Wrakstukke moontlik van verdwene MH370

‘n Ondersoekspan van Maleisië is na die ooskus van Afrika gestuur om vas te stel of wrakstukke wat naby die eiland Reunion gevind is moontlik dié van die vermiste Vlug MH370 is.

Maleisië het Woensdag gesê die span van ondersoekbeamptes sal help bepaal of die wrakstukke wel van die vliegtuig is wat verlede jaar oor die Indiese Oseaan verdwyn het.

Amptenare sê dit is waarskynlik die wrakstukke wat gevind is, maar verdere ondersoek is nodig.

Geen spoor kon nog gekry word van die Boeing 777 wat in Maart verlede jaar met 239 passasiers aan boord op ‘n vlug tussen Kuala Lumpur en Beijing verdwyn het nie. Die meeste passasiers was Chinese burgers.

Seestrome kon wrakstukke ver van die plek waar die vliegtuig neergestort het meegesleur het. Die ontdekking kan die grootste deurbraak wees in die tot dusver vrugtelose soektog na die vliegtuig.

Die Maleisiese minister van vervoer Liow Tiong Lai het met verslaggewers gepraat tydens ‘n besoek aan die Verenigde Nasies in New York.

‘n Stuk romp wat twee meter lank is, het Woensdag glo uitgespoel naby Saint-Andre, aan die oostekant van die eiland.

Die ontdekking kom ‘n dag nadat Rusland ‘n VN-resolusie vir ‘n internasionale tribunaal geveto het om die Maleisiese vliegtuig MH17 wat oor Oos-Oekraïne in 2014 afgeskiet is, te ondersoek.

Witali Tsjoerkin, Russiese ambassadeur by die VN, het die resolusie geblok. Rusland is een van die vyf permanente lede van die Veiligheidsraad met vetoreg.

Elf van die 15 lede van die raad het ten gunste van die resolusie gestem, wat opgestel is deur Australië, België, Maleisië, Nederland en die Oekraïne.

China, Venezuela en Angola het buite stemming gebly.

Rusland sê die gebeure rondom MH17 word verpolitiseer en die tribunaal sal nie reg laat geskied aan die slagoffers of die waarheid nie.

Die vliegramp het gelei daartoe dat sanksies teen Rusland ingestel is omdat die VSA voortydig besluit het Rusland moet verantwoordelik gehou word.

Duitser vermoedelik agter Somaliese bomaanval

Aanvanklike inligting in die voortgesette ondersoek na die hotelbom in die Somaliese hoofstad, Mogadisjoe, dui daarop dat die bomaanvaller waarskynlik ’n Somalies-gebore Duitse burger was, het AFP berig.

Hy het met ’n vragmotor vol plofstof in die hotel ingejaag. DNS-toetse word nou op die oorblyfsels van die oorskot van die bomaanvaller gedoen. Regeringsbronne sê die vermeende bomaanvaller het die afgelope paar jaar in Somalië gewoon.

Verskeie Somaliërs met dubbele burgerskap het in die verlede selfmoordbomaanvalle uitgevoer. In Februarie het ’n Nederlands-Somaliese man en vrou hulself in Mogadisjoe se Central Hotel opgeblaas en die lewe van minstens 25 mense geëis.

In 2008 het die eerste Amerikaanse selfmoordbomaanvaller, die 26-jarige Amerikaans-Somaliese burger Shirwa Ahmed, homself in Puntland in die noorde van Somalië opgeblaas.

Die Al-Kaïda-­geaffilieerde Al-Sjabaab-terreurorganisasie het ’n lang geskiedenis waarin geradikaliseerde lede van Somalië se wydverspreide diaspora asook buitelandse vegters gelok word.

Die groep veg om die Westers-gesteunde regering in Mogadisjoe omver te werp.

Die Münchense tydskrif “Focus” het vroeër berig dat sowat 15 Duitsers tans in Somalië saam met die terreurgroep Al-Sjabaab veg.

Al-Sjabaab-aanval eis 13 lewens

Al-Sjabaab se selfmoordbomaanval op ’n hotel in Mogadisjoe Sondag het die lewe van minstens 13 mense geëis, het AFP berig.

Die Jazeera Palace-hotel­ is die tuiste van die diplomatieke sendings van China, Katar en die Verenigde Arabiese Emirate in Somalië en gewild onder Somaliese regerings­amptenare en buitelandse besoekers.

Beijing het gister gesê een van die land se ambassadepersoneel is dood en drie is in die aanval beseer.

Troepe van die Afrika-unie se magte het gehelp om oorlewendes, insluitende Kenia se ambassadeur in Somalië, na veiligheid te neem.

Die hotel was in die verlede ook ’n teiken van Al-Sjabaab. In 2012 het selfmoordbomaanvallers die hotel bestorm terwyl pres. Hassan Sheikh Mohamud binne was.

“Hierdie was ’n aanval op ’n simbool. Die Jazeera-­hotel was ’n plek waar die internasionale gemeenskap en hul eweknieë in Somalië ver­gader het.

“Ek het egter ’n bood­skap vir die terroriste: Die Jazeera Palace sal herbou word. Dit is hoe ons op gewetenlose aanvalle soos hierdie reageer. Soos dit dikwels die geval is, is ons internasionale kollegas daar om te help as onskuldige Somaliërs beseer word,” het Mohamud gesê.

Volgens Al-Sjabaab was die aanval in weerwraak vir die “dood van dosyne onskuldige burgerlikes” verlede week toe Ethiopiese magte Al-Sjabaab-basisse in die suide van Somalië aangeval het.

Die hotel is aan flarde geruk deur die ontploffing wat die kant van die sesverdieping-gebou in puin gelê het.

Trump se steun neem toe

Die eiendoms­miljardêr mnr. Donald Trump se steun onder Republikeinse party kiesers het vergroot en hy is nou die voorloper in die wedloop om die party se nominasie vir volgende jaar se presidentsverkiesing.

Volgens die jongste CNN-meningsopname geniet Trump 18 persent steun onder Republikeine, gevolg deur die voormalige goewerneur van Florida, mnr. Jeb Bush, met 15 persent en Wisconsin se goewerneur Scott Walker met 10 persent.

Trump se steun het met ses punte vermeerder sedert die vorige meningsopname einde Junie gedoen is. Bush en Walker se steun was byna onveranderd. Nie een van die ander 14 ander aanspraak­makers kon dubbelsyfer-steun kry nie.

Onder Republikeinse kiesers verwag 31 persent dat Bush die presidentsnominasie sal kry, 22 persent dink Trump sal die pyp rook en 14 persent voorspel ’n oorwinning vir Walker.

Britse lord snuif sy standaarde

’n Senior lid van die Britse House of Lords, wat verantwoordelik is om standaarde te handhaaf, is dié week versoek om te bedank nadat hy verfilm is waar hy na bewering dwelms van ’n prostituut se borste gesnuif het.

Lord John Sewel het as adjunkspeaker van die parlement se opperhuis bedank nadat The Sun Sondag die foto’s gepubliseer het. Hy is egter onder druk om permanent uit te tree.

Parlementêre owerhede het die polisie ontbied nadat die poniekoerant die beeldmateriaal beskikbaar gemaak het.

Nog was dit nie die einde nie en Maandag is ’n foto gepubliseer waar hy ontspan in ’n oranje bra en leer­baadjie wat behoort aan een van die twee prostitute saam met wie hy glo gefuif het.

Obama kom in Ethiopië aan

Die Amerikaanse president, Barack Obama het in Ethiopië aangekom vir die tweede been van sy besoek aan Afrika, het RSG berig.

Samesprekings oor terreur in Oos-Afrika gaan na verwagting hoog op die agenda wees, met duisende Ethiopiese soldate wat deel vorm van ‘n vredesmag teen al-Shabaab militante in Somalië.

Dit volg na ‘n ontploffing gister by ‘n hotel in die Somaliese hoofstad Mogadishu, waarin minstens dertien mense dood en meer as 40 gewond is.

Al-Shabaab het aanspreeklikheid vir die aanval aanvaar. Obama het tydens sy besoek aan Kenia die naweek gepraat oor die bedreiging wat die militante groep inhou, en die vordering wat reeds deur Afrika Unie-magte gemaak is.

Obama sal met die Ethiopiese eerste minister, Hailemariam Desalegn en die President, Mulatu Teshome vergader.

Hy gaan na verwagting ook die Afrika Unie se hoofkwartiere in Addis Ababa besoek, en met die voorsitter van die AU kommissie, Nkosazana Dlamini-Zuma vergader.

Obama se reis na Kenia gereis is sy eerste besoek sedert hy president geword het, aan die vader­land van sy beweerde pa.

Hy sal van Kenia na Addis Abeba reis en die eerste Amerikaanse president word om Etiopië te besoek.

“Ondanks vele uitdagings wat die vasteland in die gesig staar, is Afrika ’n dinamiese plek met van die vinnigste groeiende markte in die wêreld en wat uitsonderlike mense het,” het Obama vroeër gesê.

Hy sê die vasteland “het die potensiaal om die volgende sentrum van globale ekonomiese groei te wees”. Obama het gepraat by ’n geleentheid waar die Amerikaanse wet op groei en geleenthede in Afrika (AGOA) herdenk is. Die handelswetgewing is daarop gemik om Afrika te help om vooruitstrewend te raak.

Hy het voorbeelde genoem van prestasies gedurende sy termyn as president wat op beter betrekkinge tussen Washington en Afrika gemik is.

“Ons het Amerikaanse uitvoere vermeerder. Ons het geskiedkundige inisia­tiewe van stapel gestuur om handel en beleggings, gesondheid, voedselsekuriteit en landbouontwikkeling te bevorder en elektrifisering uitgebrei,” het Obama gesê.

Obama se besoek aan Afrika die week is sy vierde sedert hy president geword het, meer as enige ander Amerikaanse president. “As jou naam Barack Obama is, dink ek dit maak sin,” het hy geskerts.

Oostenrykse hof stuur Tsjetsjniër tronk toe

’n Oostenrykse hof het ’n Tsjetsjniese burger tronkstraf van vyf jaar opgelê op klagte van terrorisme nadat hy in 2013 na Sirië gereis het.

Dit word as een van die strafste vonnisse beskou in ’n reeks van vonnisopleggings in sake wat met die Islamitiese Staat verband hou.

Die 30-jarige Tsjetsjniër, bekend as Magomed Z., is aan terrorisme en die besit van kinderpornografie skuldig bevind, maar vrygespreek op die klag dat hy militêre opleiding in Sirië gekry het.

Hy het skuld op al die aanklagte ontken en gesê hy is na Sirië om vlugtelinge te help en om na die seun van ’n familielid te gaan soek.

Sy regsverteenwoordiger het aangedui dat hy teen die vonnis gaan appelleer.

Jordanië ondervra Chattanooga-skieter se oom

Die Jordaanse intelligensiediens hou die oom aan van die man wat verlede week vyf Amerikaanse soldate in Tennessee doodgeskiet het, het sy regsverteenwoordiger gister aan AFP gesê.

“My kliënt, die universiteitsdosent Assaad Ibrahim al-Haj Ali, word sedert Vrydag onwettig deur die intelligensiediens aangehou,” het Abdelkader al-Khatib gesê.

Hy sê sy kliënt is van Palestynse herkoms en het dubbele burgerskap, naamlik dié van Jordanië en die VSA. Hy is die oom van die 24-jarige Mohammad Youssuf Abdulazeez wat verlede Donderdag vyf weermaglede doodgeskiet het voordat hy deur die polisie om die lewe gebring is.

Khatib sê Abdulazeez het verlede jaar tydens ’n besoek aan Jordanië etlike maande by sy oom gewoon en by ’n nabygeleë selfoonwinkel gewerk.

Washington het die skietery as ’n daad van terrorisme beskryf, maar Khatib sê sy familie beskryf hom as ’n gewone mens sonder radikale neigings en was net so geskok oor die voorval.

Swede, Italië, Spanje vat ISIS-ondersteuners vas

Sweedse owerhede het twee burgers in hegtenis geneem op die vermoede van terrorisme-verwante oortredings.

Die Sweedse veiligheidspolisie het ‘n lasbrief vir ‘n derde verdagte uitgereik. Hullle het Donderdag gesê dat hulle die twee Sweedse burgers daarvan verdink van terreurdade, insluitende moord in Sirië in 2013.

Die twee persone is in hegtenis geneem in Göteborg.

Die Sweedse Minister van Binnelandse Sake Anders Ygeman sê die arrestasies is “baie bemoedigend.” Ygeman het bygevoeg dat die saak die eerste keer is dat militante wat na die buiteland reis om terrorisme te pleeg, deur Sweedse howe aangekla word.

Sowat 300 Swede het reeds in Sirië en Irak by militante terreurgroepe soos ISIS aangesluit.

Die polisie in Italië het ook dié week ’n Tunisiër en man van Pakistan in hegtenis geneem wat daarvan verdink word dat hulle die Islamitiese Staat (ISIS) steun en aanvalle in dié land beplan.

Die mans is in Brescia, ’n klein dorpie naby Milaan, Lombardye, gearresteer, het die polisie in ’n verklaring gesê.

Die 35-jarige Tunisiër het volgens die polisie op Twitter “dreigemente geplaas en dit as komende van die Islamitiese Staat onderteken”. Bekende landmerke soos die Colosseum in Rome en die katedraal in Milaan is saam met die boodskappe geplaas.

Dié land se veiligheidsmagte is reeds maande lank op ’n gereedheidsgrondslag uit vrees vir aanvalle op ambassades, kerke, die Vatikaan en ander plekke wat baie toeriste lok.

Intussen het die polisie in Spanje ‘n man in hegtenis geneem wat vroue werf om te stuur na gebiede onder beheer van ISIS in Sirië.

Die ministerie van binnelandse sake het in ‘n verklaring gesê die 29-jarige Spanjaard is in hegtenis geneem Woensdag in Melilla, een van die twee Spaanse enklawestede in die noordweste van Afrika.

Beide Italië en Spanje probeer om ISIS-verwante terrorisme te keer.

Spanje het hierdie jaar sowat 50 vermeende jihadi militante en werwers in hegtenis geneem.

Nigeriese staatshoof vergader met Obama oor terreur

Nigerië se nuwe president, Muhammadu Buhari, het dié week ‘n amptelike besoek aan Amerika onderneem vir ’n vergadering met pres. Barack Obama.

Dit is om betrekkinge te herstel wat deur sy voorganger se mislukte stryd teen ’n Islamitiese opstand en korrupsie in Afrika se grootste olieproduserende land skade gely het.

Buhari, ‘n Moslem, se verkiesing in Maart, die eerste demokratiese verandering in die Wes-Afrikaland, wat dekades van militêre regering gehad het, het reeds tot beloftes van Amerika vir toenemende militêre hulp in die stryd teen Boko Haram gelei.

Selfmoordbomaanvalle en aanvalle op nedersettings deur Boko Haram-ekstremiste het net in die afgelope twee weke die lewe van honderde mense in Nigerië en naburige Tsjad, Niger en Kameroen geëis.