Familie van vermoorde raadslid verloor vertroue in regspleging

Die familie van die vermoorde Rustenburgse raadslid, Moss Phakoe, sê hulle het vertroue verloor in die land se regstelsel, het RSG berig.

Dit volg nadat die Noordwes Hooggeregshof gister die skuldigbevinding en vonnis van die voormalige burgemeester van Rustenburg, Matthew Wolmarans en sy lyfwag, Enoch Matshaba ter syde gestel het het.

Hulle is in 2012 skuldig bevind in verband met die moord. Phakoe is in 2009 by sy huis in Rustenburg doodgeskiet nadat hy ‘n dossier oor beweerde korrupsie in die munisipaliteit aan senior ANC-lede oorhandig het.

Wolmarans is tot 20 jaar tronkstraf gevonnis, en Matshaba is lewenslange tronkstraf opgelê.

Die hof het hulle vrygelaat nadat ‘n sleutelgetuie sy getuienis teen hulle teruggetrek het.

Phakoe se seun, Papiki sê indien Wolmarans en Matshaba nie vir die moord verantwoordelik is nie, moet die skuldiges gevind word.