Eerste geval van perdesiekte in die Wes-Kaap bevestig

perdesiekteDie eerste geval van Afrika Perdesiekte is deur die Wes-Kaapse Departement van Landbou in die provinsie bevestig.

‘n Woordvoerder van die departement sê ‘n aantal voorkomingsmaatreëls word nou ingestel.

‘n Verbod op die beweging van perde in ‘n spesifieke gebied in die Wes-Kaap is afgedwing nadat 22 perde dood is.

Twee perde van ‘n kleinhoewe tussen Saron en Porterville suid-oos van die R44 is onder kwarantyn geplaas nadat hulle positief getoets het vir die dodelike siekte.

Amptenare van die departement doen sedert Desember verlede jaar opnames oor die beweging van perde en oor die geskiedenis van inenting van diere in die omgewing.

Geen perde, muile, donkies, of sebras mag binne, uit of deur ‘n bepaalde gebied geskuif word nie.

Die gebied sluit in die N7 vanaf die Bergrivier , deur die Piekenierskloofpas in die noord-ooste, met die dorp Gouda as die suidelike grens van die gebied .

Die verbod sal onmiddellik  in werking tree en van krag bly totdat dit herroep word deur ‘n verdere bevel uitgereik deur die departement.

As gevolg van volgehoue ​​hoë reënval in die res van die land, het die aantal gevalle drasties toegeneem. Die siekte word deur insekte oorgedra.

Die gebied rondom Kenilworth in Kaapstad, van waar al Suid-Afrika se uitvoerperde vertrek is steeds vry van die siekte.