Vyf olie-opgaartenks brand in Libiese hawens

Met die olieprys wat ‘n laagtepunt bereik het, is brandstofbergingsplekke oorvol.

Maar in Libië woed brande tans by die opgaartenks van Es Sider en Ras Lanuf. Twee van die brande is begin toe olie-opgaartenks deur ISIS-mortiere getref is. Die brande het toe na drie ander tenks versprei.

‘n Hawewoord­voerder, Ali al-Hassi, het gesê die wagte wat gemoeid is met die ­veiligheid van petroleumopslagplekke was teen Woensdagmiddag in beheer van die hawens Es Sider en Ras Lanuf, maar dat gevegte met die ­Islamitiese Staat-groep (ISIS) ­voortduur.

Minstens nege wagte is dood en in gevegte Maandag en Dinsdag aan die buitewyke van die hawens is meer as 40 beseer, het Reuters berig.

Die oorskot van 30 ISIS-terroriste is ook gevind. Die wagte het ook daarin geslaag om beslag op twee militêre tenks en ander voertuie van die militante te lê.

Mohamed al-Manfi, ’n oliebeampte in die ooste van Libië sê elk van die brandende opgaartenks bevat tussen 420 000 en 460 000 vate olie.

Es Sider en Ras Lanuf is sedert Desember 2014 gesluit. Die hawens is tussen die stad Sirte wat deur ISIS beheer word en die oostelike stad, ­Benghazi geleë.

Libië is verdeel tussen politieke faksies en ­gewapende groepe wat veg om beheer van die land se olierykdom, vier jaar ná die afsetting van Moeammar Ghaddafi.

Sedertdien het ­olieproduksie afgeneem na minder as ’n kwart van wat dit in 2011 was toe 1,6 miljoen vate per dag geproduseer is.

ISIS het munt geslaan uit die veiligheidsvakuum en sy teenwoordigheid uitgebrei, maar nog nie daarin geslaag om beheer oor olie-installasies in die land te neem nie.

Die ekstremiste het die wagte by Es Sider ook in Oktober 2015 ­aangeval, maar vandeesweek se aanvalle is oënskynlik ’n baie feller en meer gefokuste aanslag op die hawens.

Mustafa Sanalla, die voorsitter van die ­nasionale oliekorporasie (NOC) in Tripoli, het die hoop uitgespreek dat die geweld “politieke leiers aan albei kante in Libië tot die besef sal bring van die omvang van die ­bedreiging wat die land in die gesig staar.”

“Ons moet verenig teen ’n gemeen­skaplike vyand, nie môre of ­volgende week nie, maar nou.”

Die NOC het in ’n ­afsonderlike ­verklaring gesê dit sal alles in sy vermoë doen om ­kontrakte na te kom en Libië se oliebronne te beskerm.

Spanning in Midde-Ooste laai op

Spanning tussen Saoedi-Arabië en Iran het in ’n volstoom diplomatieke krisis ontaard met verskeie van Riaad se Arabiese Soenni-bondgenote, Bahrein en Soedan wat nou ook diplomatieke betrekkinge met Teheran verbreek het.

Die Verenigde Arabiese Emirate het betrek­kinge met Iran afgeskaal.

Saoedi-Arabië se teregstelling van die Sjiïtiese aktivis en kerklike, sjeik Nimr al-Nimr, wat gevolg is deur ’n aanval en brandstigting van die Saoedi-Arabiese ambassade in Teheran, het aanleiding tot die jongste gebeure gegee.

Europese lande en die streekmag Turkye, het kommer uitgespreek, die Amerikaanse minister van buitelandse sake, John Kerry, het sy eweknieë telefonies geskakel.

Moskou het Maandag aangebied om as tussenganger tydens onderhandelinge op te tree.

Israelse veiligheidsmagte het intussen ’n Palestyn wat ’n Israelse soldaat met ’n mes gesteek het, in die Wes-Oewer doodgeskiet.

Dit is die jongste voorval sedert geweldpleging vier maande gelede uitgebreek het. Die voorval was by Gush Etzion, waar verskeie van die vorige aanvalle ook plaasgevind het.

’n Hospitaalwoordvoerder sê die soldaat met steekwonde aan sy gesig is lig beseer.

Byna daaglike messtekery, motors wat tussen voetgangers injaag en skietery vind sedert Oktober plaas. Dit laat vrese vir ’n wyer eskalasie van geweldpleging ontstaan, ’n dekade nadat die vorige Palestynse opstand onderdruk is.

Die golf van geweldpleging word aangevuur deur Palestyne se frustrasie oor Israel se 48-jaar lange ­besetting van grond wat Palestyne vir ’n onafhanklike tuisland wil hê. Nog ’n aspek wat tot frustrasie lei, is die uitbreiding van Israelse nedersettings in die gebied, wat in die 1967 Midde-Oosterse oorlog deur Israel beset is.

Air France doen noodlanding in Kenia

Verskeie passasiers word nog deur die Keniaanse owerheid ondervra nadat ‘n verdagte pakkie aan boord van ‘n vliegtuig van Air France gevind is.

Die bomdreigment het veroorsaak dat die Boeing na Mombasa in Kenia herlei moes word.

Die vliegtuig was van Mauritius af op pad na Parys toe die pakkie opgemerk is. Air France het die Keniane se bewering verwerp dat die pakkie ‘n bom bevat het, en gesê dit was ‘n vals alarm.

Volgens die Britse Uitsaaikorporasie blyk dit dat die pakkie net ‘n kartondoos was wat met ‘n kombuistydhouer toegerus was.

Air France se vliegtuig moes by die Internasionale Lughawe Moi in die vroeë ure Sondagoggend ‘n noodlanding uitvoer.

Die twee verdagtes aan boord van die vliegtuig het in Mauritius opgeklim.

Beide die vliegtuig en die lughawe is veilig ontruim terwyl die toestel verwyder is van die vliegtuig.

Sowat 459 passasiers en 14 bemanningslede van die Boeing 777 is deur die Keniaanse owerhede ontruim.

Een van dié aan boord, Benoit Lucchini, het gesê passasiers was kalm en is deur die bemanning vertel dat hulle van die roete afwyk as gevolg van ‘n tegniese probleem.

“Die vliegtuig het gedaal, stadig, stadig, stadig, so ons het besef dat daar waarskynlik iets verkeerd is,” het hy gesê.

“Maar die personeel van Air France was fantasties, net wonderlik. Hulle het almal kalm en regtig stil gehou.”

Senior speurders van Frankryk het in Nairobi aangekom om te help met die komplekse ondersoek in die nasleep van die terroriste-aanvalle die afgelope maand in Parys, waarin 130 omgekom het en waarvoor die terroriste groep, die Islamitiese staat verantwoordelikheid aanvaar het.

ISIS het ook verantwoordelikheid aanvaar vir die aanval op die Metrojet 9268, van die Russiese lugredery Kogalymavia, wat in die noordelike Sinai op 31 Oktober 2015, neergestort het.

Air France het dit as ‘n daad van aggressie teen die redery bestempel, en gesê die skuldiges sal vervolg word.

Nóg ’n Nobelprys vir Afrika

Afrika word deesdae toegegooi onder sulke pryse, maar die vooruitgang ontbreek steeds.

Die Nobel-vredesprys wat vanjaar aan die “Tunisiese Nasionale Dialoog-kwartet” toegeken is, is deur die hoofrolspelers van dié vier burgerlike samelewinggroepe in Oslo in ontvangs geneem.

Die kwartet het ná die Jasmyn-­rewolusie van 2011 Tunisië se oorgang na sogenaamde “demokrasie” gelei.

Die voormalige president, wat nou as ‘n “diktator” beskryf word deur diue VSA, was egter ‘n gematigde Moslem.

Die sekretaris-generaal van die Tunisiese algemene werkersunie, Houcine Abbassi; die president van die Tunisiese werkgewersunie (UTICA), Wided Bouchamaoui; die Tunisiese menseregteliga (LTDH) se Abdessatar Ben Moussa; en die president van die nasionale orde van Tunisiese regsgeleerdes, Mohamed Fadhel Mahfoudh, het die prys in ontvangs geneem.

Die kwartet is in 2013 gestig om die land van ‘n ineenstorting te red, onder meer vanweë politieke sluipmoorde en verspreide onluste.

Ten spyte van die toekennings, gaan Tunisië steeds beguk onder islamitiese geweld. Die afgelope jaar is drie aanvalle deur ISIS suksesvol geloods.

Talle toeriste is ook gedood, wat die land se toersime tot stilstand gedwing het. Die Nobel-vredesprys raak toenemend gestigmatiseer as ‘n kwade politieke instrument.

Veiligheidsraad aanvaar resolusie teen ISIS-finansiering

Ministers van finansies van die 15 lande op die Veiligheidsraad van die Verenigde Nasies, het in New York vergader om ’n resolusie te aanvaar om die finansiering te ontwrig wat die Islamitiese Staat (ISIS) ontvang.

ISIS verkry sy geld deur die verkoop van olie en oudhede asook die invordering van lospryse en ander ­kriminele aktiwiteite.

ISIS is reeds die onderwerp van VN-sanksies ingevolge resolusies wat op Al-Kaïda betrekking het. Die nuwe voorgestelde resolusie, wat deur Amerika en Rusland geborg word, verhef ISIS nou tot op dieselfde vlak as Al-Kaïda.

Terreur is ‘n groeiende bedreiging, ook vir sekere lande in die Midde-Ooste en Noord-Afrika.

Die Amerikaanse minister van finansies, Jacob Lew, wat in die voorsitterstoel was, het vroeër vandeesmaand gesê die ontwrigting van die finansiering van ISIS en die afsny van hul internasionale finansieringstelsel is kritiek om die gewelddadige ­terroriste-groep te bekamp.

Amerika se ambassadeur na die VN, Samantha Power, het Woensdag aan verslaggewers gesê die vergadering is ’n ongeëwenaarde geleentheid om mense byeen te bring wat die tegniese vaardighede het om die geldbronne op te spoor en af te sny, ten einde die ISIS van hul hulpbronne af te sny.

ISIS, ook bekend as Daesh, beheer groot dele van Sirië en Irak, insluitende olie- en gasvelde.

Hulle is ‘n verleentheid vir die Amerikaans-geleide koalisie en magte op die grond Irak omdat hulle strategiese grondgebied beset sonder dat die VSA hulle uitbreiding kon keer.

Al is die resolusie daarop gemik om sommige van ISIS se finansiering van buite af te sny, het Amerikaanse diplomate daarop gewys dat die meerderheid van die ekstremistiese groep se geld van interne bronne af kom, wat moeilik is om te stop.

In die konsepresolusie is die 193 lidlande van die VN gevra om name vir insluiting op die sanksielys in te dien.

Kommer word ook uitgespreek oor die versuim van lande om vorige ­resolusies te implementeer.

Voorts moet ’n verslag binne 120 dae ingedien word waarin weergegee word wat elke individuele land doen om finansiering aan Al-Kaïda en ISIS te stop.

Rusland het tot dusver die enigste suksesvolle lugaanvalle teen ISIS uitgevoer. Die Amerikaanse ywer kom juis na Russiese suksesse teen ISIS.

Aanval op Franse onderwyser as terreurdaad bestempel

‘n Kleuterskoolonderwyser naby Parys, Frankryk met ‘n mes aangeval deur ‘n man wat beweer dat hy namens die Islamitiese Staat (ISIS) optree.

Die voorval het Maandagoggend op die skoolgronde van ‘n skool in Aubervilliers, in die buitewyke van Parys, gebeur, het Reuters berig.

Volgens wetstoepassers het die verdagte die onderwyser in sy nek gesteek en gesê die aanval is ‘n gebaar van ISIS.

“Dit is Daesh. Hierdie is ‘n waarskuwing,” het die man in ‘n klapmus glo aan sy slagoffer gesê voordat hy gevlug het. Daesh is die Arabiese naam vir ISIS.

Die onderwyser is nie ernstig beseer nie, maar hy is in die hospitaal opgeneem.

Die voorval volg ‘n maand nadat 130 mense in ‘n veelvuldige gekoördineerde terreuraanval in Parys dood is.

Verlede week was daar ook ‘n mesaanval by ‘n Londense moltreinstasie wat deur die polisie as ‘n terreuraanval bestempel is.

Terroris van aanval op universiteit vas

‘n Amerikaans-gebore Islamitiese rebel wat vermoedelik een van die aanhitsers was van die terreuraanval op die Garissa-universiteit in Kenia vroeër vanjaar, het homself die naweek aan die Somaliese weermag oorgegee.

Abdimalik Jones het onlangs weggebreek van al-Sjabaab om aan te sluit by vegters wat die Islamitiese Staat (ISIS) ondersteun, het dpa berig.

Somaliese soldate het hom gevind waar hy naby die hawestad Barawe in die Laer Shabelle-streek weggekruip het. Hy is beveel om homself oor te gee.

Sowat 148 mense, meestal studente, is dood toe al-Sjabaab-militante in April op die kampus in die noordooste van Kenia toegeslaan het.

Jones sal na Mogadisjoe geneem word waar hy verder ondersoek sal word.

ISIS aanvaar verantwoordelikheid vir bomaanval in Jemen

Die goewerneur van Aden in Jemen is Sondag dood in ’n motorbomontploffing waarvoor die Islamitiese Staat-groep (ISIS) verantwoordelikheid aanvaar het.

Die aanval het plaasgevind in Jemen se suidelike hawestad, waarheen pres. Abd-Rabbu Mansour Hadi teruggekeer het om toesig oor die oorlog teen die Iran-geallieerde Houthis te hou.

’n Plaaslike woordvoerder sê minstens ses lede van genl. Jaafar Mohammed Saad se gevolg is ook in die aanval dood.
Verskeie mense is in die voorval beseer.

Die gebied is beskou as ‘n vesting van die regering wat deur Saoedi-Arabië gesteun word nadat dié land in Maart ‘n oorlog verklaar het teen wat hulle beskou as Iran se invloed.

Trump wil Moslems na VSA verbied

Die opkomende Republikeinse presidentskandidaat in die VSA, die sakeman Donald Trump het ‘n oproep om die totale verbod op die toelating van Moslems in die land gedoen.

Trump het sy oproep verdedig onder luide toejuiging by ‘n saamtrek op die USS Yorktown in Mount Pleasant toe hy gesê het: “Ons het geen idee of hulle van ons hou of ons haat nie.”

“Ons is buite beheer; ons het geen idee wat in ons land inkom nie,” het Trump gesê by die byeenkoms in Suid-Carolina. “Ek wil hê ISIS moet oorgee.”

Trump het gesê hy het na President Obama se toespraak Sondagaand gekyk en die president lyk asof “hy nie weet hoekom hy daar was nie. Hy weier om die term ‘radikale Islamitiese terrorisme’ te gebruik. Hy[Obama] weet nie wat de hel aangaan nie”.

Trump sê tot die land se leiers kan bepaal wat, soos hy dit stel, die omvang die terreurprobleem is, moet Moslems die land verbied word. Hy sê hulle respekteer nie lewe nie.

Trump se oproep is in skrille kontras met die president Barack Obama se oproep Maandag dat die land hom nie skuldig moet maak aan “diskriminasie” nie.

Obama se oproep was in reaksie op die aanval by San Bernardino in Kalifornië waarin veertien mense doodgeskiet is deur ‘n Moslemegpaar. Die vrou het glo bande met ISIS gehad.

Obama sê die terreuraanval in San Bernadino kan nie beskou word as deel van ISIS se aanslag nie omdat daar nog nie genoeg inligting beskikbaar is nie.

Die FBI het intussen bevestig dat hulle die aanval as ‘n terreuraanslag ondersoek.

Obama het gesê om die stryd teen terreur te wen, moet Moslemgemeenskappe se samewerking gewen word, eerder as om hulle met agterdog en haat te verstoot.

Jane’s IHS meen ISIS ly verliese

Ontleding van oopbroninligting, wat sosiale media insluit, deur die Britse Jane’s IHS-span het beraam dat die totale maandelikse inkomste van die Islamitiese staat tot laat in 2015 nog $80 miljoen beloop het, maar dat hulle verliese ly weens bomaanvalle deur Rusland.

Die grootste bedrae, sowat 50 persent, kom uit belasting en konfiskering, terwyl ongeveer 43 persent afkomstig is van oliesmokkel. Dwelmsmokkelary, die verkoop van elektrisiteit en skenkings sorg vir die res.

Die sowat 80 miljoen dollar wat ISIS per maand ontvang, is dus grotendeels van belasting wat afgedwing word en beslaglegging in gebiede onder die groep se beheer.

Die inkomste uit oliehandel word deur Turkye gewaarborg wat die roete waardeur die olie vervoer word, bied.

ISIS se finansiële hulpbronne stel terroriste in staat om ‘n gedugte bedreiging vir Westerse lande te wees.

Die smokkel van antieke goedere, ander misdaad en buitelandse donateurs uit Saoedi-Arabië en Katar dra volgens die verslag ook by die geldkas.

Daar is vroeë aanduidings dat die groep sukkel om sy begroting te balanseer, met die verslae van salarisse van sy vegters verminder is, prysstygings van elektrisiteit en ander basiese dienste aangekondig is, en die bekendstelling van ‘n nuwe landboubelasting.

Beramings is moeilik gegewe die groep se gedesentraliseerde aard.

‘n Financial Times-ondersoek in Oktober het ISIS se olie-inkomste op sowat $1.5 miljoen dag gestel, terwyl die IHS meen dit is nader aan $1.1 miljoen dag.

Britse polisie sê jongste mesaanval was terreur

Die Britse polisie sê ‘n mesaanval waarin drie mense Saterdag by ’n Londense moltreinstasie gesteek is kan verband hou met terreur.

Een man is ernstige beseer toe ‘n swarte hom op die Leytonstone-stasie in die oostelike deel van Londen aangeval het. Twee ander mense het ligte wonde opgedoen.

Amateur-beeldmate­riaal op die internet, wys ‘n plas bloed en bloederige voetspore by die stasie se ingang.

‘n Man met ‘n mes gewapen wat na die mense naby aan hom mik kan ook gesien word.

’n Polisielid skree daarna “Laat val die mes!” en stel die swart aanvaller dan buite aksie Tasergeweer.

Die aanvaller het glo geskree: “Dit is vir Sirië!”

“Ons beskou dit as ’n voorval van terreur,” het Richard Walton, hoof van die eenheid, in ’n verklaring gesê. Hy het die publiek gevra om kalm te bly, maar waaksaam te wees.

Die Londense metropolitaanse polisie se terreureenheid ondersoek die voorval.

Die Britse parlement het lugaanvalle teen die Islamitiese Staat (ISIS), in Irak en Sirië uitgebrei na ‘n parlementêre stemmery toestemming aan die stap verleen het.

Obama sê geen bewyse teen ISIS na massaslagting

Pres. Barack Obama het Amerikaners gewaarsku dat die terreurbedreiging teen die VSA ‘n gevaarlike “nuwe fase” betree het en het onderneem om die Islamitiese Staat (ISIS) en ander terreurgroepe te vernietig.

Hy het egter bygevoeg dat daar geen bewyse is dat ISIS verantwoordelik was vir die San Bernadino-slagting nie.

Obama het in ‘n toespraak, wat regstreeks vanuit sy kantoor in die Withuis uitgesaai is, aangedui wat beplan word. Hy het onder meer beloof om “terreur-samesweerders te jag” ongeag van waar hulle skuil hou, het Reuters berig.

“Ons moet nie weer betrek word by ‘n lang en duur grondoorlog in Irak of Sirië nie,” het hy gesê.

Die toespraak kom vier dae ná ‘n skietery verlede week in San Bernardino, Kalifornië waarin die Amerikaans gebore Syed Rizwan Farook (28) en sy Pakistani vrou, Tashfeen Malik (29), 14 mense op ‘n Kersfeespartytjie vir staatsamptenare doodgeskiet het.

Nog 17 mense is gewond.

Die paartjie is ure later in ‘n skietery met die polisie dood.

Obama het die aanval as ‘n “terreurdaad ontwerp om onskuldige mense dood te maak” veroordeel.

Volgens hom bewys dit dat die “terreurbedeiging in ‘n nuwe fase ontwikkel het” omdat ISIS die internet gebruik om “die gedagtes (van potensiële aanvallers) te vergiftig”.

Die FBI ondersoek die moontlikheid dat die aanval deur ISIS geïnspireer is, maar volgens Obama is daar geen bewyse dat dit op bevel van ‘n militante groep oorsee of as deel van groter sameswering in die VSA uitgevoer is nie.

“Die bedreiging van terreur is eg, maar ons sal dit oorkom,” het hy gesê.

Obama het opnuut ‘n oproep om strenger wapenbeheer in die VSA gemaak.

“Ons moet dit moeiliker maak vir mense om kragtige aanvalsgewere te koop soos dié wat in San Bernardino gebruik is.
“Wat ons kan doen – en moet doen – is om dit moeiliker vir hulle te maak om te moor.”

Die New Yorker het ‘n illustrasie van twee wittes ivm die San Bernadino-massaslagting op hul voorblad geplaas, terwyl dit twee bruin Moslems was wat die aanval geloods het.

So lyk die aanvallers
So lyk die aanvallers

Die massaslagting word tans as terreurdaad ondersoek, het die FBI bevestig.

“Die vrou het haar ondersteuning aan Isis op Facebook verklaar,” het James Comey, hoof van die FBI, gesê.

Daar is ook aanduidings van inspirasie deur buitelandse terreurorganisasies.

Die owerhede probeer vasstel presies watter bande die twee met militante gehad het. Farook het glo kontak gehad met mense wat deur die FBI dopgehou is weens vermeende terreurbande.

Hy het as ‘n gesondheidsinspekteur vir San Bernardino se gesondheidsdepartement gewerk.

Brittanje gaan ISIS glo vir die volgende drie jaar bom

Die Britse sekretaris van verdediging Michael Fallon sê Britse lugaanvalle in Sirië kan drie jaar duur as hulle fokus op ISIS se olie-velde.

Die owerheid gaan glo bykomende vegvliegtuige ontplooi in aanvalle teen die Islamitiese Staat in Sirië.

Bomwerpers het reeds die Omar-olievelde in die ooste van Sirië geteiken wat onder beheer van die terreurgroep is.

Fallon sê dit is belangrik om die olie-infrastruktuur te ontwrig, aangesien dit ‘n vername inkomste van die groep is.

Die ekstremiste-groep verkoop olie hoofsaaklik aan Turkse en Siriese tussengangers, waarna dit aan verbruikers in ander lande verkoop word.

‘n Russiese hoë amptenaar, Konstantin Kosatsjef het egter gesê dit is nog nie duidelik of “die Britte ander of dieselfde teikens [as die Russiese Federasie] het nie. Tyd sal leer watter oorlog Brittanje voer: Anti-terreur of burger,” het hy afgesluit.

Die aandeelpryse van groot internasionale wapenhandelaars het in die nasleep van die besluit van die Britse parlement om sy lugbombardementveldtog teen die Islamitiese staat te brei, die hoogte ingeskiet in weerwil van die feit dat Brittanje nie volgens internasionale reg handel nie.

BAE Systems, Airbus, Finmeccanica en Thales se aandele het Donderdagoggend hoër verhandel, berig CommonSpace.

Dit kom nadat Brittanje sy bereidwilligheid om miljoene meer te spandeer op sy oorlog met ISIS, verklaar het.

Daar is onbevestigde berigte dat ISIS besluit het dat die volgende teiken van ‘n aanval sal wees op Brittanje.

Europese veiligheid-agentskappe, met verwysing na spesifieke intelligensie wat verkry is, het gesê dat die Britse terroriste in Sirië en Irak getaak word om huis toe te gaan om ‘n aanval te loods, het CNN berig.

Die kommer van intelligensie agentskappe is glo vererger deur die parlementêre stemmery Woensdagaand.

Australië se parlement het intussen wetgewing in plek gestel om dubbele burgers van hul burgerskap te ontneem indien hulle skuldig bevind word aan oortredings wat verband hou met terrorisme.

Sulke burgers wat bande met verdagte groepe oorsee het, sal te midde van kommer oor jihadiste, ook van hul Australiese paspoorte gestroop word.

Terreur op agenda by China-Afrika-beraad in Johannesburg

Die Chinese ambassade in Luanda se eerste sekretaris, Zhao Haihan, het in ‘n onderhoud met Bloomberg gesê die Angolese regering is gewaarsku oor die hoë frekwensie van ontvoerings van Chinese burgers.

Tot enkele weke gelede, het niemand verwag dat veiligheid ‘n onderwerp van bespreking sal word by die China-Afrika-beraad wat 4-5 Desember in Johannesburg gehou word nie.

Terrorisme en veiligheidskwessies sal waarskynlik op die agenda wees wanneer die Chinese president Xi Jinping met meer as 50 swart eweknieë van die kontinent vergader.

China se kwesbaarheid vir terrorisme is blootgestel toe ISIS die Chinese burger Fan Jinghui onlangs tereggestel het.

Dit het gelei tot oproepe op Chinese sosiale media dat Beijing moet terugslaan teen die terroristegroep.

Net ‘n paar dae later, is nog drie Chinese vermoor deur terroriste, hierdie keer in die hoofstad van Mali, Bamako.

Die aanvallers het die Radisson Blu Hotel bestorm waar drie bestuurders van die staatsbeheerde China Railway Construction Corporation doodgeskiet is.

Hierdie twee gebeurtenisse is net die jongste aanvalle op Chinese burgers in die buiteland.

Die afgelope paar jaar, is Chinese burgers gevange geneem deur Boko Haram in Kameroen, ontvoer in Egipte, gyselaar geneem in Soedan.

In Angola, is die situasie is so erg dat ‘n senior amptenaar van die ambassade in Luanda ‘n beroep op die regering gedoen het om in te gryp om toekomstige Chinese belegging in die land te ondersteun.

Die persepsie dat China nie na sy mense in die buiteland kan omsien nie, is ‘n werklike probleem vir die legitimiteit van die regering, sê ontleders.

In teenstelling met die Verenigde State van Amerika, Frankryk, en Brittanje wat eensydige militêre ekspidisies in ander lande onderneem sonder VN toestemming, het die Chinese tot dusver sulke ingrypings vermy.

Dit is nie seker of China tans oor die vermoë beskik om spesiale magte te ontplooi om na hul belange om te sien nie, meen hulle.

Die beraad vind onder voorsitterskap van president Jacob Zuma en sy Chinese ampsgenoot Xi Jingping plaas.

China het verskeie ooreenkomste wat hy met Afrika-lande wil sluit en beloof beleggings van miljarde dollar, en teen die einde van verlede jaar was handel en beleggings tussen China en Afrika bykans 200 miljard dollar werd.

Die handelsbalans is egter grootliks in China se guns. In die eerste helfte van die jaar het beleggings egter met 40 persent gedaal weens lae kommoditeitspryse en ‘n sukkelende wêreldekonomie.