Die Raad van die Universiteit Stellenbosch (US) het gisteroggend vir prof Wim de Villiers, Dekaan van die Universiteit van Kaapstad (UK) se Fakulteit Gesondheidswetenskappe, as nuwe Rektor en Visekanselier van die US aangewys.
Dit is die eerste keer oor die afgelope dekade dat ‘n blanke rektor by een van die vyf universiteite wat voorheen Afrikaans was (Stellenbosch, Vrystaat, Pretoria, Potchefstroom en RAU/Johannesburg) aangewys word. Hy volg die gekleurde Russel Botman op wat hewig gekritiseer is weens die verengelsingsbeleid wat hy op die kampus toegepas het. Sover praag kon vasstel, bestaan daar tans net twee universiteite in Suid-Afrika met blanke rektore binne 50 km van mekaar af: Stellenbosch en Kaapstad. Albei rektore het ook in die mediese wetenskap gestudeer.
De Villiers (55), ʼn Matie-alumnus en mediese dokter wat 24 jaar lank in Engeland en Amerika gestudeer en gewerk het, volg wyle prof Russel Botman op, wat in Junie onverwags oorlede is. Hy word die US se 12de rektor (hoewel dié posbenaming deur die jare ʼn aantal kere verander het). Hy sal sy pos in 2015 opneem, maar die presiese datum is nog nie bekend nie. Prof Leopoldt Van Huyssteen, die US se Bedryfshoof, bly intussen aan as waarnemende Rektor en Visekanselier.
“Ek voel geëerd en is baie dankbaar vir dié geleentheid,” sê De Villiers oor sy aanstelling. “Stellenbosch is ʼn juweel in die kroon van hoëronderwys in Suid-Afrika, en met die regte leiding en goeie spanwerk kan ons ongekende hoogtes bereik – plaaslik en internasionaal.”
Mnr George Steyn, Voorsitter van die US-raad, sê De Villiers se aanstelling lui ʼn nuwe era vir die Universiteit in. “Ons sien uit na die nuwe grond wat prof De Villiers gaan breek – ook in aanloop na die US se eeufeesvieringe in 2018. Nie net is hy ʼn uitmuntende akademikus en bestuurder nie, maar hy beskik ook oor die nodige insig en visie om ʼn waardige opvolger vir prof Botman te wees.”
De Villiers beskryf homself as ʼn “Stellenbosser in murg en been”. Hy is hier gebore, die jongste kind van wyle prof AB de Villiers, wat later Dekaan van Regsgeleerdheid aan die US sou word, en mev Gera de Villiers (née Klomp) van Kroonstad. In 1977 matrikuleer hy aan Paul Roos Gimnasium met die beste punte in die destydse Kaapprovinsie, en in 1983 slaag hy sy MBChB aan die US met lof. Hy ontvang die Francie van Zijl- en Kanseliersmedaljes vir akademiese prestasie.
Hier is ‘n YouTube-video van die amptelike aankondiging.
Hy besluit om sy “vlerke te sprei”, en in 1995 verwerf hy ʼn DPhil in Immunologie aan die Universiteit van Oxford in Engeland. Hy gaan Amerika toe om nog ervaring op te doen – aan die Universiteit van Kentucky Mediese Sentrum in Lexington. Later verwerf hy ook ʼn meestersgraad in gesondheidsorgbestuur aan die Universiteit van Harvard.
“Ek het gedink ek gaan 18 maande bly, toe word dit 18 jaar! Maar dit was baie waardevol.”
In die VSA praktiseer De Villiers as gastroenteroloog, en vestig hom ook as gerekende navorser op dié gebied. Hy word opgeneem in die publikasie Best Doctors in America, en beklee verskeie senior posisies aan die Universiteit van Kentucky, waaronder Hoof van die Departement van Gastroenterologie, en Administratiewe Hoof in die UK HealthCare-organisasie met ʼn jaarlikse begroting van meer as $1,2 miljard.
“Toe raak die verlange na die vaderland te erg,” en in Julie 2013 neem hy die dekaanskap in Kaapstad op. Nou sien hy baie uit na die volgende hoofstuk van sy loopbaan.
“Ek het ʼn lang verbintenis met Stellenbosch, en lewer graag ʼn bydrae tot my alma mater. Ek kom van ver af, maar is ook hiervandaan. Ek het ʼn wonderlike opvoeding en baie geleenthede gekry danksy Stellenbosch. Nou is dit my verantwoordelikheid om terug te ploeg.”
De Villiers meen die US is ʼn “volwasse universiteit” wat “globaal moet kompeteer”. Hy is beïndruk met die feit dat Maties die eerste keer onder die wêreld se top 300 universiteite ingeskuif het op die Times Higher Education-ranglys vir 2014/15.
“Ek besef rangordes is in sekere opsigte problematies, maar dis die globale akademiese ‘geldeenheid’ van ons era. Deur op ons sterkpunte te fokus, kan ons nog verder klim. Die US-handelsnaam is ondergewaardeer.”
Hy staan akademiese uitnemendheid voor in al drie die Universiteit se kernaktiwiteite – navorsing, leer en onderrig, asook gemeenskapsinteraksie – maar is ook ten gunste van differensiasie.
“Elke universiteit kan nie alles doen nie. Ons moet ons onderskei met uitstekende navorsing wat plaaslik relevant en globaal mededingend is. Ons moet ook meer nagraadse studente inneem.”
Hy meen die US se meertaligheidsbeleid, wat op 22 November deur die Universiteitsraad aanvaar is en voorsiening maak vir die verhoging van die lesingsaanbod in Afrikaans sowel as Engels, sal help om meer internasionale studente en dosente te lok.
“Ons moet net sorg dat die taalbeleid en -plan reg toegepas word. Ek het oorsee besef wat Afrikaans vir my beteken, so ek is bly ons bou dit akademies uit – maar so ook Engels, wat jou toegang tot die res van die wêreld gee.”
De Villiers wil hê studente moet ʼn uitstekende opvoeding ontvang wat hulle ʼn mededingende voordeel as afgestudeerdes in ʼn snelveranderende wêreld sal gee. Die jongste tegnologie moet hiervoor ingespan word, want virtuele leer en onderrig raak al hoe belangriker.
“In die Mayo Clinic in Rochester, Minnesota, is daar ʼn slagspreuk teen die muur: ‘The interest of the patient is the only interest’. Ons kan dit gerus aanpas na ‘Wat in die student se belang is, is al wat van belang is’.”
De Villiers meen Maties moet ʼn studente-ervaring hê wat “aangenaam, verwelkomend en gasvry” is – “in ʼn inklusiewe omgewing”. Hy is “verbind tot voortgesette transformasie om die ongelykhede van die verlede aan te spreek”, en steun die US se Institusionele Voorneme en Strategie.
“Ek is entoesiasties oor die koers waarop prof Russel Botman die US geplaas het, en vind die Universiteit se Visie 2030 inspirerend. Implementering gaan noodwendig uitdagings oplewer, maar dit gaan vir my ʼn eer wees om hierdie proses te lei.”
De Villiers beskou homself as ʼn optimis: “Ek sien die glas as half vol, nie half leeg nie”. Hy sê hy is ʼn “spanspeler wat goed luister en wyd konsulteer”. Hy weet ook “ten einde laas moet iemand die moeilike besluite neem” maar besef om ʼn groot instelling te lei “is ʼn langafstandwedloop, nie ʼn naelloop nie”.
De Villiers bly graag fiks. “Ek het marathons in my middeljare ontdek, en het al aan die ‘Groot 5’ deelgeneem – Boston, New York, Londen, Chicago en Berlyn”. Hy ry ook bergfiets. Hy en sy vrou Catherine het twee dogters en ʼn seun – Katusha (33), Braam (30) en Gera (26) – asook twee kleinkinders.
Steyn het al die kandidate bedank: “Die Keurkomitee was met hierdie proses in die bevoorregte posisie om ‘n indrukwekkende kortlys van hoogs bekwame kandidate saam te stel. Ons het baie waardering vir almal wat met hulle aansoeke, voorbereiding en aanbiedings soveel tyd aan die US afgestaan het.”