Landdros ignoreer teisterwet in Hofmeyr-aansoek

Deel op

Nadat die buikspreker Conrad Koch se ondersteuners Donderdag mekaar op Twitter vertel het dat hulle gelukkig op ‘n landdros van “kleur” kan staatmaak, het hulle selfvertroue om Steve Hofmeyr die swye op te lê, merkbaar toegeneem.

Die twiets het die indruk gelaat dat die landdros uitgesoek is om die saak aan te hoor.

Koch het danksy landdros Naren Sewnarain se vreemde uitspraak in die Randburgse Landdroshof nie weggestap met ‘n kriminele rekord weens sy teistering teen Hofmeyr nie.

Sewnarain het eenvoudig die wet wat teistering omskryf botweg geïgnoreer en gekonsentreer op Hofmeyr se sogenaamde apartheidsontkenning en Afrikaners se kollektiewe morele skuld in ‘n poging wat meer na ‘n openbare politieke smeerveldtog as ‘n hofsaak gelyk het.

Koch se yslike en peperduur regspan – daar is openlik op sosiale media gespog oor hul hemelhoë fooie – het VN-verklarings voorgelees oor apartheid en misdade teen die mensdom.

Sewnarain het daarna verklaar dat die definisie van rassisme so wyd is dat dit sonder skroom in die openbaar gebruik mag word.

Die landdros wou ook nie toelaat dat Koch onder kruisverhoor geneem word nie, kennelik om die vuige lasteraar die verleentheid te spaar. Koch het vroeër gespog dat hy ‘n 100% wit regspan het.

Die saak is oorheers deur wit kulturele Marxiste met swartes wat min belangstelling getoon het in die “rassiste” se doen en late.

Die selfverklaarde bruin rassis, Eusebius McKaiser, het selfs getwiet dat hy sy hande sal moet gaan was omdat hy aan die wit Roodt geraak het.

Gedurende die verrigtinge het regslui wat vir Naspers optree opgeduik wat hoegenaamd nie gemoeid is met die saak nie. Een het dr Roodt verseker dat sy alles in haar vermoë sal doen om hom te vernietig.

Ene Adelé le Roux,  ‘n prokureur van Moni Attorneys Incorporated in Killarney, Johannesburg, het daarna luidkeels aan Roodt verklaar: “Enige vyand van Dan Roodt is ‘n vriend van my.” Sy het lank met ‘n man gesels wat dr. Roodt reeds jare lank op Facebook en Twitter teister en vermoedelik agter kuberaanvalle op PRAAG sit.

Afgesien van DoS-aanvalle op die praagwebwerwe, is dr. Roodt se Facebookblad ook verlede week afgeskakel weens vals klagtes daarteen wat by Facebook aanhangig gemaak is.

Die klein wit Boerhaatkliek het mekaar tot groter venyn aangespoor en het mekaar aanhoudend daarin onderskraag met twiets, ook uit die hof, in weerwil van ‘n bevel wat dit uitdruklik verbied het.

Die oorhoofse tema was weereens dat Afrikaners, en meer spesifiek Roodt en Hofmeyr se “domheid” slegs hoon, smaad en uitwissing verdien.

Die aanvalle het veral gekom van werknemers van ‘n internetmeningsblad wat vermoedelik deur skaduagtige Amerikaanse fondse bedryf word, te wete die Daily Maverick.

Dr Roodt het die uitslag as teleurstellend beskryf, maar gesê die hele oefening verteenwoordig nogtans ‘n taktiese oorwinning aangesien die tussentydse bevel die sukses van die Afrikaans is Groot konserte kon verseker.

 

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.