Al-Sjabaab se selfmoordbomaanval op ’n hotel in Mogadisjoe Sondag het die lewe van minstens 13 mense geëis, het AFP berig.
Die Jazeera Palace-hotel is die tuiste van die diplomatieke sendings van China, Katar en die Verenigde Arabiese Emirate in Somalië en gewild onder Somaliese regeringsamptenare en buitelandse besoekers.
Beijing het gister gesê een van die land se ambassadepersoneel is dood en drie is in die aanval beseer.
Troepe van die Afrika-unie se magte het gehelp om oorlewendes, insluitende Kenia se ambassadeur in Somalië, na veiligheid te neem.
Die hotel was in die verlede ook ’n teiken van Al-Sjabaab. In 2012 het selfmoordbomaanvallers die hotel bestorm terwyl pres. Hassan Sheikh Mohamud binne was.
“Hierdie was ’n aanval op ’n simbool. Die Jazeera-hotel was ’n plek waar die internasionale gemeenskap en hul eweknieë in Somalië vergader het.
“Ek het egter ’n boodskap vir die terroriste: Die Jazeera Palace sal herbou word. Dit is hoe ons op gewetenlose aanvalle soos hierdie reageer. Soos dit dikwels die geval is, is ons internasionale kollegas daar om te help as onskuldige Somaliërs beseer word,” het Mohamud gesê.
Volgens Al-Sjabaab was die aanval in weerwraak vir die “dood van dosyne onskuldige burgerlikes” verlede week toe Ethiopiese magte Al-Sjabaab-basisse in die suide van Somalië aangeval het.
Die hotel is aan flarde geruk deur die ontploffing wat die kant van die sesverdieping-gebou in puin gelê het.
