Skoolgeld gaan skerp styg waarsku Fedsas

Die federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse skole (Fedsas) sê die meeste skole gaan waarskynlik aanstaande jaar hul skoolgeld met baie meer as inflasie verhoog.

Paul Colditz, Fedsas se uitvoerende hoof, sê munispale tariewe, wat oor die laaste vyf jaar met 18% gestyg het, die inflasiekoers en salarisverhogings plaas groot druk op skoolbeheerliggame om hulle begrotings aan te pas.

Colditz sê verder die staat se bydrae tot skole dek nie eers die water– en elektristeitsrekeninge nie.

Eksamens verloop vlot sê NWU

Eksamens by die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom- en Vaaldriehoek-kampusse het reeds begin en verloop sover vlot.

Dit is volgens die universiteit se Louis Jacobs.

Die eksamens by hierdie twee kampusse het op 2 November aanvang geneem nadat dit aanvanklik met een week uitgestel is weens die landwye studentebetogings teen studiegeldverhogins.

Die universiteit het later ‘n interdik bekom om te verseker dat die eksamens nie ontwrig sou word nie.

Tot op hede was daar egter volgens Jacobs nie verdere probleme nie.

Die NWU-raad het intussen volgens berigte die Reform Puk-groep uitgenooi om hul volgende raadsvergadering toe te spreek.

Die bestuur van die Universiteit van Johannesburg se onderhandelinge met betogers het intussen op ‘n dooie punt uitgeloop.

Die bestuur weier om met betogers te vergader totdat hulle respek betoon.

Verlede week is 141 betogers in hegtenis geneem toe geweld uitgebreek het.

Aanklagte teen die betogers en skoonmakers, is Maandag in die Johannesburgse landdroshof laat vaar.

Hulle het egter kort daarna weer opgeruk na die universiteit se Kingsway-kampus en geëis dat die vise-kansellier Ihron Rensburg hulle toespreek.

Die polisie moes skokgranate en traanrook inspan om die skare onder bedwang te hou.

Die adjunk vise-kansellier vir strategiese dienste, Mpho Letlape sê hulle sal eers met betogers vergader sodra orde herstel is.

Sy sê verteenwoordigers het nie Sondag se vergadering bygewoon nie.

Verteenwoordigers van die betogers wil nie agter geslote deure vergader nie, maar eis om in die openbaar met die bestuur te praat.

Gustav Venter gister getroud

Die Afrikaanse romansier, draaiboekskrywer en joernalis, Gustav Venter, is gister op die plaas Braamhof in die Oos-Vrystaat met Erma Carsten getroud. Die bruilof is deur byna 300 mense bygewoon en die bruid het in ‘n veteraan- Volkswagen Kombi opgedaag.

Gustav se broer, dr. Philip Venter, het al die pad van Louis Trichardt af gekom om die huwelikseremonie waar te neem. Afgesien van enkele ernstiger oomblikke toe Philip oor die vier verskillende woorde vir “liefde” in die Bybel gepreek het, het die huweliksbevestiging hoofsaaklik in ligte luim geskied. Sowel Gustav as Erma was voorheen in hul lewens getroud en gaan nou op Lusthof, wat deel Braamhof is, nesskop in Gustav se bestaande ou huis wat van die tradisionele Oos-Vrystaatse sandsteen gebou is.

Intussen vertrek hulle egter op ‘n wittebroodsreis na ‘n onbekende bestemming. Afgesien van allerlei versnaperinge is heerlike pannekoek met drie verskillende vulsels bedien, wat reg aan dié eg Afrikaanse bruilof laat geskied het.

Gaste het van heinde en verre gekom, vanuit die onmiddellike omgewing van Clarens en Fouriesburg, maar ook vanaf Pretoria en die Rand. Gastehuise in die Clarens-omgewing het goed sake gedoen, met die meeste gaste wat gisteraand oorgeslaap het. Lede van Gustav se peloton uit sy weermagjare was insgelyks teenwoordig, wat tot ‘n groot geskerts oor die bruidegom se sondes tydens sy dienspligjare aanleiding gegee het. Onder andere het Gustav destyds as Ratelbestuurder aan Operasie Askari in Angola deelgeneem.

Gustav het reeds twee e-boeke by PRAAG uitgegee, wat albei binnekort ook in gedrukte formaat sal verskyn: Die amigdala van Alrina Smal en Bodem.

Erma is ‘n boorling van Pretoria wat aan Menloparkhoërskool gematrikuleer en agterna aan Tukkies gestudeer het. Gustav was op Hoërskool Stofberg op Brakpan en het ook aan Tukkies klas geloop, waar hy die bynaam “Prof” gekry het omdat hy soveel boeke gelees het.

Ons wens die splinternuwe egpaar geluk met die groot stap en hoop dat hulle dolgelukkig sal wees in die pragtige vallei omring deur berge net 13 kilometer van Clarens af. In dié verruklike omgewing en met sy pragtige nuwe Muse aan sy sy, verwag ons ook dat Gustav nog veel meer boeke en draaiboeke die lig gaan laat sien. Dat alle Afrikaanse lesers en fliekgangers daarna uitsien, is gewis!

Lees gerus ook Gustav Venter se rubrieke.

Bestuur van Unilofts ontken enige diefstal of plundery by studentekompleks

Die bestuur van Unilofts, die gebou met studentewoonstelle in Hatfield, Pretoria, ontken dat enige woonstelle in sy kompleks geplunder is of dat daar misdaadvoorvalle tydens studentebetogings plaasgevind het. Volgens mnr. Jan Botes, die uitvoerende beampte van Legprop, eienaars van Unilofts, is die inligting in Praag se berig “kwaadwillig en totaal onaanvaarbaar”. Hy eis ‘n regstelling van die feite wat ons oorspronklik van studente ontvang het en tot dusver nie self kon kontroleer nie.

Hoewel voertuie elders voor die Uniegebou verbrand is, “is geen voertuie egter tydens die protes beskadig voor of binne Unilofts Pretoria nie”.

Aangaande diefstal of plundery, sê mnr. Botes in sy verklaring:

Daar was absoluut geen plundery hoegenaamd by Unilofts Pretoria nie – nog nooit nie nie eens ‘n poging daartoe nie.

Studente by Unilofts is ook nie beperk tot diegene wat nie tot koshuise toegelaat word nie.

Unilofts… verskaf verblyf aan studente wat privaat wil bly en nie noodwendig net dié wat nie koshuis-verblyf kry nie. Unilofts is ‘n gesogte en baie gewilde studentveblyfkompleks en elke jaar sover 100% beset met studente van alle rassegroepe. Besoek gerus ons webtuiste by www.Unilofts.co.za.

Wat veiligheid oor die algemeen by die gebou betref, verklaar die maatskappy:

Unilofts het seker die beste sekuriteit van alle studentebehuisingskomplekse en daarop is ons baie gesteld en ons is ook tans besig om dit nog verder op te gradeer tot die voordeel van ons inwoners en die eienaars. Daar was selfs addisionele sekeriteitswagte aangestel die dae van die betogings. Daar het nie een van betogers in ons kompleks ingekom nie! Daar is nie een deur afgebreek of in enige woonstel eenheid ingebreek nie want hulle was glad nie op die perseel nie. Hoegenaamd niks is geplunder of gesteel by Unilofts Pretoria nie – absoluut niks! Ons sekuriteit was op diens saam met ons bestuurder tydens die optogte en by Unilofts Pretoria was daar geen insidente hoegenaamd nie. Ons studente in die kompleks was almal veilig en nooit in enige gevaar nie.

Daar was geen plundery en geen artikels van enige iemand was gesteel nie. Die stelling dat ons veiligheidswagte aan sulke bedrywighede verbind word is total absurd en ‘n leuen, hulle was juis besig om die gebou op te pas om te verseker die eiendom word beskerm en dat ons huurders veilig is. Waar studente in die omgewing aan sulke snert kom sal nugter weet! Daar is geen konflik tussen ons veiligheidswagte en inwoners nie.

‘n Groep betogende swart studente het wel verby die gebou beweeg, maar die perseel self is nooit betree nie en daar is nie by die gebou deur stropers ingebars nie. Mnr. Botes sê:

Die betogers het voor die Universiteitshekke vergader en wel verby Unilofts Pretoria in ‘n groep beweeg maar niemand het by Unilofts Pretoria ingebars en al die skade en stelery aangerig soos beweer word nie. Ons sekuriteit was op hulle pos en alles het goed en ordelik by Unilofts Pretoria verloop. Miskien was dit ‘n ander studentekompleks met ‘n soortgelyke naam maar definitief nie Unilofts Pretoria nie. Die persoon wat hierdie inligting verskaf het, is heeltemal verward en verkeerdelik ingelig, of net ‘n kwaadstoker of net bloot ‘n leuenaar.

Volgens mnr. Botes sal hy graag die persoon wil ontmoet en ondervra wie se goed by Unilofts gesteel is,

“want ons dra geen kennis daarvan nie en daar is sekerlik niks by ons sekuriteitsarea uitgevat nie. Weereens beklemtoon ek dat daar geen insident by Unilofts Pretoria was nie”.

Tot dusver kon PRAAG nog nie weer die studente wat die bewerings gemaak het, opspoor nie, maar sodra ons oor meer inligting beskik, sal ons hul weergawe van die gebeure, moontlik by ‘n ander woonstelgebou, verder publiseer. Ons wil ook ‘n meer breedvoerige ondersoek na die bewerings van seksuele teistering deur voetgangers in Hatfield doen, wat video-onderhoude met damesstudente mag insluit.

Rassekloof in DA al hoe groter

Die DA probeer ‘n verenigde front voorhou nadat die skorsing van Dianne Kohler Barnard die party in ‘n krisis gedompel het met die rasse-kloof wat al hoe groter raak.

Die besluit is deur die DA se federale uitvoerende gesag Vrydag geneem om Kohler Barnard uit die party te skop.

Phumzile van Damme, nasionale DA-woordvoerder, het ontken dat die party in ‘n krisis verkeer.

Kohler Barnard gaan intussen appelleer teen die beslissing om haar uit te skop.

Die skorsing volg op ‘n onskuldige Facebook-inskrywing wat sy aangestuur het dat die land beter gevaar het onder PW Botha.

DA-leiers is tans diep bekommerd dat die rassespanning volgende jaar se munisipale verkiesing sal knou.

Die party probeer swart stemme trek met herhaaldelike gif-veldtogte, veral teen Afrikaners. Die jongste heksejag volg nadat Kohler-Barnard haarself “positief” met ‘n Afrikaner – PW Botha – geassosieer het.

Die einde van die party is in sig, deurdat Afrikaners wat hulself met die DA opgehou het, begin besef dat dit nie ‘n voertuig vir hulle belange kan wees nie.

Swarte verskyn na dubbelmoord op Memel

Die 27-jarige Sabelo Xaba is Sondagmiddag omstreeks 18:00 in Madadeni in hegtenis geneem nadat polisie inligting ontvang het dat hy verbind kan word aan die dubbelmoord op Memel.

Xaba het Woensdag vlugtig in die hof verskyn en sal weer op 4 November verskyn. Hy staan tereg op twee aanklagte van moord, aanranding en poging tot moord.

Die polisie soek steeds na ‘n tweede rower in verband met die moord op ‘n bejaarde plaaslike sakeman en sy huismaat in hul huis op die dorp.

Eric Oosthuizen, wat saam met Charlotte Viviers en haar man Viv gebly het, se lyk is verlede week deur die polisie in ’n buitekamer by die huis gevind. Daar was ‘n plastieksak oor sy kop en sy hande en voete was vasgebind.

Volgens polisiewoordvoerder in die Vrystaat, Tshegofatso Maliehe, het ‘n huiswerker verlede Woensdagoggend op Viviers se lyk en haar beseerde man, Viv, wat die aanval oorleef het, afgekom.

Viv is deur twee swartes oorval toe hy voorverlede Dinsdagmiddag tuisgekom het. Hy is aangerand en het steekwonde opgedoen. Sy vrou, wat vermoedelik verwurg is, en Oosthuizen was reeds in die huis.

Die booswigte het met Oosthuizen se bakkie, wat later by Madadeni by Newcastle in KwaZulu-Natal gevind is, op die vlug geslaan. Maliehe sê twee vuurwapens en ‘n onbekende bedrag geld is ook gebuit.

Swart betogers plunder hele woonstelgebou in Hatfield terwyl hoofstroommedia swyg

Lees asb. die regstelling wat ons intussen oor dié berig geplaas het:

Bestuur van Unilofts ontken enige diefstal of plundery by studentekompleks – redaksie

Die afgelope weke is betogings deur swart studente op kampusse landwyd deur die hoofstroommedia opgehemel en geloof vir die “wetsgehoorsame” en “nie-gewelddadige” aard daarvan. Ten minste twee voertuie is egter by die Uniegebou tydens die betoging daar verbrand terwyl ‘n hele woonstelgebou wat studente naby die Tukkiekampus huisves, geplunder is.

Die gebou heet Unilofts en heelwat blanke Afrikanerstudente wat nie toelating tot koshuise aan die Universiteit van Pretoria kan kry nie, huur woonstelle daar. Tydens die “wetsgehoorsame” betogings deur swart studente op die kampus het van die betogers op die gebou, wat deur die eienaars as “veilig en met goeie sekuriteit” beskryf word, toegesak en woonsteldeure een vir een oopgebreek en geplunder.

Skootrekenaars, selfone, klere, skoene, meubels en ander waardevolle artikels is geroof. Volgens studente in die omgewing het die swart veiligheidspersoneel wat die gebou moes oppas, meegedoen aan die plundery.

“Dit was totale chaos,” sê ‘n student wat nie haar naam genoem wil hê nie. “Hordes swartes het eenvoudig by die gebou ingebars en die deure een vir een afgebreek. Die veiligheidswagte het niks gedoen om hulle te keer nie en ek het gesien hoe die veiligheidspersoneel ook gesteelde goed wegdra.”

Van die studente is te bang om na hul woonstelle, waarvoor hulle ouers steeds huur betaal, terug te keer omdat die deure afgebreek is. ‘n Tweedejaardamestudent bly tans by ‘n vriendin in Pretoria en het aan PRAAG gesê:

“Wat help dit ek gaan terug? Al my goed is gesteel en die deur van my woonstel is heeltemal afgebreek en weggedra. Ek sal nie veilig voel om daar te slaap nie, want enigeen sou te eniger tyd terwyl ek slaap kan inkom en my kan kom aanrand.”

Hatfield, waar die kampus van die Universiteit van Pretoria geleë is, is naby die middestad van Pretoria, asook Sunnyside, wat geheel en al verswart het. Misdaad vier hoogty en blanke studente, veral dames, is bang om alleen van die kampus na die Gautreinstasie in Hatfield te stap omdat hulle seksueel deur swartmans op straat geteister word.

“Hulle skree op ons en maak vieslike voorstelle aan die wit meisies. Ek kan dit nie herhaal nie en wil nie eens daaraan dink nie,” het een Tukkiemeisie gesê.

Vanweë die ontwrigting van die akademiese program, moet studente ook na-ure kampus toe gaan om praktiese werk en take af te handel. “Ons is heeltemal op ons senuwees om van die stasie af kampus toe te loop, veral na-ure as dit stil is en ‘n mens nie saam met ander studente in ‘n groep kan loop nie. Baie studente het al by die universiteit daaroor gekla, maar hulle sê hulle kan niks doen nie omdat die strate van Hatfield ‘n openbare ruimte is waar enigeen kan maak of sê wat hy wil,” sê dieselfde damestudent.

Die plundering van die Uniloftsgebou deur swart studentebetogers word tot dusver geheel en al deur die hoofstroommedia verswyg.

Taalbom bars by Tuks: Afrikaans dalk ‘afgeskaf’

Ná druk van radikale Engelse studente, oorweeg die Universiteit van Pretoria dit sterk om Afrikaans heeltemal “af te skaf”. Volgens ‘n berig van Rand Daily Mail Newswire, “broei ‘n storm oor UP se besluit om sy taalbeleid te hersien, wat beteken dat Afrikaans as onderrigtaal afgeskaf kan word”.

Die rektor Cheryl de la Rey het reeds besluit om die senaat en universiteitsraad, asook die departement van hoër onderwys, “te raadpleeg oor die universiteit se taalbeleid, gegrond op eise wat deur studente tydens verlede week se betogings gestel is”.

Volgens die woordvoerder van UP, Anna-Retha Bouwer, “is ‘n ondersoek aan die gang, en ‘n verslag is vir die einde van die jaar beloof. Aannames oor die uitkoms daarvan moet nie op dié stadium gemaak word nie”.

Dié stap is deur die Higher Education Transformation Network, ‘n skaduagtige groep wat kliphard werk om alle Suid-Afrikaanse universiteite, ook die PUK, te verengels, verwelkom.

Die uitvoerende direkteur van dié organisasie, Reginald Legoabe, het gesê:

“Engels sou ‘n tipiese konsensustaal wees aangesien dit internasionaal en in die sake-omgewing gebruik word. Ons sal geen probleem hê indien alle groepe daartoe instem om na die gebruik van Engels te graviteer nie sodat dit niemand ‘n ekstra voordeel bied nie.”

Die Universiteit van Pretoria het op 13 September 1932 met 13 stemme teen 4 ‘n raadsbesluit aanvaar om Afrikaans as onderrigmedium in te stel, ná onenigheid tussen Afrikaanse en Engelse studente wat weens ‘n Boerehaat-boek deur ‘n dosent, ene HP Lamont, ontstaan het. Die titel van die boek was War, wine and women, en daarin is neerhalende opmerkings oor Afrikaners gemaak. Die boek is aanvanklik anoniem uitgegee, maar dit het later geblyk dat Lamont die skrywer was.

Sedert 1994 het die universiteit geleidelik ‘n parallelmediumuniversiteit geword en sommige vakke word reeds slegs deur medium van Engels gedoseer. Radikale dosente vanaf Engelse universiteite is insgelyks aangestel wat studente met marxisme, feminisme en afrosentrisme breinspoel, veral in die geesteswetenskappe.

Die Universiteit van Pretoria is tans die enigste kampus in ‘n stedelike omgewing waar Afrikaans as onderrigmedium gebruik word. Die universiteit huisves ook meer Afrikaanse studente (ongeveer 16 000) as enige ander universiteit, waaronder ook die oorwegend Afrikaanse kampusse van Stellenbosch en Potchefstroom. Indien Tuks vanaf 2017 suiwer Engels sou word, sou die doodsklok vir Afrikaanse universiteitsonderrig lui.

PRAAG het kort na sy ontstaan in 2000 ‘n betoging ten gunste van Afrikaans op die UP-kampus georganiseer. Die universiteit het egter die betoging verbied, waarna dr. Dan Roodt en ‘n groep van ongeveer honderd studente in Lynnwoodweg moes betoog. Vandag geskied anti-Afrikaanse en anti-blanke betogings egter vrylik op die kampus. Afrikaanse studente is verlede week met megafone uit die biblioteke verjaag en selfs met geweld gedreig.

Hakkejag lei daartoe dat stropers sit

Die mede-eienaar van ‘n wildplaas naby Bray by die Botswana-grens in Noordwes, het boere en hul werknemers, aook die polisie bedank wat vier vermeende renosterstropers vasgetrek het.

Tommie van Vuuren sê ‘n plaaswerker het twee weke gelede vier vreemde mans onder ‘n boom op sy plaas sien lê. Hulle het ‘n jaggeweer met ‘n knaldemper gehad.

Hy sê natuurbewaring en die polisie is ontbied en boere was binne ‘n japtrap daar. Die vier het die hasepad gekies.

In ‘n stadium is tot 30 bakkies in ‘n hakkejag ingespan.

Volgens Van Vuuren het spoorsnyers om die beurt voor ‘n Unimog, wat gebruik is in die digte bos, gehardloop, terwyl boere met hul bakkies die gebied afgesper het. Die vier verdagtes is voor 21:00 dieselfde aand nog vasgetrek.

Die eerste verdagte is omstreeks 17:00 op ‘n buurplaas vasgetrek. Lede van die polisie se honde-eenheid en boere het daarna op ‘n tweede verdagte wat in ‘n erdvarkgat weggekruip het, afgekom, waarna twee spoorsnyers omstreeks 20:00 ‘n derde verdagte vasgetrek het.

‘n Vierde verdagte is later die aand deur die polisie naby Vryburg in ‘n wegkomvoertuig in hegtenis geneem.

As die boere en hul plaaswerkers nie daar was nie, sou die booswigte nie nou agter tralies gewees het nie, sê Van Vuuren.

Die verdagtes Michael Hlongwane, Simon Sithole, Aurolle Mathabela, en Giyane Maringa het reeds in die hof verskyn en sal na verwagting op 6 November om borgtog aansoek doen.

Hulle staan tereg op aanklagte van oortreding, die rig van ‘n vuurwapen en poging tot die stroop van renosters.

Tuks heropen ná gister se ontwrigting deur swart studente

Die Universiteit van Pretoria heropen vandag nadat dié instelling gister weereens tot stilstand gekom het toe lede van die EFF, Sasco en opgeruide swart studente aktiwiteite ontwrig het. Blanke studente in die biblioteek is aangesê om die kampus te verlaat of daar sal geweld teen hulle gebruik word. Hierna het die universiteit ‘n Engelse boodskap aan alle studente per sms uitgestuur waarin verrigtinge vir die dag opgeskort is:

Students, academic activities are suspended for today, due to disruptions by students. Further info will follow on the web later today.

Blykbaar het die universiteit sedertdien met die radikale swart studente gesprek gevoer, want intussen het die rektor en visekanselier, prof. Cheryl de la Rey, die volgende boodskap op die UP-webblad in Engels en Afrikaans gepubliseer:

Die Visekanselier en Rektor van die Universiteit van Pretoria het vandag (26 Oktober 2015) indringende gesprekke met die verteenwoordigers van al die studenteliggame gevoer.

‘n Formele ooreenkoms tussen al die partye is onderteken, waarin daar ooreengekom is dat akademiese aktiwiteite op 27 Oktober 2015 sal hervat.

Die aangepaste skedule vir eksamens sal sou gou as moontlik gekommunikeer word.

Dekane sal verdere kommunikasie spesifiek tot hul fakulteite hanteer rakende reëlings vir die herskedulering van toetse, indiening van werksopdragte en ander akademiese aktiwiteite.

Alle amptelike inligting rakende toetse, werkopdragte en eksamens sal beskikbaar gestel word op die UP-webtuiste en ClickUP.

Soos ons terugkeer na normale akademiese aktiwiteite, vertrou ek dat studente en UP-personeellede sal fokus op die opkomende jaareindeksamens en die afsluiting van die akademiese jaar.

Prof CM de la Rey
Visekanselier en Rektor

Twee swart aanvallers soek na Memel-moorde

Die polisie op Memel in die Vrystaat soek steeds na twee swart aanvallers in verband met die moord op Charlotte Viviers en ‘n familievriend, Eric Oosthuizen, in hul huis op die dorp Woensdagaand.

Polisiewoordvoerder, Tshegofatso Maliehe, sê Viviers se man, Viv, wat omstreeks 18:00 van sy plaas buite die dorp tuis gekom het, is deur twee mans in die huis oorval. Die Viviers-egpaar en Oosthuizen het in dieselfde huis gewoon.

Viviers is aangerand en met ‘n mes gesteek. Hy het ook brandwonde opgedoen. Die booswigte het sy hande en voete met toue vasgebind. Sy vrou en Oosthuizen was reeds in die huis.

Volgens Maliehe het ‘n huiswerker vanoggend omstreeks 08:00 op die beseerde Viviers afgekom. Charlotte en Oosthuizen se lyke is toe ook gevind.

Hulle hande en voete is ook vasgebind en hulle is vermoedelik verwurg. Maliehe het vroeër gesê volgens ‘n erg getraumatiseerde Viviers het die aanvallers die kluis se sleutels geëis, terwyl hy gemartel is.

Volgens haar word twee vuurwapens uit die huis vermis.

Oosthuizen se vermiste wit bakkie is ook nog nie gevind nie.

Maliehe vra enigiemand met inligting om hul naaste polisiekantoor te bel, maar wou nie die ras van die aanvallers bevestig nie.

Deur nie die ras van die aanvallers te gee nie, is dit onmoontlik om die moordenaars op te spoor.

Blanke studente kla omdat Tukkies vandag gesluit is

Die Universiteit van Pretoria, wat tot dusver die kampusonrus gespaar gebly het, het insgelyks aangekondig dat hy vandag alle klasse opskort en gesluit sal wees as deel van die landwye staking van hoofsaaklik swart studente. Blanke studente wat vir toetse en eksamens moet voorberei, asook in praktiese kursusse veeleisende take moet voltooi, was gister ontstoke hieroor.

“Ons is nie deel van hulle politiek nie!” het ‘n damestudent by Tukkies wat nie haar naam genoem wil hê nie, gister uitgeroep. “Dis die einde van die jaar; ek is toegegooi onder die werk en moet Maandag ‘n baie moeilike projek inhandig. Ek het nie die toerusting tuis om daaraan te werk nie; daarom móét ek kampus toe kom.”

Sy wou in elk geval vandag kampus toe kom, maar haar ouers het ‘n stokkie daarvoor gesteek, uit vrees vir haar veiligheid. “Hulle sê dat ek dalk aangeval gaan word. En dis waar, ek sal van die Gautreinstasie af kampus toe moet loop en op pad word ons altyd deur die swart leeglêers en motorwagte seksueel geteister. Dus sal ek nie gemaklik voel om alleen te moet loop nie,” sê sy.

‘n Ander student sou vandag lesings bygewoon het en voel dis onregverdig weens die veeleisendheid van sy kursus. “Daar is so min tyd in elke lesing vir dosente om die werk te verduidelik,” sê hy. “Nou is ons agter met die sillabus en sal hulle dit iewers aanstaande week moet inprop, op die vooraand van die eksamens. Ons is betalende studente wat nou benadeel word, alles omdat swart studente op ander kampusse besig is om amok te maak. Ek is ‘n beurs by Wits aangebied, maar wou nie soontoe gaan nie weens die linkse politiek daar, nou raak dit my selfs hier by Tukkies.”

Volgens hom sal dit niks help om fooie te verlaag nie. “Selfs al kan almal gratis studeer, moet jy nog aan die toelatingsvereistes voldoen. Benewens maklike kursusse soos onderwys, is daar baie min swart studente wat toelating verkry. Hulle wiskunde en wetenskap is eenvoudig nie goed genoeg nie. Al brand hulle die kampus af, gaan dit nog niks daaraan verander nie.”

Sy vriend langs hom, wat ekonomie studeer, meen “hulle soek net ‘n stuk papier sodat hulle agterna ‘n regeringspos kan kry, waar hulle hul sakke kan vul. Hulle hoef nooit te presteer nie. ‘As ek nie my sin kry nie, verniel ek geboue of brand iets af,’ is die houding. Bou nou ‘n land met sulke mense.”

Intussen probeer die HSM (hoofstroommedia) om die indruk te skep dat alle studente ontevrede is. Die Naspersorgaan, News24, berig soos volg:

“Studente van die Universiteit van Pretoria sê  dat hulle voortgaan met hul betoging oor voorgestelde fooiverhogings vir 2016 en hulle sweer dat hulle nie sal tou opgooi nie.”

Puk-studente beskerm Totius-beeld

Lede van die drukgroep Reform PUK eis nou om direk met die Noordwes-Universiteit se raad te skakel rakende hul klagtes.

Dit volg na ’n massavergadering deur lede van die Reform PUK-groep waar hul visekanselier, Dan Kgwadi, Dinsdag uitgejou het en gesê het dat hy nie antwoorde op hul vrae gebied het nie.

Kgwadi het terugvoer gelewer oor die memorandum van griewe wat verlede week aan hom oorhandig is, waar Reform PUK onder meer kla oor die universiteit se taalbeleid, tolkdienste en hoë klasgelde.

Hy het gesê dat die universiteit kennis neem van hul ongelukkigheid, en dat die universiteit se bestuur dit sal aanspreek.

Kgwadi het egter bygevoeg dat dit onmoontlik en onprakties is om binne enkele dae hierdie probleme te probeer oplos.

Spanning het hoog geloop toe swart studente ‘n beeld van die Afrikaanse digter Totius wou vandaliseer.

Ná die vergadering met Kgwadi, waar die kwessie van die standbeeld bespreek is, het ‘n groep wit studente die beeld omring in ‘n poging om dit te beskerm.

Swart studente het hulle deurentyd gekoggel.

NWU se woordvoerder Professor Johannes Froneman het bevestig dat daar wit studente die standbeeld beskerm en dat swartes daarna die aftog geblaas het.

Verlede week het die opstokers ‘n memorandum aan die bestuur van die universiteit oorhandig en hulle gevra om te reageer teen 20 Oktober.

Eise in die memorandum sluit in die verwydering van die Totius-beeld, die verandering van die toelatingsbeleid, die hervorming van die SR en dat alle lesings in Engels aangebied moet word by die instansie.

‘Pukke moeg vir politiekery’

Die huidige onrustigheid in die tersiêre onderwyssektor is wat gelei het tot die totstandkoming van “NWU-Pukke Breek die Stilte”, ‘n groep studente wat die belange van die Noordwes-Universiteit Potchefstroomkampus op die hart dra.

Dit is volgens SR-voorsitter, Paul Maritz, wat vanoggend ‘n nuusverklaring uitgereik het waarin hy onder meer sê dat studente op die Potchefstroomkampus “moeg is vir politiekery” en “vals beskuldigings van rassisme” asook “onderdrukking onder die vaandel van transformasie”.

Dit volg nadat ‘n ander groep, Reform PUK, verlede week ‘n memorandum van griewe aan visekanselier Dan Kgwadi oorhandig het waar hulle onder meer die behoefte aan transformasie op die kampus beklemtoon.

Maritz sê studente sal Vrydag in die Sanlam-ouditorium op kampus geleentheid kry om hul menings rondom hierdie en ander sake te lug.