Eskom belowe geen kragonderbrekings dié week

Ben Martins
Ben Martins

Met gerugte dat beurtkrag die ANC in die komende verkiesing kan benadeel, het Eskom intussen die versekering gegee dat daar geen kragonderbrekings sal wees hierdie week nie.

Eskom se woordvoerder, Andrew Etzinger sê beurtkrag word nie in die vooruitsig gestel nie, alhoewel die kragnetwerk steeds onder druk verkeer.

Dit is nie bekend hoe die kragvoorsiener in die vraag sal voldoen nie. Eskom moes noodgedwonge vier dae gelede beurtkrag instel om die ineenstorting van die kragnetwerk te verhoed.

Hulle het reeds twee keer ‘n noodtoestand afgekondig omdat die steenkoolvoorraad nat geword het as gevolg van die deurdringende reën die afgelope week. Dit is egter nie die enigste rede vir die kragtekort nie, het ontleders gesê.

Die minister van Energie, Ben Martins het gesê dat Suid-Afrika dringend alternatiewe hulpbronne, behalwe steenkool vir kragvoorsiening moet oorweeg.

Hy het gesê die land is in ‘n wedloop teen tyd gewikkel om aan die stygende vraag na elektrisiteit te voldoen.

Martins het tydens die bekendstelling van ontwikkelingsprojekte in Port Elizabeth dié pleidooi gelewer.

Hy het ook gerugte ontken dat Suid-Afrika die beste gehalte steenkool uitvoer en van swakker gehalte steenkool vir sy eie behoeftes afhanklik is.