Bestuur van Unilofts ontken enige diefstal of plundery by studentekompleks

Deel op

Die bestuur van Unilofts, die gebou met studentewoonstelle in Hatfield, Pretoria, ontken dat enige woonstelle in sy kompleks geplunder is of dat daar misdaadvoorvalle tydens studentebetogings plaasgevind het. Volgens mnr. Jan Botes, die uitvoerende beampte van Legprop, eienaars van Unilofts, is die inligting in Praag se berig “kwaadwillig en totaal onaanvaarbaar”. Hy eis ‘n regstelling van die feite wat ons oorspronklik van studente ontvang het en tot dusver nie self kon kontroleer nie.

Hoewel voertuie elders voor die Uniegebou verbrand is, “is geen voertuie egter tydens die protes beskadig voor of binne Unilofts Pretoria nie”.

Aangaande diefstal of plundery, sê mnr. Botes in sy verklaring:

Daar was absoluut geen plundery hoegenaamd by Unilofts Pretoria nie – nog nooit nie nie eens ‘n poging daartoe nie.

Studente by Unilofts is ook nie beperk tot diegene wat nie tot koshuise toegelaat word nie.

Unilofts… verskaf verblyf aan studente wat privaat wil bly en nie noodwendig net dié wat nie koshuis-verblyf kry nie. Unilofts is ‘n gesogte en baie gewilde studentveblyfkompleks en elke jaar sover 100% beset met studente van alle rassegroepe. Besoek gerus ons webtuiste by www.Unilofts.co.za.

Wat veiligheid oor die algemeen by die gebou betref, verklaar die maatskappy:

Unilofts het seker die beste sekuriteit van alle studentebehuisingskomplekse en daarop is ons baie gesteld en ons is ook tans besig om dit nog verder op te gradeer tot die voordeel van ons inwoners en die eienaars. Daar was selfs addisionele sekeriteitswagte aangestel die dae van die betogings. Daar het nie een van betogers in ons kompleks ingekom nie! Daar is nie een deur afgebreek of in enige woonstel eenheid ingebreek nie want hulle was glad nie op die perseel nie. Hoegenaamd niks is geplunder of gesteel by Unilofts Pretoria nie – absoluut niks! Ons sekuriteit was op diens saam met ons bestuurder tydens die optogte en by Unilofts Pretoria was daar geen insidente hoegenaamd nie. Ons studente in die kompleks was almal veilig en nooit in enige gevaar nie.

Daar was geen plundery en geen artikels van enige iemand was gesteel nie. Die stelling dat ons veiligheidswagte aan sulke bedrywighede verbind word is total absurd en ‘n leuen, hulle was juis besig om die gebou op te pas om te verseker die eiendom word beskerm en dat ons huurders veilig is. Waar studente in die omgewing aan sulke snert kom sal nugter weet! Daar is geen konflik tussen ons veiligheidswagte en inwoners nie.

‘n Groep betogende swart studente het wel verby die gebou beweeg, maar die perseel self is nooit betree nie en daar is nie by die gebou deur stropers ingebars nie. Mnr. Botes sê:

Die betogers het voor die Universiteitshekke vergader en wel verby Unilofts Pretoria in ‘n groep beweeg maar niemand het by Unilofts Pretoria ingebars en al die skade en stelery aangerig soos beweer word nie. Ons sekuriteit was op hulle pos en alles het goed en ordelik by Unilofts Pretoria verloop. Miskien was dit ‘n ander studentekompleks met ‘n soortgelyke naam maar definitief nie Unilofts Pretoria nie. Die persoon wat hierdie inligting verskaf het, is heeltemal verward en verkeerdelik ingelig, of net ‘n kwaadstoker of net bloot ‘n leuenaar.

Volgens mnr. Botes sal hy graag die persoon wil ontmoet en ondervra wie se goed by Unilofts gesteel is,

“want ons dra geen kennis daarvan nie en daar is sekerlik niks by ons sekuriteitsarea uitgevat nie. Weereens beklemtoon ek dat daar geen insident by Unilofts Pretoria was nie”.

Tot dusver kon PRAAG nog nie weer die studente wat die bewerings gemaak het, opspoor nie, maar sodra ons oor meer inligting beskik, sal ons hul weergawe van die gebeure, moontlik by ‘n ander woonstelgebou, verder publiseer. Ons wil ook ‘n meer breedvoerige ondersoek na die bewerings van seksuele teistering deur voetgangers in Hatfield doen, wat video-onderhoude met damesstudente mag insluit.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.