Universiteit van Stellenbosch wys blanke rektor aan

Die Raad van die Universiteit Stellenbosch (US) het gisteroggend vir prof Wim de Villiers, Dekaan van die Universiteit van Kaapstad (UK) se Fakulteit Gesondheidswetenskappe, as nuwe Rektor en Visekanselier van die US aangewys.

Dit is die eerste keer oor die afgelope dekade dat ‘n blanke rektor by een van die vyf universiteite wat voorheen Afrikaans was (Stellenbosch, Vrystaat, Pretoria, Potchefstroom en RAU/Johannesburg) aangewys word. Hy volg die gekleurde Russel Botman op wat hewig gekritiseer is weens die verengelsingsbeleid wat hy op die kampus toegepas het. Sover praag kon vasstel, bestaan daar tans net twee universiteite in Suid-Afrika met blanke rektore binne 50 km van mekaar af: Stellenbosch en Kaapstad. Albei rektore het ook in die mediese wetenskap gestudeer.

De Villiers (55), ʼn Matie-alumnus en mediese dokter wat 24 jaar lank in Engeland en Amerika gestudeer en gewerk het, volg wyle prof Russel Botman op, wat in Junie onverwags oorlede is. Hy word die US se 12de rektor (hoewel dié posbenaming deur die jare ʼn aantal kere verander het). Hy sal sy pos in 2015 opneem, maar die presiese datum is nog nie bekend nie. Prof Leopoldt Van Huyssteen, die US se Bedryfshoof, bly intussen aan as waarnemende Rektor en Visekanselier.

“Ek voel geëerd en is baie dankbaar vir dié geleentheid,” sê De Villiers oor sy aanstelling. “Stellenbosch is ʼn juweel in die kroon van hoëronderwys in Suid-Afrika, en met die regte leiding en goeie spanwerk kan ons ongekende hoogtes bereik – plaaslik en internasionaal.”

Mnr George Steyn, Voorsitter van die US-raad, sê De Villiers se aanstelling lui ʼn nuwe era vir die Universiteit in. “Ons sien uit na die nuwe grond wat prof De Villiers gaan breek – ook in aanloop na die US se eeufeesvieringe in 2018. Nie net is hy ʼn uitmuntende akademikus en bestuurder nie, maar hy beskik ook oor die nodige insig en visie om ʼn waardige opvolger vir prof Botman te wees.”

De Villiers beskryf homself as ʼn “Stellenbosser in murg en been”. Hy is hier gebore, die jongste kind van wyle prof AB de Villiers, wat later Dekaan van Regsgeleerdheid aan die US sou word, en mev Gera de Villiers (née Klomp) van Kroonstad. In 1977 matrikuleer hy aan Paul Roos Gimnasium met die beste punte in die destydse Kaapprovinsie, en in 1983 slaag hy sy MBChB aan die US met lof. Hy ontvang die Francie van Zijl- en Kanseliersmedaljes vir akademiese prestasie.

Hier is ‘n YouTube-video van die amptelike aankondiging.

Hy besluit om sy “vlerke te sprei”, en in 1995 verwerf hy ʼn DPhil in Immunologie aan die Universiteit van Oxford in Engeland. Hy gaan Amerika toe om nog ervaring op te doen – aan die Universiteit van Kentucky Mediese Sentrum in Lexington. Later verwerf hy ook ʼn meestersgraad in gesondheidsorgbestuur aan die Universiteit van Harvard.

“Ek het gedink ek gaan 18 maande bly, toe word dit 18 jaar! Maar dit was baie waardevol.”

In die VSA praktiseer De Villiers as gastroenteroloog, en vestig hom ook as gerekende navorser op dié gebied. Hy word opgeneem in die publikasie Best Doctors in America, en beklee verskeie senior posisies aan die Universiteit van Kentucky, waaronder Hoof van die Departement van Gastroenterologie, en Administratiewe Hoof in die UK HealthCare-organisasie met ʼn jaarlikse begroting van meer as $1,2 miljard.

“Toe raak die verlange na die vaderland te erg,” en in Julie 2013 neem hy die dekaanskap in Kaapstad op. Nou sien hy baie uit na die volgende hoofstuk van sy loopbaan.

“Ek het ʼn lang verbintenis met Stellenbosch, en lewer graag ʼn bydrae tot my alma mater. Ek kom van ver af, maar is ook hiervandaan. Ek het ʼn wonderlike opvoeding en baie geleenthede gekry danksy Stellenbosch. Nou is dit my verantwoordelikheid om terug te ploeg.”

De Villiers meen die US is ʼn “volwasse universiteit” wat “globaal moet kompeteer”. Hy is beïndruk met die feit dat Maties die eerste keer onder die wêreld se top 300 universiteite ingeskuif het op die Times Higher Education-ranglys vir 2014/15.

“Ek besef rangordes is in sekere opsigte problematies, maar dis die globale akademiese ‘geldeenheid’ van ons era. Deur op ons sterkpunte te fokus, kan ons nog verder klim. Die US-handelsnaam is ondergewaardeer.”

Hy staan akademiese uitnemendheid voor in al drie die Universiteit se kernaktiwiteite – navorsing, leer en onderrig, asook gemeenskapsinteraksie – maar is ook ten gunste van differensiasie.

“Elke universiteit kan nie alles doen nie. Ons moet ons onderskei met uitstekende navorsing wat plaaslik relevant en globaal mededingend is. Ons moet ook meer nagraadse studente inneem.”

Hy meen die US se meertaligheidsbeleid, wat op 22 November deur die Universiteitsraad aanvaar is en voorsiening maak vir die verhoging van die lesingsaanbod in Afrikaans sowel as Engels, sal help om meer internasionale studente en dosente te lok.

“Ons moet net sorg dat die taalbeleid en -plan reg toegepas word. Ek het oorsee besef wat Afrikaans vir my beteken, so ek is bly ons bou dit akademies uit – maar so ook Engels, wat jou toegang tot die res van die wêreld gee.”

De Villiers wil hê studente moet ʼn uitstekende opvoeding ontvang wat hulle ʼn mededingende voordeel as afgestudeerdes in ʼn snelveranderende wêreld sal gee. Die jongste tegnologie moet hiervoor ingespan word, want virtuele leer en onderrig raak al hoe belangriker.

“In die Mayo Clinic in Rochester, Minnesota, is daar ʼn slagspreuk teen die muur: ‘The interest of the patient is the only interest’. Ons kan dit gerus aanpas na ‘Wat in die student se belang is, is al wat van belang is’.”

De Villiers meen Maties moet ʼn studente-ervaring hê wat “aangenaam, verwelkomend en gasvry” is – “in ʼn inklusiewe omgewing”. Hy is “verbind tot voortgesette transformasie om die ongelykhede van die verlede aan te spreek”, en steun die US se Institusionele Voorneme en Strategie.

“Ek is entoesiasties oor die koers waarop prof Russel Botman die US geplaas het, en vind die Universiteit se Visie 2030 inspirerend. Implementering gaan noodwendig uitdagings oplewer, maar dit gaan vir my ʼn eer wees om hierdie proses te lei.”

De Villiers beskou homself as ʼn optimis: “Ek sien die glas as half vol, nie half leeg nie”. Hy sê hy is ʼn “spanspeler wat goed luister en wyd konsulteer”. Hy weet ook “ten einde laas moet iemand die moeilike besluite neem” maar besef om ʼn groot instelling te lei “is ʼn langafstandwedloop, nie ʼn naelloop nie”.

De Villiers bly graag fiks. “Ek het marathons in my middeljare ontdek, en het al aan die ‘Groot 5’ deelgeneem – Boston, New York, Londen, Chicago en Berlyn”. Hy ry ook bergfiets. Hy en sy vrou Catherine het twee dogters en ʼn seun – Katusha (33), Braam (30) en Gera (26) – asook twee kleinkinders.

Steyn het al die kandidate bedank: “Die Keurkomitee was met hierdie proses in die bevoorregte posisie om ‘n indrukwekkende kortlys van hoogs bekwame kandidate saam te stel. Ons het baie waardering vir almal wat met hulle aansoeke, voorbereiding en aanbiedings soveel tyd aan die US afgestaan het.”

22 thoughts on “Universiteit van Stellenbosch wys blanke rektor aan”

  1. Moenie julle asem ophou dat Afrikaans hieruit gaan voordeel trek nie. Niemand wat nie ‘n kaderboetie is, sal in hierdie pos aangestel word nie. Vanoggend, tydens ‘n radio-onderhoud, het die prof alreeds begin voorbrand maak om die universiteit verder te verEngels.

    Hy beweer dat Engels nodig is, sodat hulle kwansuis “internasionale akademici kan lok.”

    Stront. Toe ek destyds op ‘n 100% Afrikaanse universiteit was, het ons reeds dosente uit Europa gehad. Die ingeteelde moddereilandjie is nie die enigste bron van navorsers en akademici nie.

    1. Mens kan al klaar die indoktrinasie deur assosiasie by hom uitken
      deur wat by sy mond uitkom – die dat hy hom verbeel dat hy die Afrikaners met
      snert kan ore aansit. Die volgende wat hy moontlik gaan probeer doen is om die
      Afrikaners te oortuig dat toordokters ook n plek in die mediese veld volstaan,
      natuur met groot akademiese woorde uit die mediese woordeboek wat nie
      noodwendig seep en water beteken nie.

  2. Nee, wat, dit is verby met Afrikaans aan daardie instelling. Die pro-Engelse groep het ander planne met die plek. Om ‘wit’ te wees beteken nie noodwendig jy is n Afrikaner met pro-Afrikaanse drome en ideale nie. Die naïewiteit van my eie mense verstom my net meer en meer. Akademia is nou ons enigste hoop op n vry, outonome en onafhanklike toekoms vir Afrikaans.

  3. George Steyn: “Nie net is hy ʼn uitmuntende akademikus en bestuurder nie…”
    Die Euro-kommuniste het bruikbare idiote handig gevind, Afro-kommuniste vind bruikbare intellektueles handig. Ou Diwwie speel vir eers Skarlaken Pimpernel, sy beloftes oor Afrikaans so vaag soos ‘n Bergie se gedagtes oor gisteraand (of was dit al oggend? “Het ek die laaste sluk Six dices in-eikehout-verouderde-brannewyn met die kots weggespoel of het ek die kots met die dop afgespoel?”). Op die ou einde sal hy die US se skarlakenrooi Swart aanskyn afrond, Kaapse Engels wat die lesing- en omgangstaal sal wees. Tensy.

  4. Dis duidelik dat ons te doen het met ‘n persoon van uitsonderlike briljantheid. Die geskiedenis van die Afrikaner lê egter vol van briljante mense wat die kluts kwytgeraak het, om by Jan Smuts en Jannie Hofmeyr maar te begin. In ander omstandighede sou dit ‘n eer kon wees om iemand soos Wim De Villiers met trots in die boesem van die Afrikanervolk te omhels. Maar nou is die omstandighede egter anders. Nou bestaan ‘n selfstandighe Afrikanervolk net nie meer nie. ‘n Suksesvolle Rektor van die U v S moet dus nou die een wees wat die diplomatieke spel met die ANC kan speel, wat vaardige eierdanse kan uitvoer, wat meesterstukke in kompromie kan behaal en wat sy weg kan baan in ‘n mynveld van deursigtige politieke korrekthede soos “verwelkomende en gasvrye universiteit”, “voortgesette transformasie om ongelykhede van die verlede aan te spreek”, en “entoesiastes wees oor die koers waarop Prof. Russel Botma die US geplaas het.” Dat hy, veral as Afrikaner Rektor die eierdanse sal moet uitvoer om in die guns van die ANC regeerders te bly, is verstaanbaar, maar wil ons werklik so iemand hê om ons belange te verteenwoordig? Wil ons hoegenaamd ‘n “getransformeerde ANC universiteit hê? Die ANC het onder die ou bedeling swartes wat met die blanke regering saamgewerk het, beskou as gekoöpteerdes en verrraaiers en uit hulle oogpunt was hulle miskien reg. Uit ons oogpunt is die “samewerkers” met die ANC regime gekoöpteerdes en verraaiers.

  5. Geen rektor of bestuurslid aan enige SA universiteit gaan vir Afrikaans in die bresse nie. n Dissiplinêre verhoor gaan volg en sy/haar toekoms word net daar kortgeknip. En diegene wat dit op n pragmatiese manier probeer doen, word op wrede en konkelagtige wyses van ontslae geraak. Ons kan al ons staatsuniversiteite maar afskryf. Hulle is almal n spul poppe van die regering. Akademia en selfbeskikking is ons enigste hoop op oorlewing in hierdie geteisterde land van ons.

    1. Stem saam.
      Solank as wat die mense deur die regime se geld – wat ironies genoeg, van ons afkomstig is – betaal word, sal die werknemers slawe van die ‘betaalmeester’ wees.
      Daarom is ‘n universiteit wat onafhanklik van die regime fungeer, noodsaaklik.

  6. “‘n Mens kry die indruk dat vryheid van uitdrukking nie hier welkom is nie.”

    Johann, jy kry die verkeerde indruk. Praag is een van die min plekke op die internet waar ‘vryheid van uitdrukking’ voorrang geniet! Die praagspan het tyd nodig om jou kommentaar te lees …

    Wees asb. geduldig!

  7. Johan wees asb geduldig. Selfs ek wat al ‘n geruime tyd skryf land soms op die nagaan lysie – veral as ek elders kommentaar lewer en geblok word. My ervaring is dat Praag een van die min plekke vir oop debat is mits mens jou gedra en nie vloek nie word alles wel geplaas

  8. Hoe ookal.
    Ek dink dat ‘n wag-en-kyk ingesteldheid ‘n beter benadering sou wees, as om die Stellenbosse perd van meetaf aan te veroordeel.
    Kan hy meer vyandiggesind teenoor die Afrikanersaak wees, as die ou wat na Eloff se vertrek aangestel is en wyd en syd verkondig hoe hy die Dopperjimmil in Tlokwestroom gaan transformeer???
    Stellig nie.
    Soos my ooms agter die Zoutpansberg sê

Maak 'n opvolg-bydrae