President Jacob Zuma het ‘n kennisgewing ingedien wat Winnie Madikizela-Mandela se beweerde aansoek teenstaan om inligting oor Mandela se grond te bekom.
Madikizela-Mandela wil toegang tot staatsdokumente kry wat inligting bevat oor oud-president Nelson Mandela se eiendom op Qunu in die Oos-Kaap.
Die presidensiële woordvoerder, Mac Maharaj het bevestig dat die kennisgewing ingedien is.
Maharaj het egter nie verdere besonderhede bekend gemaak nie.
Madikizela-Mandela se regsgverteenwoordiger, Mvuzo Notyes, het in Oktober die aansoek in die Mthatha Hooggeregshof ingedien waarin Mandela se boedel teengestaan word en sy die reg op sy Qunu-huis eis.
Sy voer aan dat die voormalige president moontlik skuldig was aan bedrog toe hy die grond in Qunu op sy eie naam geregistreer het.
Madikizela-Mandela voer aan dat die abaThembu koning, Buyelekhaya Dalindyebo die grond aan haar gegee het toe Madiba in die tronk was.
Die Xhosa-stamhoof wat onlangs die grootste DA-vergadering onder sy stamgenote gehou het, word deur die party as die “koning” van die Transkei voorgehou.
