President dank twee ministers af wat kla oor nuwe termyn

Reuters berig dat president Dennis Sassou Nguesso van die Republiek van Kongo twee ministers afgedank het wat gekant is teen voorgestelde grondwetlike wysigings om vir hom ’n verdere termyn as president moontlik te maak.

Die 71-jarige Sassou Nguesso regeer al vir 31 jaar die olie-ryke Kongo. Volgens die huidige grondwet is hy tot twee termyne as staatshoof beperk.

Hy het egter verlede maand ’n forum byeengeroep om grondwetlike hervormings te bespreek om die verhoging van die maksimum ouderdom van presidentskandidate en die tweetermyn-beperking te bespreek.

Nuwe Rwandese grondwet sal president drie termyne gee

Rwandese wetgewers het ná landwye konsultasies bevind net tien mense is gekant teen moontlike grondwetlike wysigings om pres. Paul Kagame ’n derde termyn as president te gee.

Luidens ’n verslag wat die week bekend gemaak is, het meer as 3,7 miljoen mense, meer as 60% van kiesers, ’n petisie onderteken om die grondwet te verander, het AFP berig.

Die president sal dus nie meer tot net twee ampstermyne beperk word as die grondwet verander word nie.

Die 57-jarige Kagame is sedert 1994 aan bewind nadat ’n offensief deur sy Rwandese Patriotiese Front (RPF) rebelle ’n einde aan die menseslagting deur Hutu-ekstremiste gemaak het, waarin nagenoeg 800 000 mense, meestal Tutsi’s, dood is.

Republikeinse debat gee Trump hupstoot

Die Republikeinse party se voorloper in die presidentswedloop, Donald Trump, het Sondag geweier om verskoning te vra vir sy antwoorde aan ‘n aanvallende vroue-joernalis van Fox News.

Trump het later gesê hy het niks teen die verslaggeefster nie, maar dat sy tydens die Republikeinse debat onregverdige vrae aan hom gevra het.

Dit is duidelik dat die impak van Trump se jongste opmerkings sy verkiesingskanse ‘n hupstoot gegee het.

Voor Donderdag se debat het hy met 24 persent van die nasionale Republikeinse steun gespog, teenoor sy naaste teenstander, die oudgoewerneur van Florida Jeb Bush, se 13 persent.

Die voormalige goewerneur van Florida en George W Bush se broer, het na die sewende plek gedaal vanaf derde by Iowa se kiesers oor die afgelope maand, wat ‘n totale insinking verteenwoordig.

In die verlede het Trump se omstrede opmerkings oor onder meer ongewensde Meksikaanse immigrante, die oorlogrekord van die Republikein, John McCain, en die intelligensie van sy Republikeinse teenstanders, bygedra om sy gewildheid te laat toeneem.

Ontleders meen Trump hou ‘n groot gevaar in vir sy mededingers wat namens sekere belange optree en dat hulle sal moet begin vuilspeel om van hom ontslae te raak.

Een opsie is glo om sy gewildheid te laat piek lank voor die Republikeine se nominasiestryd beslis word en hom dan uitmekaar te trek in die media kort voor die verkiesing moet plaasvind.

Britte sien bedreiging in seemeeue

Seemeeue se manewales maak groot opslae in Britanje.

Hoewel besoekers aan die land se strande gewoond geraak het aan die voorbarige geveerdes wat hul vis en tjips steel, haal die voëls deesdae ook koerantopskrifte in die poniepers.

Van die onlangse berigte sluit in ‘n seemeeu wat ‘n slimfoon gegaps het, ‘n kanibalistiese reeksmoordenaar, en hoe die veglustige voëls onwettige immigrante laat spaander het.

Die meeue word luidens berigte in selfs die hoofstroom media al meer slinks met hul diefstal, maar kenners meen die diere het bloot net gewoond geraak aan mense se teenwoordigheid in hul omgewing en sien hulle as ‘n bron van kos.

Die seemeeue is dalk ook meer aggresief in Julie omdat hulle kuikens het.

Wit verslaggewer aangerand in Ferguson

‘n Wit verslaggewer van die Post-Dispatch, Paul Hampel is bewusteloos geslaan en daarna beroof deur ‘n groep swart aanvallers terwyl hy berig het oor hernude opstande in Ferguson, in die Amerikaanse deelstaat Missouri, Sondagnag.

Gewelddadige oproer het uitgebreek met die herdenking van die skietdood van ‘n swart misdadige tiener, Michael Brown ‘n jaar gelede. Brown se dood het aanleding gegee tot die #BlackLivesMatter-veldtog.

Hampel sê hy was besig om foto’s en video’s van inbrake en plundery te neem op West Florissant Avenue kort voordat hy aangeval is.

Hy is van agter oorrompel en die swart aanvallers het hom begin slaan en geskop teen die agterkant van sy kop toe hy op die grond was, het Hampel gesê.

Die aanvallers het daarna sy selfoon en beursie gesteel en hul uit die voete gemaak.

Hampel het probeer opstaan om na die polisiekordon terug te keer en die New York Times se fotograaf Whitney Curtis teëgekom. Hy het aan haar gesê dat hy ‘n ambulans nodig het.

Daarna het hy op die gras ineengesak en kan niks meer onthou nie. Hy het in die hospitaal wakker geword en gesê hy het ‘n harsingskudding opgedoen en is oornag gehou vir evaluering.

‘n Noodtoestand is intussen afgekondig oor die hele St Louis-gebied, nadat onluste verder uitgekring het as Ferguson.

Tydens die oproer is minstens drie swartes geskiet en vier is in hegtenis geneem.

Een van die swart verdagtes wat in op die polisie begin skiet het, is in ‘n kritieke toestand in die hospitaal nadat die polisie teruggeskiet het en hom gewond het.

Distrikspolisie het beheer geneem oor polisiëring in Ferguson onder die noodtoestand.

Volgens die polisie hou die skietery nie verband met die betogings om die dood van Brown te herdenk nie.

Die noodtoestand is verklaar nadat verskeie winkels geplunder is.

Duitsland maak reg vir duisende asielsoekers

Die wêreld se grootste handelsuitstalterrein in Hanover, Duitsland, gaan ruimte beskikbaar stel vir sommige van die duisende vlugtelinge wat in Duitsland op gedaag het.

Die land het met ‘n skerp toevloei van migrante te doen wat na verwagting later vanjaar die 500 000 kerf sal haal.

Die kantoor vir Migrasie en Vlugtelinge sê tydelike woonstrukture sal opgerig word.

In ander stede het die owerheid tente opgeslaan om die asielsoekers te huisves.

Die land het ‘n ruim welsynstelsel in vergelyking met EU-standaarde, en is by verre die mees gewilde bestemming vir vlugtelinge uit krisisstreke in die Midde-Ooste, Noord-Afrika en Oos-Europa.

In 2014, het asielaansoeke in die EU tot 626 065 gestyg, ‘n 44 persent toename van die vorige jaar. Die meerderheid is Arameërs en een derde reis na Duitsland.

Volgens die mees onlangse VN-data, het Duitsland meer asielaansoeke ontvang as enige ander land in die wêreld in die eerste helfte van verlede jaar – 42 persent meer as die VSA.

In Mei het ‘n nagklub in Ingolstadt, ‘n klein dorpie in die konserwatiewe suidelike staat van Beiere, ‘n herrie veroorsaak nadat die klub ‘n volstrekte verbod op immigrante geplaas het.

Die eienaar beweer dat asielsoekers van ‘n nabygeleë skuiling vroulike gaste teister, jasse steel en probeer om gratis drank te kry.

In ‘n onderhoud met Duitsland se grootste nasionale dagblad, die Süddeutsche Zeitung het die eienaar geen poging aangewend om sy besluit polities korrek te laat klink nie. “Swartes het ‘n probleem met vroue en Arabiere het ‘n probleem met aggressie,” het hy aan die koerant gesê.

Aardbewing tref DRK

‘n Aardbewing van 5,6 het in die vroeë oggendure in die oostelike deel van die Demokratiese Republiek van die Kongo getref.

Op Vrydag, plaaslike tyd, teen ‘n relatief vlak diepte van 10 km, het die Amerikaanse Geologiese Opname Donderdag berig dat die aardbewing na aan die land se grens met Rwanda voorgekom het.

Die aardbewing het 39km noord van Bukavu, plaasgevind, het die USGS gesê.

Die USGS aanvanklik berig die aardbewing het 5,8 op die Richterskaal gemeet.

Verdere besonderhede is nog nie beskikbaar nie.

Al-Basjir skort doodsvonnisse op in vredespoging

Soedan se eerste visepresident, Bakri Hassan Saleh, het Maandag aangedui dat die vonnisse, insluitende die doodsvonnis van gewapende rebelle, opgeskort kan word.

Die aanbod is aanvanklik vir die duur van die samespre­kings vir nasionale versoe­ning geldig. Die samespre­kings is ’n hernude poging deur die regering om ’n einde aan gevegte te maak waarin die land gedompel is.

Kartoem is sedert 2011 teen insurgente in die Blou Nyl en Suid-Kordofan provinsies in ’n stryd gewikkel. Die insurgente bestaan meestal uit vegters van die burgeroorlog wat in Soedan agtergebly het, nadat Suid-Soedan daardie jaar afgestig het.

Pres. Omar al-Basjir het verlede jaar die nasionale dialoog geïnisieer, maar min vordering is gemaak.

Hy het ook ’n algemene amnestie vir gewapende groepe hernu wat “’n opregte begeerte het om terug te keer en aan die dialoog deel te neem”.

“Ons kan die hof se bevindinge vries vir die duur van die onderhandelinge asook ander maatreëls implementeer waaroor ons konsensus bereik. Ons kan egter nie amnestie gee tensy ons meen die onderhande­linge sal slaag nie, omdat ons nie vir hulle amnestie wil gee sodat hulle net weer die wapen kan opneem nie,” het hy gesê.

Twee leiers en 15 lede van die hoof rebelle alliansie teen Basjir is reeds in Maart 2014 in hul afwesigheid die doodsvonnis opgelê.

’n Woordvoerder van die rebellegroep bekend as die beweging vir justisie en gelykheid (JEM) het egter gesê hulle vertrou nie die regering wat krygsgevangenes en vreedsame betogers om die lewe gebring het nie.

Basjir het in April sy 25-jarige bewind verleng toe hy met meer as 94 persent van die stemme in die land se verkiesing herkies is. Opposisiepartye het die verkiesing geboikot.

Vlerk wél van MH370 sê Maleisië

Die Maleisiese eerste minister het bevestig dat ‘n wrakstuk wat verlede week naby die eiland Reunion in die Indiese Oseaan gevind is, wél afkomstig is van die vermiste Maleisiese vlug MH370.

Die fragment van die vleuel bekend as ‘n flaperon is na die vasteland van Frankryk geneem nadat dit verlede week met eendmossels bedek op ‘n strand van die Indiese Oseaan-eiland Reunion, ook Franse grondgebied, uitgespoel het.

Ten spyte van die Maleisiese bevestiging was dit deel van MH370 is, wou aanklaers in Frankryk geen soortgelyke verklaring uitreik nie, en net gesê dat daar ‘n “baie sterk vermoede” is dat dit ddel van die vermiste vliegtuig is.

Premier Najib Razak sê egter daar is nou fisiese bewyse dat die vliegtuig in Maart verlede jaar in die suidelike deel van die Indiese Oseaan neergestort het met 239 mense aanboord.

Dit is die eerste deurbraak sedert die vliegtuig vermis geraak het.

Razak het lande, organisasies en indiwidue bedank wat aan die soektog deelgeneem het.

Britse oliemaatskappy vir korrupsie ondersoek

’n Oliemaatskappy onder voorsitterskap van ’n voormalige leier van die Britse konserwatiewe party, word vir beweerde korrupsie in Somalië ondersoek.

Soma Oil and Gas, ’n ­private maatskappy waarvan lord ­Michael Howard die ­voorsitter is, het Maandag ­ontken dat die maatskappy ’n half­miljard Amerikaanse dollar aan ­regeringsamptenare in ­Somalië betaal het om ’n ­olie-eksplorasieooreenkoms te beskerm.

Brittanje se kantoor vir ­ernstige bedrog het Vrydag ’n kriminele ondersoek na Soma begin.

Die bewerings spruit uit ’n ondersoek wat deur die Verenigde Nasies se monitorgroep in Somalië en Eritrea van stapel gestuur is.

Die monitorgroep is gestig om skendings van wapenembargo’s in die lande te rapporteer.