Oud-Springbok met rots deur kapers aangeval

In nog ‘n voorval van guerilla-oorlog op straat, is die oud-Springbok Hannes Strydom eergister op straat in Waterkloofrif deur ses motorkapers met ‘n rots aangeval. Onlangs is mev. Irene Myburg vermoor toe ‘n groot klip vanaf ‘n snelwegbrug af gegooi is. Die klip het deur die motorruit gedring, haar op die keel getref en sy is op slag dood.

Volgens berigte het mnr. Hannes Strydom, 49, hard op hulp geskree en ook die Here aangeroep, “God, help my! God, help my!” Hierna het sy aanvallers weggehardloop.

Hy is egter erg in die aanval beseer en is tot gister nog in die intensiewesorgeenheid van die Little Company of Mary-hospitaal in Pretoria behandel.

Vanuit sy hospitaalbed vertel Hannes Strydom:

“Ek was so rondom 15:00 op pad na een van my apteke in Irene toe ek drie mans voor my in die straat sien staan. Een het aangedui ek moet stop en ek het gedink iets is fout en het stadiger gery.

“Die volgende oomblik het ’n klip so groot soos ’n rots deur die venster aan die passasierskant gevlieg. Die tweede klip het my aan die linkerkant teen die kop getref.”

Hannes Strydom in sy rugbydae
Hannes Strydom in sy rugbydae

Ten spyte van sy beserings, het hy hom teen die ses motorkapers verset en hulle met die vuis toegetakel. Hy is egter wel met ‘n skroewedraaier en ‘n mes onder sy regterblad gesteek. Ook is sy skedel  rondom sy linkeroogkas gekraak waar die rots hom getref het.

Die voorval het in Ariesstraat, Waterkloofrif, plaasgevind. Die ses kapers is met sy motorsleutels vort maar het die motor na die vuisgeveg gelos.

Strydom sê: “Ek het al erger gelyk op die rugbyveld, maar ek wil asseblief nie afgeneem word nie. My gesig lyk erger as wat dit voel.”

Hy was lid van die Springbokrugbyspan wat in 1995 die Wêreldbeker gewen het, asook van die Goue Leeusspan wat in 1999 die Curriebeker gebuit het. Tans is hy ‘n sakeman en eienaar van die Pharma Value-apteekgroep. Hy was juis op pad na een van sy apteke toe, toe hy aangeval is.

Weens sy beserings, kon die voorval nog nie by die polisie aangemeld word nie. Geen polisieman het Strydom boonop in die hospitaal kom besoek om ‘n verklaring af te neem nie. Dus verkeer al ses aanvallers nog op vrye voet.