Opposisie se Nkandla-veldtog stort in duie

Die parlementêre adhoc-komitee oor Nkandla het president Jacob Zuma in sy voorlopige verslag kwytgeskel van enige ongerymdhede met die opgraderings by sy privaat woning.

Mathole Motshega sê die “pay-back-veldtog” deur opposisie partye het in duie gestort.

Opposisiepartye het daarop aangedring dat die president ‘n gedeelte van die geld wat op Nkandla se opgraderings spandeer is, terugbetaal.

Maar Woensdag het die ANC die Wes-Kaapse hooggeregshof se beslissing tussen die DA en die SABC-voorsitter in die opposisie se neuse gevryf oor Nkandla.

Luidens die beslissing strek die magte van die Openbare Beskermer, Thuli Madonsela, nie so ver as wat die DA beweer tov Nkandla nie.

Die hof het bevind dat die remedieerende optrede deur die Openbare Beskermer nie bindend is nie.

Die ANC-lid van die komitee, Motshega is van mening dat die hofuitspraak die komitee se bevindinge regverdig.

“Die uitspraak sê as die Grondwet in die vooruitsig gestel het dat die remedieerende optrede van die Openbare Beskermer bindend moet wees, sou dit so gesê het. Dit sê nie so nie en die Wet op die Openbare Beskermer sê ook nie so nie.”

“Die terugbetaalveldtog het dus in duie gestort as gevolg van die hofbevel en die briewe wat geskryf is [deur Madonsela], het hul geldigheid verloor. So ek is bly dat die regbank van hierdie land ons regtig behoorlik gelei het. Ons sal in staat wees om vorentoe te beweeg met spoed sonder enige verwarring van enigiemand se kant.”

Die komitee wat slegs uit ANC-lede bestaan nadat die opposisie uit die komitee gestap het, het weer begin om sy voorlopige verslag te bespreek.

‘n Komiteelid, Mamoloko Kubayi, sê president Zuma was nie deel van ongerymdhede nie, maar dat die argitek van die projek, Minenhle Makhanya, onreëlmatig aangestel is.

Hy sê dit is duidelik dat die president nie die opgraderings versoek het nie.

Malema se korrupsie-verhoor gaan voort

Julius Malema, die EFF-leier se verhoor oor bewerings van bedrog, korrupsie en geldwassery word Dinsdag in die Hooggeregshof te Polokwane voortgesit.

Die polisie is in die stad asook in die Seshego-lokasie, Malema se eertydse tuiste, ontplooi.

EFF-lede en ondersteuners drom sedert Maandag naby die hof saam. Lede van die provinsiale wetgewer en parlement het ‘n nagwaak vir Malema naby die hof gereël.

Regter Ephraim Makgoba het die verdediging se versoek om die aanklagte te laat terugtrek, in November verlede jaar van die hand gewys.

Die staat voer aan dat Malema sowat R4 miljoen uit korrupte sakebedrywighede verdien het.

Die woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NGV), Nathi Mncube sê Malema, asook sy twee medebeskuldigdes en van hul maatskappye staar 54 aanklagte in die gesig.

Drie paaie naby die hof is sedert Maandagaand gedeeltelik vir verkeer gesluit.

Intussen het die Wes-Kaapse Hooggeregshof die Ekonomiese Vryheidsvegters se aansoek om ‘n dringende interdik teen dissiplinêre stappe teen 20 van sy parlementêre lede van die hand gewys.

Die verhore sou vanoggend begin het.

Die saak spruit voort uit die voorval toe lede van die EFF President Jacob Zuma se antwoorde oor Nkandla in die nasionale vergadering ontwrig het tydens vraetyd.

Kort voordat regter Vincent Saldanha sy bevel uitgereik het, is hy deur ‘n parlementêre regsverteenwoordiger in kennis gestel dat die verhore met ‘n week uitgestel is.

Die regsverteenwoordiger van die lede, Luvuyo Godla sê daar is steeds ‘n kans dat hulle verdere aansoeke kan bring.