Eskom waarsku hele land oor kragonderbrekings

Eskom het kragverbruikers gewaarsku dat beurtkkrag van Donderdag asook oor die naweek ingestel kan word.

Die waarskuwing is Woensdag uitgereik dat beurtkrag weer ingestel kan word indien die druk nie op die kragnetwerk verlig word nie.

“Ons gebruik tans ons noodreserwes,” het Andrew Etzinger, woordvoerder van Eskom, gesê. “Na verwagting gaan die noodreserwes voor die einde van die week uitgeput wees wat ekstra druk op die kragnetwerk gaan plaas en die kans op beurtkrag kan verhoog.”

Die hele land word geraak deur die kragprobleme.

Eskom sukkel om aan die vraag na elektrisiteit te voldoen, gedeeltelik weens probleme by die Majuba-kragstasie in Mpumalanga.

Intussen sê Eskom hy verwag dat eenheid ses van die nuwe Medupi-kragstasie binnekort in werking gestel sal word.

Die kragverskaffer het egter gewaarsku dat dit nie die einde van die kragprobleme sal beteken nie.

Instandhouding by die Cahora Bassa-aanleg in Mosambiek plaas glo bykomende druk op kragvoorsiening.

ʼn Steenkoolsilo het verlede maand by die Majuba-kragstasie in Mpumalanga ineengestort en landswye kragonderbrekings tot gevolg gehad.

Die silo het meer as 10 000 ton steenkool geberg en die voorraad na ses ander eenhede by die kragstasie beïnvloed.

 

Suidooster blaas brande in Kaapstad aan

Brandbestryders het Woensdagmiddag steeds teen die hange van Vlaeberg – beter bekend as Seinheuwel – asook Leeukop gespook om vure te blus.

‘n Brand het Dinsdagaand uitgebreek en is deur die Suidooster aangeblaas.

Liezl Moodie, woordvoerder vir Kaapstad se brand- en reddingseenheid, het omstreeks 12:00 aan Sapa gesê daar is steeds brandbestryders op die toneel om smeulende boomstompe dop te hou.

Daar was Dinsdagaand in ʼn stadium nagenoeg 200 brandbestryders op Leeukop besig om die brand onder beheer te bring.

Sommige inwoners naby Leeukop en Vlaeberg is as ʼn voorsorgmaatreël ontruim, alhoewel geen skade aan eiendom aangemeld is nie.

Moetiemoordplan teen premier gefnuik

‘n Swartvrou is Dinsdag in hegtenis geneem nadat sy ‘n toordokter genader het om die Noordwes-premier Supra Mahumapelo en die uitvoerende burgemeester van Mahikeng, Gosiame Seatlholo, te vermoor, het die Valke gesê.

“Die 42-jarige raadslid is in die vroeë oggendure in Mmasebudule in hegtenis geneem,” het Paul Ramaloko, woordvoerder van die Valke, gesê.

Die vrou het ‘n toordokter op 21 November gevra om te help om Mahumapelo en Seatlholo met moetie te vermoor. Hy het teësinnig ingestem, maar het die polisie op 28 November van haar moordplanne in kennis gestel.

“Sy is Dinsdag in hegtenis geneem toe sy die toordokter vir die tweede keer gaan besoek het,” het hy gesê. Sy sal Woensdag in die Lehurutshe-landdroshof verskyn.

Die premier se kantoor het hul skok oor die moordplan uitgespreek: “Die kantoor van die premier verneem met skok kennis oor die inhegtenisneming van ʼn verdagte wat premier Mahumapelo wou vermoor.”

Die woordvoerder het ook die polisie bedank vir hul vinnige reaksie op die saak. “Intussen kan ons lede van die publiek verseker dat premier Mahumapelo veilig is en met sy gewone amptelike take voortgaan.”

EFF rig dringende aansoek teen skorsing

Die regspan wat die 20 geskorste EFF-parlementslede verteenwoordig, vergader vandag met die regterpresident van die Wes-Kaapse Hooggeregshof, John Hlophe, oor ‘n regter om die party se dringende aansoek teen die skorsing aan te hoor.

‘n Aantal lede is vir dertig dae geskors sonder betaling.

 

Die EFF se regsverteenwoordiger, Luvuyo Godla sê hulle gaan ook vra dat die saak so gou as moontlik aangehoor word, het RSG berig.

‘n Verslag wat die skorsings aanbeveel is verlede week deur die Nasionale Vergadering aanvaar.

Die LP’s is aangekla nadat hulle President Jacob Zuma in Augustus tydens `n sitting uitgejou het.

Die Speaker van die Nasionale Vergadering Baleka Mbete, die voorsitter van die Komitee vir Bevoegdhede en Voorregte en ook President Zuma word as respondente genoem.

Die EFF voer aan dat die besluit van die Nasionale vergadering om die Komitee se verslag te aanvaar, ongrondwetlik was.

Oproeriges suid van Johannesburg versper Lawleyweg

Oproeriges in Lawley, suid van Johannesburg het verkeer op ou Lawley-weg tot stilstand gedwing.

‘n Woordvoerder van die Metropolisie, Wayne Minnaar sê dele van die pad word versper met rotse en brandende buitebande.

Die oproermakers is glo ontevrede omdat hulle nie elektrisiteit het nie.

Minnaar het aanbeveel dat die K43 en R580 as alternatiewe roetes gebruik word om die oproeriges te vermy.

Swart plaasaanvaller gevonnis

‘n Swart plaasaanvaller is tot 15 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy ‘n egpaar lewendig wou verbrand.

Die wrede aanval op Jan Pretorius, 72, en sy vrou op 18 November 2012 op hul plaas Uitschot in Noordwes, is aan die sewen-en-twintigjarige Hans Lekgetho verbind.

“Lekgetho is Vrydag gevonnis vir die misdade wat hy saam met twee minderjariges gepleeg het,” het sers. Kelebogile Moleko, woordvoerder van die polisie, in ‘n verklaring gesê. “Die minderjariges het as staatsgetuies opgetree.”

Die gesteelde eiendom, ʼn VW Jetta en vier vuurwapens wat die aanvaller op die plaas by Biesiesvlei gebuit het, is later teruggevind.

“Die beskuldigde het die slagoffer tydens die misdaad met ʼn ysterstaaf aangerand,” het Moleko gesê. “Hy het geval en is in die huis ingeneem waar hy herhaaldelik geslaan is. Sy vrou se hande is aan die toilet vasgebind en die beskuldigde het die kluissleutel geëis. Sy het geweier en haar vinger is met ʼn mes byna afgesny.”

Die aanvallers het onder andere ook paraffien oor Pretorius uitgegooi, ʼn kombers oor hom gegooi en hulle wou sy baard aan die brand steek.

Hulle het op die vlug geslaan toe ‘n hekklokkie gelui het en hul bose moordplan gefnuik is.

 

R36 by Tzaneen onbegaanbaar weens oproer

Oproeriges het verkeer op die R36 tussen Tzaneen en Hoedspruit Woensdagoggend ontwrig.

Die polisie is in die gebied ontplooi om die situasie onder beheer te probeer kry.

Dié pad in Limpopo is deur swart oproermakers onbegaanbaar gemaak met brandende voorwerpe.

Die oproeriges eis lopende water en beter paaie.

Die inwoners van Mokgolobotho het sowat twee maande gelede ‘n griefskrif aan die Groter Tzaneen munisipaliteit oorhandig en is ontevrede dat daar nog nie gehoor gegee is aan hul eise nie.

DA-pot skel ANC-ketel

Die DA wat op kamera vasgelê is waar hulle aan ‘n vuisslanery met die polisie in die parlement deelneem, het president Jacob Zuma een uit tien gegee vir sy jaarlikse telkaart.

Dié telkaart is opgestel om die werksaamhede van die regering te beoordeel.

Die DA se anti-wit parlementêre leier, Mmusi Maimane sê die president en talle ministers het “klaaglik misluk” in hulle taak, maar nie na sy party se ontwrigting van die Nasionale Vergadering saam met die EFF verwys nie.

Die parlementêre orde het intussen in ‘n klugspel ontaard weens die opposisie se aapstreke.

Maimane het Zuma se onwilligheid om parlementêre vrae te beantwoord; sy onbevredigende reaksie op die Openbare Beskermer se Nkandla-verslag, die energiekrisis, die swak ekonomie en korrupsie as redes vir Zuma se punt aangevoer.

Die DA ondersteun egter presies dieselfde beleidsrigtings as die ANC, te wete Regstellende Aksie en Swart Ekonomiese Bemagtiging. Dié beleidsrigtings is vir die treurige stand van die ekonomie verantwoordelik.

Die ministers van Kommunikasie, Faith Muthambi; Ekonomiese Ontwikkeling, Ebrahim Patel; en Energie, Tina Joematt-Pettersson het ook een uit tien gekry.

Maimane sê net een minister, verdien lof en dit is die minister van Wetenskap en Tegnologie, Naledi Pandor wat agt uit tien gekry het.

Suid-Afrika vaar juis besonder swak met Wiskunde en Wetenskap in internasionale ondersoeke oor die stand van opleiding.

Sunday Times kerm dat ras van misdadigers ontbloot word

Buurtwagte wat rasse-profilering gebruik, is skerp deur die Sunday Times gekritiseer.

“Die gebruik van rasse-kodes, insluitend om glo na swartmense as bravo (black) en bruin mense as charlie (coloured) te verwys in kennisgewings op sosiale media neem toe,” het William Bird, direkteur vir Media Monitoring Africa, gesê.

“Dit sal regtig nie help om die persoon as ʼn moontlike oortreder te identifiseer nie. Dit is soos om te sê ‘n “wit man in Noorweë’.”

Die koerant het gesê ʼn webwerf, Suburban Fear, doen tans verslag oor burgerlike organisasies se “rassistiese” Facebook-plasings. Sulke plasings word beskou as “die bastion van wit middelklasvrees”.

Skermskote van plasings op die webwerf sluit ook begrippe soos “bm” (black male) in.

Daar is ook verwysings na verdagte persone in verskeie woonbuurte wat begrippe insluit soos “lyk nie Suid-Afrikaans nie”, “freakin Nigeriërs” en “4 swartes (buitelanders)”.

 

Winnie se eis op Qunu kry wind van voor

President Jacob Zuma het ‘n kennisgewing ingedien wat Winnie Madikizela-Mandela se beweerde aansoek teenstaan om inligting oor Mandela se grond te bekom.

Madikizela-Mandela wil toegang tot staatsdokumente kry wat inligting bevat oor oud-president Nelson Mandela se eiendom op Qunu in die Oos-Kaap.

Die presidensiële woordvoerder, Mac Maharaj het bevestig dat die kennisgewing ingedien is.

Maharaj het egter nie verdere besonderhede bekend gemaak nie.

Madikizela-Mandela se regsgverteenwoordiger, Mvuzo Notyes, het in Oktober die aansoek in die Mthatha Hooggeregshof ingedien waarin Mandela se boedel teengestaan word en sy die reg op sy Qunu-huis eis.

Sy voer aan dat die voormalige president moontlik skuldig was aan bedrog toe hy die grond in Qunu op sy eie naam geregistreer het.

Madikizela-Mandela voer aan dat die abaThembu koning, Buyelekhaya Dalindyebo die grond aan haar gegee het toe Madiba in die tronk was.

Die Xhosa-stamhoof wat onlangs die grootste DA-vergadering onder sy stamgenote gehou het, word deur die party as die “koning” van die Transkei voorgehou.