Terwyl Helen Zille en die polities korrekte media veldtogte teen “blanke rassisme” voer, word al hoe meer blankes en Afrikaners uitgemoor. Die jongste slagoffer op Witrivier is dr. Rensia de Wet, 46, ‘n briljante veearts en perdekenner wat in 2002 die Theilermedalje as topstudent by Onderstepoort ontvang het.

De Wet is vermoedelik verkrag alvorens sy vermoor is, want haar lyk is halfkaal in haar slaapkamer gevind. ‘n Brigadier Selvy Mohlala van die SAPD het verklaar: ““Sy was in haar slaapkamer en was halfnaak. Sy is vermoedelik verkrag en is telkemale in die nek en bors gesteek.” Volgens berigte is sy in ‘n plas bloed gevind met haar twee honde wat by haar liggaam gewaak het. Bure het eergister teen 16:30 op die moordtoneel afgekom.
Niks word uit die houthuis waarin sy op die Nottinghill-Ruitersentrum gewoon het, vermis nie. Sy was geskei en kinderloos.
Vriende en bure op die perdelandgoed het haar as ‘n diere- en perdeliefhebber beskryf. ‘n Vriendin, Tanya Dekker, sê: “Sy het so ’n passie vir diere, veral perde, gehad. Die landgoed was vir haar ’n plek van veiligheid en sy en die eienaars het mekaar jare lank geken.”
Dr. De Wet het self ‘n perd op stal in die landgoed gehad. Op haar Facebook is talle foto’s van perde en vulletjies te siene, asook van haarself te perd. Sy het in perdevoeding gespesialiseer en het op ‘n stadium vir ‘n sjeik in Doebai gewerk na wie se perde sy omgesien het.
Nog ‘n vriendin, Kraai Kamffer het aan die media gesê: “Sy was my vriendin, en ʼn baie liefdevolle mens. Sy was baie lief vir diere én mense,” waarna haar gemoed vol geskiet het.
“Niemand is nog in verband met die voorval aangekeer nie, maar ons ondersoek die saak,” het brig. Selvy Mohlala van die SAPS gesê. ‘n Moordsaak is geopen.
