praag.co.za

Tag: Totius

  • Leon Lemmer: Afrikaans ‘so heerlik als die geluid van die eerste reendruppels na ‘n langdurige droogte’

    Leon Lemmer: Afrikaans ‘so heerlik als die geluid van die eerste reendruppels na ‘n langdurige droogte’

    Al hoe minder nie-fiksie boeke verskyn in Afrikaans. Afrikaanssprekende akademici verkies deesdae om eerder in Engels te publiseer. Nuwe boeke oor Afrikaans het skaars geword. Uitgewerye soos Naspers/Media24, vir wie dit voorheen ‘n prestige-saak was om boeke oor Afrikaans te publiseer, stel skynbaar glad nie meer belang nie. Dit is daarom te verwelkom dat ‘n nuwe boek oor Afrikaans die lig gesien het; des te meer omdat dit nog ‘n werk van JC (Jaap) Steyn (gebore in 1938) is, wie se tekste altyd van onberispelike vakmanskap en deeglike afwerking getuig.Ek verwys na Verset & opbou: Skrywers en politici as aktiviste vir Afrikaans (Centurion: Kraal Uitgewers, 2019, 328p, R300). “Hierdie publikasie is moontlik gemaak deur ‘n ruim finansiële bydrae van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns” (p 6). “Die meeste hoofstukke is verwerk van artikels wat in vaktydskrifte verskyn het” (11).

    Die boek is op 14 Augustus, Afrikaansdag, in Bloemfontein bekend gestel. Ek kon die boek weke na sy verskyning steeds nie in enigeen van die plaaslike boekwinkels opspoor nie. Ten einde raad het ek spesiaal die hele ent Stellenbosch toe gery om die boek by Protea Boekwinkel te koop. Die boek het my verwagtinge nie teleurgestel nie. Die eerste vyf van die agt hoofstukke handel skynbaar oor bekende terrein, maar bevat heelwat inligting (insluitende foto’s) wat nie algemeen bekend is nie. In die laaste drie hoofstukke word minder bekende terrein betree. Hulle munt uit in aktualiteit. ‘n Nuwe boek van Jaap Steyn oor Afrikaans is, in die woorde van sy vangenoot, president MT Steyn (1857-1916), “so heerlik als die geluid van die eerste reendruppels na ‘n langdurige droogte” (60).

    Die voorwoord begin soos volg: “Hierdie boek gaan oor Afrikaanse skrywers en politici se taalaktivisme en taalpolitiek. ‘Taalaktivisme’ lyk vir my na ‘n nuttige woord waarmee ‘n mens ouer woorde soos ‘taalstryd’ en ‘taalhandhawing’ kan saamvat … Eintlik is taalaktivisme in ‘n normale samelewing onnodig. Wanneer die politieke en ander maghebbers egter taalregte misken, sal die verontregte gemeenskap daarop reageer – óf deur gedienstig en gedwee na die owerheid se pype te dans óf self teen onreg op te tree en sodoende aktiviste te word” (8). ‘n Prominente derde moontlikheid is om apaties oor Afrikaans te wees. Afrikaanse taalaktiviste word dikwels “taalbulle” genoem (8). “Taalyweraars” is ‘n beter benaming (46). Vir die verdagmakers van Afrikaansyweraars is dit nie genoeg om agter die heillose ANC-regime aan te kruip nie. Hulle probeer ook om diegene wat lojaal teenoor Afrikaans is te diskrediteer deur hulle as bv polities (ver)regs voor te stel. Tydens die blanke politieke bewind moes ons telkens aanhoor dat Suid-Afrika ‘n abnormale samelewing is. Dit is goed en reg dat Steyn dieselfde etiket aan die nuwe Suid-Afrika heg.

    Interessant is SJ du Toit (1847-1911), van Genootskap van Regte Afrikaners- (GRA-) faam, se opmerking oor Engelse skole: dat hulle “di fontein van ons nasionaliteit” vergiftig (16). J du P Scholtz (1900-1990) het hom “‘n nuwe soort Afrikaner” en “die eerste Afrikaanse nasionalis in die eintlike sin van die woord” genoem (38). Sy seun, Totius (1877-1953), het ‘n gedig, “Di laaste Afrikaner” (1907) geskryf, wat soos volg begin: “Hy is alleen nog o’er van heel die Boereras / Wat in syn kindsheid nog ‘n volk, ‘n nasi, was” (27). Die titel van hierdie gedig herinner aan Karel Schoeman (1939-2017) se Die laaste Afrikaanse boek (2002), waarin hy die boektitel soos volg verduidelik: “Nie slegs omdat dit waarskynlik my laaste boek is nie … maar meer nog omdat dit vir my onwaarskynlik lyk dat daar in Afrikaans gou of maklik weer ‘n omvangryke nie-fiksiewerk in tradisionale formaat en deur middel van die tradisionele kommersiële publikasieproses sal kan verskyn … [Hierdie teks] tewens op onbedoelde wyse uitgegroei het tot rekord van die einde van ‘n era in die geskiedenis van die Afrikaanse taal en kultuur” (p 5). ‘n Soortgelyke boektitel is Hermann Giliomee se Die laaste Afrikanerleiers (2012) waarin staan: “Op die lange duur [staar] die Afrikaanse taal en die Afrikanergemeenskap ‘n onsekere toekoms in die gesig” (p 441).

    ‘Dit is ‘n ietwat oordrewe stelling, maar tensy daar daadwerklike verset kom, kan hierdie eeu die einde van sowel die Afrikanerdom as Afrikaans inhou.’

    Volgens Totius se gedig en die titels van die twee boeke genoem in die vorige paragraaf, het die Afrikanerdom en Afrikaans hulle eindtyd betree. Hoekom? “Ná 1994 was daar geen Afrikanerverset teen die nuwe orde nie” (Giliomee 441). Dit is ‘n ietwat oordrewe stelling, maar tensy daar daadwerklike verset kom, kan hierdie eeu die einde van sowel die Afrikanerdom as Afrikaans inhou. NP van Wyk Louw (1906-1970) skryf in Lojale verset (1939): “Opstand is net so noodsaaklik in ‘n volk as getrouheid. Dit is nie eens gevaarlik dat ‘n rebellie misluk nie; wat gevaarlik is, is dat ‘n hele geslag sonder protes sal verbygaan.” Die tydsduur van ‘n geslag word gewoonlik op 25 tot 30 jaar gestel. Sedert die politieke magsoorname deur die heillose ANC-regime in 1994, het reeds meer as ‘n kwarteeu sonder beduidende Afrikaner-protes verloop. Volgens Van Wyk Louw se uitspraak is die Afrikanerdom en Afrikaans dus gedoem.

    Die tema van Steyn se boek is historiese verset in Afrikanergeledere ten behoewe van Afrikaans; dus die soort verset waarvan daar in die nuwe Suid-Afrika bitter min tekens is. J du P Scholtz het tereg gesê: “‘n Volk wat tevrede is om sy taal in sy eie land ‘n ondergeskikte plek te laat inneem, [is] gedoem … om met sy taal onder te gaan” (Steyn 51). Oor die interafhanklikheid van Afrikaans en die Afrikanerdom het SJ du Toit, “‘n baanbrekertaalaktivis” (58), reeds in 1874 geskryf: “Sonder taal, geen nasie (51), en in 1879: “Taal en nasi is één” (53).

    Steyn haal soos volg aan uit ‘n brief wat GR von Wielligh (1859-1932) in 1917 aan DF du Toit (1846-1923), ‘n stigterslid van die GRA – en iemand wat “soetskeel” was (37) – geskryf het: “Als ons, wat nog lewe, die regte van die Eerste Skrijwers nie bepleit nie, dan doen ons hulle onreg aan. Want netnou eendag word ‘n Afrikaanse Letterkunde Geskiedenis geskrywe en daarin sal so waar as mossie, die werk van die ou beweging met dolke onder die water gesteek word” (30). Von Wielligh se voorgevoel was merkwaardig korrek. Deesdae word die bedrywighede van die GRA verdag gemaak omdat die lede nasionalistiese Afrikaners was. Die skryfwerk van die blanke outeurs van die vroegste Afrikaanse tekste word tans dikwels geminag deur diegene wat in die mode wil wees deur die ontstaan en selfs aanvanklike ontwikkeling van Afrikaans teen wil en dank eerder aan nieblankes wil toedig.

    Wat taal betref, het die nasionalisme onder blankes destyds ‘n deurslaggewende rol gespeel. “Een van die oogmerke van die taalbeweging was … om die doeltreffendste instrument teen verengelsing te vind” (157). “Die destydse Afrikanernasionalisme … was ‘n verdedigende beweging teen die aggressiewe Engelse nasionalisme” (173). “Afrikanernasionalisme is gewortel in taalbewustheid” (191). “Die Hollandse en Afrikaanse taalbewegings was uitvloeisels van die Afrikanernasionalisme in die laaste kwart van die negentiende eeu” (85). Von Wielligh het van DF du Toit gesê: “Die Afrikaanse taal was vir hom alles” (42). Dit herinner aan Jan Rabie (1920-2001), wat gesê het: “Sonder Afrikaans is ek niks.” Van hoeveel Afrikaners kan deesdae gesê word dat hulle net so entoesiasties oor Afrikaans is soos DF du Toit en Jan Rabie was? Afrikaans het die vermoë om sonder beïnvloeding deur Engels voort te bestaan as die gebruikers die wil daartoe het. DF Malan (1874-1959) het in 1925 in die Volksraad gesê: “Daar bestaan geen twyfel meer dat Afrikaans genoeg verskeidenheid en buigsaamheid van vorm en woordeskat besit om gedagtes suiwer uit te druk nie” (141).

    Soos baie eens Afrikaners vroeg in die 21ste eeu, was president MT Steyn “vroeg in die twintigste eeu ambivalent oor taal” (59). Hy het ‘n Engelse vrou, Tibbie Fraser, gehad en aanvanklik voorkeur aan Hollands bo Afrikaans gegee. Later het hy al hoe meer pro-Afrikaans geword. “Teen 1905 begin Steyn om briewe in Afrikaans te skryf” (60). Van aktuele belang is wat hy aan sy seun, Colin Fraser Steyn (1887-1959), geskryf het: “As ons die Afrikaanse taal nie ent op die Hollandse stam nie waaruit dit sal groei, dan sal dit homself ent op die Engelse stam waar dit sal sterf so seker as wat die son opkom” (59). Dit is wat tans sienderoë besig is om te gebeur. Ek doen reeds jare lank tevergeefs ‘n beroep op veral Afrikaansdosente en instansies wat voorgee om Afrikaans te bevorder (hierna “hierdie elemente” genoem) dat hulle taalsuiwerheid moet propageer, dat Afrikaans al hoe meer Engelsbesoedeld word; dermate dat dit later nie meer die moeite werd gaan wees om Afrikaans naas Engels in stand te probeer hou nie omdat die nie meer ‘n taal uit eie reg sal wees nie.

    Polities byderwets redeneer hierdie elemente egter dat politiek voorkeur bo taalkundige oorwegings moet geniet; spesifiek dat versoening belangriker as suiwer(der) Afrikaans is (bv die Afrikaanse Taalraad/ATR). Dit is in skrille kontras met wat die GRA reeds in 1877 besluit het: “Die taal moet geen styf mar eenvoudig Kaaps-Hollands wees sonder inmenging van uitheemse woorde” (87). Die kernprobleem is dat die meeste Afrikaanssprekendes tans bruin is (as Kaaps as ‘n variëteit van Afrikaans eerder as Engels geklassifiseer word). Hedendaagse Kaaps is iets anders as die Kaaps-Hollands genoem in die voorlaaste sin. Omdat dit tans in die mode is om eerder kwantitatief as kwalitatief te dink, word die toekoms van Afrikaans deesdae dikwels aan die bruin mense toevertrou. Daar moet glo liefs nie beswaar teen die mengeltaal Kaaps, ‘n brousel van Afrikaans en Engels, gemaak word nie.

    Om Kaaps as ‘n aanvaarbare soort Afrikaans te probeer vergoeilik, word die diversiteit – die beweerde groot aantal variëteite – van Afrikaans oorbeklemtoon. JJ Smith (1883-1949) het in 1914 die teenoorgestelde beweer: “Afrikaans word in alle dele van die land met ‘n verbasende mate van eenvormigheid gebruik” (109). Vanweë die toename in geletterdheid, die verbetering in kommunikasie en die toenemende invloed van die massa-inligtingsmedia (die pers, radio, televisie, internet) behoort daar tans minder sprake van Afrikaansvariëteite as voorheen te wees. Alle Afrikaanssprekendes behoort aangespoor te word om suiwer Afrikaans te praat, maar hierdie elemente is bang dat hulle hiermee aanstoot aan veral bruin mense sal gee, gevolglik word die indruk gewek dat dit in orde is as mense al hoe meer uitdrukking aan hulle tweetaligheid binne “Afrikaans” gee; iets wat nie met Engels gebeur nie. Wat hieruit blyk, is dat daar agting vir Engels is terwyl Afrikaans (en Afrikaners) maar geminag kan word.

    Hiermee saam poog hierdie elemente polities byderwets om Afrikaans as ‘n inheemse taal voor te stel; dus sover moontlik sy Nederlandse wortels te misken. As die heillose ANC-regime af en toe ‘n lansie vir die inheemse tale breek, dan klop hierdie elemente hulleself op die skouer omdat hulle blindelings aanvaar dat Afrikaans daarby ingesluit word, terwyl die kamerade by sulke geleenthede in werklikheid slegs ooghare vir swart tale het (198). Verder oorbeklemtoon hierdie elemente polities byderwets graag die rol wat nieblankes in die ontstaan en ontwikkeling van Afrikaans gespeel het. Dit vind uitdrukking in die (slegte/geringskattende) gewoonte om Afrikaans “‘n kombuistaal” te noem. Die GRA het sy stigtingsbyeenkoms in 1875 in Gideon Malherbe (1833-1921) se eetkamer gehou. Afrikaans het sedertdien veeleerder ‘n voorkamer- as ‘n kombuistaal geword, soos die koerant, De Vriend, reeds in 1905 te kenne gegee het (61).

    Wat Afrikaansinstansies, soos die ATR, liefs moet insien, is dat vir suiwer(der) Afrikaans geywer moet word en nie polities-opportunisties vir meertaligheid, inheemse tale, alle variëteite van Afrikaans en daarby veral Kaaps nie. Gustav Preller (1875-1943) het geskryf: “Ons mag leer om opelik uit te kom vir ons goeie saak … inplaas van weg te kruip agter utiliteit en politiek” (168). Wat utiliteit betref, was die Nederlandse taalkundige, DC Hesseling (1859-1941), se mening “dat nie alleen rasionele argumente nie, maar ook die gevoel medebepalend is vir die keuse van ‘n kultuurtaal” (170).

    Die waarheid is dat nieblankes in vergelyking met blankes baie min in Afrikaans gepubliseer het. Hesseling het in 1897 die mening uitgespreek dat “‘n nasionale letterkunde die enigste betroubare bolwerk teen die veldwinnende mag van Engels” is (99). Van Wyk Louw was van mening: ‘n Taalgemeenskap bestaan “in wese in die literatuur wat sy lede oor geslagte heen opgelewer het” (222). MT Steyn het sy seun, Colin, ook daarop gewys “dat om te dink dat ‘n taal aan die lewe gehou kan word sonder ‘n literatuur, is soos om ‘n huis in die lug te probeer bou sonder ‘n fondament … Hy benadruk voorts dat indien iemand nie ‘n boek in sy eie taal kan kry nie, hy dit dan in ‘n ander taal sal lees. Steyn waarsku dan teen die waarskynlike gevolg, naamlik dat mense sal begin om Engels te lees wat daartoe sal lei dat die taal meer en meer deurspek sal word met Engels en langsamerhand daarin verlore sal gaan” (60).

    Jan Smuts (1870-1950) was reeds voor Uniewording in 1910 voorkeur aan Engels bo Afrikaans gegee. “In 1905 het Smuts aan ‘n Australiese joernalis gesê dat Engels die offisiële taal van Suid-Afrika sou wees en Hollands ‘n ‘toegelate taal’” (65) – soos dit deesdae met Afrikaans die geval is. In die taaldebat in 1908, tydens die Nasionale Konvensie met die oog op Uniewording, het Smuts se voorstel “niks oor gelyke behandeling of tweetaligheid bevat … nie” (75). JBM Hertzog (1866-1942) en MT Steyn “se oogmerk was amptelike status vir Hollands, maar veral gelyke behandeling van Hollands en Engels. [Hollands het Afrikaans ingesluit.] Amptelike status waarborg nie gelyke behandeling van die tale nie” (65) – soos ons sedert 1994 daagliks ervaar met Afrikaans as een van elf amptelike taal, maar met Engels in die praktyk as eintlik die enigste amptelike taal. Die groepie Afrikaanssprekendes wat mandaatloos die oorgawe aan swart mag bewerkstellig het, het nie hierdie elementêre les uit die Suid-Afrikaanse geskiedenis geleer nie.

    MT Steyn het tereg geredeneer: “Slegs [taal]gelykheid sal ware vereniging bring” (69). “Sonder daardie taalregte was daar geen Unie en geen versoening ná die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) nie” (246). JJ Smith het gesê: “Dit ly geen twyfel nie dat als Engels en Nederlands op gelyke voet teenoor mekaar kom te staan, laasgenoemde die onderspit sal moet delwe” (109). Die waarheid hiervan, wat Engels en Afrikaans betref, word deesdae telkens in skole en aan universiteite bewys. Tydens die Nasionale Konvensie in 1908 het MT Steyn gesê: “Daar kan geen eenheid wees nie sonder gelykheid. So lank een ras [eintlik etnisiteit/kultuur: Hollands/Afrikaanssprekendes of Engelssprekendes] voel dat dit ‘n onderdanige plek naas die ander moet inneem, so lank is daar die gevoel van onreg en hierdie gevoel sal ‘n skeidsmuur vorm tussen die twee rasse” (77). Hy het “absolute gelykstelling” geëis. Hollands/Afrikaans is, volgens MT Steyn, “die Europese taal wat die oudste in Suid-Afrika is. Dit word vandag gespreek deur verreweg die grootste deel van die blanke bevolking. Ons taal het sy offisiële karakter alleen deur geweld verloor” (77). Steyn het dit met verwysing na die Anglo-Boereoorlog (ABO) gesê. Vandag kan ons dit ook na aanleiding van die ANC/UDF/SAKP se terrorisme sê, asook natuurlik weens die ruggraatlose magsoorgawe deur die groepie onbekwame NP-onderhandelaars.

    MT Steyn het sy 1908-toespraak soos volg voortgesit: “Voor geweld moes ons swig. Die Konstitusie wat ons nou [vir die Unie] gaan opstel, sal ons eie daad wees, en niemand kan verwag dat ons vanself ons taal en ons ras [etnisiteit/kultuur] in ‘n onderdanige posisie sal gaan plaas nie. As ons dit sou doen, sal die volk nimmer sy goedkeuring daarna heg nie, en in plaas van verenig sal ons Suid-Afrika nog meer verdeel” (77-78). FW de Klerk het sy 1992-belofte dat die nuwe Grondwet aan die blanke kiesers vir goedkeuring voorgelê sou word, op ‘n verraderlike manier nie nagekom nie. Enersyds omdat hy geweet het dat die meerderheid blanke kiesers nooit oorgawe aan swart mag sou goedkeur nie. Andersyds omdat hy bang was vir baie in die swart massa se buitengewone vermoë tot geweldpleging en vernietiging.

    “Hertzog het gereeld die kwessie van gelyke taalregte in die debat oor unifikasie geopper. In een van ‘n aantal toesprake in 1907 sê hy dat die heropbou van die Afrikaner net so belangrik is as unifikasie. As unifikasie nie daartoe ‘n bydrae lewer nie, is dit nie die moeite werd nie. Daarom moet die Afrikaner sy selfrespek herwin, want daarsonder kan hy nie respek van ander verwag nie” (66). Insgelyks kan ons sê dat dit dingend noodsaaklik is dat die Afrikaner nie onnodige skuldgevoelens weens ANC/SAKP-propaganda moet koester nie en sy selfrespek, insluitende sy respek vir Afrikaans, so gou moontlik volkome moet herwin, anders staar hy die ondergang van die Afrikanerdom én Afrikaans in die gesig.

    Die Nederlandse taalkundige, RA Kollewijn (1857-1942), het gesê: “Dit kom my voor dat niks die Afrikaners só kan verbind, sóseer hul selfvertroue kan sterk nie, as die besef dat hul Afrikaans nie ‘n minderwaardige dialek is nie, waarvoor hulle hul eintlik moet skaam nie, maar die taal van ‘n volk, ‘n taal wat gepraat, geskryf word met dieselfde reg waarmee die Nederlander hom van Nederlands, die Engelsman [hom] van Engels bedien” (110). Oor die kwessie of Afrikaans ‘n dialek van Nederlands of ‘n taal uit eie reg is, het JHH de Waal (1877-1937) tot die besef gekom hoe “ontsaglik uiteenlopend” die twee tale is (120). Daar is ook geen geldige rede om skaam vir Afrikaans te wees nie. Soos CJ Langenhoven (1873-1932) dit gestel het: “‘n Vervloekte valse schaamte is dit, die schaamte vir jou moedertaal!” (131). In 1913 was Tobie Muller (1884-1918) se standpunt “dat die erkenning van Afrikaans as onderwystaal vir die selfrespek van die Afrikaner noodsaaklik is” (132). DJ Opperman (1914-1985) “verwys na die minderwaardigheidsgevoel van die Afrikaners wat aan die afneem was – en eintlik kon dit van 1914 af gebeur nadat Afrikaans ‘n onderrigtaal in skole geword het” (148). Ten einde die selfrespek van Afrikaners te ondergrawe, wil die ANC alle skole verengels en doen sy sikofant, die hanskakie Wim de Villiers, alles in sy vermoë om die Universiteit Stellenbosch so gou moontlik te verengels.

    Vir die behoud van Afrikaans kan daar nie op bruin mense as ‘n etniese groep gesteun word nie. “Die bruin en swart elite [was] in die Anglo-Boereoorlog oor die algemeen Britsgesind” (81). “Die belangrikste bruin leier van dié tyd en die dekades daarna was Abdullah Abdurahman [1872-1940], wat bitter anti-Afrikaner én anti-Afrikaans was … Dat Engels die taal van kolonialisme en oorlog (met sy wit en swart konsentrasiekampe) was, het nie die prestige daarvan onder swart en bruin mense verlaag nie” (81). Na verloop van meer as ‘n eeu is dit steeds die geval. Nieblankes, veral swartes, is geneig om anti-Afrikaner (indien nie anti-blank nie) en anti-Afrikaans te wees, terwyl die bruin elite steeds uitmunt in hulle dislojaliteit jeens Afrikaans; vandaar die wydverspreide gesindheid onder bruin mense dat, anders as met Engels, daar maar met oorgawe met Afrikaans gemors kan word. Sedert 1994 volg baie blankes hierdie voorbeeld na. Luister gerus krities na die geradbraakte Afrikaans wat baie blankes, bv sommige “sportsterre”, praat. Ek skaam my daaroor.

    Van hoofstuk 6 af, handel die boek oor aktuele sake. Hierdie hoofstuk begin soos volg: “‘n Klein historiese oomblik in Januarie 2018 het sonder veel kommentaar verbygegaan. Oudpres FW de Klerk het op 21 Januarie in Rapport die betekenisvolle erkenning gemaak dat die ANC die Afrikaneronderhandelaars in die 1990’s ‘bewustelik mislei’ het [dus ore aangesit het] en nooit die regte in die 1996-Grondwet wou eerbiedig nie” (174). Maar dit is De Klerk wat blankes telkens aangeraai het dat hulle hul op hul regte in die Grondwet moet beroep – totdat daar, nie heeltemal ongegrond nie, begin is met bewerings dat die einste Grondwet grondonteiening sonder vergoeding toelaat. De Klerk het in Rapport gereageer na aanleiding van die Konstitusionele Hof se uitspraak op 29 Desember 2017, wat die gebruik van Afrikaans aan die Universiteit Vrystaat verbied “omdat dit kwansuis ‘n vorm van rassisme sou wees” (174). Anders as iemand soos Leon Wessels, wat die gewilde deuntjie sing dat Suid-Afrika een van die beste Grondwette in die wêreld het, het Hermann Giliomee gesê: “Ek dink ons het een van die swakste grondwette vir hierdie betrokke land, Suid-Afrika” (175).

    Jaap Steyn (hierna Steyn) vervolg: “Verskeie akademici het vroeg gewaarsku dat die Grondwet Afrikaans – en Afrikaners – in ‘n gevaarlik kwesbare posisie plaas” (175). Die skuld hiervoor kan terugvervoer word na De Klerk en sy onbekwame onderhandelaars. Onder meer “oorgerustheid en onkunde” het “‘n rol gespeel in die onderhandelinge oor die taalklousule van die huidige Grondwet … Vir die beplanners van ‘n nuwe toekoms het taal nie veel saak gemaak nie, of was die openbare taal van ‘n nuwe bedeling byna vanselfsprekend Engels. Postapartheid was vir hulle sinoniem met post-Afrikaans. Talle intellektuele het jare lank reeds gewaarsku dat Afrikaans die slagoffer kan word van die teenstand teen apartheid” (176).

    Gerrit Viljoen (1926-2009) het as minister van staatkundige ontwikkeling (1989-1992) in 1990 gesê “dat die amptelike status van Afrikaans [dus die toe heersende absolute gelyke status van Afrikaans en Engels] nie onderhandelbaar is nie” (179). Ook: “Die ekskuus-dat-ek leef-tipe Afrikaanssprekende kan gerus maar ophou om apologeties te beding vir ‘n ondergeskikte posisie waarin Afrikaans bloot verduur word” (185). In 1992 het Viljoen weens swak gesondheid uit die politiek getree. “Die stem van die vernaamste verdediger van Afrikaans in die politieke wêreld het dus stil geword” (186). “Ná 1992 het die prominente NP-ministers in die openbaar oor taal geswyg” (185).

    Hierdie swygende politici het nooit diegene in die letterkundige en akademiese wêreld wat die status van Afrikaans wou aftakel, bv André P Brink (179, 187, 198) en Jakes Gerwel (186), teengespreek nie. “Uit die polemieke blyk dit dat baie van hulle vroeg reeds bereid was om belangrike funksies van Afrikaans prys te gee” (186). “Die stemming in die land en die Afrikaanse gemeenskap [by uitstek die bruines] het dit vir die onderhandelaars maklik gemaak om stap vir stap na ‘n oorheersend Engelse bedeling te beweeg” (191). Byvoorbeeld: “Reeds in November 1991 [is] eenparig besluit … dat Engels die taal van die [Kodesa-]onderhandelinge gaan wees” (193), wat op 21 Desember 1991 begin het.

    Hennie Aucamp (1934-2014) het in 1990 teen “mode-simpatieë” uitgevaar: “Is Afrikaans eers van binne ondergrawe, en van amptelike status beroof, is die verskynsel Afrikaner daarmee heen. Want die taal is ‘gansch het volk’. Wie die siel van ‘n volk of groep wil vernietig, begin by sy taal. Verdiskonteer ‘n man se geestesbesit en hy begin vervreem raak van homself” (181). “De tael is gansch het volk” is ‘n leuse wat die Vlaamse taalyweraar, Prudens van Duyse (1804-1859), in 1836 geformuleer het en wat sedertdien gebruik word om Nederlands en Afrikaans teen verengelsing en verfransing te beskerm; verwys bv na PH Zietsman se boek, Die taal is gans die volk (Pretoria: Unisa, 1992). In 1991 het Nelson Mandela “die Afrikaners gewaarsku dat hulle hul grootste fout sou begaan as hulle spesiale status en beskerming vir Afrikaans sou vra” (Steyn 190). Breyten Breytenbach het in 1993 (dus vóór ons “bevryding”) gesê: “Die ANC sal nie Afrikaans bevorder nie, al sê hy ook wat” (182). “Volgens Breytenbach sou beskerming vir Afrikaans net kon geskied deur volgehoue skoolonderrig en voortgesette publikasie” (182).

    Ná die 1994-ramp het daar ‘n opmerklike “verflouing van Afrikanernasionalisme” ingetree (184). “Die verswakking van Afrikanernasionalisme sou belangrike gevolge hê vir taalverhoudings en taalgetrouheid” (185). Daardie nasionalisme het tradisioneel “taaltrots en sorg vir die taal” verseker en bevorder. Ná 1994 is daar druk op Afrikaners uitgeoefen om verskoning te vra. Daar is van hulle verwag om hulle te skaam vir wat tydens die NP-bewind vermag is. Die Afrikaner se tradisionele taaltrots is ondergrawe. Dit verduidelik waarom Afrikaansdosente en -instansies steeds nie bereid is om Afrikaanstaalsuiwerheid te bevorder nie. Die taal verengels daagliks sienderoë en feitlik niemand spreek besorgdheid daaroor uit nie. Die verswakking van Afrikanernasionalisme het ook aanleiding gegee tot “die opvatting dat groeps- of minderheidsregte onbelangrik is. Wit politici het oortuig geraak dat die klem al hoe meer moet val op individuele regte” (188), soos deur die ANC begeer. Dít is waarmee ons deesdae vir lief moet neem. Roelf Meyer het gesê: “Vergeet minderhede!” (189).

    In 1993 het Rina Venter, die minister van gesondheid (1989-1994), op ‘n direksie-ete van Rapport openbaar hoe chaoties die NP se onderhandelinge verloop: “Dat ons geen plan meer het nie… Niks is in plek nie; niks wat ons ons kiesers beloof het nie” (185). Die omvang en diepte van hierdie onbekwaamheid en verraad word in besonderhede in Venter se outobiografie, wat ek eersdaags wil resenseer, beskryf. Steyn noem wat Venter tydens die onderhandelinge waargeneem het: Dat Roelf Meyer “gou begin het om die ANC as ‘n vennoot te hanteer” (194). Venter was ongelukkig oor die ooreenkoms wat “bepaal het dat alle kinders toegang tot enige skool van hul keuse moes hê in die taal van hul eie keuse” (194). FW de Klerk was hiermee tevrede, maar Venter het gesê: “Julle vernietig nou Afrikaanse skole! … Roelf Meyer se antwoord was dat die ANC nie van voornemens was om Afrikaanse skole en universiteite af te skaf nie” (194). Sedert 1994 sit ons met die nalatenskap van hierdie opperste dwaasheid.

    Niël Barnard, die hoof van die Nasionale Intelligensiediens (1979-1992), skryf: “Toe ek oor die gebruik van Afrikaans tydens die onderhandelinge begin agiteer, was van die politici sigbaar geïrriteerd, want sulke onbenullighede behoort nie onderhandelaars se tyd in beslag te neem nie. Pik Botha het my openlik meegedeel dat my gebrekkige Engels my tog nie moet verlei om so ‘n beuselagtigheid tot ‘n twispunt tydens die onderhandelinge te verhef nie. Die baie bekwame politikus, maar ook openlike Afrikaans-hater Pravin Gordhan het met onbeskofte geniepsigheid enigiemand wat iets in Afrikaans wou sê, onderbreek met ‘I don’t follow that language’” (192). “Barnard meen dat verskeie ministers soos FW de Klerk, Roelf Meyer, Dawie de Villiers, Leon Wessels, Pik Botha en ‘al die ander geswore Broederbonders’ oor taal in die algemeen en Afrikaans in die besonder ‘n gebrek aan belangstelling openbaar het wat vir altyd op hul kulturele sonderegisters behoort te staan” (194).

    “Die ANC het sy oogmerk van Engels-eentaligheid langs ‘n ompad bereik, want 11 plus 0 [amptelike tale] was in werklikheid maar 10 plus 1” (198). “Breyten Breytenbach het gesê die besluit is skelm, en dat daar uit die mengelmoes net een taal gaan uitkom, naamlik Engels” (198). ‘n Joernalis, Paul Taylor, het geskryf: “Hulle raak klaarblyklik op onregstreekse wyse van Afrikaans ontslae, wat waarskynlik die slimste [slinkste?] manier is om dit te doen” (199). “Die sakesektor het onmiddellik daarna verpakkingsmateriaal, etikette, gebruiksaanwysings, ensovoorts eentalig-Engels begin maak met die verskoning dat hulle onmoontlik elf tale daarvoor kan gebruik. Die openbare uitsaaier (die SAUK) het van 1994 af die sendtyd vir Afrikaans oor televisie sterk ingekort … Van 1994 af is instellings verengels wat vroeër die werkgewers vir baie Afrikaners was, soos Eskom, Transnet en die weermag” (199).

    In die Oorgangsgrondwet (1993) staan: “Regte met betrekking tot taal en die status van tale wat by die inwerkingtreding van hierdie Grondwet bestaan, word nie ingekort nie … nòg die regte met betrekking tot die taal nòg die status van ‘n amptelike taal soos dit in enige gebied of met betrekking tot enige werksaamheid ten tyde van die inwerkingtreding van hierdie Grondwet bestaan, verminder mag word.” In die 1996-Grondwet staan: “Gesien die historiese inkorting van die gebruik en status van die inheemse tale van ons mense, moet die staat praktiese en daadwerklike maatreëls tref om die status van dié tale te verhoog en hul gebruik te bevorder.” Wat in die twee genoemde Grondwette staan, is ontleen aan Bylaag A en B in JC Steyn se boek, ‘Ons gaan ‘n taal maak’: Afrikaans sedert die Patriot-jare (Centurion: Kraal Uitgewers, 2014, p 525-527).

    Dit is so duidelik soos daglig dat met “die inheemse tale van ons mense” die swart tale bedoel word en dat Afrikaans uitgesluit word omdat daar van 1910 tot 1994 nie sprake van “die historiese inkorting van die gebruik en status” van Afrikaans was nie. Niël Barnard “sê die ANC het botweg geweier om weer die bepaling insake die nie-inkorting van die taalregte en -status van Afrikaans en Engels op te neem” (Steyn Verset 199-200). Die NP-lede was magteloos, want in hulle dwaasheid het hulle toegelaat dat die Grondwet eers ná die 1994-verkiesing, toe die ANC reeds die meerderheidsregering was, aanvaar is. “Die taalklousule [in die 1996-Grondwet] het die benadeling van Afrikaans vergemaklik in die uitvoering van die [ANC-]regeringsbeleid van nasiebou deur Engels [een nasie, een taal], asook die politiek van vergelding” (204). Die hele staatsdiens het bv weens “ingrypende transformasiemaatreëls” (203) feitlik oornag grootliks verengels (202).

    Hoofstuk 7 handel oor NP van Wyk Louw. Die eerste sin is wat Jan Greshoff (1888-1971) van Louw gesê het: “Sy hele bestaan draai om taal” (205). Daarna skryf Steyn iets waarmee baie Afrikaners nie met Louw sal saamstem nie: “By Louw is ‘volk’ ‘n sentrale begrip, maar by hom het dit ‘n betekenisverandering ondergaan, sodat hy in 1960 skryf van ‘my volk, Blank en Bruin’” (208). Dit verduidelik die entoesiasme wat daar by bv Adam Small (1936-2016) vir Louw was. Veralgemenend is my standpunt dat bruin mense kultureel baie nader aan blankes as swart mense is, maar daar is ook groot kultuurverskille, bv daar is baie bruin Moslems. Maar die eintlike onderskeid wat ek tussen Afrikaanssprekende blankes (spesifiek Afrikaners, dus nie-hanskakies) en bruin mense tref, is dat Afrikaners Afrikaansgetrou is, terwyl Afrikaans bloot ‘n kommunikasiemiddel, ‘n gebruiksartikel, vir bruin mense is, met die bruin elite wat uitmunt in dislojaliteit jeens Afrikaans. Dit is lede van hierdie bruin elite, soos Hein Willemse, Danny Titus en Michael le Cordeur, wat deur Afrikaansinstansies, soos die ATR en die ATKV, oorgraag by hulle bedrywighede betrek word. Afrikaansinstansies soek die heil van Afrikaans by die verkeerde mense, naamlik Afrikaansdislojales. Hulle is dikwels ook anti-Afrikaner gesind, “want die bruin kiesers het sedert die negentiende eeu, en veral sedert die 1930’s, hoofsaaklik Engelse partye ondersteun” (246), bv die Verenigde Party (VP), wat “Afrikaans misken het” (246). Om taal- eerder as rasredes sluit ek bruin mense nie by my siening van die Afrikaner en dus die Afrikanervolk in nie. Steyn skryf: “Meningsopnames wys … op aansienlike verskille in taalhouding tussen wit en bruin Afrikaanssprekendes. By die laer middelklas is daar entoesiasme vir Afrikaans, maar die bruin elite is minder geesdriftig en party is gekant teen doelgerigte pogings om Afrikaans in sy hoër funksies te bevorder” (230).

    “Ook Louw gebruik die frase Afrikaanse nasionalisme. Die historikus GD Scholtz [1905-1983] sê dat daar in die woord nasionalisme vir Afrikaners alles opgesluit gelê het wat edel en goed was” (210). Die frase Afrikaanse nasionalisme behoort dus by Louw meer omvattend as my Afrikanernasionalisme te wees tensy Louw se begrip Afrikaner bruin mense uitsluit. Dit lyk nie asof laasgenoemde die geval in die volgende sin is nie: “Die essensie van die Afrikaanse nasionalisme is die strewe van Afrikaners om voort te bestaan as ‘n aparte gemeenskap met ‘n eie taal en nie net as individue nie” (210). Hoewel Louw in ‘n abstrakte of teoretiese sin heelwat empatie met bruin mense gehad het, het hy as oortuigde Broederbonder (219) dit egter in die praktyk meesal oor Afrikaners as blankes en sodanige Afrikanernasionalisme gehad.

    Louw se standpunt was: “Nasionalisme is oorbodig en verkeerd by ‘n volk waarvan die geestesbesit nie bedreig word nie. Dit word egter anders wanneer die geestesbesit bedreig word … Die onderskeid wat Louw by implikasie getref het, was tussen die verowerende of imperialistiese nasionalisme van die groot nasies, aan die een kant, en die verdedigende en opbouende nasionalisme van die volkere wat teen die eerste soort nasionalisme in verset kom, aan die ander kant” (211). ‘n Verdedigende nasionalisme behoort uiteraard ‘n verdedigende taalbeweging in te sluit. Louw noem dat sodanige taalbewegings “by enkeles ontstaan” (216); soos by Prudens van Duyse, waarna hier bo verwys is. Waar is die enkelinge wat, 1994 ten spyt, Afrikaners en Afrikaans tot ‘n nuwe bloeityd kan lei? In hierdie verband haal ek vir Uys Krige (1910-1987) aan: “Fort Wajier lê ver, lê ver, onderkant die eerste ster” (“Die soldaat”, 1940). Dít gee uitdrukking aan my pessimisme.

    In 1965 was Louw nogal optimities: “Ek praat as Afrikaner, maar ek praat ook namens die Afrikaanse literatuur wat sy eie eer en waardigheid het – ‘n eer en waardigheid wat onafhanklik is van die politiek en wat sal voortleef wanneer die grootste deel van ons tyd se politiek en die groot massa van ons politici begrawe en vergeet sal wees” (231). Sy gedig, “Nuusberigte” (1956), in die bundel Tristia (1962), begin met die reël: “Het my land ‘n ander geword as wat ek ken?” (232, 265). Steyn skryf: “Dit kan feitlik interpreteer word as: ‘Het my volk ‘n ander geword as wat ek ken?’” (232). Sedert Louw se skrywes in 1956 en 1965 het die land en baie blanke Afrikaanssprekendes, veral ná die 1994-ramp, radikaal verander en daardie veranderings was (meesal) nie verbeteringe nie.

    ‘Tans het ons die absurde situasie dat die voortbestaan van die Afrikaner en daarmee saam sy geestesbesit, bv Afrikaans, meer as ooit bedreig word, terwyl Afrikanersnasionalisme sedert 1994 sterk afgeneem het en voortdurend verdag gemaak word; ook deur elemente wat voorheen Afrikaners, selfs Broederbonders, was.’

    Volgens Louw: “Kultuur en politiek moet saamwerk soos oog en hand” (222) en “Sonder die strydbaarheid sou die Afrikaanse gemeenskap en kultuur verdwyn” (219). In die 1930’s het Louw “die vasbeslote, uitdagende Afrikaans-nasionale weerstand” beklemtoon, “wat hy in ‘n gedig in Die halwe kring (1937) verwoord het: ‘dat ons nie kon gebuig word / soos húl geweld dit wou’” (225). Later het dit geblyk dat daardie geweld van die ANC gekom het en dat die FW de Klerk-faksie gebuig is, maar nie ware Afrikaners nie. Steyn skryf: “Die geskiedenis staaf sy [Louw se] destydse siening. Die vernaamste kenmerk van die politieke en kulturele aktiwiteite van die Afrikaners in die jare ná die Anglo-Boereoorlog was die taalstryd teen verdringing deur Engels. Taalorganisasies, kerke, politieke partye, onderwysers- en vroueverenigings het aan die taalstryd deelgeneem en die houding versterk dat taal deel is van die identiteit van die Afrikaner: wie verengels, is verag as verraaier. Dit was die plig van ‘n Afrikaner om Afrikaans te bly. Ná die verlies van die vryheid was die taal die één ding wat die volk nie durf prysgee nie” (225-226).

    Tans het ons die absurde situasie dat die voortbestaan van die Afrikaner en daarmee saam sy geestesbesit, bv Afrikaans, meer as ooit bedreig word, terwyl Afrikanersnasionalisme sedert 1994 sterk afgeneem het en voortdurend verdag gemaak word; ook deur elemente wat voorheen Afrikaners, selfs Broederbonders, was. Louw sou dit (seker) ‘n “nuwe vanggat van die onregverdigheid” genoem het (226). Deesdae ervaar ons as blankes daagliks die nadelige gevolge van swart nasionalisme, wat aansluiting by swart Afrika-nasionalisme vind en dikwels goedgepraat en (feitlik) nooit veroordeel word nie.

    Louw het gewaarsku teen “die toeploeg [van blankes] deur [die] massa-immigrasie” (248, 255) van swartes; iets wat deesdae groter afmetings as ooit tevore aanneem. Steyn skryf: “Afrikaners is reeds toegeploeg” (261) met 79,2% van die bevolking wat volgens die 2011-sensus swart was. Sedertdien is toegelaat dat miljoene der miljoene onwettige immigrante, veral uit Afrika, hulle in Suid-Afrika vestig. Steyn stel hierdie getal op 8 tot 9 miljoen (261). “Die gevolge van getalsoorweldiging word vererger deur emigrasie en ‘n lae geboortesyfer” (261), wat albei kenmerkend van veral die blanke bevolking is.

    Vir my lyk dit asof swart nasionalisme soortgelyk is aan die histories imperialistiese nasionalisme waarteen Louw dit gehad het. Insgelyks is die nasionalisme wat steeds by Afrikaners aanwesig is, ‘n verdedigende nasionalisme wat guns in Louw se oë sou vind. Maar hy sou sterk beswaar teen die flouheid daarvan hê. Hy kon graadverandering verwag by diegene wat eens Afrikaners was, maar sekerlik nooit fundamentele aardverandering nie. “‘n Volk kan nie ‘n Damaskus-ervaring hê nie” (251). Louw skryf: “Dit sou ontsettend wees as ons vergeet dat ons in die [ABO-]marteling tot ‘n volk gemaak is” (250). Ná die ABO het dit geblyk dat daar genoeg krag in die Afrikanerdom oor was om “orent [te] kon steier” (255). “‘n Volk wat getroos word in sy toestand, is ook ‘n verlore volk” (253). Ná die ABO het Afrikaners glad nie berus in die toestand waarin hulle hulle bevind het nie. Dink bv aan die 1914-rebellie.

    Sal ware Afrikaners ná die verraderlike 1994-magsoorname ooit kan berus in die lot wat hulle heeltemal onverdiend toebedeel is? Soos JD Kestell (1854-1941) in 1902, hoop ek dat dit sal blyk dat die Afrikanerdom steeds “‘n onuitdelgbare element” is (257). Louw wou nie hê dat Afrikaners saggemaak moet word “met troospraatjie” nie (258); die soort heuningsmeerdery waarvoor veral Nelson Mandela berug was. “Die prysgawe van vryheid was dus vir Louw ‘n vorm van ongeregtigheid” (259). “‘n Nasie wat sy selfbeskikkingsreg prysgee en hom onderwerp aan andersoortige oorheersing, pleeg volgens [Piet] Cillié [1917-1999] hoogverraad” (260).

    Het Louw die heillose ANC-regime voorsien? “In die algemeen gestel, skryf hy, is ‘n heerserstaal die wapen van ‘n heersende groep. Hierdeur [bv met Engels as eintlik die enigste amptelike taal] vergemaklik hy sy eie kommunikasie en administrasie en bemoeilik hy die kommunikasie en organisasie van moontlike teenstanders” (211). Iets waarvan iemand soos Wim de Villiers kennis behoort te neem, weens sy kroniese manie ten gunste van ‘n wêreldtaal en wêreldburgerskap, is die volgende stelling van Louw: “‘n Wêreldtaal … is bepaald nie alleen ‘n gestalte van lieflikheid nie” (211). Dieselfde geld vir identiteitlose wêreldburgerskap. “Transformasie [die hooffunksie van die Universiteit Stellenbosch se huidige beleid] het vir Afrikaans en Afrikaners ontsettende verliese meegebring” (269). Louw skryf oor hoe koloniale en imperiale moondhede hulle taal “in hulle onderdane ingestamp” het (212). Nou sit ons plaaslik met ‘n terroristiese bewind wat die koloniale taal Engels in iedere lid van die bevolking wil instamp.

    Steyn skryf: “Gedrukte en digitale koerante, tydskrifte en boeke bly onontbeerlik vir Afrikaans omdat hulle die enigste instellings is wat nog konsekwent die standaardtaal behou en uitbou” (237). Daardie “konsekwent” moet gekwalifiseer word. Die koerant Son gebruik/misbruik die allerbedenklikste “Afrikaans”, naamlik ‘n soort Kaaps. In die ander eens trots Afrikaanse koerante en tydskrifte van Naspers/Media24, maak al hoe meer Engels hulle verskyning in die opskrifte en tekste. Oor die radio en televisie is ‘n soortgelyke neiging waarneembaar. “‘n Taal kan nie net as tweedehandse slengtaal van shows of die oe’s en a’s van celebs bestaan nie” (237). WEG Louw (1913-1980) “teiken in sy gedig ‘Naggesprek’ mense wat ‘ongeërg die spel voortsit met die taal: één woord Engels, één woord Afrikaans, om die beurt’” (237). In 1970 het Van Wyk Louw dit betreur dat anglisismes ‘by vandag se jeug as ‘t ware deur alle porieë binnestroom’. Dit was vir hom ‘triestig’ dat sy kinders, ‘wat volkome van anglisismes ontluis was’, vir hom moes sê: ‘Ek wil so graag reg praat, maar ek durf nie voor die Onnie nie’” (237). Steyn voeg by: “Dit klink vandag soms of ‘n onsigbare onnie sê: ‘Jy durf nie reg praat nie! Jy moet meer van die Rooitaal bygooi. Onthou: hoe rooier, hoe mooier” (237). Dit is nie net onderwysers en (Afrikaans)dosente wat vir lief met geradbraakte Afrikaans neem nie, maar ook Afrikaanse predikante, wat deesdae in Engels aan bv die Universiteit Stellenbosch opgelei word.

    “‘n Deel van die geskiedenis is altyd – soos in Die dieper reg (1938) verwoord – die ‘trouloosheid / van dié wat om ‘n ander diens / soos knegte jou verlaat’” (239). “Ná die ‘donker nag van die siel’, dus ná 1994, [het daar nog nie] ‘n mooi dagbreek en ‘n helder nuwe dag” (263) vir Afrikaners en Afrikaans aangebreek nie. Ná verloop van meer as ‘n kwarteeu is dit steeds stik donker nag.

  • Skoppensboer: Vicki Momberg, martelares vir spraakvryheid

    Skoppensboer: Vicki Momberg, martelares vir spraakvryheid

    Skoppensboer volg nie eintlik die hoofstroommedia nie, dus steur hy hom nie veel aan die gereelde gesnak na asem as daar oneerbiedig na ‘n nie-blanke verwys word nie. As jy Beeld of News24 met Adderjan Basson aan die stuur sou lees, sou jy besef dat selfs oorle Dingaan deesdae slegs met die grootste eerbied beskryf mag word. Dingaan was ‘n leuenaar en ‘n moordenaar, maar as jy hom boonop ‘n “kaffer” noem, sal jy sekerlik tot drie jaar hardepad deur die sjarmante Indiese landdroste van Randburg gevonnis word.

    Hoewel, dis te betwyfel of ‘n mens — selfs ‘n blanke — crimen injuria teenoor ‘n dooie mag pleeg, maar gegewe die soort regspraak wat daar deesdae in die getransformeerde howe gelewer word, sal niks Skoppensboer meer verbaas nie. Skoppensboer het eens ‘n rassistiese prokureur van Pretoria geken wat op ‘n keer na die Hooggeregshof in sy stad as “hierdie kafferhof” verwys het, wat dalk in die huidige tydsgewrig ‘n strafbare uitlating sou wees. Waarskynlik het hy daarmee ‘n bedenklike afkeer van transformasie uitgespreek.

    Vicki Momberg

    Maar terug by die landdroshof in Randburg, waar geskiedenis vandeesweek gemaak is toe Vicki Momberg, ‘n eiendomsagent van Natal, tot drie jaar tronkstraf vir die gebruik van die woord “kaffer” teenoor ‘n polisiekonstabel gevonnis is. Een jaar is wel opgeskort, maar selfs twee jaar is, ten minste wat Skoppensboer betref, ‘n swaar straf vir iets wat op die keper beskou bloot ‘n semantiese oortreding is.

    Nou is dit so dat semantiese oortredings deur die geskiedenis nie altyd ligtelik opgeneem is nie. Toe Galileo gesê het dat “die aarde om die son draai”, wou die pous hom brandstapel toe stuur, want dié stelling is as godslasterlik beskou. Skoppensboer verstaan nie genoeg van die Middeleeue om dié logika te kan verklaar nie, maar soos elke grapmaker weet: as jy die verkeerde ding op die verkeerde tyd op die verkeerde plek sê, kan dit jou duur te staan kom.

    En deesdae is die Volksrepubliek van Azanië so ‘n “verkeerde plek”. Eintlik mag jy niks meer sê nie, anders gaan die taalpolisie op jou toeslaan. Pleks dat die taalpolisie ingespan word om al die liederlike anglisismes wat hulle op RSG gebruik, uit te roei! Tronkstraf vir anglisismes en mense wat die woord “awesome” gebruik, sou ‘n goeie idee wees. Maar die k-woord? Nee wat, dit is onreg wat geen Middeleeuse pous sou gepleeg het nie.

    Ten eerste is die woord “kaffer” so deel van ons kultuur in Suid-Afrika soos die woord “nigger” deel van die Amerikaanse kultuur is. Feitlik elke Amerikaanse sanger wat al ‘n trefferliedjie geproduseer het, gebruik vrylik die woord “nigger” of met die spelling “nigga” en veral die swart kletsrymers verwys rasnasionalisties na hul eie mense as “my niggers”. As Cyril Rampokker meer byderwets was, sou hy sekerlik en liefderik na sy kiesers as “my kaffers” verwys het. Helaas, gee hy voor om ‘n Brit of ‘n ding te wees en vermy hy sulke couleur locale.

    Indien Vicki Momberg se prokureur sy sout werd was, sou hy aan die staatsaanklaer moes gevra het of die beskuldigde die k-woord met ‘n hoof- of kleinletter gebruik het. Volgens die HAT is daar ‘n groot verskil tussen die twee, Dit sou ‘n verskil tussen skuldig of onskuldig gemaak het, want die HAT verduidelik dit baie mooi:

    Kaffer (-s, -tjie) (Arabies) (rassisties) Erg neerhalende benaming vir ‘n swart persoon, as skelwoord ervaar en ten alle koste te vermy.

    Maar dan, net daarna in dieselfde woordeboek:

    kaffer- Nog veel voorkomend as eerste lid van benaminge vir plante, diere en instrumente en dan moeilik te vermy tensy ‘n ander benaming gegee word. Opmerking. Die woord word hier stellig neutraler aangevoel.

    Nou maar presies! Solank jy liefs die woord “kaffer” met ‘n kleinletter spel (of uitspreek), sal dit “stellig neutraler aangevoel” word.

    En dis juis wat die arme Vicki Momberg, die semantiese martelares, gedoen het! Die feit dat sy agt-en-veertig keer die woord gebruik het, toon aan dat dit vir haar ‘n kleinletterwoord is, en nie die rassistiese term met ‘n hoofletter nie. Sy het dit kultureel gebruik, en nie polities of kwetsend nie.

    Weliswaar het Momberg Engels gepraat, maar haar Afrikaanse van (Momberg) dui aan dat sy eintlik die Afrikaanse “kaffer” gebesig het, en nie die Engelse “kaffir” nie.

    Nou is dit egter so dat “kaffir” ook sterk wortels in die Engelse kultuur het, wat Momberg se saak nog verder sou kon ondersteun. Só het Skoppensboer ‘n bietjie gaan kers opsteek by die Engelse Wikipedia en uitgevind dat sowel Mahatma Gandhi as Winston Churchill die woord “Kaffir” (nogal met ‘n hoofletter) gebruik het. Churchill het tydens die Tweede Vryheidsoorlog geskryf oor sy “irritation that Kaffirs should be allowed to fire on white men”.

    ‘n Engelse musikant en komponis, John Philip Sousa, het in 1914 ‘n konsertsuite met die titel “Tales of a Traveler” gekomponeer met die onderdeel: “The Kaffir on the Karoo.”

    Aan die begin van die Sherlock Holmes-film, Terror by Night, wat in 1946 gemaak is, is daar sprake van ‘n groot diamant “First touched by the fingers of the humble kaffir…” terwyl ‘n swartman op die skerm vertoon word wat inderdaad ‘n diamant vanaf die grond optel.

    Maar gaan kyk gerus self na al die ander voorbeelde van die woord “kaffir” wat in de Engelse kultuur — so geliefd by swartmense wat selfs skole afbrand om in die Rooitaal te onderrig mag word — voorkom.

    ‘n Verdere kafferwoord (let daarop dat, volgens die HAT se voorskrifte die woord met ‘n kleinletter as lid van ‘n samestelling geskryf moet word om nie aanstoot te gee nie) wat Skoppensboer ontdek het, is “Kafiristan”, wat die historiese benaming van die Noeristanprovinsie in Afghanistan was. Blykbaar speel die Engelse digter en skrywer Rudyard Kipling se novelle, The man who would be king, daar af. Natuurlik sal daar rassiste wees wat die hedendaagse Suid-Afrika as ‘n “Kafiristan” sou beskryf, nes die destydse tuislande neerhalend as “Bantoestans” afgemaak is, maar soyons sérieux, soos die Fransman sê. Kom ons wees ernstig.

    Eintlik gaan Vicki Momberg nie tronk toe weens crimen injuria nie, maar vanweë ‘n literêre oortreding van die kommunistiese sensuur wat die ANC-bewind op ons toepas. Waarskynlik het sy al heelwat Afrikaanse romans en gedigte gelees en is daardeur beïnvloed om die woord “kaffer” (met ‘n kleinletter, let wel) te besig. Sy het dit in gemeen met Totius, CM van den Heever, Etienne Leroux en André P. Brink, om maar enkelese te noem. Soos dr. Dan Roodt reeds vandeesweek in ‘n twiet aangetoon het, bevat die Hertzogpryswenner deur Etienne Leroux, Magersfontein o Magersfontein! die woord “kaffertaxi”, asook die frase “die kaffer in die swembad”. In Totius se beroemde gedig Trekkerswee wat insgelyks die Hertzogprys ontvang het, kom die woord “Kaffer” (selfs met ‘n hoofletter!) verskeie kere voor, onder andere in die strofe:

    En dan—die Kaffers is so baar!
    “Daar staan die brood al uitgerys
    en die oond is koud! Dis werklik waar,
    ‘n mens moet hul ook alles wys.”

    Op Engels het J.M. Coetzee die Nobelprys vir letterkunde verwerf met sy roman, Disgrace, waarin die verteller die woord “Kaffraria” vir die Transkei gebruik. Die HAT omskryf die byvoeglike naamwoord, “Kaffraries” as:

    Van, behorende tot, afkomstig van Kaffraria, die vroeëre benaming vir Transkei.

    Skoppensboer se rassistiese vriend wat nou in die ewe rassistiese land Australië woon waar niemand hom in die tronk gaan smyt vir ‘n aanhaling uit Totius of Etiennie Leroux nie, het vandeesweek droogweg opgemerk:

    “Net soos Holland ‘n provinsie van Nederland is, is Kaffraria ‘n provinsie van Kafiristan.”

    Van Wyk Louw het op sy dag gehoop dat die Afrikaanse letterkunde of wysbegeerte ‘n “-isme” die wêreld sou instuur, iets wat die Franse natuurlik al met oorgawe gedoen het met terme soos naturalisme, simbolisme, surrealisme, strukturalisme, postmodernisme, en wat nog. Skoppensboer meen egter dat die term “verkaffering” die Afrikaner se unieke bydrae tot die intellektuele geskiedenis van die Weste en van die wêreld verteenwoordig. Selfs nie eens die Amerikaners wat veel meer as ons oor rassekwessies gepraat en geskryf het, kon met so ‘n diepgaande wysgerige begrip vorendag kom nie.

    Helaas kom die woord nie in die HAT voor nie, maar dit is verwant aan die meer algemene “verafrikanisering”. Dit druk egter die donker kant van verafrikanisering uit, daar waar verval intree soos in Zimbabwe ná sy grondhervorming of die Belgiese Kongo (DRK) ná sy vele revolusies en oorloë. Selfs die kafferboetiekoerant (Skoppensboer is seker hulle sal op so ‘n benaming uiters trots wees), die Mail & Guardian, het ‘n klompie jare gelede ‘n droewige prentjie van verkaffering of Afrika-verval geskets in die berig Africa as we know her might soon be history thanks to rebels, minerals, and drugs.

    ‘n Onbekende briefskrywer het in 2009 Praag daarvan beskuldig dat hierdie webblad tot “die verkaffering van die Volk bydra”:

    As Praag weer eendag bereid is om soos blanke mense te begin optree laat my asseblief weet, maar vir hierdie verkaffering van my Volk wat julle propageer sien ek nie voor kans nie! Skaam vir julle!

    Dit is Skoppensboer se bede dat hierdie nederige rubriek nie tot die verkaffering van ons volk sal bydra nie, maar juis tot ons opheffing en verheldering.

    Op haar eiesoortige manier, het Vicki Momberg moontlik insgelyks beswaar aangeteken teen die verkaffering van die polisie, in die semantiese sin en nie in die rassesin nie, presies dít waaroor die kafferboetiekoerant, die Mail & Guardian, in 2014 geweeklaag het. Met ander woorde, Momberg het nie omgegee om deur swart polisie bedien te word nie, sy wou net nie onder onbekwame swart polisiemanne (verkafferde “kaffers” met ‘n kleinletter) deurloop nie.

    Moontlik was dit ook omdat sy haar in Engels uitgedruk het en nie in Afrikaans nie, want Engels bevat eenvoudig nie al die nuanses van Afrikaans as dit by die woord “kaffer” kom nie. Daar bestaan twaalf bladsye in die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) net oor “kaffer” en samestellings, asook eiename, wat die k-woord bevat.

    As die woord “kaffer” regtig moes ophou bestaan, sou ons die helfte van ons taal kwyt wees!

    Skoppensboer se twee gunstelingwoorde is: “kafferin” en “kafferalmanak”. Volgens die WAT is “kafferin” ‘n deftige of skertsende vroulike weergawe van “kaffer”. “Kafferalmanak” is die plant Haemanthus katharinae oftewel “bloedblom”, “waarvan die blomtyd vir die Kaffers die teken is dat die saaityd aangebreek het”.

    Nog iets wat Skoppensboer so tussen die tientalle lemmas oor die woord “kaffer” in die WAT ontdek, is die volgende: As jy baie laat is, is jy “kafferlaat”.

    Nou ja, dis al laat Sondagoggend en Skoppensboer is na ‘n partytjie op pad in die einste Randburg waar Vicki Momberg, Afrikaans se eie semantiese martelares en Johanna van Arkel tot die brandstapel gevonnis is. Hy het nog nie gestort of aangetrek nie, daarom is hy reeds “kafferlaat”.

    Maar die laaste woord of prefiks is nog nie oor die woord “kaffer” gespreek nie. Daarvan is Skoppensboer seker. Al moet ons dit op die mure en op hysbakdeure begin verf, laat ons nie die stryd vir spraakvryheid en die behoud van ons kultuur en veral die skatkis van uitdrukkings eie aan Afrika of “ou Kaffraria” soos J.M. Coetzee met sy Nobelpryspen geskryf het, laat vaar nie!

    En dalk moet ons vir Vicki Momberg geld insamel vir Afrikaanse leesstof in die tronk, sodat sy al die polities inkorrekte boeke van Totius, C.M. van den Heever, Etienne Leroux, André P. Brink en vele ander kan lees? Skoppensboer is doodseker dat mense regoor die wêreld so ‘n fondsinsameling sou ondersteun. Immers is sy, soos Amnestie Internasionaal dit sou stel, ‘n “gewetensgevangene”. Die definisie van so ‘n gevangene is:

    “Iemand wat in die tronk gesit is vir politieke of godsdienstige sienings wat nie deur die staat waar hy of sy woonagtig is, geduld word nie.”

    As Skoppensboer nie so kafferlaat was nie, sou hy verder kon uitwei oor die amptelike godsdiens van hierdie staat, wat iets soos “kafferaanbidding” of die onnatuurlike aanhang van mense en veral gesagsfigure van die swart ras beteken. Die feit dat jy nie ‘n kafferaanbidder is nie, beteken nie dat die staat oor die reg beskik om jou in die tronk te smyt nie, meen Skoppensboer.

    Kennelik is Vicki Momberg, anders as Adderjan Basson, Marx du Preez en al die ander kranksinnige gatkruipers wat in die hoofstroommedia skryf, geen kafferaanbidder nie. Sy dra ook nie ‘n hidjab nie. Dis nie onwettig vir ‘n vrou om sonder ‘n hidjab in die openbaar te verskyn nie. Ten minste nie in ons republiek nie, anders as in vele Moslemlande. Sy het haar bloot van ‘n eg Afrikaanse en uiters genuanseerde begrip bedien, en is suiwer vanweë ‘n gewaande semantiese oortreding by die Randburgse hofselle afgelei en slaap nou agter tralies in “Sun City”, Soweto se berugte gevangenis vir geharde misdadigers.

  • Puk-studente beskerm Totius-beeld

    Puk-studente beskerm Totius-beeld

    Lede van die drukgroep Reform PUK eis nou om direk met die Noordwes-Universiteit se raad te skakel rakende hul klagtes.

    Dit volg na ’n massavergadering deur lede van die Reform PUK-groep waar hul visekanselier, Dan Kgwadi, Dinsdag uitgejou het en gesê het dat hy nie antwoorde op hul vrae gebied het nie.

    Kgwadi het terugvoer gelewer oor die memorandum van griewe wat verlede week aan hom oorhandig is, waar Reform PUK onder meer kla oor die universiteit se taalbeleid, tolkdienste en hoë klasgelde.

    Hy het gesê dat die universiteit kennis neem van hul ongelukkigheid, en dat die universiteit se bestuur dit sal aanspreek.

    Kgwadi het egter bygevoeg dat dit onmoontlik en onprakties is om binne enkele dae hierdie probleme te probeer oplos.

    Spanning het hoog geloop toe swart studente ‘n beeld van die Afrikaanse digter Totius wou vandaliseer.

    Ná die vergadering met Kgwadi, waar die kwessie van die standbeeld bespreek is, het ‘n groep wit studente die beeld omring in ‘n poging om dit te beskerm.

    Swart studente het hulle deurentyd gekoggel.

    NWU se woordvoerder Professor Johannes Froneman het bevestig dat daar wit studente die standbeeld beskerm en dat swartes daarna die aftog geblaas het.

    Verlede week het die opstokers ‘n memorandum aan die bestuur van die universiteit oorhandig en hulle gevra om te reageer teen 20 Oktober.

    Eise in die memorandum sluit in die verwydering van die Totius-beeld, die verandering van die toelatingsbeleid, die hervorming van die SR en dat alle lesings in Engels aangebied moet word by die instansie.

  • Kopkrap oor ‘Totiusgedig’ op grafsteen

    Tommy Tiger Dickson.

    Vir 41 jaar lank was sy grafsteen vergete en ongesteurd in die Sterkfontein Begraafplaas.

    En só sou dit seker vir jare gebly het – tot die nuuskierigheid oor wat die eintlike betekenis van die skrif op die steen die oorhand oor ‘n terreinagent gekry het. Op die grafsteen is dié reël uit ‘n gedig van die bekende Afrikaanse digter Totius, “O die pyngedagte: my kind is dood!” gegraveer.

    Maar die reël wat daarna volg en wat nie deel vorm van Totius se gedig nie, is wat Trevor Fenn laat stilhou het.

    Daar staan verder, ” Here vergewe hom, hy weet wat hy gedoen het!”

    Trevor vertel hy was besig om terreininspeksie in die Sterkfontein Begraafplaas te doen toe hy die grafsteen van Dickson langs die pad raaklees.

    “Terwyl ek stadig deur die begraafplaas gery het, sien ek dié grafsteen, wat amper verlate op ‘n grasperk uittroon.”

    Hy het gesê hy het gestop om die grafsteen van nader te bekyk en dit is toe dat hy oor die eintlike dood van Dickson – wie se ouderdom onbekend is omdat sy geboortedag nie bygevoeg is nie – begin wonder het.

    “Toe ek dit raaklees was my eerste gedagte, ‘wat het hy gedoen’?”

    Eers het hy gedink dit is dalk een van die bankrowers wat tydens die berugte Krugersdorp-tonnelbankroof dood is, maar dié rooftog het na 1977 plaasgevind.

    “Met ‘n bynaam soos Tiger klink hy vir my rof; nou wonder ek of hy nie dalk in ‘n kroeggeveg dood is nie.”

    Hy is terug werk toe met die foto’s wat hy geneem het en so het die bespiegelings verder lewe gekry. Die foto’s het ook op sosiale media soos facebook verskyn.

    “‘n Grafsteen is tog ‘n private ding, maar vir my was dit baie vreemd.”

    Bron: Krugersdorpnuus

  • Geloftedag vir Afrikaners ’n dag van ootmoediging en uitredding

    Geloftedag vir Afrikaners ’n dag van ootmoediging en uitredding

    marthinus_van_bartdeur Marthinus van Bart

    Die onthulling ’n eeu gelede van die Nasionale Vrouemonument in Bloemfontein word op Geloftedag, eerskomende Maandag, 16 Desember, luisterryk herdenk.

    Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) neem prominent aan die verrigtinge deel. Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK en hoofleier van die Voortrekkers, lei die vroeë biduur om 06:30 in die Tweetoringkerk.

    Die FAK stel twee nuwe, belangwekkende boeke, gepas vir hierdie geleentheid, bekend wat verband hou met die monument en dit waarvoor dit staan: Die Nasionale Vrouemonument: Honderdjarige Herdenking – Verlede – Hede – Toekoms en Konsentrasiekampsterftes gedurende die Anglo-Boereoorlog 1899-1902.

    In 1913 het die Vrouemonumentkommissie Geloftedag (indertyd bekend as Dingaansdag) as die onthullingsdag van die Nasionale Vrouemonument met voorbedagte rade gekies. Naas die Protestantse Meerdere Vierdae (soos vasgestel deur die Dordse Sinode) Paasfees, Pinkster, Hemelvaartsdag en Kersdag, was Geloftedag  ­– as verootmoedigingsdag voor die Almagtige – die plegtigste gedenkdag op die kultureel-religieuse kalender van die Afrikaner.

    Prof. J.D. (Totius) du Toit, leraar, teoloog, Bybelvertaler en Taalstryder, skryf op 23 Januarie 1948 in Die Kerkblad onder meer: “Dingaansdag is ’n gedenkdag. Dat die Voortrekkers daarby gevoeg het ‘soos ’n Sabbat’, is verstaanbaar. En die uitkoms het bewys dat hulle reg was om dié voorwaarde aan die dag [16 Desember] te verbind. Soos ’n Sabbat wil sê: In alle stilte, in alle erns, want dit betaam ons, gedagtig aan die groot redding wat God beskik het.”

    VROUEMONUMENT100
    Een van die twee boeke wat op 16 Desember 2013 bekendgestel word

    Die hoofmotief met die Vrouemonument en die onthullingsplegtigheid, soos pres. M.T. Steyn dit voorsien het, was verootmoediging voor die Almagtige ter nagedagtenis van die duisende vroue en kinders wat hulself vir die vryheidstryd van die Afrikanervolk opgoffer het.

    Dit was die Voortrekkers wat die Gelofte van 1838 voor die aanvang van die Slag van Bloedrivier afgelê het, wat Geloftedag ingestel het as ’n dag van dank en ootmoediging – omdat God hulle van uitdelging deur die oormag Zoeloe-impi’s van Dingaan gered het, ’n oorwinning dus ter beskerming van die volkseie.

    Die bewoording van die plegtige gelofte, voorgelees deur Sarel Cilliers, lui:

    “Hier staan ons voor die heilige God van hemel en aarde om hom ’n gelofte te doen dat as Hy met Sy beskerming met ons wil wees en ons vyand in ons hand gee, ons dan dié dag en dié datum elke jaar as ’n verjaardag én dankdag, soos ’n Sabbat, tot Sy eer sal vier; en dat ons ook aan ons kinders sal sê dat hulle in die toekoms dié dag steeds moet vier tot gedagtenis ook vir ons opkomende geslagte. Aldus sal dan aan God die eer van die oorwinning gegee word.”

    Volgens die Voortrekkers se beskouing is met die Slag van Bloedrivier op 16 Desember 1838 die mag van ’n heidense tiran gebreek deur die ingryping van ’n regverdige God. Dit was die oorwinning van die ordende beskawing, die deugdelike waarna Steyn in 1913 in sy toespraak by die Vrouemonument verwys het, oor destruktiewe wanorde.

    Dat die Voortrekkers die Slag van Bloedrivier ­– of enige van die ander konflikte met inheemse volke – per se beskou het as “’n oorwinning oor ’n primitiewe volk”, soos so dikwels aangevoer is en steeds word, is bloot onwaar.

    Op 11 Oktober 1881, ná afloop van die Eerste Vryheidsoorlog waarin die Afrikaners van die Transvaalse Boererepubliek (Zuid-Afrikaansche Republiek) in die Slag van Majuba ’n klinkende oorwinning oor die imperialistiese Britse besettingsleër behaal het, het pres. Paul Kruger in die Volksraad verklaar Geloftedag moet voortaan op 16 Desember ’n amptelike gedenkdag wees “ten einde ons voor God te verootmoedig vir die groot dinge en wonders gedoen…”

    Kruger het ook gesê: “Dit was die dag waarop die Here die Voortrekkers eenmaal van Dingaan gered het, en wat die vorige jaar [1880] die begin was van ’n nog groter uitredding [van Britse oorheersing].”

    Op 16 Desember 1881 by Paardekraal, Krugersdorp, het Kruger as hoofspreker gesê:

    “Ons het hier gekom om fees te vier, en u weet dit dat ons en u doel niks anders is nie as om meer en meer die wil van die Here te laat verstaan en ons op Sy leiding te wys, sodat die ouers aan hulle kinders en kindskinders tot in die verste nageslag kan vertel wat God aan ons gedoen het. U weet dat ons land vir meer as vier jaar [van Britse oorheersing] van ons ontneem is om ons afwykinge miskien; maar u weet dit ook: God kasty wie hy liefhet.”

    Met 1913 se onthulling van die Nasionale Vrouemonument het die Afrikaners Geloftedag steeds in hierdie lig gesien. Die Britse welsynwerker Emily Hobhouse van Cornwallis het haar misgis toe sy in haar (voorgelese) toespraak na Dingaansdag verwys het as “die dag waarop julle [Afrikaners] ’n oorwinning oor ’n primitiewe volk gedenk.”

    Dié siening berus op ’n wanbegrip van die bedoeling van die Gelofte, naamlik om afhanklikheid van die Allerhoogste te bely en dank te betuig dat die uitdelging van ’n maatskaplik-kulturele gemeenskap verhoed is, ’n belangrike klemverskuiwing dus.

    Hobhouse sê voorts dat deur die swart lyding in die Anglo-Boereoorlog [waarin duisende swartes aan die kant van die Britte teen betaling teen die Boere geveg het en hul vroue en kinders met gepaardgaande brutaliteite vir die konsentrasiekampe opgeruim, hul plase afgebrand en geplunder het] is voldoende boete gedoen vir die swart geweldpleging wat teen die Voortrekkers [lees Afrikaners] gepleeg is. Daarom moet daar vergifnis wees, en  moet daar vergewe en vergeet word.

    Soos reeds aangetoon, is daar op die Afrikaner-kalender inderdaad geen nasionale dag waarop die Afrikaners enige oorwinning oor enige ander volk in die verlede gedenk het of tans gedenk nie.

    Die Engelse weergawe van Hobhouse se toespraak is namens haar aan die skare by die Vrouemonument voorgelees. Sy was nie teenwoordig nie omdat sy op die treinreis van Kaapstad na die onthullingsverrigtinge ongesteld geraak en by Beaufort-Wes moes afklim. Sy het wel 4 000 eksemplare van die toespraak in onderskeidelik Engels en Nederlandse Afrikaans na Bloemfontein aangestuur om by die onthulling te laat uitdeel.

    Charlie Fichard, ’n agterkleinseun van president Steyn, het die Engelse weergawe namens Hobhouse voorgelees. Na afloop van die toespraak is beleefd hande geklap.

    Die indertydse “kroonprins” van die Britse Empire, adv. J.C. (Jan) Smuts, het Hobhouse met die skryf van die toespraak gehelp en die kernboodskap wat dit uitgedra het was in sy kenmerkende styl van onverbloemde Britse internasionalisme. Selfs die selektiewe verwysing in die toespraak na die Griekse staatsman Perikles se beroemde begrafnisrede (sonder om hom by die naam te noem) was so reg uit Smuts se saalsak. (Deneys Reitz vertel in Kommando oor die Anglo-Boereoorlog hoe behep Smuts tydens sy epiese tog van Gatsrand na Namakwaland met geskrifte in die oorspronklike Grieks was wat hy in sy saalsak saamgery het.)

    En vir Hobhouse om ’n pleidooi te lewer dat Geloftedag verander word na Internasionale Vrouedag en dat die Nasionale Vrouemonument tot wêreld-monument vir alle vroue verklaar moet word, was vir daardie plegtige Afrikaner-geleentheid, slegs tien jaar ná die verskriklike lyding van die Anglo-Boereoorlog, onvanpas, gesien die bedoeling, naamlik om eer te betoon aan “onze heldinnen en lieve kinderen”.

    Uiteraard staan die Vrouemonument by implikasie daar tot eer van alle vroue van alle tye wat vir die vryheid van hul volk binne hul perke gestry het, letterlik en figuurlik gesproke.

    Hobhouse het ’n brandende ambisie gehad om ’n politikus te wees, maar in haar eie Britse Ryk, aan wie sy in haar toespraak haar trou herbevestig het en haar diplomaties van die Afrikaners gedistansieër het, het vroue nie eens gewone stemreg gehad nie.

    Die denkmodel van heerskappy en seëviering oor “primitiewe volke” wat sy so gerieflik op die Afrikanervolk gesuperponeer het, is egter kenmerkend van die rasbehepte Britse jingoïsme, wat in sommige gevalle selfs die eugenetiek (rasverbeteringsleer) as regverdiging vir ras-chauvinisme wil bysleep. Britse meerderwaardigheid is die rookskerm vir heerssug, magsug en hebsug, waarvoor en waarmee die Britse Ryk oor driehonderd jaar bloedig regoor die hele aardbol uitgebou is. Vandaar die uitdrukking: “The sun never sets over the British Empire.” Waarop F.W. Reitz droogweg opgemerk het: “Inderdaad, God vertrou die Engelse nie in die donker nie.”

    In die Britte se oorlogspropaganda teen die Boere, soos teen alle ander rebelse volke wêreldwyd wat weerstand gebied het om gewelddadig aan die Union Jack onderwerp te word, is die slagoffers konsekwent as primitiewe onmense (untermenschen) uitgebeeld. In die era van Britse skynliberalisme, ingelei deur die sogenaamde verbod op slawehandel van 1807 af en in 1838 met die vrylating van slawe, toe slawehandel minder winsgewend geword het en die opiumhandel toegeneem het, was beskuldigings van rassehaat teen weerbarstige volke deel van die Britse oorlogsarsenaal. Daarmee het hulle hul slagoffers gebrandmerk, sodat Britse onderwerping en die plundering van die slagoffers se eiendom oënskynlik regverdig kon word. Dié refrein, wat vandag steeds in die arena’s van die wêreldpolitiek eggo, is dat daar geen beter regverdiging voor is om ’n volk te verdelg as wanneer daardie volk hom aan rassehaat skuldig maak nie.

    Die historikus Erik Stockenström merk in 1925 in sy geskrif Lotgevalle van die Voortrekkers in Natal, 1838-1843 op dat die Voortrekkers deur hul vernietiging van die mag van Dingaan ’n groot diens aan ook die swart bevolkings van die land bewys het. Dingaan en sy voorganger, Tsjaka, wat deur eersgenoemde vermoor is om die koningskap oor die Zoeloes te bekom, het tienduisende, selfs miljoene, inboorlinge in Suid-Afrika vankant gemaak en hele landstreke ontvolk. Deur die vernietiging van daardie bloedige dwingelandy het die Trekkers die algehele uitroeiing van groot getalle swart stamme voorkom.

    Hulle was nie die verdelgers van swart mense nie, soos wat Brits-empiristiese sakelui, sendelinge, skynfilantrope en heerssugtige politici die wêreld wou [en steeds wil] wysmaak nie, maar inteendeel die redders, beskermers en handhawers van ’n vreedsame en beskaafde gemeenskap, skryf Stockenström.

    Hy skryf voorts:

    “Diepsinnige simpatie, selfs met die gewonde vyand op die slagveld, humane behandeling van krygsgevangenes in hul mag, die beskerming van swakkes en weerloses – ook aan die kant van die vyand – was die karakteristieke kentekens van die nasate van die Voortrekkers, die Boere en Afrikaners.”

    In weerwil van alle beskuldigings van rassehaat jeens die Afrikaners, lui die refrein van die Stem van Suid-Afrika, die Afrikaners se eie volkslied, “Ons sal lewe, ons sal sterwe, ons vir jou Suid-Afrika”.

    Marthinus van Bart (e-pos: kultuurkroniek[by]gmail.com) is ‘n skrywer en voormalige redaksielid van Die Burger waar hy jare lank die blad met Afrikanergeskiedenis, Kultuurkroniek, behartig het. Sy mees onlangse boek is ‘n onthulling van die oorwegende rol wat Brittanje in die Kaapse slawehandel gespeel het, Kaap van slawe.

  • Na ‘n eeu – waar is die volksdigters?

    ‘n Eeu gelede het ‘n belangrike wet op die wetboek beland wat die status van Afrikaans sou verskans. Artikel 137 van die Zuid-Afrikawet het vir gelyke beregtiging van Engels en Nederlands voorsiening maak.

    Hoewel Afrikaans eers, wat die wetboek betref, moes trustaan, was daar reeds in die aanloop van die Uniewording verskeie belangrike gebeure om Afrikaans momentum te gee.

    ‘n Groot deel hiervan was die rol van ‘n nuwe generasie digters. Jan. F.E. Cilliers, Totius en C. Louis Leipold was van die vernaamste figure wat die Afrikaner se bitter oorlogs- en na-oorlogslyding verwoord het. Hul gedigte was van ‘n veel hoër gehalte as die meestal rympies wat uit die eerste taalbeweging voortgespruit het.

    Die nuwe generasie digwerk het egter nie net om die taal as taal gehandel nie, maar dit sterk laat hande vat met die Afrikaner se vryheidsideaal.

    In sy werk, By die monument (1908), toon Totius ‘n profetiese geloof in die volk, wat net soos die taai besembos nie sal uitsterf nie: “Ek leef en sal lewe. My doodkry is min!” skryf hy.

    In sy volgende bundel, Verse van Potgieters Trek, (1909), is die grondtoon een van ‘n volk met ‘n sterk vryheidsdrang. Hy gebruik die Groot Trek as model. In dieselfde jaar is die Zuid-Afrikaanse Akademie voor Taal, Letteren en Kunst in die lewe geroep. Afrikaans is ingesluit in die term “Nederlands” waarvoor die lede hulle beywer het.

    Het dit ‘n raakvlak met vandag, ‘n eeu later?

    In Desember 1938 publiseer Die Huisgenoot ‘n Afrikaanse weergawe van Piet Retief se manifes wat op 2 Februarie 1737 in die Graham’s Town Journal verskyn het.

    Lees ‘n mens dit, dan is dit ongelooflik hoe die toestande waarin die grensboere hulle destyds bevind het, met die huidige toestande van die Afrikaner ooreengestem het. (Hieronder weergegee).

    Hierdie beginsels het soos ‘n goue draad deur die Voortrekkers, en later Boere se geskiedenis geloop – deur die verkiesingsproses van Retief as Trekkerleier, die inhoud van die Gelofte, die latere aanvaarding van republikeinse grondwette soos dié van die Republiek van die Oranje-Vrystaat wat op die Amerikaanse geskoei was.

    Noudat omstandighede heers baie soortgelyk as dit wat Retief in sy manifes beskryf, waar plaasmoorde die omvang aanneem dat dit as volksmoord kwalifiseer, sou ‘n mens verwag dat die volksdigters die hand aan die pen sal slaan, soos Cilliers, Totius, Leipold en ander.

    Dink net aan die ruimte wat gebied word aan ‘n jong, opkomende Afrikaanse digter om sy noodsaaklikstes in sy ryding te laai en die land vol te reis en onderhoude te voer met die naasbestaandes van vermoorde slagoffers, of slagoffers wat self aan die dood ontkom is maar dalk erg gemartel is. Hy sal, as hy sy sout werd is, ‘n bundel soos min kan uitbring, mits hy natuurlik ‘n uitgewer sal vind wat bereid is om dit te publiseer.

    Die Afrikaanse digter se veld hoef ook nie tot plaasmoorde beperk te wees nie. Hy kan letterlik kies en keur aan temas, soos die impak van regstellende aksie. Die ellende wat dit in huishoudings bring. Of, as hy dan nie swartgallig ingestel wil wees nie, die pen te doop in verhale waar mense die terugslae van regstellende aksie oorkom het en weer op die been gekom het. “Doodkry is min” om Totius se woorde te leen.

    Hoekom kry die Afrikaanse digter skynbaar net erkenning as hy ‘n verloopte Afrikaner is?

    Breyten Breytenbach het na die val van apartheid dikwels sy mond erg oor die nuwe bedeling uitgespoel. Kom dit by die digkuns, skryf hy egter eerder ‘n lang gedig om sy ashoopstatus (in plaas van erkenning) te bewoord, maar gryp op die oog af nie met soveel ywer na die huidige ongeregtighede nie.

    Veral op die internet duik daar wel gedigte op. Die uwe is geen letterkundige om die kwaliteit te beoordeel nie, maar hier en daar is daar pogings wat moeilik is om ‘n ander rede te vermoed as dat uitgewers nie gereed is om die sprong te maak nie.

    Hoekom is dit relevant?

    Skrywers en digters het gereeld die vaandel van ‘n stryd help dra, en deur dit ook letterkundig te giet word ‘n tipe status, ‘n fatsoenlikheid, daaraan geheg. Dit word dan nie meer net die stryd van die willewragtigs en die kakie-eendsterte nie. Dit kom in aanmerking vir die Hertzogprys, wat juis sy ontstaan het in ‘n geldinsamelingspoging om genl JBM Hertzog in ‘n hofstryd by te staan om te keer dat Engels meer gelyk as Nederlands (Afrikaans) manifesteer.

    Juis nou gebeur dieselfde met Afrikaans. In die grondwet het dit gelyke status, maar sodra praktiese en selfs wetlike meganismes ingespan word om dit te bestendig, hang die regering se onderrok erg uit oor hoe dit die toekoms van die taal beskou.

    Digters word as die gewete van die volk beskou, met ‘n missie om die saak van die “underdog” te dryf. Indien hy homself hiervan stroop, is hy as digter met ‘n missie nie meer inhoudelik as die rympiesmakers van die eerste taalbeweging nie. Trouens, waarskynlik minder, want daardie “rympiesmakers” het hulle vir ‘n saak beywer. Hulle was die voorlopers van die volksdigters. 

    1. PIET RETIEF SE MANIFES
    (Die Huisgenoot, Desember 1838)

    Grahamstad, 22 Januarie 1837.
    AANGESIEN daar talryke rapporte deur die hele Kolonie versprei is, blykbaar met die doel om vooroordeel op te wek in die gedagtes van ons medeburgers teen diegene wat besluit het om vaarwel te sê aan die Kolonie waarin hulle soveel jare ‘n hele reeks ergerlike en ernstige verliese gely het; en aangesien dit ons begeerte is om hoog te bly staan in die agting van ons broeders en ons begerig is dat hulle en die wêreld ons nie in staat moet ag om die heilige band te verbreek wat die Christen aan sy geboorteland verbind sonder daartoe voldoende redes te hê nie, is ons verplig om die volgende kort uiteensetting te boekstaaf van die oorsake wat ons beweeg om so ‘n stap te doen, en van ons voornemens aangaande ons optrede ten aansien van die naturellestamme waarmee ons in aanraking mag kom anderkant die grens:-

    1. Ons wanhoop daaraan om die Kolonie te red van die euwels wat dit bedreig deur die oproerige en oneerlikie gedrag van vaebonde, wat toegelaat word om die land in alle dele te verontrus; en ons sien geen vooruitsig op vrede en geluk vir ons kinders in ‘n land wat op dié manier gekwel word deur inwendige beroeringe nie.

    2. Ons kla oor die ernstige verliese wat ons genoodsaak is om te ly deur die vryverklaring van ons slawe en die ergerlike wette wat daar gemaak is met betrekking tot hulle.

    3. Ons kla oor die aanhoudende plundering wat ons hier moet verduur van Kaffers en ander kleurlinge, en veral deur die laaste inval in die Kolonie, wat die grensdistrikte verwoes en die meeste inwoners geruïneer het.

    4. Ons kla oor die ongeregverdigde blaam wat daar op ons gelê is deur belanghebbende en oneerlike persone onder die dekmantel van godsdiens, persone wie se getuienis in Engeland geglo is tot uitsluiting van alle bewysmiddele in ons voordeel; en ons uoorsien as gevolg van hierdie vooroordeel niks anders nie as die totale ondergang van die land.

    5. Ons is uasbeslote om, waar ons ookal mag gaan, die regverdige beginsels van vryheid hoog te hou; maar terwyl ons sal sorgdra dat niemand in ‘n toestand van slawerny gehou word nie, is ons ook vas beslote om sodanige wette daar te stel wat misdaad sal onderdruk en ‘n behoorlike verhouding tnssen heer en diensbode sal bewaar.

    6. Ons verklaar plegtig dat ons hierdie Kolonie verlaat met die begeerte om ‘n rustiger lewe te lei as wat ons tot hiertoe gedoen het. Ons sal geen volk molesteer nie en aan niemand die geringste eiendom ontneem nie; maar as ons aangeval mord, sal ons ons ten uolle geregverdig beskou om ons persoon en eiendom tot die uiterste te verdedig teen enige vyand.

    7. Ons maak bekend dat, wanneer ons vir ons toekomstige leiding behoorlike wette neergelê sal hê, afskrifte daarvan na die Kolonie gestuur sal word vir algemene informasie; maar ons neem hierdie geleentheid tewens te baat om te verklaar dat dit ons vaste besluit is om voorsiening te maak vir summiere bestraffing van alle verraaiers wat daar onder ons mag wees.

    8. Ons stel ons voor om in die loop van ons trek, en wanneer ons aangekom het in die land waar ons gaan woon, ons bedoelings en ons begeerte bekend te maak aan die inboorlingstamme, asook ons begeerte om in vrede en vriendskap met hulle te leef.

    9. Ons verlaat die Kolonie onder die uolledige versekering dat die Engelse Regering niks meer van ons te vorder het nie en ons sonder verdere bemoeiing sal toelaat om ons in die toekoms self te bestuur.

    10. Ons vertrek nou uit ons vrugbare geboorteland, waar ons enorme skade gely het en voortdurend blootgestaan het aan ergernis, om ons te gaan vestig in ‘n woeste en gevaarlike gebied; maar ons gaan met ‘n vaste vertroue op ‘n alsiende, regverdige en genadige God, wat ons altoos sal vrees en in alle nederigheid sal probeer gehoorsaam.

    P. RETIEF.

    video casino slotstopcargo