaloko het geweier om meer besonderhede, insluitend die amptenaar se naam te verskaf.

Die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) se woordvoerder Boy Ndala het geweier om kommentaar te lewer, en sê die saak is sub judice.

Die Mail & Guardian het Vrydag berig dat volgens hofstukke is die voormalige Gautengse LUR vir gesondheid Brian Hlongwa LUR geïmpliseer in korrupsie wat terugdateer na 2006.

Hlongwa, wat die ANC se hoofsweep in Gauteng was, het na bewering as ‘n kanaal vir omkoopgeld opgetree.

Die nasionale vervolgingsgesag (NV) het ‘n reeks aansoeke in die hooggeregshof in Johannesburg gebring om te vra vir ‘n bevel om die bates van sekere maatskappye te bevries.

Die NVG glo hierdie bates was die opbrengs van ‘n misdaad. Ter ondersteuning van die aansoek, het die Valke en SOE duisende bladsye van getuienis met betrekking tot die beweerde korrupsie voorgelê.

Dié geld is glo gebruik om die politieke ambisies van sekere ANC-figure te finansier.

Oud-Franse staatshoof Sarkozy van korrupsie aangekla

Die vorige president van Frankryk, Nicolas Sarkozy, is vir 15 uur aangehou as deel van ‘n ondersoek na die finansiering van sy vorige verkiesingsveldtog. Intussen het die nuus dat hy formeel van korrupsie aangekla is, via ‘n twiet van Agence France Presse rugbaar geraak.

 

Die klagtes teen Sarkozy behels die verbreking van professionele geheimhouding, aktiewe korrupsie en handel in invloed. Hy word daarvan verdink dat hy toegang tot vertroulike inligting oor ‘n ondersoek teen hom van ‘n aanklaer bekom het. Drie ander mense word insgelyks ondersoek.

Dit is die eerste keer dat ‘n Franse staatshoof aangehou word. Hy is gisteraand vyftien uur lank in die kantore van die eenheid teen korrupsie aangehou tydens die ondersoek.

Die aanklagte teen Sarkozy kan tot tronkstraf van tien jaar lei. Hy verkeer egter nie in geregtelike aanhouding nie. Vroeër gisteraand is drie ander mense ook deur dieselfde aanklaers ondersoek: die advokaat van die voormalige president, meester Thierry Herzog, die regter Gilbert Azibert en ‘n ander staatsadvokaat van die Appèlhof, Patrick Sassoust, wat egter nog nie voor die aanklaers verskyn het nie.

 Die aanklaers poog om vas te stel of die voormalige staatshoof geheime inligting van Gilbert Azibert bekom het oor die ondersoek wat daar teen hom ingestel is, in ruil vir ‘n prestigieuse pos in Monaco.

Dit het plaasgevind tydens die sogenaamde “Bettencourt-affêre” toe die Appèlhof ‘n uitspraak oor die beslaglegging op Sarkozy se dagboeke moes lewer. Sarzkozy se saak is in daardie geval van die rol geskrap, wat hom gepas het.

Meeluistering

Tydens September 2013 is Sarkozy deur die staat afgeluister om vas te stel of hy tydens sy veldtog in 2007 deur Moemmar Kadafi van Libië gefinansier is. Tydens dié operasie is verskeie lede van sy binnekring ook afgeluister: die voormalige ministers Claude Claude Guéant en Brice Hortefeux, maar ook Michel Gaudin, die voormalige hoof van die nasionale polisie en oud-prefek van Parys. Gaudin het van sy kontakte binne die polisie gebruik gemaak om te probeer vasstel hoe die Libiese ondersoek teen Sarkozy vorder.

Sarkozy het van ‘n vals naam, Paul Bismuth, gebruik gemaak om met sy advokaat, meester Herzog, te praat. Daarom het die aanklaers besluit om daardie telefoon te laat afluister. Die gesprekke skep die indruk dat hulle vertroulike inligting van regter Gilbert Azibert wou bekom.

Volgens die regsverteenwoordiger van Herzog, meester Paul-Albert Iweins, “berus hierdie feite slegs op die meeluistering wat ons in twyfel trek en waarvan ons die wettigheid ook sterk beveg. Ons gaan alles teenstaan.”

Die gedoe rondom Sarkozy se veldtogfinansiering vind plaas tydens die groot boete wat die VSA aan die Franse bank BNP Paribas opgelê het. Sarkozy is as sentrum-liberale politikus daarvoor bekend dat hy onder Amerikaanse en Britse invloed verkeer en daarom verteenwoordig die huidige optrede teen hom ‘n vorm van weerwraak deur die linkse, sosialistiese regering van president Francois Hollande.

Franse wetgewing plaas ‘n plafon op die hoeveelheid geld wat ‘n presidensiële kandidaat op sy veldtog mag bestee. Sarkozy word daarvan verdink dat hy die perk oorskry het om as president in 2007 verkies te word.

Familie van vermoorde raadslid verloor vertroue in regspleging

Die familie van die vermoorde Rustenburgse raadslid, Moss Phakoe, sê hulle het vertroue verloor in die land se regstelsel, het RSG berig.

Dit volg nadat die Noordwes Hooggeregshof gister die skuldigbevinding en vonnis van die voormalige burgemeester van Rustenburg, Matthew Wolmarans en sy lyfwag, Enoch Matshaba ter syde gestel het het.

Hulle is in 2012 skuldig bevind in verband met die moord. Phakoe is in 2009 by sy huis in Rustenburg doodgeskiet nadat hy ‘n dossier oor beweerde korrupsie in die munisipaliteit aan senior ANC-lede oorhandig het.

Wolmarans is tot 20 jaar tronkstraf gevonnis, en Matshaba is lewenslange tronkstraf opgelê.

Die hof het hulle vrygelaat nadat ‘n sleutelgetuie sy getuienis teen hulle teruggetrek het.

Phakoe se seun, Papiki sê indien Wolmarans en Matshaba nie vir die moord verantwoordelik is nie, moet die skuldiges gevind word.

Ses vas na miljoene se bedrog in Tshwane

korrupsieNog inhegtenisnemings word verwag nadat ses munisipale werknemers van die Tshwanemunisipaliteit in Pretoria weens bedrog van miljoene rand in hegtenis geneem is.

Die ses munisipale werknemers van Marabastad sal na verwagting Vrydag in die hof verskyn, nadat hul vlootbestuurafdeling vir miljoene rande se bedrog vasgevat is.

Die Metropolisie se anti-korrupsie-eenheid het Donderdag die werknemers by hul Marabastadkantore gearresteer.

Isak Mahamba, Tshwane se Metropolisie-woordvoerder, sê die werkers wat in die vlootbestuursafdeling werk, het na bewering bedrog van miljoene rand gepleeg deur gewysigde fakture namens diensverskaffers by die munisipaliteit in te dien.

“Hulle kon ‘n faktuur uitreik aan een diensverskaffer en drie keer eis van die dieselfde bedrag.”

Hy sê hul anti-korrupsie-eenheid het ‘n wenk ontang ‘n paar maande gelede, maar dit was eers Donderdag dat die noodsaaklike inligting bekom is om voort te gaan met die saak.

Die hoof van die Tshwane Metropolisie, Stephen Ngobeni, sê hulle het met ‘n ondersoek begin.

Nog verdagtes sal binnekort glo in hegtenis geneem word.

Ondersoek na onderwyspos-bedrog kom

teacher-africa-classroomPresident Jacob Zuma het ‘n regterlike kommissie van ondersoek na die bewerings van omkopery vir onderwysposte goedgekeur.

Die sekretaris-generaal van die Nasionale Kongres, Monokoane Hlobo, het die ondersoek verwelkom en sê korrupsie behoort op dieselfde manier hanteer te word.

Verskeie vakbonde is glo betrokke by die vermeende werksverskaffings-bedrogspul in die onderwys.

Die Nasionale Kongres van Skoolbeheerliggame sê hy stem nie saam met die mening dat slegs die Demokratiese Onderwys-Unie of Sadou, by die bedrogspul betrokke is nie.

Berigte dat lede van Sadou poste vir skoolhoofde en adjunkhoofde vir meer as R30.000 elk verkoop het, het onlangs die lig gesien.

SADOU veroordeel lede wat poste koop

sadtuCity Press het vroeër berig dat SADOU-amptenare senior onderwysposte in KwaZulu-Natal, Noordwes en Limpopo aan onderwysers verkoop.

Dié koerant beweer dat sommige van lede van die onderwysvakbond betrokke is by ‘n geldmaakskandaal rakende poste.

Die onderwysersvakbond SADOU het gevra dat enigeen wat oor inligting na vore kom. Hulle het die korrupsie sterk veroordeel.

Blykbaar word poste teen ‘n bedrag van minstens R30.000 “gekoop” en die geld is vooraf is betaalbaar om die pos te verseker.

Volgens die berig het die geldfoefie reeds gelei tot talle onwettige aanstellings regoor die land.

Comrade Kasrils loods sy rugryer-veldtog

Kasrils in sy misbakseluniform
“Frank” oftewel Comrade Kasrils in sy misbakseluniform wat hy vir terreur verdien het

‘n Groep Suid-Afrikaners wat ontevrede is dat hulle nie meer invloedryke posisies in die ANC het nie, loods vandag ‘n veldtog om stembriewe te bederf en/of vir opposisiepartye te stem.

Die groep politieke rugryers wil daarmee duidelik opposisiepartye se stemme vir hulself opeis sonder om deel te neem aan die verkiesing, ‘n manifes te produseer oor werklike kwessies soos grondroof en plaasmoorde, of die deposito te betaal.

So ‘n veldtog van bedorwe stembriewe kan beduidend wees omdat onopgevoede kiesers dikwels onwetend stembriewe bederf deur die stembrief verkeerd in te vul.

Daar was by vorige verkiesings reeds meer sulke stembriewe as kiesers wat vir die VF+ gestem het in totaal.

Die groep sal hul veldtog by Wits-universiteit in Johannesburg loods. Die veldtog staan onder leiding van die voormalige minister van intelligensie, Ronnie Kasrils. Kasrils was ondergronds bekend as “Frank”.

Die voormalige adjunk-minister van gesondheid, Nozizwe Madlala-Routledge het ook haar stem by die groep gevoeg.

“Comrade” Kasrils poog glo om Kgalema Motlanthe, Pallo Jordan, Zola Skweyiya, Ben Turok, Desmond Tutu en Matthews Phosa ook te oorreed om die Zoeloemag in die ANC te breek.

Hulle sê ontevrede kiesers wat teen korrupsie beswaar wil aanteken, kan óf hulle stembriewe bederf óf vir ‘n ander party stem. Hulle wou nie ‘n oppossieparty uitsonder nie.

Volgens berigte sal die Afrikaanse digter Breyten Breytenbach en adv. Barney Pityana ook deel van die veldtog wees.

Die veldtog is met gemengde reaksie deur politieke partye ontvang. Die ACDP sê dit is onverantwoordelik om kiesers aan te moedig om hul stembriewe te bederf, terwyl die UDM sê die veldtog moet verwelkom word.

Cope sê die veldtog is ‘n klap in die gesig vir mense wat geveg het vir die reg om te stem, terwyl die DA dit as lafhartig afgemaak het.

Opposisiepartye verwelkom ad hoc-komitee oor Nkandla

nkandla-residenceDie Speaker van die parlement het aangekondig dat ‘n ad hoc-komitee ingestel sal word om te handel met die verslag van die Openbare Beskermer oor Nkandla.

Die veelparty- ad hoc-komitee van 12 lede sal president Jacob Zuma se reaksie op die Openbare Beskermer se Nkandla-verslag bestudeer en voor die verkiesing terugvoer gee.

Thuli Madonsela, die OB, het onder meer bevind dat Zuma en sy familie onregmatig baatgevind het by die opgraderings van 246 miljoen rand by sy privaatwoning

Verskeie partye het na die bekendmaking van die OB se verslag vir ‘n openbate debat sowel as vir die instelling van ‘n ad hoc-komitee gevra

Die ad hoc-komitee sal sowel die antwoord van die president oor die Nkandla-verslag, asook die Proklamasie wat die Spesiale Ondersoekeenheid se ondersoek gemagtig het, nagaan.

Die Speaker, Max Sisulu het Woensdagaand in ‘n verklaring gesê hy het na raadpleging met die hoofsweep van die regerende party en die hoofswepe van ander partye in die parlement besluit om die komitee ingevolge die Parlementêre Reëls aan te stel.

Die komitee sal bestaan uit 7 ANC-lede, 2 DA lede, een lid van die IVP en een lid wat die ander partye verteenwoordig.

Die Parlement sê die komitee se sperdatum vir terugvoer is 30 April. Zuma het verlede week op die Openbare Beskermer, Thuli Madonsela se verslag gereageer.

Die parlement sal byeen geroep word om met die verslag te handel nadat dit ingehandig is, voor die verkiesing van 7 Mei 2014.

Opposisiepartye sê die ad hoc-komitee moet reg laat geskied aan die bepalings van die Grondwet, en toesien dat die parlement en wetgewende gesag hulle oorsigrol oor die president en die Uitvoerende Gesag na behore volvoer.

.