Munisipaliteite skuld Eskom meer as R2 miljard. Eskom moes reeds twee noodtoestande afkondig weens druk op kragvoorsiening.
‘n Woordvoerder van AfriForum, Tiaan Esterhuizen, het dié syfer bekendgemaak te midde van beurtkrag wat oorweeg is om elektrisiteit aan verbruikers te verskaf.
Esterhuizen sê Mpumalanga skuld reeds meer as R800 miljoen, terwyl munisipaliteite in die Vrystaat se skuld R570 miljoen beloop.
Esterhuyzen sê alhoewel belastingbetalers hul rekeninge elke maand betaal, word hulle nogtans sonder krag gelaat weens swak finansiële bestuur deur munisipaliteite.
Hy sê lisensies om elektrisiteit te verskaf, behoort teruggetrek te word van munisipaliteite wat nie hul rekenings kan betaal nie.
Teenstrydige uitsprake oor die druk op kragvoorsiening is intussen deur regeringslui gemaak.
Die uittredende uitvoerende hoof van Eskom, Brian Dames sê dit sal sowat 10 jaar duur om die land se kragprobleme op te los.
Dames het die Suid-Afrikaanse Kamer van Handel en Nywerheid in Johannesburg toegespreek.
Pravin Gordhan het Dames in die parlement weerspreek en gesê kragvoorsieningsprobleme sal binne 2 jaar iets van die verlede wees.
Die minister van finansies het die versekering gegee dat die drie nuwe kragaanlegte wat gebou word, asook projekte van R110 miljard deur onafhanklike kragvoorsieners, in die vraag sal voldoen.
Eskom het intussen aansoek gedoen vir uitstel van kweekhuisgasminimumuitsette.
‘n Woordvoerder van die departement van omgewingsake sê die regering het steeds ‘n verbintenis tot die vermindering van kweekhuisgasuitsette, maar moet ekonomiese groei ook in ag neem.
Eskom het uitstel gevra vir sestien van sy kragstasies.
Suid-Afrika het die oliemaatskappy Shell gekritiseer omdat die maatskappy nie die vliegtuig wou volmaak in Kaapstad van waarin die besoekende speaker van Iran se parlement gereis het nie.
Die regering het gesê die optrede is ‘n verleentheid vir die land.
Die speaker, Ali Larijani, het president Jacob Zuma verlede week tydens ‘n amptelike besoek ontmoet.
Hy moes die volgende gedeelte van sy Afrika-toer afstel toe die Kaapstadse internasionale lughawe geweier het om sy vliegtuig te hervul.
Die Suid-Afrikaanse Vereniging vir die Petroleumindustrie (SAPIA) het gesê die besluit om die speaker van Iran gestrand te laat was weens “globale maatskappybeleid” wat lede blykbaar ten opsigte van Iran moet volg.
“In ooreenstemming met die maatskappy se beperkings was die betrokke SAPIA-lede nie in staat om brandstof te verkoop of te verskaf aan dr Larijani se vliegtuig voor sy vertrek uit Kaapstad op 7 Maart 2014 nie.” het SAPIA in ‘n verklaring gesê.
Iran en die P5+1 [Die vyf permanente lede van die Veiligheidsraad plus Duitsland] hou tans kernsamesprekinge om sanksies teen die land op te hef in ruil vir waarborge oor Iran se kernprogram. Iran is lid van die IAEA en sy kernprogram word internasionaal gemonitor.
Dit wil voorkom asof Shell SAPIA probeer gebruik om die kernsamesprekinge te laat ontspoor deur die 24-uur oponthoud te skep en Larijani te dwing om die volgende been van ‘n beplande Afrikatoer te kanselleer as gevolg van die 24-uur vertraging.
Iran het reeds ‘n tussentydse ooreenkoms in November met die P5+1 gesluit ter verligting van sanksies. Die Suid-Afrikaanse regering het gesê eensydige optrede teen Iran is onvanpas in hierdie situasie.
“Die departement betreur die verleentheid wat veroorsaak is aan die regering van Suid-Afrika en sy gaste deur ‘n eensydige besluit deur Shell SA om nie Dr Larijani se vliegtuie te hervul nie,” het die departement van buitelandse sake in ‘n verklaring gesê.
“Die besluit, oënskynlik as gevolg van eensydige sanksies wat opgelê is teen Iran, is nie gebaseer op feite nie. Ten spyte van die versekering aan die maatskappy deur die departement self asook die ambassadeur van die Europese Unie in Suid-Afrika, het Shell alle versoeke geweier om die vliegtuig te hervul,” lui die verklaring.
Suid-Afrika het ‘n beroep op Shell gedoen om op te tree op ‘n wyse wat toepaslik is “om sy kontraktuele rol na te kom” as ‘n diensverskaffer aangestel deur ‘n agentskap van die regering om brandstof te voorsien aan die vliegtuig op nasionale lughawens.”
Shell SA het nie direk gereageer op versoeke vir kommentaar nie, maar navrae na SAPIA verwys.
Die eerste geval van Afrika Perdesiekte is deur die Wes-Kaapse Departement van Landbou in die provinsie bevestig.
‘n Woordvoerder van die departement sê ‘n aantal voorkomingsmaatreëls word nou ingestel.
‘n Verbod op die beweging van perde in ‘n spesifieke gebied in die Wes-Kaap is afgedwing nadat 22 perde dood is.
Twee perde van ‘n kleinhoewe tussen Saron en Porterville suid-oos van die R44 is onder kwarantyn geplaas nadat hulle positief getoets het vir die dodelike siekte.
Amptenare van die departement doen sedert Desember verlede jaar opnames oor die beweging van perde en oor die geskiedenis van inenting van diere in die omgewing.
Geen perde, muile, donkies, of sebras mag binne, uit of deur ‘n bepaalde gebied geskuif word nie.
Die gebied sluit in die N7 vanaf die Bergrivier , deur die Piekenierskloofpas in die noord-ooste, met die dorp Gouda as die suidelike grens van die gebied .
Die verbod sal onmiddellik in werking tree en van krag bly totdat dit herroep word deur ‘n verdere bevel uitgereik deur die departement.
As gevolg van volgehoue hoë reënval in die res van die land, het die aantal gevalle drasties toegeneem. Die siekte word deur insekte oorgedra.
Die gebied rondom Kenilworth in Kaapstad, van waar al Suid-Afrika se uitvoerperde vertrek is steeds vry van die siekte.
Die voedselprysindeks, ‘n maatstaf van die maandelikse wisselinge in die internasionale pryse van ‘n mandjie koskommoditeite, het die skerpste gestyg sedert die middel van 2012 in Februarie 2014, sê die amptelike verslag van die Voedsel-en Landbou-organisasie van die Verenigde Nasies (FAO).
Sulke stygings is te danke aan sowel weerstoestande as ‘n verhoogde aanvraag, maar die krisis in die Oekraïne het ook bygedra tot die toename.
“Die syfers is vrygestel te midde van berigte van stygings in koring- en mieliepryse nalv die onlangse verwikkelinge in die Oekraïne, maar die Februarie-styging in die indeks kan nie net heeltemal toegeskryf word aan die gebeure nie,” lui die verslag.
Die FAO se graanprysindeks staan op 195,8 punte, wat 6,8 punte of 3,6 %, bo Januarie se syfer geregistreer het. Die groei weerspieël “kommer oor koring in die Verenigde State van Amerika, ‘n sterk vraag na ru-graan en hoë Japonicaryspryse”.
Pryse van suiker, olie en melk het ook merkbaar toegeneem in vergelyking met Januarie.
In Februarie 2014 het die Amerikaanse Departement van Landbou die voorspelling vir die uitvoer van graan van die Oekraïne in die bemarkingsjaar 2013-2014 met 1,6 % tot 31.180.000 ton verhoog.
‘n Parlementêre program het die duidelikste aanduiding tot nog toe gegee dat adjunk-president Kgalema Motlanthe en minister in die presidensie, Trevor Manuel, nie sal terugkeer na die parlement na die verkiesings nie.
Die program toon dat LP’s Dinsdag afskeidshuldeblyke vir beide Motlanthe en Manuel sal hou tydens ‘n sitting.
Die parlement sal Donderdag ontbind na sy vyfjaartermyn tot ‘n einde gekom het. ‘n Nuwe parlement sal na afloop van 7 Mei se algemene verkiesing aangewys word.
Die ANC se hoofsweep, Stone Sizani, het nie gereageer op oproepe en SMS-boodskappe nie.
Luzuko Jacobs, woordvoerder van die parlement het gesê die geskeduleerde afskeidshuldeblyke verskyn op die program want die betrokkenes het spesifiek gevra om ingesluit te wees.
Jacobs het die media aangeraai om met die onderskeie kantore te skakel.
Manuel se woordvoerder, Dumisa Jele wou nie sê of dit Manuel se swanesang in die parlement sal wees nie, maar het gesê die minister het gevra om die parlement Dinsdag toe te spreek, want hy sal uit die land wees as die parlement Donderdag ontbind.
Daar sal Donderdag ‘n geleentheid vir LP’s se afskeidstoesprake wees.
Die Nasionale Weermag is op ‘n gereedheidsgrondslag geplaas om hulp te verleen in vloedgeteisterde gebiede van Suid-Afrika.
Die departement van Samewerkende Regering het bevestig dat die Weermag gereed is om in noodgebiede te ontplooi.
Die departement sê die nasionale Rampbestuursentrum het provinsiale en munisipale rampbestuursentrums ingelig dat hulle voorbereidings moet begin tref om bystand te verleen.
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het vroeër reeds gewaarsku dat nog reëns in Gauteng, Noordwes, Limpopo, Mpumalanga en KwaZulu-Natal sal uitsak.
Vloedgeteisterde gebiede het reeds die lewens van vier mense geëis, 12 is gered en een persoon word nog vermis. Tientalle mense is ook dakloos gelaat en talle paaie en brûe het weggespoel.
Drie busse is in Butterworth in die Oos-Kaap aan die brand gesteek, het die polisie Maandag gesê.
Die bestuurders van die City to City-busse het in ’n nabygeleë hotel oornag toe die busse omstreeks 01:00 Sondag aan die brand gesteek is, het kapt. Jackson Manatha gesê.
“Die polisie vermoed die busse is opsetlik aan die brand gesteek en het elektriese foute uitgesluit [as moontlike oorsaak],” het Manatha gesê.
’n Saak van opsetlike saakbeskadiging word tans ondersoek.
Die skade aan die busse word op ongeveer R4 miljoen geraam.
Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
Die Verenigde Nasies en die Kongolese leër het militêre operasies in die Demokratiese Republiek van die Kongo teen die Rwandese Hoetoe-rebellegroep, die FDLR ontplooi.
Die VN se nuwe ingrypingsmag wat Suid-Afrikaanse soldate insluit, sal in die oostelike deel van die land die aanval teen die rebelle loods.
Die FDLR het skuiling in die reënwoude se ruigtes geneem tussen die plaaslike bevolking.
Die groep is in die DRK sedert die Toetsies na ‘n rebellie beheer van Rwanda oorgeneem het.
Intussen het Suid-Afrika ook ‘n diplomaat van Boeroendi die deur gewys. Die rede vir Jean-Claude Sindayigaya se vertrek is nog nie duidelik nie, maar hy het reeds die land verlaat.
Boeroendi se minister van buitelandse sake het Saterdag bevestig dat een van sy land se diplomate geskors is uit Suid-Afrika.
Die stap kom nadat Suid-Afrika en Rwanda Vrydag in ‘n diplomatieke onderonsie slaags geraak het oor die hernude sluipmoordaanslag op ‘n uitgeweke Rwandese generaal in Johannesburg.
Kigali het ses Suid-Afrikaanse diplomate geskors, na Pretoria drie Rwandese amptenare 72 uur gegee het om die land te verlaat, het Rwanda se minister van buitelandse sake en diplomatieke bronne gesê.
Rwanda se minister van buitelandse sake het op Twitter gesê hulle is bekommerd dat Suid-Afrikaanse owerhede skuiling aan andersdenkendes bied wat verantwoordelik is vir terroriste-aanvalle in Rwanda.
Amptenare van buitelandse sake het geweier om kommentaar te lewer en gesê ‘n verklaring sal later uitgereik word.
Die uitsetting volg na ‘n hernude aanslag op oud-weermaghoof Faustin Kayumba Nyamwasa. Sy teenwoordigheid in Suid-Afrika veroorsaak ‘n diplomatieke hoofpyn vir Pretoria.
Spanning het verdiep nadat Kigali se voormalige intelligensiehoof Patrick Karegeya dood aangetref is in ‘n Johannesburgse luukse hotel op Nuwejaar.
Geen arrestasies is nog gemaak ivm Karegeya se moord nie.
Sommige lede van die opposisie beweer dat die Rwandese regering agter die aanval sit.
Twee wit polisiebeamptes is afgeneem waar hulle ‘n ongewapende swart Nigeriese man in ‘n Kaapstadse straat in hegtenis neem, het die polisiewaghond Opod Saterdag gesê.
Die Onafhanklike Polisiedirektoraat (Opod) het gesê die beamptes, tussen die ouderdomme van 42 en 45 jaar oud, sal in die hof sal verskyn op aanklagte van aanranding.
Vrydag is videomateriaal wat twee gewapende wit polisiemanne in uniform en privaatwagte viraal versprei, ook in Nigerië waarna swart en bruin openbare verontwaardiging teen polisiegeweld losgebars het.
“Die arrestasie nie sou gebeur het sonder die oplettendheid van die publiek nie,” het Moses Dlamini, die woordvoerder vir die polisiewaghond gesê.
Robert McBride is pas aangestel as hoof van Opod. Die voorval is deur bruin toeskouers uit ‘n gebou op kamera vasgelê wat toevallig ‘n baie goeie blik op die gebeure gehad het.
Opod se woordvoerder het gesê ander aanklagte kan bygevoeg word.
Die twee adjudant-offisiere sal vandag in die plaaslike landdroshof verskyn.
Die beamptes het blykbaar verlede Donderdag die man geskop en geslaan nadat hulle hom kaal uitgetrek het. Dit het ten aanskoue van ander lede van die publiek plaasgevind.
Die Opod-woordvoerder het die lede van die publiek wat beeldmateriaal van die voorval opgeneem het, bedank.
Een van ‘n egpaar wat vermis geraak het tydens ‘n vloed by ‘n ATKV-oord, se liggaam is opgespoor.
Die bestuurder van die ATKV se Klein Kariba-oord in Limpopo, dr. Wim de Wet sê die liggaam van die vermiste Elizabeth Sparrow is nog nie gevind nie. Die bejaarde egpaar was dagbesoekers.
Die ramp is veroorsaak deur ‘n dam wat by ‘n hoërliggende oord gebreek het. De Wet sê die oord sal vir ‘n onbepaalde tyd nog gesluit bly.
Sparrow en haar man is Vrydag deur ‘n fratsvloed meegesleur. Hulle was in die onderdakswembad van die oord toe die vloedwater hulle saamgeneem het.
Binne sekondes het ‘n watermassa die oord getref en die restaurant, winkel en binneswembad oorstroom.
Kleiner geboue en strukture is saam met voertuie wat by die winkel geparkeer was, meegesleur,” het De Wet gesê.
Die 73-jarige Jack Sparrow se liggaam is Saterdag gekry.
Die soektog word tans bemoeilik deur opdrifsels wat uitgespoel het en wat nog nie opgeruim kon word nie.
Voorlopige beramings toon dat die skade tussen sowat 15 en 20 miljoen rand beloop.
Die MH370-straler van Maleisiëlugdiens wat tydens ‘n roetinevlug verdwyn het sonder om ‘n noodsein te stuur, laat ondersoekbeamptes vermoed dat ‘n skielike en katastrofiese voorval die einde van al die passasiers en bemanning beteken het.
Die families van die 239 passasiers van ‘n vlug van Kuala Lumpur na Bejing, wat vermis geraak het, is aangeraai om hulle vir die ergste voor te berei.
Daar is aanduidings dat die Boeing 777 wou terugdraai, omdat die straler van koers af gewyk het.
Die Pentagon het glo reeds die verdwyning ondersoek en die moontlikheid van ‘n ontploffing uitgeskakel, het die New York Times berig. Die Maleisiese owerhede verseg om te aanvaar dat dit nie ‘n terreuraanval was nie.
Die gebrek aan enige wrakstukke tot dusver wil aandui dat die vliegtuig op ongeveer 35.000 voet gedisintegreer het, het een die bron gesê.
As die vliegtuig ongeskonde uit so ‘n hoogte val, sal dit net na impak met die water in stukke breek, en sal soekspanne verwag om ‘n redelik gekonsentreerde patroon wrakstukke te vind, het die bron gesê.
Twintig werknemers van ‘n tegnologiemaatskappy in Austin, Texas was ook aan boord van die vlug. Twaalf van die Freescale Semiconductor se werknemers is uit Maleisië en agt uit China.
Die ondersoek na die voorval fokus nou op twee passasiers wat met gesteelde paspoorte gereis het. Daar is vier verdagtes wat glo op die vliegtuig was, en Maleisiese amptenare het reeds met die FBI en Interpol geskakel oor die vier se identiteite.
Die name van twee mans van Oostenryk en Italië was op die vlug se passasierslys, maar dit het aan die lig gekom dat hul paspoorte vroeër in Thailand gesteel is. Die twee mans is ongedeerd.
Die twee passasiers wat vals paspoorte gebruik het van onderskeidelik die Italianer en Oostenryker, het hul kaartjies saam gekoop by China Southern Airlines en met Thaise Bhat betaal, het CNN berig. Die ander twee verdagtes het glo ook hul kaartjies op dieselfde wyse gekoop.
Dit het die vermoede versterk dat die voorval met terrorisme verband hou.
Een van die vermiste passasiers se familielede het die selfoonnommer van die passiers geskakel, maar niemand het opgetel nie, het die Mirror Online berig.
Die Amerikaanse vloot het intussen ‘n skip en ‘n soekvliegtuig gestuur om by die multinasionale soekspan aan te sluit.
Die soektog na die wrak oor Suidoos-Asië duur steeds voort. Maleisië het 15 vliegtuie en nege skepe gestuur, terwyl Vietnam twee vlootskepe, twee vliegtuie en ‘n helikopter bewillig het om te help in die soektog.
Die Viëtnamese soektog het glo brandstofspore op die water opgemerk en enkele wrakstukke wat ‘n aanduiding mag wees van waar die straler ondergegaan het. Die Amerikaanse owerhede het gesê die vonds is niksseggend.
Die WSJ het berig dat dit die deur en stertgedeelte van die straler kan wees. Volgens die Amerikaanse ambassade se verteenwoordiger in Hanoi, Jacky Ly Thang, het die Amerikaanse ondersoekspan tot die gevolgtrekking gekom dat die voorwerpe wat 100 kilometer suidwes van die Viëtnamese eiland Tho Chu opgespoor is, geen verband met die vermiste vliegtuig hou nie.
Die vliegtuig was op pad van Maleisië na China, waar daar verlede week 33 mense dood en 143 beseer is in ‘n terreuraanval in die suid-westelike stad van Kunming.
Die aanval, waarin ‘n bende amok gemaak het by ‘n Chinese stasie, is deur pro-separatiste Moslemterroriste van die Xinjiang streek wat grens aan Pakistan en Afghanistan geloods.
Die Chinese media het die aanval as die land se eie “9/11” beskryf.
Lede van die parlement en wetgewers kan hul plekke verloor of beboet word as hulle belangrike vergaderings misloop.
Die parlementêre woordvoerder Luzuko Jacobs het gesê ‘n beleid ten opsigte van bywoning is deur die gesamentlike veelpartyreëlskomitee aanvaar.
Hy het gesê lede kan hul setels verloor as hulle vir 15 of meer opeenvolgende sittingsdae in die Nasionale Vergadering of die Nasionale Raad van Provinsies afwesig gemerk word.
Uitsonderings sal gemaak word indien hulle toestemming ontvang het.
LP’s wat komiteevergaderings misloop wat toesig oor staatsdepartemente hou, kan ook beboet word met R1000 vir elke dag wat hulle afwesig is.
Hulle het onder skoot gekom vir die versuim om sittings by te woon waar omstrede wetsontwerpe nie bespreek word nie, as gevolg van ‘n gebrek aan ‘n kworum.
Die verskynsel van afwesige lede het ‘n gereelde kenmerk in die afgelope twee jaar geraak.
Een ANC-LP wat nooit in die Nasionale Vergadering teenwoordig is nie, is Winnie Madikizela -Mandela.
Dit sal van die speaker in die parlement afhang om die nuwe instrument doeltreffend te gebruik.
Stappe teen die skuldige LP’s kan uiteindelik tot hul skorsing uit die parlement lei.
Die hoofsweep van die ANC in die parlement, Stone Sizani sê die beleid sal slegs ‘n sukses wees mits dit in samewerking met die bestaande elektroniese moniteringstelsel gebruik word.
Sizani het by monde van sy woordvoerder gesê dat al die partye moet instem dat die moniteringstelsel geaktiveer word, sodat parlementslede se bywoning behoorlik gevolg kan word.
Die stelsel is reeds by die Nasionale Vergadering en die Nasionale Raad van Provinsies aangebring.
Met gerugte dat beurtkrag die ANC in die komende verkiesing kan benadeel, het Eskom intussen die versekering gegee dat daar geen kragonderbrekings sal wees hierdie week nie.
Eskom se woordvoerder, Andrew Etzinger sê beurtkrag word nie in die vooruitsig gestel nie, alhoewel die kragnetwerk steeds onder druk verkeer.
Dit is nie bekend hoe die kragvoorsiener in die vraag sal voldoen nie. Eskom moes noodgedwonge vier dae gelede beurtkrag instel om die ineenstorting van die kragnetwerk te verhoed.
Hulle het reeds twee keer ‘n noodtoestand afgekondig omdat die steenkoolvoorraad nat geword het as gevolg van die deurdringende reën die afgelope week. Dit is egter nie die enigste rede vir die kragtekort nie, het ontleders gesê.
Die minister van Energie, Ben Martins het gesê dat Suid-Afrika dringend alternatiewe hulpbronne, behalwe steenkool vir kragvoorsiening moet oorweeg.
Hy het gesê die land is in ‘n wedloop teen tyd gewikkel om aan die stygende vraag na elektrisiteit te voldoen.
Martins het tydens die bekendstelling van ontwikkelingsprojekte in Port Elizabeth dié pleidooi gelewer.
Hy het ook gerugte ontken dat Suid-Afrika die beste gehalte steenkool uitvoer en van swakker gehalte steenkool vir sy eie behoeftes afhanklik is.