‘n Kleurrewolusie met elke keer ‘n soort van irriterende Hollywood-tema raak al lank in die tand.
In die Oekraïne was dit die Oranjerewolusie, in Georgië was dit die Roosrevolusie, in Mianmar die Saffraanrevolusie, in Libanon, die Sederrevolusie, en in Kirgizstan die Tulprevolusie.
Die jongste poging ter destabilisering van Hong Kong, is gemik op China, en heet “die Sambreelrevolusie”, die simbool van die studente se “saak”, só word ons vertel, as ‘n beskerming teen pepersproei.
Die tienerbetogers word glo deur ‘n tiener self gelei, wat die duisende mense op straat nog meer ongeloofwaardig maak.
Berigte het die betogings as “chaoties” beskryf, maar dit blyk dat dit baie goed georganiseer is.
Dit lyk dus na suiwer propaganda ontwerp om die verborge hand van beheer oor die skares te verberg. Tienduisende mense kan eenvoudig nie spontaan sonder goeie beplanning en bestaande infrastruktuur net betyds vir wanneer die VSA ‘n stok soek teen Rusland en China, skielik opdaag nie.
Die amptelike mondstuk van China se regerende Kommuniste Party sê die owerhede sal nie toegewings maak aan betogers in Hong Kong nie.
Die koerant sê die betogers sal nie in hulle doelwitte slaag nie omdat hul eise nie wettig of redelik is nie. Die Kommuniste Party het in Augustus beslis dat kandidate vir die verkiesing van Hong Kong se leier vooraf gekeur sal word.
Die betogers het intussen ingestem om samesprekings met die regering te voer, maar is nie van plan om die betogings op te skort nie.
Hulle het geëis dat die huidige leier van die stad bedank, maar hy het kort voor die spertyd vir sy bedanking verstryk het, gesê hy bly in sy pos aan maar is bereid om met die betogers samesprekings te voer.
Die Chinese minister van buitelandse sake het intussen verklaar dat die VSA moet ophou inmeng in soewereine lande.
Die burgemeester van Kaapstad, Patricia de Lille sal na verwagting aankondig dat ‘n luisterryke beraad in Kaapstad afgestel gaan word.
De Lille sal vanmiddag die aankondiging doen, nadat sy voorheen die versekering gegee het dat die geleentheid sal voortgaan.
Die 14de Wêreldberaad van Nobel Vredespryswenners sal glo nie meer in Kaapstad plaasvind nie, en sal afgestel word.
Dit sou tussen 13 tot 15 Oktober in Kaapstad gehou word, oor minder as twee weke.
Ses ontvangers van die vredesprys het vroeër aan die beraad onttrek nadat Suid-Afrika nie ‘n visum aan die Tibettaanse geestelike leier, die Dalai Lama, wou toestaan nie.
Hy sou ook die geleentheid bywoon.
Die Departement van Internasionale Betrekkinge sê dat die Dalai Lama sy reis gekanselleer het, terwyl hulle besig was om sy visum-aansoek na te gaan.
‘n Nuwe stad sal na verwagting vir die beraad gekies word.
Sowat 1 500 internasionale afgevaardigdes wat reeds vliegtuigkaartjies en verblyf bespreek na Kaapstad.
Reuters berig twee Nobel-vredespryswenners, Jody Williams en Shirin Ebadi, het gesê genoeg Nobelpryswenners het die beplande beraad geboikot om te verseker dat dit nou gekanselleer sal word. Hulle het glo verwag dat dit geboikot sal word.
Emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu het Woensdag gesê: “Ek is skaam om dié inkruiperige klomp my regering te noem. Toe die Amerikaners aan Madiba gesê het hy kan nie sy vriendskap met presidente Ghaddafi en Castro voortsit nie, het hy aan hulle gesê hulle kan in die dam gaan spring.”
Volgens Williams is die doel van die boikot sodat die beraad in ’n land gehou kan word waar die Dalai Lama welkom is.
Ebadi het gesê Suid-Afrika se gesloer om aan die Dalai Lama ’n visum te gee, was duidelik as gevolg van druk wat China uitgeoefen het.
Williams, Ebadi en nog drie Nobel-vredespryswenners het op 25 September ’n brief aan onder andere De Lille, oudpres. F.W. de Klerk en emeritus-aartsbiskop dr. Desmond Tutu gerig dat hulle nié hul besluit om die beraad te boikot, sal heroorweeg nie.
Die departement van energie het Woensdag gesê geen bindende kernkragooreenkoms is in Wene met Rusland gesluit nie.
Hulle het egter bevestig dat die Russies-Suid-Afrikaanse verklaring die grondslag sal lê vir die bou van 8 kernkragstasies in Suid-Afrika wat 9 600 megawatt aan die land se kragnetwerk sal lewer.
Dr. Wolsey Barnard, waarnemende direkteur-generaal van energie, het gesê die ooreenkoms vir die oprigting van kernkragstasies met Russiese VVER-tegnologie is onderteken en is deursigtig.
“Geen belangrike inligting hieroor sal van die publiek weerhou word nie, maar die regering gaan voorlopig nie die inhoud van verlede week se ooreenkoms met Rusland openbaar maak nie. Ons sal die inhoud van al die raamwerkooreenkomste bekend maak wanneer almal onderteken is,” het Barnard gesê.
Zizamele Mbambo, adjunk-direkteur-generaal vir kernenergie, sê Suid-Afrika het vroeër ’n soortgelyke ooreenkoms met Suid-Korea gesluit en soortgelyke ooreenkomste sal met Frankryk, China en Japan gesluit word.
Verskafferlande sowel as die kabinet sal besluit watter inligting vrygestel word.
Mbambo het benadruk dat ’n tenderproses vir kernenergie heeltemal verskil van enige ander tenderprosedure.
’n Woordvoerder van die Verenigde Nasies (VN) se sending in Suid-Soedan sê China sal na verwagting ongeveer 700 vredesmagsoldate na Suid-Soedan ontplooi.
Dit sal deel vorm van die VN se Veiligheidraad se 2013-plan om militêre teenwoordigheid in dié land te verhoog.
Joe Contreras, woordvoerder, het Woensdag gesê die soldate het nog gearriveer nie en ’n finale besluit oor presies waar hulle ontplooi sal word, is nog nie geneem nie.
Ongeveer 350 Chinese militêre personeellede – meestal ingenieurs – dien reeds in die VN se sending in Suid-Soedan.
Suid-Soedan word sedert Desember 2013 deur etniese geweld geteister wat talle ontwortel het en die land se oliebronne bedreig.
Mao Zedong kan dalk eersdaags as met ‘n straatnaam in Pretoria vereer word.
By Donderdag se maandelikse raadsvergadering is besluit die Chinese rewolusionêre leier se naam verdien ‘n ereplek op die Tshwane-metroraad se naambasis.
Lucas Ngobeni, ANC-raadslid sê “Mao Zedong se ideologieë het die ANC gehelp om sy verdrukkers te verslaan. Hy is ’n ikoon vir China en die wêreld.”
109 raadslede was ten gunste van Mao se naam, terwyl 72 daarteen gekant was.
Ander bekendes op die naambasis is Charlize Theron, Bles Bridges, Gerard Sekoto, Hugh Masekela, Jomo Sono, Naas Botha, Kallie Knoetze, Bruce Fordyce, Kenneth Kaunda en Lucas Radebe.
Name van bekendes in onder meer sport, kuns, kultuur, politiek en filantropie wat ook op die naambasis geregistreer is, kan dan gebruik word om strate of geboue en terreine te vernoem.
Van die Oekraïne tot Gasa is daar geopolitieke risiko’s wat swaar weeg, met nog talle verwikkelinge daar buite wat nie die nuus haal nie.
Die Amerikaanse middeltermynverkiesings kan ‘n Republikeinse oorwinning in die Senaat en die Huis beteken wat die sukkelende presidentskap kan ontspoor en die VSA kan lamlê.
Amerikaanse kiesers voel nie meer dat hulle ‘n invloed op beleidsbesluite van hul regering het nie. Obamacare, grense wat nou oopstaan vir bruin immigrante en ‘n algemene verveling met die presidentskap kan aan die Demokrate later vanjaar ‘n pak besorg wanneer kiesers na die stembus gaan.
As die president beheer van die Kongres verloor, sal hy nie in staat wees om beleggingsvertroue in sy land te herstel nie.
Skotse onafhanklikheidsreferendum
As kiesers sê “ja” vir Skotse onafhanklikheid, sal dit Brittanje in trurat gooi. Britte raak paniekerig dat ‘n oorwinning vir die “Ja”-stem kan ‘n morsige geskil tussen Edinburgh en Londen sal veroorsaak oor hoe om onafhanklikheid te definieer.
Dit sal skokgolwe stuur deur Britse markte en die pond terwyl Skotland sy geldeenheidopsies oorweeg. Meer belangrik, miskien, is dat die Verenigde Koninkryk se voortbestaan in twyfel getrek mag word, en Brittanje sy vetoreg in die Verenigde Nasies en die G7 nie meer seker is nie.
Die gevolge vir die Britse ekonomie kan enorm wees en die pond laat tuimel.
Anti-korrupsie veldtog in China
Politiekery oor anti-korrupsie in China kan sakevertroue in Asië se ekonomiese reus nadelig raak, en die wêreldwye ekonomiese herstel uitstel.
Na jare van gryp-wat-jy-kan groei daar is baie wie se rekords nie heeltemal skoon is nie. Die probleem is dat sulke individue se einde ook die einde van dele van China se ekonomie kan beteken.
Selfs net gerugte oor ‘n uitvoerende hoof kan belegging raak en laat ontspoor wat ‘n domino-effek op die ekonomie kan hê.
Daar wag dus nog groot opwinding voor 2014 sy asem uitblaas.
Die Australiese hooggeregshof het ‘n tussentydse bevel gemaak dat die regering nie 153 asielsoekers na Sri Lanka mag terugstuur nie.
Baie van die vlugtelinge kom egter glo uit Indië.
Die saak sal môre weer in die hoogeregshof aangehoor word. Dié stap word allerweë as ‘n maatreël teen Chinese invloed in die streek beskou.
Die hofbevel kom enkele ure nadat die regering ‘n ander vaartuig laat omdraai het.
Maandag het die hof gehoor dat die groep, wat 32 vroue en 37 kinders insluit, onder die regering se beheer op see te beskerm moet word.
“Ons het aangevoer dat die asielsoekers geregtig is om hulle bewerings te maak – eise teen die regering van Sri Lanka – [dat hulle] gehoor en verwerk word in ooreenstemming met die wet,” het hul regsverteenwoordiger George Newhouse gesê.
“Die Minister kan hulle eenvoudig nie onderskep in die nag en laat verdwyn nie.”
Newhouse het gesê hy is geskok deur die onthullings dat ‘n aparte groep van 41 asielsoekers krimineel aangekla sal word in Sri Lanka as hulle terugkeer.
“Dit versterk die dringendheid van hierdie hofaansoek, want die Regering is besig om die mense aan die risiko bloot te stel van ‘n kriminele klag, tronkstraf en marteling – want dit is wat gebeur in Sri Lanka se tronke,” het hy gesê.
Regter Susan Crennan het gesê die asielsoekers word waarskynlik tans aangehou deur die vloot en sal aan Sri Lanka se owerhede oorhandig word.
Sy het ‘n tussentydse bevel toegestaan teen enige oordrag tot die saak in die Australiese hooggeregshof aangehoor word.
Sommige van die asielsoekers het glo uit Sri Lanka na vlugtelingkampe in Indië gevlug voordat hulle ‘n boot na Australië geneem het.
Die Britse Statebond het vroeër Tamil-nasionalisme ondersteun vir outonomie in die noorde van die eiland.
Brittanje het vir byna drie dekades lank die Tamil Tiere se geweld finansier om ‘n oorlog teen Sri Lanka se Sinhala-regering te voer. Die land het lank gebuk gegaan onder ‘n vernietigende burgeroorlog.
Sri Lanka het egter hul militêre en ekonomiese samewerking met China verhoog om uiteindelik die Britse aggressie van die Tiere heeltemal te verslaan in 2009.
Die jongste verwikkelinge kom te midde van Tamil-eise om ‘n onderhandelingsproses vir ‘n outonome Tamil-noorde van stapel te stuur.
Die Tamilvlugtelinge beweer minstens 11 mense op die boot is gemartel deur Sri Lanka se intelligensie dienste, en sê daar moet meer mense in ‘n soortgelyke situasie op die vaartuig wees.
Die boot is onderskep by Kerseiland meer as ‘n week gelede. Die Australiese regering het vroeër erken dat hy 41 asielsoekers Maandag aan die owerheid in Sri Lanka oorhandig het.
Dit volg op kommer dat Australië meer as twee honderd Sri Lankane oorhandig het.
President Xi Jinping van China het diegene wat die “geskiedenis van aggressie teen China romatiseer” Maandag tydens die 77ste herdenking van die begin van ‘n oorlog met Japan, gekritiseer.
Japan is tans besig om hul geskiedenis te herskryf en weer na militarisasie te beweeg.
Te midde van stygende spanning tussen Beijing en Tokio, het hierdie jaar se herdenking van die 1937 Marco Polo-brug-insident, ‘n buitengewoon hoë-profiel verkry.
‘n Groep Chinese skoolkinders het by die plegtigheid ‘n lied vir vrede gesing. China het gereageer op ‘n Japannese propagandaveldtog teen Beijing.
Betrekkinge het versuur ná die Japannese premier se besoek aan ‘n tempel in Tokio laat verlede jaar wat Japan se oorlogsmisdadigers vereer.
Kort daarna het amptenare by die Japannese uitsaaier NHK ontken dat die 1937-slagting in Nanjing duisende Chinese burgers se lewens gekos het, asook Japan se destydse gebruik van seksslawe.
Die twee regerings is tans betrokke in ‘n dispuut oor die eienaarskap van die onbewoonde eilande in die Oos-Sjinese See.
China het ook ongemak uitgespreek oor Japan se herinterpretasie van sy pasifistiese grondwet wat beperkings op militêre aktiwiteit ophef.
Terwyl dié verandering in Japan self met groot teenkanting begroet is deur die opposisie, is dit deur die Verenigde State van Amerika en Australië verwelkom.
Die Japannese Eerste Minister Shinzo Abe sal Maandag besoek aflê by sy Australiese ampsgenoot.
China het nie regstreeks verwys na Japan nie, maar diegene veroordeel wat “die harde werklikheid van die geskiedenis ignoreer”.
Die oorlog het op 7 Julie 1937 uitgebreek en Japan het Beijing kort daarna beset. Sowat 20 miljoen mense is volgens China in die oorlog dood.
Dit het in 1945 tot ‘n einde gekom toe Japan in die Tweede Wêreldoorlog verslaan is.
Beleggingsgroei en hoë vlakke van skuld het kommer laat ontstaan dat China die risiko van ‘n eiendomsborrel in die gesig staar, een wat dreig om die hele ekonomie te destabiliseer as dit moet bars.
Amptelike doeanedata wat Sondag vrygestel is, het markvrese aangewakker en sit bykomende druk op die reeds gespanne globale kommoditeitspryse.
China se invoer van groot kommoditeite het verlede maand gedaal nadat maatskappye afgeskaal het op bestellings om oortollige voorraad in te werk.
Oor die afgelope maand het die prys van ystererts gedaal met meer as 11%.
Pryse vir staalsteenkool het met die helfte gedaal sedert die begin van 2012, terwyl ysterertspryse tot minder as $95 per ton gesak het van ‘n hoogtepunt van meer as $190 in 2011. Die pryse van koper, goud en ander kommoditeite het ook onder druk kom.
Die totale netto wins van die top 40 globale mynmaatskappye het 72% getuimel tot die laagste punt in ‘n dekade.
China is die wêreld se grootste invoerder van grondstowwe en koper van twee derdes van die wêreld se oorsese ystererts. Die daling in die invoer en gevolglike daling in kommoditeitspryse is ‘n ramp vir mynmaatskappye, waarvan baie reeds met klein marges worstel.
Dit is veral die geval in Suid-Afrika, waar die stygende koste soos elektrisiteit, gekombineer met toenemende mededingende arbeidskoste van mynbou ‘n onaantreklike belegging maak.
Afgesien van ‘n algemene verlangsaming in die wêreld se tweede grootste ekonomie, is die strukturele probleme by ons land se mynmaatskappye ook ‘n kopseer.
China se oorgang van ‘n vaste-bate, produksiegedrewe ekonomie na ‘n verbruiker-gedrewe ekonomie is negatief vir staal en ystererts, maar positief vir ander kommoditeite soos koper en sink.
Met dit in gedagte, sal plaaslike mynprodusente gedwing word om strukturele veranderinge te maak indien hulle is winsgewend wil bly in die toekoms.
Boko Haram: Van bokwagters tot plofstofdeskundiges?
Die VSA het sy troepe in Tsjad ontplooi om glo na die skoolmeisies wat in Nigerië ontvoer is, te help soek.
Die Verenigde State van Amerika sal 80 militêre personeellede en ‘n Predator-tuig na Tsjad stuur as deel van ‘n poging om ‘n vastrapplek in die streek te kry.
Die onbemande verkenningstuig sal aansluit by soortgelyke tuie wat in Niger glo deelneem aan die soektog.
Die Amerikaanse ontplooiing in Tsjad is deur die War Powers Act Woensdag moontlik gemaak.
Tsjad se weermag word beskou as een van die bestoegeruste in sub-Sahara-Afrika. Die land is tans in staat om duur buitelandse intervensies te finansier sonder Westerse hulp danksy sy olie-inkomste.
‘n Resolusie deur die Afrika-unie (AU) het reeds die sukses in Afrika van Tsjad se militêre strategie om homself internasionaal onontbeerlik te maak, geloof. Die AU beoog trouens om Tsjad se kandidatuur vir ‘n nie-permanente setel in die Veiligheidsraad van die VN in 2014/15 te ondersteun.
Alhoewel die Weste steeds ‘n belangrike belegger en handelsvennoot in Tsjad is deur die Tsjad-Kameroenpyplynprojek, het China baie meer langtermyn-ontwikkelingshulp aan die land beskikbaar gestel en die oliesektor aansienlik uitgebrei.
Vir China is Tsjad ‘n belangrike bron van olie en ‘n suksesverhaal van Chinese invloed in die hele streek.
Tsjad se minister van finansies het vroeër aangekondig dat hy verwag dat olie-uitvoere sal verdriedubbel teen 2015.
Die Amerikaanse President, Barack Obama het sy Kongres ingelig dat die gewapende magte betrokke sal wees by intelligensie, waarneming en verkenning ten opsigte van missies in noord-Nigerië en omliggende gebiede.
Hy het aan die Kongres gesê dat die soldate in Tsjad sal bly totdat hulle hulp met die opsporing van die meer as 200 meisies nie meer nodig is nie.
Amerika het vroeër die jongste bomaanvalle in Jos in Nigerië skerp veroordeel waartydens minstens 118 mense dood is.
Die militante groep, Boko Haram, wat glo deur die Weste befonds word, word vir dié terreurdaad verantwoordelik gehou.
Die ontvoerings het straks ‘n handige rede verskaf vir Amerikaanse militêre ingryping in die streek.
Die president van China, Xi Jinping en die Russiese leier Wladimir Poetin het Dinsdag ontmoet tydens geskiedkundige samesprekinge tussen die twee lande.
Poetin is tans in Shanghai vir ʼn Asiatiese veiligheidsberaad.
Die twee sal ook aan ‘n militêre magsvertoon deelneem waar 14 skepe vir ʼn week lank oefeninge in die Oos-Chinese See sal onderneem.
Dié twee leiers wil bande versterk nadat Westerse aanvalle en gebiedstwiste hulle belange nouer saamgedwing het
Rusland en China wil veral betrekkinge versterk na die VSA se gepoogde oorname van Russiese invloedsfere in die Krim en Sirië misluk het, maar nogtans Amerika se vyandigheid teenoor Rusland duidelik gemaak het.
China het steun nodig in die stryd oor gebiedsregte in die see met Viëtnam, Japan en die Filippyne. China het reeds sy weermag op die grens met Viëtnam saamgetrek om die eise te stuit.
China en Rusland sal binnekort ʼn ooreenkoms teken waarvolgens Rusland natuurlike gas sal uitvoer na China.
Die gaskontrak sal na verwagting Dinsdag gesluit word, waarin Beijing tot $456 miljard vir Russiese gas oor die volgende 30 jaar sal betaal.
Gazprom en China se Nasionale Petroleumkorporasie (CNPC) sal ‘n ooreenkoms vir 38 miljard kubieke meter natuurlike gas vir lewering vanaf 2018 sluit om China se groeiende ekonomie te ondersteun.
Die ooreenkoms hou ‘n wesentlike gevaar vir die Amerikaanse geldeenheid, die dollar, in omdat China die rekening in Chinese Yuan sal vereffen.
China se departement van verdediging het ook Dinsdag die VSA vir “skynheiligheid en dubbele standaarde” veroordeel oor beweerde kuber-spioenasie.
“Van ‘WikiLeaks’ na die ‘Snowden-saak, is die VSA skynheiligheid en dubbele standaarde ten opsigte van kuber-sekuriteit lank reeds duidelik,” het die ministerie in ‘n verklaring op sy webwerf, soos aangehaal deur AFP, gesê.
Die Nigeriese militante wat ten minste 284 skoolmeisies as gyselaar geneem het, wil hul kamerade uit die tronk kry, sê ‘n bemiddelaar vir Boko Haram.
Die VN Direkteur vir Vroue, Phumzile Mlambo-Ngcuka, wat tans gemoeid is met die aangeleentheid, se gesig is bekend aan Suid-Afrikaners omdat sy voorheen deur die VSA hier ontplooi is as minister van buitelandse sake.
Sy moedig tans die soektog na die ontvoerde meisies in Nigerië aan. Die terreurgroep Boko Haram sal glo die ontvoerde Moslemmeisies in ruil vir hulle gevangenes vrylaat.
Phumzile Mlambo-Ngcuka rep egter geen woord oor die dodelike aanval in Gamborou Ngala in die Borno-provinsie in Nigerië nie, ‘n aanval wat omtrent op die dieselfde tyd as die ontvoering gebeur het.
Volgens ‘n verslag deur die Vanguard, ‘n Nigeriese koerant, het die jihadistiese terreurgroep Boko Haram die dorp bestorm en ongeveer 300 mense vermoor.
Die ontvoering is dus waarskynlik gekoppel aan Sino-Amerikaanse onderhandelinge oor strategiese grondstowwe in die gebied na die terreurgroep se suksesvolle aanslae.
Boko Haram se amptelike naam is Jama’atu Ahlis Sunna Lidda’awati wal- Jihad, wat vertaal uit die Arabies beteken “Mense verbind tot die voortsetting van die profeet se leringe en Jihad”.
Die groep is ‘n tak van die Takfiri Salafi-beweging. Salafi-Takfiris beskou ander Moslems en Christene as afvalliges.
Boko Haram wil sjariawette in Nigerië, Noord- Kameroen en Niger instel, en val Christenkerke en -skole aan, asook polisiestasies, regeringinstallasies en ontvoer en vermoor Westerse toeriste.
Ons oud-minister is ewe gefokus op die onderhandelinge om die meisies vrygelaat te kry as die Obama-administrasie.
Die VSA het intussen militêre, intelligensie- en wetstoepassingsadviseurs na Nigerië gestuur om te help om die meer as 270 tienermeisies op te spoor.
Volgens die Los Angeles Times, sal die span gebruik word vir militêre intelligensie doeleindes en sal deel wees van ‘n ondersoekspan na die meisies wat op 14 April uit ‘n landelike hoërskool in Nigerië se oorwegend Moslem-noordooste verdwyn het.
Obama het gesê die ontvoering “mobiliseer die hele internasionale gemeenskap” in weerwil van ‘n trae ontvangs oral. In Oktober 2013 het die VSA Boko Haram as ‘n terroristegroep gelys.
In 2012, het Obama die aantal Amerikaanse militêre personeel wat ontplooi is in Nigerië reeds verhoog. Nigerië is na Saoedi-Arabië die VSA se grootste ru-olieverskaffer.
Die VSA se Afrikaweermag, Africom, het gesê Boko Haram se bedrywighede bedreig Nigerië , Kameroen , Niger , Mali en Tsjad.
In 2012 het die Nigerian Tribune berig dat Boko Haram se befondsing uit die Verenigde Koninkryk en Saoedi-Arabië kom, spesifiek uit die Al-Muntada Trustfonds.
In 2005 was dit reeds duidelik dat Al-Muntada besonder aktief in die bevordering van Islamisme in Nigerië is.
Soortgelyke Islamitiese skole is tydens die CIA se geheime oorlog teen die Sowjet-Unie in Afghanistan in Pakistan gestig. Hulle is gefinansier deur Saoedi-Arabië en sy netwerk van liefdadigheidsorganisasies.
Benewens ondersteuning ook uit Brittanje, het Boko Haram indirekte hulp via Libië se al-Kaida-huursoldate ontvang van NAVO.
Tydens ‘n onderhoud met Al-Jazeera het die AQIM-leier verklaar dat Algerië wapens aan Nigerië se Boko Haram-beweging verskaf.
Al-Kaida ( AQIM ) en die Libiese rebelle is direk tydens die Libiese konflik in 2011 van wapens en logistieke ondersteuning voorsien deur NAVO, het die navorser Nile Bowie vasgestel.
AQIM en Boko Haram hou egter minder van ‘n bedreiging vir Afrika in as China wat die VSA en Frankryk betref, en die aanwesigheid van ekstremiste is duidelik ‘n goeie manier om op kort kennisgewing wapens en militêre personeel te ontplooi.
China se ekonomiese en diplomatieke invloed in die streek moet beperk word aangesien Nigerië die 13de grootste olie-produsent in die wêreld is.
Die Wes-Afrikaland se ander natuurlike hulpbronne sluit in natuurlike gas, tin , ystererts , steenkool, kalksteen, niobium , lood, sink en landbougrond .
Die VSA en Franse wil verseker dat die nuwe Chinese leierskap nie sal voortgaan om sy voordelige verhoudings met die hulpbronryke Afrika-lande uit te bou nie.
Daarom sal ekstremiste onstabiliteit in lande soos Nigerië verhoog en sal dit hopelik China se ekonomiese groei inperk.
Africom se missie is dus om in die naam van die stryd teen terrorisme oorlog te skep wat sogenaamd Amerikaanse nasionale veiligheid bedreig, sodat die VSA China se projek in Afrika kan stuit.
China het al die invoer van kaas uit Brittanje gestaak.
Die verbod is op 1 Mei ingestel na inspeksies vroeër in die jaar uitgevoer is om te verseker dat alle Britse verskaffers van suiwelprodukte voldoen aan die nuwe Chinese voedselveiligheidswet.
Kwessies wat verband hou met die instandhouding, lugsanitisering, roumelkvervoertemperature en chemiese stoorprosesse is aangehaal in die Chinese oudit as die redes vir die tydelike verbod.
In ‘n verdere wending van die kaasoorlog, is Ierland deur die Chinese oudit as blakend gesond verklaar vir kaasuitvoere en het magtiging ontvang om sy kase uit te voer na China presies op dieselfde oomblik toe die verbod op die Verenigde Koninkryk in werking getree het.
Die Britte verkeer in skok oor die besluit en sê as hierdie saak nie vinnig opgelos word nie, sal hulle kyk na die moontlikheid van ‘n vergeldingsaksie.
Die Verenigde Koninkryk het op 30 April ‘n EU-wet aangeneem wat die verkoop van ongelisensieerde kruieprodukte – in die besonder dié wat gebruik word vir Chinese kruiemedisyne – verbied.
China is nog steeds getraumatiseer deur die besmette melkpoeier wat die dood van ses babas veroorsaak het en duisende siekes in 2008.
Sommige ontleders beskou die kaasoorlog as ‘n poging om die speelveld tussen binnelandse melkmaatskappye en buitelandse maatskappye gelyk te maak. Buitelanders het gefloreer as gevolg van die openbare bedenkinge oor voedselveiligheid.
Nogtans beteken die probleme met produksie steeds dat China groot hoeveelhede suiwelprodukte invoer.
Die skepe wat op soek is na die vermiste vliegtuig van Malaysian Airlines het seine opgetel wat soortgelyk is aan dié van ‘n “swartkassie” of vlugopnemer.
Die “ping” is glo 4,500 meter diep wat dit feitlik “onmoontlik” sal maak om na die oorblyfsels van die vliegtuig te kan soek.
Dis egter nie seker of die vlugopnemer behoort aan die Boeing 777 met 239 passasiers wat sedert 8 Maart vermis word nie.
Die verdwyning van die vliegtuig bly ‘n raaisel, aangesien dit byna onmoontlik is weens gesofistikeerde tegnologie om sonder enige spoor weg te raak.
Familielede van die passasiers is ontstoke omdat owerhede volgens hulle nie eerlik is oor die omstandighede rondom hoe die vliegtuig presies vermis geraak het nie.
China het reeds aangedui dat hulle nuwe satelliete in die lugruim sal instuur omdat die VSA nie betroubare inligting kon openbaar oor waar die vliegtuig kan wees nie.
Vlug MH370 het naby die Amerikaanse militêre lugbasis in die Indiese Oseaan, Diego Gracia, soek geraak.
Daar was ‘n span wetenskaplikes aan boord wat navorsing oor semi-geleiers gedoen het.
Angus Houston, hoof van die Australiese agentskap wat die soektog namens die VSA hanteer, het Maandag gesê die seine is van die belowendste leidrade wat tot nog toe opgeduik het.
Dit sal nietemin verskeie dae neem voordat vasgestel kan word of die seine wel afkomstig is van vlug MH370.
Nege militêre en drie burgerlike vliegtuie asook 14 skepe sal die soektog voortsit.