Buurtwagte wat rasse-profilering gebruik, is skerp deur die Sunday Times gekritiseer.
“Die gebruik van rasse-kodes, insluitend om glo na swartmense as bravo (black) en bruin mense as charlie (coloured) te verwys in kennisgewings op sosiale media neem toe,” het William Bird, direkteur vir Media Monitoring Africa, gesê.
“Dit sal regtig nie help om die persoon as ʼn moontlike oortreder te identifiseer nie. Dit is soos om te sê ‘n “wit man in Noorweë’.”
Die koerant het gesê ʼn webwerf, Suburban Fear, doen tans verslag oor burgerlike organisasies se “rassistiese” Facebook-plasings. Sulke plasings word beskou as “die bastion van wit middelklasvrees”.
Skermskote van plasings op die webwerf sluit ook begrippe soos “bm” (black male) in.
Daar is ook verwysings na verdagte persone in verskeie woonbuurte wat begrippe insluit soos “lyk nie Suid-Afrikaans nie”, “freakin Nigeriërs” en “4 swartes (buitelanders)”.
