Wit verslaggewer aangerand in Ferguson

‘n Wit verslaggewer van die Post-Dispatch, Paul Hampel is bewusteloos geslaan en daarna beroof deur ‘n groep swart aanvallers terwyl hy berig het oor hernude opstande in Ferguson, in die Amerikaanse deelstaat Missouri, Sondagnag.

Gewelddadige oproer het uitgebreek met die herdenking van die skietdood van ‘n swart misdadige tiener, Michael Brown ‘n jaar gelede. Brown se dood het aanleding gegee tot die #BlackLivesMatter-veldtog.

Hampel sê hy was besig om foto’s en video’s van inbrake en plundery te neem op West Florissant Avenue kort voordat hy aangeval is.

Hy is van agter oorrompel en die swart aanvallers het hom begin slaan en geskop teen die agterkant van sy kop toe hy op die grond was, het Hampel gesê.

Die aanvallers het daarna sy selfoon en beursie gesteel en hul uit die voete gemaak.

Hampel het probeer opstaan om na die polisiekordon terug te keer en die New York Times se fotograaf Whitney Curtis teëgekom. Hy het aan haar gesê dat hy ‘n ambulans nodig het.

Daarna het hy op die gras ineengesak en kan niks meer onthou nie. Hy het in die hospitaal wakker geword en gesê hy het ‘n harsingskudding opgedoen en is oornag gehou vir evaluering.

‘n Noodtoestand is intussen afgekondig oor die hele St Louis-gebied, nadat onluste verder uitgekring het as Ferguson.

Tydens die oproer is minstens drie swartes geskiet en vier is in hegtenis geneem.

Een van die swart verdagtes wat in op die polisie begin skiet het, is in ‘n kritieke toestand in die hospitaal nadat die polisie teruggeskiet het en hom gewond het.

Distrikspolisie het beheer geneem oor polisiëring in Ferguson onder die noodtoestand.

Volgens die polisie hou die skietery nie verband met die betogings om die dood van Brown te herdenk nie.

Die noodtoestand is verklaar nadat verskeie winkels geplunder is.

Doodstraf met inspuiting bly

Die Amerikaanse staat Missouri het Dinsdag die terdoodveroordeelde David Zink tereggestel.

Dit is die eerste teregstelling sedert die hooggeregshof die gebruik van ’n omstrede dodelike inspuiting goedgekeur het.

Zink (55) is ter dood veroordeel vir die verkragting en moord van ’n jong vrou wat hy in Julie 2001 ná ’n motorongeluk ontvoer het.

Die hof het met vyf stemme teen vier bevind dat daar geen bewyse is dat die inspuiting, midazolam, die kans op ernstige verlengde pyn vergroot vir mense wat tereggestel word nie.

Rasse-oorlog oorspoel Ferguson

‘n Rasse-oorlog wat dreig om oor te spoel na die res van die land, het in die Amerikaanse dorp Ferguson in die deelstaat Missouri uitgebreek.

Betogings is ook in stede regoor die land gehou en verkeer in Oakland, Chicago en New York is ontwrig.

Lede van die veiligheidsmagte is in Ferguson ontplooi en moes reeds van traangas gebruikmaak om oproeriges te verwilder.

‘n Uitgebreide jurie het beslis dat ‘n wit polisieman nie vervolg sal word nadat hy ‘n ongewapende swart tienermisdadiger, Michael Brown, doodgeskiet het nie.

Ná nog ‘n nag van oproer en plundery is daar geen teken daarvan dat gemoedere wil bedaar nie.

Verskeie winkels is reeds geplunder en motors aan die brand gesteek.

Direkte TV-uitsendings toon hoe die polisie met allerlei voorwerpe bestook word in voortslepende straatgevegte.

Gesiene swart gemeenskapsleiers waaronder Al Sharpton, het die geleentheid benut om rasse-onmin ook verder aan te blaas.

President Barack Obama het gepleit om kalmte en sê die dorp is deel van ‘n groter uitdaging waar wetstoepassers en swart gemeenskappe bots.

Missouri kondig noodtoestand aan voor Ferguson-uitspraak

Die goewerneur van die Amerikaanse deelstaat, Missouri, moes inderhaas ‘n noodtoestand afkondig om rassespanning onder beheer te bring.

Goewerneur Jay Nixon het ook magtiging aan die Nasionale Wag verleen om die polisiemag by te staan om swart oproeriges vas te vat.

Die opstand dreig in Ferguson waar uitspraak verwag word in die saak waarin ‘n wit polisiebeampte ‘n jong swarte, Michael Brown doodgeskiet het.

Ter voorbereiding van die uitspraak wat waarskynlik in die guns van die wit polisiebeampte sal wees, betoog swart jeugdiges reeds die afgelope twee dae.

Daar is forensiese getuienis dat Brown ‘n wapen hanteer het weens reste wat aan sy hande gevind is, ten spyte daarvan dat daar beweer word dat hy nie gewapen was toe hy geskiet is nie.

Daar is ook geslote kringtelevisie wat aantoon dat Brown in ‘n winkel besig was om te steel.

Swart inwoners van Ferguson meen egter dat Darren Wilson verantwoordelik gehou moet word vir die skietdood van die ongewapende 19-jarige Brown.

Rasseonluste het na skietvoorval op 9 Augustus uitgebreek waar swart oproeriges dae lank hulself skuldig gemaak het aan plundertogte en vandalisme.

Miljoene dollar se skade is reeds aangerig en sakeondernemings in swart gebiede moes hul deure permanent sluit.

Indien die uitgebreide jurie beslis dat Wilson nie verantwoordelik is nie, verwag die owerhede ‘n swart opstand wat wyer in die VSA kan uitkring.

Volgens die FBI kan onluste elders in die VSA opvlam en die polisie is landswyd op ’n gereedheidsgrondslag geplaas.

‘n Aktivistegroep, Justice for Mike Brown, het ‘n lys bekend gestel van teikens wat aangeval sal word wat ook plekke insluit wat nie met die voorval verband hou nie.

Agtste nag van geweld in Ferguson

Die Polisie in St Louis moes opnuut van traangas gebruik maak om swart oproeriges in Ferguson, in die Amerikaanse deelstaat Missouri, uiteen te jaag.

Michael Brown, die ongewapende tiener wat deur ‘n polisiebeampte verskeie kere geskiet is, se lyksondersoek het aan die lig gebring dat hy aan ‘n dodelike wond in die voorkop beswyk het.

Volgens ‘n voorlopige nadoodse ondersoek en ‘n verslag van die voorval deur die beampte, Darren Wilson, het al die skote die swart tiener van voor getref.

Die onthullings kom op ‘n nag gekenmerk deur skietery en botsings tussen oproeriges en die polisie, die ergste in agt dae van rasse-onluste tussen swart inwoners en wit polisiebeamptes.

Vreesbevange inwoners sê Ferguson lyk soos ‘n oorlogsone.

Die betogers, wat meesal jonk was, het drie uur voor die aanklokreël om middernag begin amok maak. Vensters is stukkend geslaan en van die betogers het ook traangashouers na die polisie teruggegooi.

Baie het plakkate wat beswaar maak teen polisie-brutaliteit, opgehou. Kritici sê die militarisering van die polisiemag in die VSA, lei tot gevalle soos dié van Brown en daar gaan jaarliks 29 keer meer slagoffers van polisiegeweld dood as van terreur.

Sondag se vrystelling van ‘n nadoodse ondersoek-verslag van die moord op 9 Augustus, wat menings in die VSA erg gepolariseer het, het gedreig om die spanning te verder te laat verhoog.

Brown, 18, is minstens ses keer geskiet, insluitend twee keer in die kop, volgens ‘n voorlopige private lykskouing uitgevoer namens sy gesin, die New York Times berig.

Volgens Michael Baden, ‘n voormalige hoof mediese ondersoeker vir die Stad van New York was een van die koeëls wat sy skedel binnegedring het genoeg om die tiener te dood. Hy het na Missouri gevlieg op die gesin se versoek om die lykskouing te doen, nadat ‘n vroeëre ondersoek uitgevoer is deur St Louis County.

Die afwesigheid van kruit op die liggaam wys dat die koeëls nie van naby gevuur is nie. Dit kan verander indien daar reste op Brown se klere gevind word. Baden het nie toegang tot die klere nie, het hy aan die New York Times gesê.

Brown is geskiet nadat hy en ander op heterdaad in ‘n rooftog by ‘n tabakwinkel betrap is.

Die Amerikaanse prokureur-generaal, Eric Holder het die Departement van Justisie opdrag gegee om. in ‘n ongewone stap, ‘n derde nadoodse ondersoek op die swart tiener te doen wat in Ferguson in Missouri deur die polisie doodgeskiet is.

Die departement sê die opdrag is weens die “buitengewone omstandighede” van die saak.